Honger reisiger. Dr Marie Heese
die vloeistof vir ’n ruk in die pot wegkook. Maak ’n buerre manié (dikmaakklontjie) met ’n eetlepel meel en ’n eetlepel botter, roer by sous en kook tot verdik.
GEBRAAIDE PIESANGS FLAMBÉ
(Met jogurt. Of met room, dan’s dit lekker genoeg vir twee aristokrate se loskoopprys.)
1-2 piesangs per persoon; moet goed ryp wees
1 eetlepel bruinsuiker per piesang
1 botteldoppie brandewyn per pan vol
Sny die piesangs middeldeur om makliker te draai, maar dwars, nie in die lengte nie.
Sit die suiker droog in die pan, hou op hoog terwyl jy aanhoudend roer tot dit karamelliseer. Voeg piesangs by, draai plaat af, braai tot goudbruin aan die een kant, draai om en braai tot sag. As dit vir jou te droog lyk, voeg ’n klont botter by.
Wanneer dit gaar lyk, gooi die doppie brandewyn oor. Steek dit dan aan die brand (jy moet rats wees met die vuurhoutjie). Lyk mooi as die lig in die kamer dof is. Laat uitbrand en bedien.
Bouillabaisse
(Port-la-Nouvelle, Suid-Frankryk)
Terwyl ons op die Kanaal du Midi vaar, besluit ons om te gaan kyk na Port-la-Nouvelle, ’n hawe aan die Middellandse See. Jy draai af op ’n sytak van die kanaal: die Embranchement de la Nouvelle. Ons het teen hierdie tyd heelwat geleer. Weet van die volgende MOENIES:
•Moenie met die vensters bot toe slaap nie, al waai die mistral, tensy jy graag al die klere en handdoeke wat in die kajuit rondhang, wil klam stoom.
•Die ou wat teen die muur onder die rak slaap, moenie skielik regop sit nie. Moet trouens glad nie regop sit nie.
•Moenie los hoede of handskoene op die dek laat rondlê nie.
•Moenie probeer om met een voet die boot van die wal af weg te stoot nie.
•Moenie die dek skoonmaak met ’n nat mop as jy nie eers jou skoene skoongemaak het nie.
•MOENIE met jou vinger voel of die gasplaat brand nie.
•Moenie die Handy Andy staanmaak waar dit in die filter-koffie kan val nie.
Ja, algaande leert men.
Ook het ons al gewoond geraak aan twee geluide wat die reis kenmerk. Die een is die geklots van water teen die boot as die wind waai, of as ’n ander boot verbyvaar. As ’n mens in die bed lê, klink dit asof ’n reusehond, rasend dorstig, al om die boot water opslurp. Sjhlopp-sjhlopp-sjhlopp. Hoop maar hy vat nie ’n hap of sluk die hele bark in soos ’n lang pil nie.
Die ander geluid is die toiletpompe. Daar is twee. Dit werk so: Daar is ’n ratjie wat jy na links druk om water (uit die kanaal) in die toiletbak met die pomp-aksie in te suig. Dan druk jy die ratjie na regs om die water plus enige toevoegsels weer uit te pomp, helaas direk in die kanaal in. Skriek-woesj. Skriek-woesj. Skriek-woesj. Dis ’n geluid om die dodes te wek en die slapendes in ’n coronaire in te laat skrik. Ons kom ooreen om nie gedurende die nag te pomp nie tensy absoluut noodsaaklik. Maar hier teen seweuur soggens begin die pomp-aksie verwoed en almal is wakker en moet met koffie gelawe word in Serena se slaapkamer wat ook die eetkamer en die kombuis en die stuurkajuit is. Not for the faint-hearted. Ook nie goed vir hardlywiges nie. Mense, advertensies lieg mos maar ammelee. Maar inderdaad, wat ’n barkreis betref – de helft werd je niet verteld.
Slaap dié nag rustig. Vertrek na ontbyt en pyl dadelik op ’n sluis af. Dit lyk asof ’n mens dalk na links kan verbyvaar, maar gelukkig probeer ons dit nie, want daar is ’n waterval en ons sou afgefoeter het. ’n Verbyganger op die wal beduie dat ons moet teruggaan en aan iets trek voor ons kan invaar. Mike draai die boot om – ’n veeleisende maneuver op sy beste en nog erger teen die mistral wat steeds waai. Die boot stamp plek-plek teen die kante van die kanaal. Ons vaar terug. Nou sien ons ’n lang geel paal wat bokant die water hang. Blykbaar moet ’n mens dit draai in plaas van ’n geel knoppie druk soos tot dusver by outomatiese sluise.
Mike begin die boot weer omdraai. Daar is nie veel ruimte tussen die verskeie ander bote nie. Ons voorsien almal hoe ons van minstens drie ander bote af gaan ricochet soos ’n snoekerbal in ’n eindstryd. Maar hierdie slag keer Mike op ’n tiekie om en ons vaar na die geel paal toe. Ons draai die paal en vaar suksesvol deur die sluis.
Vandag skyn die son, daar is net ’n ligte briesie en dit lyk uiteindelik soos die advertensies. Kan rustig op die voorpunt van die boot sit en kyk hoe die wingerde verbyglip. Al langs die kanaal staan lanings hoë bome. Hulle wortels staan soos kloue in die water. Die meeste is plataan, maar daar is ook sipresse en ander met fyn silwerige blare. Ons hoor ’n nagtegaal wat musikaal fluit, kwetter en kweel. Ons kom nou heelparty ander bote teë en vaar dikwels saam-saam deur sluise.
Sake word lewendiger danksy die teenwoordigheid van ’n kleiner boot met jong Franse paartjies wat twee klein babas het. Klaarblyklik rou beginners. Hulle roete met die reguit kanaal langs lyk na ’n slalom-resies teen ’n sneeubedekte berghang af. Ons vaar saam met hulle deur ’n paar sluise. Hulle pik meer verward rond as ons op ons vrotste. Laat val amper een van die babas in die bruisende sluis. Laat wel ’n boothaak inval. Gooi toue op sonder dat iemand bo reg staan om te vang.
Euchie is bitter bekommerd oor die babas wat nat word van die bruisende sluiswater wat van voor af oor die boeg sproei. Sy probeer hulle ma’s waarsku oor die besmetting weens die toiletpompe en skree: “Merde! Merde!” Hulle dink blykbaar dis kommentaar op hulle gebrek aan vaardighede – en met goeie rede. Chris reken die babas sal seker oorleef as hulle nie infoeter nie. Wonder bo wonder kom hulle en ons heelhuids anderkant uit. Dan meer hulle vas en ons vaar voort.
Port-la-Nouvelle is maar taamlik vaal. Ek en Chris onderneem om te gaan inkopies doen. Almal het gesê hulle is lus om bouillabaisse te eet, en ons onderhandel met ’n slagter om by ’n hotel vir ons plek te bespreek.
Dis nou alles in Frans en ek is nogal trots op wat ek van een jaar op universiteit plus onlangse ekstra lesse by ’n afgetrede proffie op Stilbaai kan onthou. Maar ongelukkig verstaan ek nie mooi hoe ver die hotel is nie en hy verstaan nie mooi dat ons nie ’n motor het nie. Gevolglik moet ons 5 km loop na die restaurant toe. Die wind waai vir die vaal hel. Dis beslis die ekwivalent van die Kaapse sedoos. As jy oor die brug van die hawe af loop en jy hou nie aan die reling vas nie, sal die wind jou onder die motors inswiep. (Dit val my by dat daar ’n wetsbepaling in Frankryk was – miskien nog is – dat ’n moord wat jy pleeg as die mistral lank waai, nie teen jou gehou kan word nie.)
By die restaurant verwag hulle ons en ons kry ’n Engels-sprekende kelner. Ook heerlike piepklein salmtertjies saam met die rooiwyn, wat heel skaflik is. Die broskors smelt weg saam met die romerige visvulsel. Dit is net die regte happies om vooraf te eet, want dis te klein om jou aptyt te bederf, trouens, dit maak jou net lus vir nog vis.
Die bouillabaisse word stomend bedien in vlak ovaal skottels: ses soorte seekos in ’n sop gegeur met knoffel en saffraan. Wat merkwaardig is van hierdie gereg, is dat jy elke soort seekos se geur op sigself kan proe; dis glad nie ’n mengelmoes nie. Daar is een groot garnaal met dop en al, waaruit jy die knoffelsop kan suig, en een vet mossel op ’n halwe skulp, pure see. Dan vier soorte vis, ’n heel porsie van elk. Kan nie almal uitken nie, waarskynlik is dit soorte wat ons nie in Suid-Afrika teëkom nie. Van sagte wit vis wat maklik vlok, soos stokvis, tot ’n stewige, effens olierige vis wat ’n soort roofvis moet wees.
Hierby kry ons egte varsgebakte Franse brood wat ons in die sop doop, die soort met harde korsies waarvoor jy egte tande nodig het. Almal is tot my spyt te dik gevreet vir nagereg. Ons bestel ’n taxi om by die boot te kom. Gaan volstrek nie weer vyf kilometers voortstrompel teen die wind nie. Die mense van Marseille vertel glo die godin Venus het haar man Vulkanus bouillabaisse gevoer om hom goed te laat slaap terwyl sy met Mars baljaar het. Dink dit sou gewerk het. Ons is dodelik vaak en klim dadelik in die bed. Môre is