Kortetjies en 'n lange. PG du Plessis
in te glip nie … hy sal sorg vir goeie reaksie …
Noem net een naam, dring hy aan. Dan stuur hy Misverstand om die saak af te rond.
Ek hou voet by stuk.
Alleen of nie alleen nie, ’n mens moet darem kyk na jou gewete.
Ons praat nog so toe die motor stilhou en ek sien juffrou Shataan klim uit. Lang, sagte dye swaai sy uit die motor.
Jy kan die motor bykry, sê Beëlsebub.
Ek hardloop huis toe.
Net een naam, sê hy. Die veld is ryp. Net een naam.
Ek sluit die deur agter my en gaan druk my kop in die kussing om nie Bellie Shataan se sagte klop aan die voordeur te hoor nie.
Die kussing ruik effens na swawel uit vorige sondighede.
Is ’n naam nou so erg? Die skeur is klaar daar.
Juffrou Bellie klop dringend.
“Ek is nie ’n politikus nie!” skree ek vir haar.
Sy lag diep, want sy weet ek is ’n Afrikaner …
Piet-my-vrou, piet-my-vrou
Vroeë digters het hier in die lente rond idillies geraak, die natuur sien ontwaak in kleur en geur – in die algemeen aan die sing gegaan oor die liefde; jubelende ryme afgesteek oor die skoonheid en die natuur; hulle vergryp aan die lied van die lente.
Hier by ons op die plaas stry ons, lente ofte nie, oor die diepgange van die semantiek.
Terwyl die piet-my-vrou nag lank roep na die liefde, die bome knop, die oog in die rivier ’n nuwe deuntjie sing, die groen spruite van die riet uit die brande in vars lewe begin oopdraai … terwyl ons moet juig oor nuwe seisoene en die volheid van komende, ryp somerdae, stry ons oor woorde.
In ’n onbewaakte oomblik het ek gesê die gans Genis is hardegat.
Die gans Genis het opgetree in Koöperasie-stories en Koos Roets vra my ná die skietery oor is of ek die twee ganse en die vier eende wil vat. Ek vat dus: twee ganse, vier eendwyfies.
My handlanger Mattewis vind veral laasgenoemde nie reg nie, en volgens die optrede van die mannetjielose wyfies het my Calvinistiese insig die drifte en frustrasies van die vrouegeslag onderskat. Ons laat dit daar.
Maar die gans Genis het die leliedammetjie in die voortuin vir hom en sy wyfie opgeëis. Al had hy die hele rivier om van te kies, dis van die leliedammetjie af dat hy almal wegblaas, waar hy aan die tone van dié wat dit te naby wil waag, kom knyp, en waar hy letterlik vloek teen almal, asof hy voorsitter is van ’n nuwe splinterparty.
Dié dat ek toe die oggend sê hy’s hardegat.
Daarmee ontstaan daar toe ’n drieledige standpunt-inname oor die semantiese inhoud van woorde:
Mattewis sê ’n gans kan nie hardegat wees nie; ou Hennie sê ek vloek vir hom darem deesdae alte vreeslik; ek pleit onskuld uit hoofde van die minder spesifieke betekenis-inhoud van die geykte uitdrukking.
Ek besef ek word aangeval, en ek sê ons moet maar aanstryk met die moere, want die goed loop uit en ons kan nie die hele dag staan en ginnegaap oor ’n gans se dinge nie.
Maar so, terwyl ons kromstaan oor die moer-vir-moer wat in die bruin grond in, kom die argumente terug.
Ek verstaan ou Hennie se nuwe moralisme. Die jong dokter op Carletonville het my ’n briefie gegee SANTA toe. Tussen die maer ribbes het die tering weer hervat. Ou Hennie lewe dalk reeds in die skaduwee, dag ek, en daarom het hy die drank gelos, die vlees gekruisig, matig begin rook, en sy werkgewer se woordeskat begin bevraagteken. Mense wat laat tot evangelisering kom, besluit ek met die son in my nek, het maar so ’n ywer aan hulle.
Daarom gee ek toe: ons sal, ter wille van fatsoen, indien dan nie die sondigheid nie, die gans se toestand tot koejawel versag. Genis is dan, volgens nuwe, verbeterde definisie, hardekoejawel.
Wat Mattewis nie kan toegee nie.
Volgens Mattewis kan ’n ding wat ’n hele eiderdown donse onder sy koejawel dra, nie hardekoejawel wees nie.
En of ek wil saamstap?
Ek stap saam, want daar’s meer in die lug as gansekoejawels. Is ook so.
Hy spreek my aan. Dis nie vir hom goed soos ek aangaan nie, sê Mattewis, want ek praat alleen, en dan praat ek nie reg nie. Vanoggend voor dit behoorlik lig was, sê Mattewis, het hy gesien ek staan aan die akkerboom by die tenk se knoppies en voel, net of die goed nie elke jaar hierdie tyd uitkom nie. Hy wou met my kom praat, voor hy gaan melk, maar toe hoor hy ek praat met myself oor die eerste Oktober. Toe loop melk hy maar.
Hy verwag ’n verduideliking wat ek nie kan gee nie. Hoe vertel jy Mattewis dat alle voorjare op ’n eerste Oktober vasgesteek het, en dat alle Septemberbotsels, alle voorjaarsgoeters, aan die dag kom vassit het?
Mattewis kan nie begrip hê vir magiese datums uit die verlede nie.
Hoekom, vra hy my, het ek nog nie ’n eendmannetjie vir die wyfies gekry nie? Wil ek hulle vir die mooiigheid aanhou tot hulle vrek van die ouderdom?
En of ek dan nie kan kyk waar ek trap nie.
Toe wys hy my die nes van Genis en sy wyfie, reg voor my voete. Die eiers is toegemaak, sodat niemand wat nie weet nie, of nie afgeloer het nie, dit sal kan kry nie.
Ons gaan haal draad en span dit tussen die nes en die rivier sodat die otter haar nie kan kom haal as sy broei nie. Mattewis kyk my met ’n oorwinningsoog aan en sê dis nie verniet dat Genis sy eiderdown so skud nie. Dis nie koejawelgeit nie, dis nie koejawelgeit nie.
Voor ons die volgende dag ry om die eendmannetjie te gaan haal, vra ek Mattewis vir wat ou Hennie so sing daar waar hy waterlei. Wat het nou skielik van sy seer longe geword?
Nee, sê hy, ou Hennie het laas nag ’n lekker nuwe stuk gekry om by hom in te trek.
Ons ry.
Hy vra my hoekom ek laas nag so laat geskiet het.
Ek kan hom nie sê ek het die roep van die piet-my-vrou probeer stilkry nie. Ek sê dit was nie ek nie, dit was seker van die mense laer af met die rivier.
Hy vra my of dit is oor die eerste Oktober, waarvan ek by die boom gestaan en praat het.
Ek sê niks.
Hy vra my wat is so snaaks aan die eerste Oktober?
Ek sê dis oor hy net een keer kom.
Ganse is snaakse voëls, sê Mattewis, hulle skud hulle eiderdown net een keer in hulle lewe soos Genis syne nou skud.
Daar moet dringend van onderwerp verander word. Dit was nie ou Hennie se longe nie, beweer ek dus.
Maar dis nie nodig nie, sê Mattewis, om vir iemand te sê jy gaan sy koejawel vol ou skoene skop net oor hy by die waterlei staan en sing nie, en net oor hy ’n nuwe stuk gekry het nie.
Ons ry langs die rivier af. Die wilgerbome het ’n groen waas oor hulle.
Ons praat slotsomme: Dis verkeerd om die eendwyfies net vir die mooi aan te hou tot hulle oud is; party harte is gans-getrou; ’n piet-my-vrou hou nie sy bek van die nag af as hy roep in hom het nie, al skiet jy hoe; ganse is binne en buite dalk sag.
Ons vermy die eerste Oktober, want hy lê klaar in die wilgerbome se groen.
’n Kop vir kweek
Jong Thomas begin toe jeuk, en hy loop weg hier van sy pa en van die plaas af om by die delwers te loop werk.
So hoor ek, want sien laat hy hom nie sien nie. Al my informasie kom dus woedegekleurd van die vader en die agtergeblewenes.
Maar dié sê hy’t soontoe gegaan, nie vir meer geld nie, maar oor die betaalwyse: daagliks in plaas van maandeliks.
Jong Thomas kan nie so lank