Heildronk op 'n gypsyromp. Nadia de Kock
my,” sê ek en haas my voordeur toe. Wanneer ek by hulle kom, kyk ek gou weer na Diana en Richard se kant toe, om seker te maak hulle is gemaklik. Wat ek sien, laat my hare rys. Die vermetelheid! Gerrit Vollenhoven kniel by die bank. Hy het die val opgelig en inspekteer die baksteen. Diana leun oor na hom. Sy val omtrent uit haar korset. En Richard grinnik net. Dan laat sak Gerrit die val en kom regop. Hy het nie eers behoorlik gewag dat ek weg is nie! Die man het geen –
“Mieke! Ek sê, jy onthou vir Kobus, my seun?” Dis Audrey. “En dis sy vroutjie, Marie.”
“Nice party,” sê Kobus. “Kom, ek wil jou gou aan ’n vriend van my voorstel,” sê hy en draai na die ou in die deur agter hom.
Ek is nie nou lus vir Kobus en sy vriende nie. Ek beter by Diana kom. Maar toe Kobus voor my padgee, gaan staan my hart amper. Want Kobus se vriend is die aantreklikste ou wat ek in jare gesien het (en ek sien maar min wat my hart laat sing). Ek vergeet net daar van Diana en Gerrit.
“Mieke, Markus.”
“Aangename kennis,” sê die Markus-man met ’n glimlag.
My vel begin stadig warm voel, asof ek by die see sit en die son pas deur die wolke gebreek het.
“Hallo, Markus,” sê ek, knik my kop, en kyk vinnig na Ziggy, wat langs Audrey kom sit het.
“Kom … gaan haal vir jou wyn,” piep ek vir Markus.
My balans is weer nie wat dit moet wees nie. Simpel skoene! Markus glimlag ’n lui, lang glimlag vol beloftes.
“Dankie.”
Hemel, hy is sexy. Hy kyk vir ’n sekonde langer as wat nodig (of ordentlik is) na my voordat hy na die wyntafel toe stap. Ek onthou van die glas Spritzer in my hand en vat ’n groot sluk.
“Dishy, nè?” Dis Ziggy wat opgestaan het en langs my kom staan.
“Gevaarlik so.”
“Maar nie so dishy soos Billy nie,” bars sy my bubble.
Wat? Ek kyk na Billy, wat besig is om foto’s van Diana en Richard te neem. Hy mik sy flash na die dak en hou aan foto’s neem terwyl Diana haarself eers teen Richard aanvly en dan regop sit, hand onder die ken. Ek wens sy wil stilsit.
Billy kyk skielik op, kyk my vol in die oë. Dit lyk of hy klaar is. Ek knik my kop. Dis tyd vir die toesprake. Laat ons die party ordentlik aan die gang kry. Ek stap so statig as wat ek met die indrukwekkende stilleto’s kan na die klein verhogie en stel Diana aan die gehoor voor. My toespraak is kort en hopelik kragtig, want dit is tog Diana se aand. En glo my, ek weet sy sal baie te sê hê – en dit sal definitief baie beter wees as my toesprakie.
Diana praat heelwat langer as wat ek verwag het, maar sy het die gehoor aan haar voete met slim filosofiese verwysings na hedonisme en seksualiteit. Dan maak sy haar boek oop en begin met ’n smeulende voorlesing uit Heuningstroop.
Ek kyk die mense deur. Almal se aandag is by Diana. Behalwe Billy s’n, blyk dit, want my oog vang syne en hy glimlag voordat hy sy driepoot optel en na ’n ander hoek van die kerk stap.
“… en drink haar heuningstroop langsaam in …” lees Diana.
Ek kyk na die voordeur. Markus leun teen die muur aan, wynglas in die een hand. Hy kyk stip na my. Nog iemand wie se aandag dus nie heeltemal by Diana is nie. ’n Gloed kruip teen my nek op en ek kyk weg. Behalwe vir Diana se erotiese voorlesing is dit doodstil in die kerk.
Diana het gesorg dat daar behoorlik gekuier word ná haar voorlesing. Gerrit Vollenhoven is onder die laaste gaste wat vertrek.
“Geluk met ’n goeie bekendstelling.” Hy het ’n Heuningstroop in die hand. “Die boek lyk ook mooi.”
“Dankie, Gerrit.”
“My broer is ’n skrynwerker. Ons het gereël dat hy sommer die bank môreoggend kom optel en regmaak. Hy sal dit by Diana uitkry.” Hy glimlag. “O, en Diana sê my sy is al ver gevorder met haar vierde boek. Ná middernag, noem sy die manuskrip.”
Die nuus vang my onkant. Ek het nie geweet daar is ’n vierde boek op pad nie.
“Evokatiewe titel,” sê Gerrit en glimlag. “Gegroet, Mieke.”
“Totsiens, Gerrit.”
Ek draai om en kyk na Diana wat vir oulaas ’n paar boeke teken. ’n Vierde boek, en ek, haar uitgewer, weet nie daarvan nie?
Ek stap vinnig na Audrey toe.
“Koop asseblief môre die grootste bos blomme wat jy in die hande kan kry en laat dit by Diana aflewer.”
Met Diana sal ek moet mooispeel. Want Gerrit was vanaand soos ’n honger wolf om my skrywer.
3
Ek loer vinnig na ABSA se Cresta-tak aan die oorkant van die koffiewinkel waar ek vir my afspraak met die kleinsake-afdeling sit en voorberei. Ek moet fokus, my asemhaling beheer. Haal diep asem, hou dit in vir vyf tellings, en laat al die lug stadig uit. Weer ’n keer.
Dit voel nie of dit werk nie. Ek verstaan nie hoekom ek so benoud is nie. Ek trek my longe weer vol lug en onthou dan ’n oefening wat ek in een van my ma se boeke raakgelees het: mens moet jouself ground, het die skrywer gesê. Of was dit centre? Dit maak nie saak nie, ek gaan dit probeer. Ek maak my oë toe en begin die oefening herroep: verbeel jou jy stap met ’n pragtige (verkieslik goue) wenteltrap af, treetjie vir treetjie al laer totdat jy by ’n klam, groen plek kom. Staan stil, kyk om jou rond en sien die pragtige pienk skoenlappers wat rondfladder, vet hommelbye wat om geel blomme zoem …
Jip, dit voel omtrent reg.
Stap ’n entjie verder op die sagte gras en gaan sit by ’n kabbelende waterstroom. Aan die oorkant sien jy blonde krulkopkinders speel. Hóór hulle lag, vóél die liefde in hierdie spesiale plek van jou. Sien die … sien …
Gerrit Vollenhoven?!
My oë vlieg oop en ek loer om my rond. Niemand kyk vir my nie.
Wat soek Gerrit Vollenhoven in mý koel, groen plek? Die oomblik is geruïneer, die skoenlappers het weggevlieg en die kinders het begin tantrums gooi (in fact, dit klink asof die bye ’n paar van hulle geklits het). Ek skud my kop en kry nog ’n suikerpakkie uit die houer voor my op die tafel. My senuwees is op. Sien, dis weer een van daardie oomblikke waar ’n goeie matroosvloed handig sou wees. Ek skud die bruinsuiker oor my cappuccino uit en kyk hoe die korreltjies bo-op die room lê voor dit stadig wegsmelt.
Gerrit Vollenhoven, wat weet van Ná middernag. Mý Diana se vierde boek. Ek skep ’n lepel vol room van die cappuccino af en kyk weer na die bank oorkant die koffiewinkel. Ek maak my haarrekkie los, trek my hande deur my hare, bind dit weer op en trek aan die poniestert om seker te maak dis stewig vas. Blerrie Gerrit Vollenhoven!
Ek vat ’n slukkie van die soet cappuccino en maak my notaboekie oop. Ek moet dubbel seker maak ek vra vir genoeg geld. Want dis wat ek vandag moet doen: ’n lening kry. Vir Vianne.
Reg: Wilderose moet drukkers toe (R40 000); die eerste Pippa moet ’n derde druk kry (R20 000); die tweede Pippa is op pad (R55 000); Brando se reisverhale gaan voor November afkom (R40 000) en ek kan netsowel voorsiening maak vir Ná middernag (R40 000). Groottotaal: R195 000. O vrek. Ek haal weer diep asem en skrap die eerste Pippa van die lys. R175 000. Dis beter. Maar is dit die regte besluit? Pippa doen op die oomblik goed en herdrukke maak veral geld, omdat die omslag klaar ontwerp is, die setter en proefleser klaar betaal is. Mens stuur net die proewe weer drukkers toe. Ek trek die R175 000 dood en skryf weer R195 000. Dis nie só erg nie. Dis eintlik min; ek is seker daar is ander klein ondernemings wat baie meer nodig het. En dis darem nog onder R200 000.
Ek sluk my cappuccino klaar, tel my sak op en haal my grimeerspieëltjie uit. Ek loer vinnig of daar nie lipstiffie op my tande is nie. Hemel, maar ek lyk gestres; ek gaan op die jeugdige ouderdom van twee-en-dertig Botox nodig hê vir hierdie plooie tussen my oë. Ek klap die spieëltjie toe en kyk of ek die kelner sien.
“Rekening,