Bruid uit die koue. Ettie Bierman

Bruid uit die koue - Ettie Bierman


Скачать книгу
gepraat toe Aloma inkom.

      “Jy bly so lank weg, ek het gewonder…” Sy bly stil en kyk met groot oë na Clio. “Wat is verkeerd?”

      Clio vertel. Van die perd, die val en die hospitaal.

      “Ek het geweet Arnold sou my nie in die steek laat nie. Hy is nie só nie. Hy is… hy…” Haar stem breek. “Hy’s lief vir my… Ek kan hom nie alleen daar in die hospitaal laat lê nie. Ek moet na hom toe gaan.”

      “Hy is nie alleen nie. Sy tante is by hom,” paai Aloma.

      “Arnold het baie seergekry, hy het my nodig…”

      “Hy is in goeie sorg, en die dokters ken hulle werk. Daar is niks wat jy vir hom kan doen nie.”

      Clio druk haar hand teen haar mond. Haar skouers ruk en sy begin huil.

      Aloma laat haar op die bed sit en gee vir haar die boks snesies aan. Sy praat rustig om Clio te kalmeer. “As Arnold in intensiewesorg is, sal jy nie by hom toegelaat word nie. Jy is gedaan, vodde. Jy het rus nodig – ’n paar uur se slaap, anders gaan jy oppak. Dan is jy vir Arnold niks werd wanneer hy bykom nie.”

      Clio lig ’n betraande gesig op en haar oë pleit by haar vriendin. “Dink jy hy sal? Sál bykom?”

      “Dis nie in ons hande nie. Jy moet bid, glo en vertrou.”

      “Ek het hom van lelike goed verdink. Dat hy nie vir my omgee nie, selfs dalk ’n ander meisie het en my nie op Vuurfontein wil hê nie. Dit was lelik van my.”

      “Dit was ’n natuurlike reaksie. Jy het mos nie geweet wat gebeur het nie.”

      “Maar ek het dadelik die slegste gedink! Arme Arnold het beter verdien…”

      “Jy het nie geweet nie. Jy was moeg en gestres.” Aloma hou haar vas en wieg haar heen en weer, soos ’n kind wat ’n nagmerrie gehad het.

      “Jy moet iets eet, dan sal jy beter voel. My ma het sommer vinnig ’n souttert gemaak. Ek gaan vir jou daarvan inskep, met lekker vars brood en Marmite. Dis een van die dinge wat ek gemis het – mens kry mos nie Marmite oorsee nie. Ná ete bel ons die hospitaal en vind uit hoe dit met Arnold gaan.”

      “Vóór ete,” dring Clio aan.

      Pleks dat sy Jurg vir Talien se selnommer gevra het. Sy sou darem net wou groet, en Talien is reg dáár, by Arnold se bed. Talien sou haar meer kon vertel as Jurg; geduldiger haar vrae beantwoord het en haar dalk kon gerusstel.

      “Ons kan hospitaal toe gaan,” bied Aloma aan. “Ek sal jou neem, dis nie ’n probleem nie. Maar jy lyk of jy skaars een voet voor die ander kan sit sonder om in te konk. Dis beter as jy eet en rus inkry, dan ry ons vroeg môreoggend.”

      Aloma is self ook gedaan, besef Clio. Dit was vir haar ook ’n lang vlug, en sy dra haar eie hartseer. Wat sy sê, maak sin. Clio sou graag by die hospitaal wou wees, maar kan nie van haar vriendin verwag om dié tyd van die aand al die pad Bela-Bela toe te ry nie.

      Dit was valse bravade om Jurg wys te maak sy sal ryloop. Honderd kilometer, in die donker, op ’n vreemde pad? Malligheid. Agterop ’n lorrie of ’n donkiekar… Stapelgek. Maar dis die reaksie wat Jurg altyd by haar uitlok. Hy laat haar gloeilampies blaas en dan is sy nie verantwoordelik vir wat sy sê of doen nie.

      Terwyl mevrou Bremer opskep, soek Clio die nommer en bel die hospitaal. Sy kom maklik deur, maar die saalsuster het geen nuwe nuus nie. Die pasiënt is rustig, sy toestand onveranderd.

      “Is hy by?” wil meneer Bremer weet toe hulle by die tafel aansit.

      Clio skud haar kop.

      “Môre kry jy dalk goeie nuus,” praat Aloma haar moed in. “Ons kan vroeg ry, voor spitstyd.”

      “Dankie.”

      Die kos is heerlik, maar Clio sukkel om die laaste mond vol in te wurg.

      Mevrou Bremer is begrypend. “Toe maar, ek weet eet is nie nou vir jou belangrik nie. En ons sal verstaan as jy dadelik wil gaan inkruip.”

      Aloma beaam dit. “Moenie verskoning maak nie. Ek en my ma-hulle het tonne om oor te gesels en ’n jaar se skinder om in te haal. Gaan bad en klim in die bed, dan bring ek netnou vir jou warmsjokolade.”

      Clio buk en gee haar skouers ’n drukkie. “Wat sou ek gemaak het as jy in Groenland gaan au pair het of ’n ander vlug gehaal het?”

      “Dalk iemand beter in die buursitplek gekry. Brad Pitt of ’n gewillige oliebiljoenêr.”

      Dit gaan darem al beter as Aloma kan grappe maak. Clio wens sy kon dieselfde van Arnold sê.

      “Lekker slaap! Roep as jy iets nodig het,” roep Aloma haar agterna toe sy met die wenteltrap opklim kamer toe.

      3

      Haar nagklere is heel onder in haar tas, maar Clio is te vaak om uit te pak. Die bad het haar lomerig gemaak en sy trek ’n sweetpak aan wat bo-in lê. Vir wanneer sy en Arnold sou gaan perdry of Vuurberg uitklim tot bo waar die fontein ontspring, soos hul gewoonte altyd was… Sy dwing haar gedagtes weg, vou die duvet terug en skuif tussen die lakens in.

      Dit voel of sy skaars vyf minute geslaap het toe iemand aan haar kamerdeur klop.

      Clio soek na die bedliggie en kyk verward om haar rond, na die gedrapeerde gordyne en vreemde kasdeure. Eers toe sy haar halfoop tas op die bankie sien, registreer sy waar sy is. Sy probeer kyk hoe laat dit is, maar haar oë voel sanderig en sy sukkel om te fokus.

      “Ek wil nie sjokolade drink nie,” mompel sy.

      Aloma kom binne en gee haar ’n skud. “Waar was jy? Op ’n ander planeet? Ek klop al hoeka hoe lank.”

      Clio sukkel regop op haar elmboog. “Wassit?”

      “Iemand om jou te sien!”

      “Sê hy moet loop, ek slaap.”

      “Ek het. Hy sê jy moet opstaan en aantrek.”

      “Hoekom?”

      “Julle moet hospitaal toe gaan.”

      Haar hoofpyn van netnou is erger en klop met tamboerslae teen haar slape. Clio druk haar palms teen haar oë. “Wiessit?”

      “Jurg. Ek het vir hom gesê jy’s ’n zombie, maar hy sê jy kan later uitpass. Nou moet jy eers opstaan en kom. En jy moet jou litte roer, hy’s haastig!”

      Dit klink soos Jurg. Ongeskik, hiet en gebied en jaag almal rond.

      “Hy het al die pad van Bela-Bela af gekom om jou te kom haal.”

      “Ek’t gesê hy moenie, dit sal middernag wees teen die tyd dat hy hier aangesit kom.”

      “Dis nie middernag nie,” kom ’n manstem vanuit die kamerdeur. “Dis twintig oor elf. Lig jou, Cleopatra.”

      Skielik is Clio wawyd wakker. Sy vlieg orent. “Jy kan nie sommer by vreemde mense se huis instorm nie!”

      Jurg is onverstoord. “Ek het nie ingestorm nie. Ek het geklop en hulle het vir my oopgemaak.”

      “Jy het nie geklop voor jy hier by mý ingestap het nie!”

      “Jy is nie vreemde mense nie, en ek is haastig. Ons kan later bokshandskoene aantrek en die kwessie uitbaklei, nou moet ons eers by die hospitaal kom. Is jy reg so, of wil jy ander klere aantrek?”

      Clio hou op teëstribbel. Dis mos wat sy wou hê – om by Arnold te wees…

      “Was jy netnou weer by hom aan? Hoe gaan dit met hom?” wil sy weet.

      Jurg lig sy skouers met ’n hulpelose gebaar. “Nog maar dieselfde.”

      “En met Talien?”

      “Jy ken haar mos – ’n kanniedood. Sy stuur groete en sien uit na jou kuier. Net jammer jou vakansie het nou platgeval.”

      “My


Скачать книгу