Wat Meisies moet weet. Jan van Elfen

Wat Meisies moet weet - Jan van Elfen


Скачать книгу

      

      Wat meisies moet weet

      Dr. Jan van Elfen

      Tafelberg

      Inleiding

      Dr. Jan van Elfen is dekades lank reeds sinoniem met die grootwordproses van ontelbare jong Suid-Afrikaners. Die vraag na leiding tydens die adolessente jare het ook toegeneem soos wat ons samelewing meer kompleks geword het. Daar is ’n al hoe groter behoefte aan ’n vertroude stem wat kan help om die nuwe realiteite waardeur meisies en jong vroue in die gesig gestaar word, die hoof te bied. Daarom is dit goedgedink om ’n nuwe uitgawe van dr. Van Elfen se gids vir die tienerjare uit te gee. Vir hierdie hersiene en bygewerkte teks is gesteun op inligtingsbronne van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), die Sentrum vir Toegepaste Regstudies (CALS), die Mediese Navorsingsraad (MNR) en Health24.com. Die essensie van dr. Van Elfen se betoog is egter behou.

      Alles is anders

      Deesdae ken jy jouself skaars – jy voel en lyk so anders as ’n paar jaar gelede. Eers het jy al hoe meer van jou voorkoms en hoe jy optree bewus geword en dat jou huismense jou ook anders begin behandel. Amper asof hulle jou nie herken nie – soos iets wat die kat huis toe gebring het. Wat het hier gebeur? Hoe het dit gebeur?

      Soms lyk dit of die mense by die huis nie meer van jou hou nie. As hulle nie torring oor jou hare nie, dan kla hulle oor jou klere. Jou pa bekyk jou ook krities, of verbeel jy jou dit net? Daar word soveel van jou verwag. Wanneer daar nie gekla word oor jou musiek te hard of jou kamer deurmekaar is nie, moet jy in die kombuis help. Dan is daar jou broer, die klein snuiter, wat nie end kry met sy geterg nie: “Ek weet tog wie vir jou SMS’e stuur, wê!”

      Maar die vreemdste van als is jou nuwe buierigheid. Die een oomblik sweef jy in die wolke en droom van ’n mooi toekoms. Kort daarna voel jy weer moedeloos, net omdat iemand jou skeef aangekyk het.

      Soms voel jy groot en selfstandig, heeltemal oortuig daarvan dat jy jou eie besluite kan neem. Dan is daar weer tye wanneer jy so onseker en magteloos voel dat jy sommer op jou pa se skoot wil klim om met ’n klein stemmetjie te vra: “Is Pa nog lief vir my?” Of wanneer jy so onhandig en hulpeloos voel dat jy vra: “Sal Ma asseblief help om my rok te stryk?”

      “Wie is hierdie nuwe ek?” wonder jy. “Wat het oor my lewe geloop?” Om skool toe te gaan was altyd vir jou lekker. Nou is jy traag om jou huiswerk te doen en jou gedagtes dwaal as jy in die klas moet oplet. Dit pla jou ook as jou toetspunte swak is. Soms lyk die toekoms duister en glo jy niks goeds wag vorentoe nie. By die huis raak jy sommer opstandig as jou ma verwag dat jy haar in die kombuis moet help. Jy is niemand se slaaf nie!

      Jy is ’n eienaardige mengelmoes van entoesiasme en onsekerheid, van uitbundigheid en tranerigheid, van vriendelikheid en omgekraptheid. Jy het ’n lekker boek huis toe gebring, maar kom nie so ver om dit te lees nie. Jy sit of lê verveeld rond – in jou kamer voor jou rekenaar, in die sitkamer of op die grasperk. Jou gedagtes spring rond en jy vra jouself af: “Watter soort mens is ek? Gaan ek ’n sukses van my lewe maak? Wat sal ek eendag word?” Meestal dink jy sommer aan niks. Die minute tik verby, maar die tyd staan stil. Soms wonder jy of jy besig is om mal te word.

      Maar dit is nie net jou gemoed wat streke uithaal nie. Jou liggaam krap jou ook om. Jou lyf voel lomp en swaar, amper asof dit aan iemand anders behoort. En hoekom voel jy gedurig lusteloos? Soggens kom jy traag orent en dan klim jy gewoonlik ook nog met die verkeerde voet uit die bed. Bewaar die een wat moeilikheid soek!

      Partykeer kry jy skaam omdat jy so humeurig is, veral teenoor jou ouers. Voordat jy jouself kan keer, skree jy: “Ek wéét, Ma! Dit is seker al die tiende keer dat Ma my oor dieselfde ding waarsku!” Alleen in jou kamer dink jy terug aan die kere toe jou ma op koue wintersaande kom kyk het of jy warm toegemaak is. En jy onthou hoe jou pa vir jou stories gelees het toe jy nog klein was. Jou huismense het jou nog altyd net goed behandel. Jy neem jou voor om te probeer om nie so kortaf teenoor hulle te wees nie. Maar net die volgende oomblik dink jy dat jy mos nie kan help hoe jy voel nie. En hoekom moet jy jou doodwerk by die skool? Jy sal tog net gekritiseer word as jy nie eerste staan nie. Jy het nie gevra om gebore te word nie en skuld die wêreld niks! En jy’s moeg vir die gedurige gepreek!

      Jou ouers en die ander ouer mense in jou lewe is ook nie meer soos hulle was nie, noudat jy daaraan dink. Kyk net die pa’s se boepies! En die ma’s lyk soos regte tannies in hul outydse klere. In die openbaar kan jy jou selfs skaam vir hulle en jy wil liewer nie saam met hulle gesien word nie.

      En jou eie klere! Kyk net wat is in jou klerekas. Alles lyk vir jou outyds en niks pas meer reg nie. Daardie pienk T-hemp waaroor jy ’n tydjie gelede nog so mal was, lyk nou na iets uit Noag se ark. Jy wil nie dood daarin gesien wees nie. Jy wil so graag moderne klere – met labels – hê. Jy is mos nie meer ’n kind nie!

      By die skool voel jy soos ’n vyfde wiel aan die wa. Jy kon in die aarde wegsink en skaars jou trane inhou toe Meneer ’n gek van jou voor die hele klas maak. Om te dink hoe jy altyd ’n ophef van hom gemaak het: “Ek dink ou Walties is te oulik vir woorde! Het julle die kuiltjie in sy ken gesien?”

      Hulle moet ook nie vir jou kom vra om aan die skoolkonsert deel te neem nie. Jy sal tien dode sterf as jy voor ’n klomp mense moet optree. Almal sal dan ook sien hoe maer jou bene en hoe groot jou voete is. Jy sien ook nie meer daarna uit dat die klok vir pouse moet lui nie. Jy voel uitgesluit as die ander meisies in groepies rondstaan en onder mekaar fluister en giggel. Bespreek hulle nie dalk vir jou nie? Waar is die dae toe jy speeltyd die voorbok was? Nou wil jy jou nie meer met sulke kinderagtighede ophou nie.

      En wat kon in Amanda gevaar het? Julle was nog altyd boesemvriendinne wat al jul grootste geheime gedeel het. Jy onthou hoe julle twee net nog nou die dag met die klasuitstappie die pak lekkergoed stilletjies sit en opeet het. Nou lyk dit asof Amanda jou nie meer ken nie. Seker omdat hulle in daardie spoggerige nuwe huis ingetrek het! Of is dit omdat sy saans tot twaalfuur kan uitbly?

      Hoekom voel jy vasgekeer soos ’n papie in ’n kokon? Dis ’n goeie beskrywing. In ’n sekere sin is jy soos ’n papie wat ’n gedaanteverwisseling ondergaan – ’n ruspe wat besig is om ’n skoenlapper te word.

      Jy is daardie veelbesproke wese wat as ’n TIENER bekend staan – ’n adolessent, nóg vis, nóg vlees, nie meer kind nie, maar ook nog nie grootmens nie. Jy het ’n nuwe tydvak, ’n oorgangstadium, in jou lewe bereik. Jy het lank gedroom en uitgesien na hierdie wisseljare. Noudat jy dit ervaar, word jy deur ’n beklemming beetgepak, soos ’n bergklimmer wat hoogtevrees kry as sy amper by die kruin is.

      Daar is soveel dinge wat jou bang en onseker maak.

      Aan die een kant kry jy as tiener glo ’n nuwe identiteit. Intussen verstaan volwassenes tieners nie altyd nie en kritiseer hulle graag. Jy weet jy het geen keuse nie – jy moet deur hierdie stadium gaan. Aan die ander kant sien jy uit na die avontuur.

      Die werklikheid van adolessensie staar jou in die gesig; om daardie liggaamlike veranderinge te ondergaan wat meer as lengtegroei behels. Jou ouers, boeke en tydskrifartikels het jou daarop voorberei. Miskien is jy selfs gewaarsku oor hierdie moeilike tyd waardeur jy sal moet gaan.

      En hier is dit nou. Die tekens dat jou liggaam ryp word verskyn die een na die ander. Jy ondervind die simptome waarvan jy gehoor het en nog ’n paar ander, wat eie aan jou as individuele mens is.

      Teen jou sin begin jy twyfel. Sal jou liggaam normaal ontwikkel? Gaan jy op die regte plekke en in die gewenste proporsies borste kry? Gaan jy in ’n besemstok verander of ’n stompie bly? Op die oomblik is jy ’n lelike eendjie. Sal jy ooit ’n swaan word? Die onsekerheid bly knaag.

      Boonop is daar nog jou innerlike gevoelens. Jy is ’n mens in eie reg. Niemand anders lyk of voel presies soos jy nie. Hoe vind jy ’n balans tussen jou tienerwese en jou uniekheid as mens? Op ’n manier voel jy soos ’n netbal- of hokkiespeler voor haar eerste wedstryd. Jy weet nie wat om te verwag nie. Jy vrees dat jy ’n blaps gaan maak en as ’n mislukking bestempel sal word. Bloot die gedagte aan jou deelname aan die spel van adolessensie gee jou koue koors.

      Dit is werklik onnodig om so angstig te reageer. Hoe langer jy speel en hoe beter jy die reëls begryp en nakom, hoe meer geniet jy die spel.

      Met


Скачать книгу