Vier seisoene kind. Wilna Adriaanse

Vier seisoene kind - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
die voordeur gemaak. Die res kan net makliker wees.”

      Cato gaan sit haar handsak in die kantoortjie neer en bekyk die kaal mure. Wagtend op die dirigent.

      Adriaan stap agter haar in en sit ’n lys name voor haar op die lessenaar neer. “Ons is volbespreek vir môreaand, die Here alleen weet hoekom, want die kunstenaar is nou nie iemand wat volgens my op ’n verhoog hoort nie, maar die volk is mal oor hom … backtracks en al.”

      Cato kyk na die foto van die kunstenaar wat op die agterkant van die besprekingslys geplak is. “Ek veronderstel een van die grootste uitdagings gaan wees om my eie voorkeure buite die prentjie te laat en met ’n besigheidskop te dink.”

      “Mimi se goue reëls was dat hulle betyds moet wees, stoele volmaak en hulle woorde ken … en as hulle van backtracks gebruik maak, ten minste te weet waar om asem te haal. Vir die res het sy nie omgegee of hulle klein hondjies deur hoepels laat spring of viool op ’n treksaag speel nie. Hulle moes net professioneel wees.”

      Cato kyk na die name op die lys, fokus op een. “Wie is hy en wat doen hy? Ek het probeer om redelik op die hoogte te bly met wat in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf aangaan, maar as ek na die radio luister, besef ek ek is nie heeltemal by nie.”

      “Geen mens kan bybly nie. Baie van hulle slaan soos kakiebos op na ’n goeie reën in die Karoo, net om die volgende dag met die eerste warrelwind wortel en tak oor die vlaktes te verdwyn. Meneer De Wit is darem gelukkig nie heeltemal ’n eendagsvlieg nie. Ek dink hy is reeds die afgelope vyf jaar aan die gang en volgens alle aanduidings vaar hy goed, al is ek nie ’n fan nie. Ek dink nie daar gaan binnekort ’n platinumplaat teen sy sitkamermuur pryk nie, maar hy maak stoele vol en hy is professioneel.”

      “En die res van die week?”

      “Woensdagaand is een van my gunstelinge. Lien het die stem van ’n engel en oor ’n jaar of wat gaan ons haar met moeite kan kry. Sy is nog ’n student en begin nou maar werklik bekend word, maar sy het reeds ’n goeie klompie fans wat altyd kom as sy sing.” Hy maak ’n boek op die lessenaar oop en blaai saam met haar van dag tot dag. “Donderdagaand se groep is geruime tyd aan die gang en al is hulle jonk, weet hulle wat hulle doen en veral die studente daag in hulle hordes op wanneer hulle optree. Vrydagaand word ’n nuwe play opgevoer en ons het reeds heelwat besprekings gekry. Saterdagaand is dit jazz-aand en die twee groepe is landwyd baie gewild. Ons is reeds volbespreek.”

      “Wat gebeur as enige van hierdie mense nie opdaag nie?”

      Adriaan trek sy asem geskok in en maak ’n teken in die lug. “ ’n Mens praat nie oor so iets nie. Dis moeilikheid soek.”

      Cato skud laggend haar kop. “Maar wat as …”

      Hy hou sy hand afwerend in die lug. “Daar bestaan nie so ’n woord nie, maar dit sal help as jy iets eksoties soos paaldans aanleer.”

      Sy lag hardop. “Het die res van die personeel al gekom?”

      “Nelson en Fatima is hier, want ’n paar verskaffers moet vandag voorrade aflaai. Die res sal seker nou-nou hier wees.”

      “Is daar iets waaraan ek nou aandag moet gee?”

      “Maak maats met die ameublement en lees die e-posse. Kan ek vir jou koffie bring?”

      Voordat Cato hom kan antwoord, is daar ’n oorverdowende slag en die skrik trek in golwe deur haar.

      “Wat was dit?”

      “Dit klink of die kombuis ontplof het.”

      Cato se oë trek op skrefies toe sy na hom kyk. “Is jy nie veronderstel om my nog te probeer beïndruk nie?”

      “Ek is seker ek het dit met die eerste ontmoeting al gedoen,” sê Adriaan laggend terwyl hy wegloop. Hy steek vas en loer terug om die kosyn. “Wil jy koffie hê?”

      “Ek sal self gaan haal, dan kan ek sommer groet en kyk wie is besig om die plek af te breek.” Cato stap agter Adriaan kombuis toe, waar Fatima aan die sing is terwyl sy ’n krat groente uitpak. Nelson is in die instapkoelkas en knik net toe Cato hom groet. Sy weet nie of sy bekommerd of geïrriteerd moet voel nie. Sy het nog nooit van kantoorpolitiek, of in hierdie geval kombuispolitiek, gehou nie. Sy wil nie raai wat hy dink en of hy nie dalk besig is om strignien in die hoenderpastei te roer nie.

      “Wat het gebreek?”

      “Niks het gebreek nie. Ek het een van die stainless steel-bakke laat val,” antwoord Fatima tussen die singery deur.

      “Is alles al afgelewer?” Adriaan kyk na die fakture wat op die toonbank lê.

      “Ja, behalwe die vleis. Hy het probleme en het net die helfte van die bestelling gebring, maar belowe om te kyk wat hy nog kan doen.”

      “Nelson, het jy vir hom gesê ons is baie besig hierdie week en kan nie met halwe bestellings uitkom nie?”

      “Ja, ek het vir hom gesê,” praat Nelson vanuit die koelkamer.

      “As hy teen elfuur nog nie die res gebring het nie, moet julle kom sê sodat ons ’n ander plan kan maak.” Adriaan stap na die koffiemasjien en skink twee bekers vol. Hy hou een na Cato uit.

      “Drink, die dag het nou maar net begin. Gelukkig is ons Maandagaande toe, sodat jy nie vandag oorweldig word nie.”

      “Fatima, wat is op hierdie week se spyskaart?”

      Fatima beduie na die groot swartbord teen die een muur en Cato stap nader.

      Daar is twee voorgeregte, twee hoofgeregte en twee nageregte om uit te kies.

      “Hoe weet julle hoeveel om van ’n gereg voor te berei? Hierdie bredie moet tog seker voor die tyd gekook word.”

      Fatima beduie na ’n groot swart boek wat op die lessenaartjie lê. “Ons skryf elke aand se bestellings in daardie boek neer, sodat ons min of meer kan sien hoe die patroon loop.”

      “En daarvolgens maak julle ’n voorspelling?”

      “Ja, dis al wat ’n mens kan doen, maar moenie worry nie. Ons was nog nie baie verkeerd nie en die een of twee keer wat ons was, het die mense nie omgegee om iets anders te eet nie. Ons het nog net een aand ’n vrou gehad wat ’n scene gemaak het, maar Mimi het sommer vir haar gesê waarheen sy kan gaan.”

      Op daardie oomblik kom Precious by die agterdeur in en groet Cato skamerig. Cato kan onthou dat die meisie se gesig haar die eerste dag opgeval het, maar sy besef nou eers hoe mooi sy is. Alles aan haar is rond. Haar gesig, lyf, oë. Kinderlik rond. Sy bêre haar handsak onder die lessenaar en bind ’n voorskoot om haar lyf. Nelson kom uit die koelkamer, en sy groet hom met dieselfde skugterheid, maar hy knik net.

      Cato is verbaas oor haar ergerlikheid teenoor die stil, regop man. Maak sy kultuur dat hy moeilik vir ’n vrou werk, of is sy verwaand om te dink sy bui het iets met haar te doen? En om te dink sy het dit goed gevind om Frans op skool en in haar eerste jaar op universiteit te neem. Nie Xhosa of Zoeloe of een van die ander inheemses nie. Frans. Sy kan nie besluit of sy op hierdie oomblik skaam moet wees of lag nie. Het die witmense gedink hulle kinders sal gespaar bly van die werklikheid van ’n Afrika-bestaan as hulle ’n Europese taal aanleer? Of waarom het hulle nie elke kind in hierdie land verplig om ’n inheemse taal aan te leer nie? Sou daar nie vandag dalk meer verdraagsaamheid gewees het nie, of het die onverdraagsaamheid en onbegrip niks met taal te doen nie? Sou sy gemakliker gevoel het as sy vanoggend met Nelson in sy moedertaal kon praat? Is haar ongemak en ergerlikheid deels toe te skryf aan die feit dat hy haar in háár moedertaal aanspreek?

      Terug in die kantoor sit sy voor haar rekenaar en maak haar in-mandjie oop; een na die ander verskyn die e-posse onder mekaar, vyftien in totaal. Hier en daar is ’n persoonlike een aan Mimi, maar die meerderheid het iets met die teater te doen. Verskaffers wat haar oor spesiale aanbiedinge inlig, kunstenaars wat navraag doen oor moontlike optredes. Hier en daar bevestig ’n kunstenaar ’n bespreking en sy is verbaas toe sy Paul de Wet se naam sien. Hy tree in ’n klug op wat oor drie weke opgevoer word. Vir ’n vlietende oomblik wonder sy of hy na hulle ontmoeting


Скачать книгу