Bruid uit die koue. Ettie Bierman
die melkery besig was. Ons is met die bakkie uit soontoe, het ’n draagbaar geprakseer en met Arnold hospitaal toe gejaag. Ek het pas met die dokter gepraat. Arnold is gestabiliseer, maar hy het nog nie bygekom nie.”
’n Mond vol om te verteer… “Wanneer het dit gebeur?” vra Clio.
“Vanoggend.”
“Hoe laat?” Sy weet nie hoekom dit saak maak nie, behalwe as ’n aanduiding of Arnold van plan was om lughawe toe te gaan. As dit vroegoggend was, sou dit hom genoeg tyd gegee het om ná die tyd klaar te maak en haar te gaan haal.
“Vroeg, omtrent sesuur. Dit was sy gewoonte om soggens douvoordag te gaan ry, voor dit te warm word.”
Darem ’n troos, vir wat dit werd is… “In watter hospitaal is hy?”
“Die privaat hospitaal op Bela-Bela. Talien is by hom, maar ek moes terugkom om na probleme op die plaas om te sien. Die kragopwekker het gebreek en die diere is sonder water. In die harwar het ek tred verloor met die tyd. Ek is jammer. Was jy baie bekommerd?”
“Vanselfsprekend. Ek het Arnold probeer bel, maar daar was nie antwoord nie, en hy het nie op my boodskappe gereageer nie.”
“Sy selfoon is weg, blykbaar êrens uit sy sak geval. Dalk lê dit nog daar waar hy geval het. Ek sal môre as daar kans is, gaan soek.”
So, hy het nie kop uitgetrek nie… Die besef van wat gebeur het, dring nou eers ten volle tot haar deur. Arme Arnold, dat so iets met hom moes gebeur. Hy het ’n passie vir perde en is ’n goeie ruiter. Haar pa was altyd te besig en dit was Arnold wat ouboet gespeel het: haar eendag op ’n perd se rug getel en haar geleer galop is soos wals. Een, twee, drie… Een, twee, drie… Ritmies op en af, sy en die perd saam as ’n eenheid. Haar voete in die stiebeuels moenie soos ’n V uitwys buitetoe nie, maar gepunt wees binnetoe, soos ’n pylpunt.
Sy het gesukkel om die ritme te vind en het eers later tot haar skande gebieg dat sy nie kan dans nie, dat sy nie weet hoe om te wals nie. Hy het nie gelag of haar gespot nie, soos Jurg en ander seuns sou. Hy het ewe geduldig tussen Talien se CD’s een gesoek met Strauss se Weense walse op, die stoele in die sitkamer weggeskuif en haar leer wals. Een, twee, drie… Een, twee, drie… Ritmies op en af, terwyl sy bo-op sy voete gestaan het.
Dit was pret, soos grootmense by ’n partytjie, behalwe dat dit helder oordag op ’n Maandagoggend was en dat hy haar vasgehou het asof sy ’n strooipop was. Daardie skoolvakansie het sy drie nuwe dinge geleer. Sy het leer wals. Sy het leer perdry. En sy het geleer dat die vaal buurseun wat sy al eeue lank ken, ander gewaarwordinge in haar jongmeisiehart wakker gemaak het as wat ’n “ouboet” veronderstel was om wakker te maak.
Sy kan nie onthou hoe oud sy was nie. Maar Arnold was vyf jaar ouer en moes ook bewus geraak het van die verandering in hul verhouding. Want dit was ’n paar weke daarna dat hy op ’n kol skielik aangebied het om haar boekesak te dra, een middag ná atletiekoefening toe sy ’n pakkerasie gehad het van spykerskoene, sweetpak en nog ’n tennisraket ook. In die skoolbus het hy ewe luiters die pakkerasie op die vloer by sy voete ingedruk, die raket op sy skoot vasgehou en vir haar die helfte van die bank oopgehou om langs hom te sit.
Vir ’n skaam ou was dit ’n groot stap. Dit het maande geduur – tot die volgende skoolvakansie – voor hy moed bymekaargeskraap het en een middag by die Hoekkafee op die dorp vir haar ’n melkskommel gekoop het. ’n Lang pienk glas vol, die kleur van die T-hemp wat sy aangehad het.
Sy was baie selfbewus, bang sy mors of die mense kyk vir hulle. Sy en Arnold het altyd land en sand aanmekaar gesels, oor enige ding onder die son, maar skielik het sy met ’n mond vol tande gesit en kort-kort aan haar pienk hemp gerem omdat sy bang was dit sit te styf en meet haar figuur af, wat begin grootmeisie word het hier bolangs.
Sy het gewonder of Arnold opgelet het… Of kyk seuns net na rugby en nie na sulke goete nie? Die tienertydskrifte wat sy verslind het, het gesê hulle kýk. Hulle sien en wéét van dié goete.
Sy was so skaam, en wou agterna by haar ma weet of sy nie ’n groter T-hemp moes dra nie. Haar ma het gelag en geterg dis wensdenkery. Dit het lank geduur voor Clio gesnap het wat haar ma met “wensdenkery” bedoel het. Eers baie later, toe sy en haar maats op hulle beurt in rugby begin belangstel het. Ook na die seuns in ’n skrum begin kyk het, en onderlangs gefluister en gegiggel het.
Jurg van Deventer se kuite was die gespierdste en sy sitvlak die platste, het die ry meisies op die pawiljoen besluit en aan hom vyf sterretjies toegeken. Clio het heimlik saamgestem, maar dit het nie saak gemaak nie, want Jurg het nie getel nie. Sy het ’n renons in die jonger Van Deventer-broer gehad en hom ’n minuspunt gegee – vir sy lelike persoonlikheid. Vir haar was Arnold se skraal lyf die mooiste. Hy was haar maat, haar held, haar kêrel.
En nou het hy sleg geval, skeef teen ’n boomstam, in ’n koma, met harsingskudding…
Hy het vir haar geskryf van die nuwe hings wat hy ’n tyd gelede gekoop het. Zeus. Pikswart, en met ’n stamboom langer as prins Charles s’n, het hy gespot. Nou het die hings hom byna verongeluk…
In haar keel brand die rouheid van ingehoue trane en Clio sukkel om te praat. “Ek sal hom… vir Arnold graag wil sien.”
“Natuurlik,” stem Jurg saam. “Dis verstaanbaar. Hierdie vriende by wie jy bly: is dit ou bekendes van jou ouers?”
“Nee, ’n meisie wat ek op die vliegtuig ontmoet het.”
“Wie is sy?”
“Aloma Bremer.”
“Waar woon sy?”
“Pretoria.”
“Watter deel?”
Sy raak ongeduldig met al die vrae. “My kop is suf. Ek weet nie, ek kan nie onthou nie.”
“Dit maak nie saak nie. Ek sal nog so ’n halfuur hier besig wees voor ek kan wegkom. Dan moet ek gou by die hospitaal aangaan, maar daarna kan ek ry om jou te kom haal.”
Sy is huilerig en nie lus om in Jurg se gesig vas te kyk nie. “Teen daardie tyd is dit al middernag. Toe maar, ek sal self ’n plan maak.”
“Hoe?” vra hy skepties.
“Ek sal loop. Duimgooi. Op ’n donkiekar ry of agterop ’n lorrie. Ek is nie die hulpelose soort nie.”
Hy is ergerlik. “Hou op bog praat. Jy kan nie loop nie, dis te ver. En ryloop is te gevaarlik, veral in die aand. Dis Suid-Afrika hierdie, nie Kanada nie.”
“Wat gee jy om as ek oor die kop geslaan word?”
“Met my broer buite aksie is ek verantwoordelik vir jou.”
“Dis onnodig. Ek het nie jou hulp nodig nie.”
“Nog net so koppig soos altyd. Het jy nie intussen grootgeword nie?”
“Ek het, maar klink my dis jý wat in die hek bly sit het,” kap sy teë. “Nog net so baasspelerig soos altyd. Loop maak die kragopwekker reg en gee vir jou diere water. Ek sal my eie sake reël.”
“Wag vir – ” begin hy, maar Clio laat hom nie klaar praat nie en druk die foon dood. Sy is nie lus vir ’n stryery met Jurg nie. Hy is die soort wat aanhou karring tot hy gewen het.
Sy bly voor die spieëlkas sit met haar kop in haar hande gestut, stel haar ’n prentjie van Arnold in die hospitaal voor: bleek en slap teen die kussings, toe oë en onbewus van wat om hom aangaan. Harsingskudding dui gewoonlik op ’n breinbesering, en dis gevaarlik. Onvoorspelbaar. Wat gebeur as hy nie bykom nie? As daar breinskade is?
Of is sy onnodig negatief? Dis moegheid en stres wat haar so ’n doemprofeet maak. Sy vryf met haar vingerpunte oor haar slape, waar ’n hoofpyn begin klop. Deels spanning, deels moegheid. Sy is gistermiddag eenuur uit Calgary weg, wat beteken dat sy meer as vier en twintig uur op pad was. Agtien uur daarvan in ’n beknopte vliegtuigsitplek, waartydens sy nie ’n oog toegemaak het nie. Die res van die tyd in lughawens se vertreksale waar sy moes spook om haar bagasie te kry en weer op ’n aansluitingsvlug