Heildronk op 'n gypsyromp. Nadia de Kock
wilderose groei ’n ordentlike bekendstelling verdien. Gerrit Vollenhoven doen dit vir al sy skrywers.”
Gaan Elaine my nou met Gerrit Vollenhoven dreig?
“Romanses,” begin ek, maar besluit dadelik om my woorde in te sluk. As ek Elaine onder die indruk bring dat ek haar boeke nie so belangrik soos Diana s’n ag nie, is die koeël deur die kerk. Almal weet tog hoe goed romanses verkoop, en Elaine se boeke, wat eintlik eerder liefdesromans is as romanses, verkoop baíe goed. Diana s’n verkoop net beter. Sex sells. Punt.
“Natuurlik moet ons kyk na na ’n ordentlike boekbekendstelling.” Ai. “Ek wou net eers dat die publiek jou leer ken voordat ons ’n bekendstelling hou. Anders val so iets heeltemal plat.”
Ek voel warm. Dit moet van die Margarita’s wees.
“Wonderlik! Dankie. En ’n moontlike datum?”
“Ek sal moet kyk. Wat sê jy van so mid-Oktober?”
“Uitstekend.”
Elaine is gelukkig; dankie daarvoor. Ek stap terug in Nuno’s en gaan sit weer oorkant Ziggy. Ek moet dadelik nog ’n Margarita kry. Ek kan nie nou aan Elaine se bekendstelling dink nie; ek het nog skaars herstel na Diana s’n. Wat my weer laat dink aan Markus. Og, daai man is sexy!
“Dink jy nie ek moet vir Markus bel nie?”
“Hoekom wil jy dit doen?”
“Ek wil hom date. Staan dit iewers geskryf dat ouens girls eerste moet vra vir ’n date? Dis ’n moderne era. Toe stry, Ziggy.”
“Nee, dit staan nêrens nie. Maar, ek sou nie.” Ziggy staan op. “Nog ’n Margarita?”
“Asseblief. Maar, wag nou eers. Hoekom sal jy hom nie date nie?”
“Hy’s nie my tipe nie.”
“Ziggy! Jy weet dis nie wat ek bedoel nie. Hoekom sal jy nie ’n ou eerste vra nie?”
“Ek sal.”
Ziggy vat ons glase en stap na die kroegtoonbank toe.
Ek voel ’n bietjie verward, en probeer my gedagtes bymekaar kry. Dit herinner my aan een aand, in hierdie einste Nuno’s, toe ek en Ziggy in ’n debat oor hoë letterkunde teenoor populêre letterkunde vasgeval het. Billy het agterna gesê dit was mal.
“Ziggy sê die tafel is bruin, dan sê jy ‘Is nie, die stoel is blou!’”
Ek begin giggel. Die volgende Margarita is beslis my laaste een, dis afdraand van hier af. Ek sal Ziegs môre weer vir haar opinie vra.
Ek sukkel vir ewig om die veiligheidshek by die voordeur oopgesluit te kry. Ek dink ek moet ’n gloeilamp met meer watts of iets gaan koop vir die stoeplig. Mens sukkel met hierdie flippen slot. Wat my meer ongemaklik maak, is dat ek wéét die straatwag staan vir my en kyk. Hy het gewaai toe ek om die draai kom en het nadergestap om seker te maak ek is veilig in die erf en dat die elektroniese hek heeltemal agter my toegegaan het. Ek waardeer dit. (Ek wonder partykeer wat hy dink; ek het een aand baie laat van Melville af gekom en vergeet om die hek agter my toe te maak. Het my amper mal geskrik toe die interkom so laat in die aand lui. Dit was die straatwag. “Close the gate!” het hy beveel.)
Wanneer ek uiteindelik binne-in die huis is, stap ek kombuis toe en gooi my sak op die tafel. My Margarita-lus is nou aangewakker. Ek haal die ysbreker uit die kas onder die wasbak en maak die yskas oop. Daar is nie lemmetjies nie (wat het ek gedink?), maar Lime Juice sal die ding doen. Die belangrikste is tog die tequila. Ek gooi ’n bietjie Lime Juice en water op een piering en sout op ’n ander een en druk my glas daarin. Hierna gooi ek ’n paar blokkies ys in die ysbreker en wanneer die ys gebreek is, meng ek dit met die tequila, Lime Juice en lemoenlikeur en gooi dit in my glas. Maklik. Ek proe. Dis lekker genoeg. Ek kan miskien nie kook nie, maar ek kan Margarita’s maak!
In my kamer skakel ek die bedlamp aan en sit my glas op die bedkassie voordat ek my hangkas oopmaak. Tussen die rye minimalistiese wit, room en swart werksklere glim my gypsyklere donker in die skaduwees. Ek druk die middernagblou fluweelrok eenkant toe en haal my pers-en-groen blommeromp van sy hanger af. Ek het die romp vyf jaar terug by ’n straatmark in Boedapest gekoop, naby die leë stuk grond waar ’n klomp gypsies ingetrek het, saans vure aangesteek en musiek gemaak het. Ek sou wat wou gee om genooi te word, maar hulle het nie sommer met ander mense gemeng nie. (Ziggy hou glad niks van gypsies nie; sy sê hulle pla mens erg wanneer hulle bedel. Sy is al deur twee gypsykinders beroof ook. Dit het my gelukkig nie oorgekom nie. Miskien het hulle aangevoel dat ek ’n kindred spirit is. Behalwe nou vir die steeldeel.)
Die romp is vrek mooi. Helderpers en donkergroen. Dis lank ook, dit hang amper op die vloer. Ek trek my langbroek uit en glip die romp aan. Ek hoef net een knoop van my bloesie los te maak, trek dit oor my kop, gooi dit op die bed en glip my bra af.
Ek gaal haal my iPod van sy staander af, druk die oorfone in en druk dit in my ore, vat ’n groot sluk Margarita en skakel die bedlamp af.
Taraf de Haidouks, die gypsies wie se musiek ek met groot moeite in Boedapest opgespoor het, begin speel; ’n dosyn musikante met viole, akkordeons en simbale. Ek begin my heupe swaai, my arms hang los langs my sye. Die viole en kitare speel vinniger en al vinniger en ek swaai wild deur my kamer. Soos ’n Twirling Dervish spin ek in die rondte; my romp lig tot bo my knieë.
Ek verbeel my ek is iewers op ’n dorpsplein in sê maar Spanje. Musikante speel tot laatnag en die mooiste meisies kom dans (ek ook, maar never mind). Net wanneer ek myself behoorlik dronk gedraai het en voel of ek gaan val, vat ’n paar hande my om die lyf vas. Ek swaai om. Dis Billy. Die dorpenaars begin juig, Billy het my van ’n besliste val gered. Ons begin tango en die dorpenaars klap stadig hande. Almal ken vir my en Billy; die skrywer en haar goeie vriend, die fotograaf, wat in die somer hier kom bly.
Ek gooi my arms in die lug en met ’n laaste draai plof ek op my bed neer. My hart klop wild, my asem jaag.
Sal dit nie lekker wees nie? Om heeldag te kan skryf en heelnag te kan dans. Om Billy daar te hê, dinge normaal soos altyd, asof Nieu-Bethesda nooit gebeur het nie.
Ek moet ophou droom, daar is werk om te doen. Ek haal die oorfone uit, sit die iPod op my bedkassie neer en skuif my selfoon oop. Ek stel die selfoonwekker vir vieruur; ek het waardevolle ure verloor met my en Ziggy se gekuiery vanmiddag. Ek sal môreoggend vroeg opstaan en dadelik begin werk. Dis nou tienuur, ses ure se slaap is meer as genoeg.
4
Ek hét al varser in my lewe gevoel. Vanoggend het ek, soos beplan, vieruur opgestaan, my laptop by my in die bed gelaai en verder geskryf aan die Meiringspoort-artikel. My aandag was met tye nie heeltemal by die artikel nie, om obvious redes.
Dit was my en Billy se eerste road trip. Ons vind dieselfde goed snaaks en omdat hy ’n fotograaf is, het ek deur sy oë na dinge begin kyk, in plaas van net stories te soek. Ek het die lig raakgesien, teksture, kleure. Dit was wonderlik. Ja, die eerste drie dae was wonderlik. Vóór Nieu-Bethesda.
“Jy lyk of jy koffie nodig het,” sê Audrey en vou haar koerant toe toe ek by Vianne se kantoor instap.
“Sit, ek maak sommer,” sê ek en haal vir ons bekers uit.
“Daai meisie van Beeld het gebel. Sy het Diana se mediaverklaring verlê; sy vra of ons dit weer kan stuur.”
“Sal jy dit gou weer vir haar stuur? Dis nog onder Personal Folders in my Sent Items.”
Audrey kyk my aan asof ek haar gevra het om molekulêre nanotegnologie aan Lelani te verduidelik.
“Toemaar. Ek sal,” sê ek en skakel my rekenaar aan. Terwyl ek vir die perkoleerder wag, kyk ek na die twee stelle proewe van Wilderose wat op my lessenaar lê. Ek moet vanoggend nog daarmee begin as Sanette dit Maandag moet hê.
“So,” vra ek so nonchalant moontlik terwyl ek Audrey se koffie vir haar aangee, “het Kobus-hulle die bekendstelling geniet?”
“Hy was só beïndruk! Met alles, hoor.” Audrey glimlag tevrede.