Kortetjies en 'n lange. PG du Plessis
dood toe. Dis soos liefdesbeloftes wanneer jy plaasdiere grootmaak, sê ek nog vir Faantjie. Daar’s ’n soort verneuk in, sê hy terug, en kyk anderpad.
Maar Mafoeta hol weg en gaan sit onder in die bos, sonder om sy koeldrank te vat wat hom vir hek-oopmaak toekom.
Later gaan sê ek vir hom ek sal vir hom sy eie-eie gans gee, want dié dat die man syne gevat het, was ’n fout, ek het nie regtig die gans verkoop nie. Maar gaan terughaal, dit is ’n ander saak.
Hy kyk net vir my.
Sondagoggend hoor ons die ding van ou Hennie.
Hy was, stuk en al, by die groot makietie anderkant by Bernstein se werksmense.
Daar het sy stuk besluit om van liefde te verwissel. Sy’t so halfnag verdwyn, en toe ou Hennie vanoggend sy positiewe terugkry, het sy klaar ingetrek by sleg-Jakop.
Mattewis sê hom sy’s sommer gou-gou terug, want Jakop slaan.
Ou Hennie kyk weg. Ons is by die eendehok waar ek vir Mafoeta ’n gans wil gee.
Mafoeta wil die gans nie hê nie. Dis nie dieselfde ene nie, sê hy.
Mattewis sê vir ou Hennie sy’s binnekort terug.
Dit sal nie dieselfde ene wees nie, sê hy. Hy wil haar hê soos sy was voor Jakop.
Ek sê vir Faantjie en Mattewis, soos ons Mafoeta en Hennie agternakyk, ja, sê ek, mens wil altyd dieselfde ene terughê.
Faantjie se oë is donker van die twyfel, want Woensdag, skryf sy, sal sy op die lughawe wees. En hy bid vir dieselfde ene.
Met vroumense weet jy nooit soos die goed lieg nie, sê Mattewis.
Faantjie byt ’n vingernael verder die lewe in.
Ouma weet al
Oudword is nie maklik nie.
Die onafhanklikheid en die vryheid en die vreugde teer uit jou lede uit.
Die afhanklikheid groei in jou soos die ongeduld in die oë van dié rondom jou.
Jy bekommer jou dat jy ’n las geword het; of jy die storie nie dalk al klaar vertel het nie. Jy leef terug in die dae wat die mense rondom jou nie beleef het nie, dus nie herinneringswaardig ag nie.
Jy sukkel, jy verlang terug, en jy vrees vorentoe.
Maar die ergste is dat jou vriende om jou wegsterf, en met hulle soveel van die dinge wat julle geïnteresseer het, waaroor julle kon lag-praat.
Dis eensaamheid wat jou vang, selfs meer as die groeiende skete.
Uiteindelik, sê hulle my, raak die dood amper verkieslik, en gee jy net om vir klein dingetjies wat jy nog hoop om te sien, want die ander, weet jy, gaan jy nie sien nie.
Dis aan oudword dat ek dink, terwyl ek by die troue sit van my vriend se mooi dogter.
Want, al hou ek nie van troues nie, en al vind ek die seremonie te amptelik vir die liefde en die onthaalgrappies te banaal vir die liefde, sit ek daar in my blou pakkie ter wille van my vriend.
Ek het haar sien grootword soos ek hom sien grootword het.
Vóór die bruid inkom, het hulle die ouma na wie sy heet, ingebring en voor laat sit.
Ouma het geskuifel, sy was krom van die jare, haar hare was wit en yl, al haar bewegings was presies, want sy wou nie skande maak nie.
My vriend het sy dogter afgegee en hy was bewoë.
Ek het geweet hoekom. Ek het gesien hoe sy op sy maag sit toe hy haar nog kon opgooi en vang, en ek het gesien hoe hy langs haar bed staan toe sy nog ’n dogtertjie was; hoe hy haar uitgaan-aande uit die kar dra. Ek was by toe hy haar stories kon vertel waaraan sy geglo het.
Toe sy in haar eerste adolessente weerbarstigheid hom seergemaak het, het ek hom bemoedig en gesê hulle is maar almal so in daardie stadium. Toe haar liggaam uitvul en die mans kyk haar op straat agterna, het ek hom gesê hy moenie besimpeld wees nie. Wil hy nou ’n dogter hê sonder bewegende dele?
Ek het saam met hom gewonder waaroor dogters ure omgiggel in slaapkamers, waaroor hulle praat as hulle die foon te lank beset. Ek was saam met hom onrustig, want ons wis albei waaroor óns gepraat het, maar ons noem dit nie, want elke man verklaar sy dogters en sy geliefdes heilig.
Toe hy elke jongetjie wat opdaag met ’n vadersoog ongeskik vind, het ek hom nie in sy kwaad gesterk nie. Ek het gesê: Los die kinders, hulle is normaal, en sy is mos goed grootgemaak, méér kan hy nie doen nie. Sy sal na haarself kan kyk op Saterdagaande. Hy het gesê wat hy nie kan verdra nie, is dat hulle vroomgevreet daar aankom en dan weet hy mos wat dink die vloeke.
Nou’s hy bewoë. Hy gaan langs die ingedoke ouma, sy ma, sit. Sy vrou verstaan die ding van die ander kant af en sy sit droog-oog en kyk of die trourok se befoeterde naat nie dalk met die kniel sal wys nie.
Die dominee doen sy bes om die preek en die formulier iets spesiaals te maak – soos hy elke Saterdag ’n paar keer moet doen, en dus, sy goeie wil ten spyt, nie meer kan nie.
Ek kyk na ouma, ma en bruid, en ek weet dat tussen troue en begrafnis net enkele seremonies hulle nie laat seremonieer nie – en dis die liefde, geboorte en die sterwe self.
Ek vergelyk die velteksture van bruid, ma en ouma. Ek weet hul oë verskil en ek vermoed die lyfverskille. Ek sit en opweeg waarna elkeen verlang, wat elkeen wil hê en wat elkeen vrees.
“Ek hoop die twee kom klaar,” sê my vriend terwyl ek hom help om Ouma die kerk uit te sukkel.
Hy’s bietjie dun van nerf, want Ouma wil opsluit ’n vriendin van haar wat hier bly, gaan opsoek.
Ek bied aan om haar te vat, want ek voel nog sentimenteel oor my gedagtes by die troue.
Sy’s bly. Ek sê vir my vriend ek hoop hy sal my ook eendag kom opsoek solank dit nog moontlik is.
Ons gaan soek die volgende dag na Ouma se vriendin, maar sy’s nie meer daar nie, sy is nie meer daar nie. Ouma sê dit drie keer.
Ons groet toe ons by die hotel terugkom.
Sy was nog op my troue, sê Ouma. My kinders het voor haar grootgeword. Ek onthou nog … en sy vertel die storie die derde keer.
Ag, Ma, ons ken daardie storie, sê my vriend se vrou ongeduldig.
Sy is nog vies vir die bruid wat die oggend met die troue vir haar gesê het: Ag, Ma, Ma is net soos ’n ou hen om ’n mens.
Ek sê vir my vriend dis beter om vóór jou vriende dood te gaan. Hy verstaan my nie, want hy ken my nie as ’n sentimentele man nie.
Waai jy maar eerste, sê hy.
Net Ouma kyk vir my, want sy weet al.
Met die brug stroomop
Vanjaar kom daar weer behoorlike storms oor die Hoëveld.
Smiddae steek hy op, dreun sy dreiging, woed uit.
En as hy verby is, hang sy nadreun oor ons, staan die reënboog in die ooste, trou jakkals dalk nog ’n rukkie met wolf se vrou, en jy weet die Hoëveld-aand gaan stil en mild wees.
Dis dan, in ’n reënjaar soos vanjaar, dat ek terugwonder na my seunsdae op Cornelia. Kap daar ’n seun vis by die vishek wat ek in die stroomversnelling gepak het? Is hy so heilig op sy hoepel soos ek was?
Want ná Schoonspruit sy bruin woede in Vaalrivier loop stort het, het die geelvis teen die nawater opgebeur – en as jy in die stroomversnelling jou vishek gepak het, kon jy ’n oomblik sy rugvin bo die water sien, en hom kap met ’n hoepel wat jy agter die koöperasie of by oom Lukas se garage geskaai het.
Terwyl die spruit na die storm afkom, kon jy op die brug staan en sien hoe die water deur die vernouing sied.
As jy stip in die stroom kyk, dan is jy seker die brug beweeg stroomop, teen die vloei van die water