Vier seisoene kind. Wilna Adriaanse
ons wil laat glo ons is die middelpunt van elke prentjie.”
Cato gaan sit op die boonste trap. “En waar was jý in die prentjie destyds? Het dit ook nie iets met jóú te doen gehad nie?”
“Nie tot die mate dat ek dink dit was ’n straf nie, of dat ek ’n slegte mens was en ’n les moes leer nie. Hoe graag ek myself ook al centre stage wou plaas, was ek maar net een van die karakters.”
Cato staan stadig op. “Ek wens ek kon slaap en wanneer ek wakker word, moet die pyn weg wees, die verlange moet iets van die verlede wees en ek wil al die antwoorde hê. En die regte pad moet soos ’n snelweg voor my lê. Dis al waarvoor ek nou vra. Hoe moeilik kan dit wees?”
“Dalk lê die uitdaging en die lekkerte in die soek na die regte pad,” roep Kristina teen die trap op.
“Dis maklik vir jou om te sê; jy het klaar die pad gekry.” Die woorde is skaars uit, toe kom Cato teen die trappe afgehardloop. “Ek’s jammer. Ek is ’n bitch en weet nie waarom ek dit gesê het nie.”
“Cato, hou asseblief op om vir alles jammer te sê. Glo dit of nie, maar jy gaan nog ’n paar erger dinge kwytraak voor dit beter gaan en dit help nie jy slaan jouself elke keer oor die kop nie.” Kristina draai Cato om en stuur haar in die rigting van die trappe. “Gaan maak jou mooi. Jy wil nie hê die dorp moet vra wie’s die lelike bitch wat vir Big Pink gekoop het nie.”
Cato draf weer teen die trappe op, maar steek haar middelvinger in die lug.
7
Sy was nie eers op haar troudag so senuweeagtig nie, dink Cato toe sy net na halfsewe al vir die vierde keer in die kombuis gaan seker maak het alles is gereed en vyf keer op haar horlosie gekyk het. Die laaste keer toe sy in die kombuis was, was Nelson selfs onvriendeliker as gewoonweg en sy het haarself net betyds gekeer toe sy weer wou vra of alles reg is. Cato staan agter die toonbank toe die eerste gaste kwart voor sewe instap en vir ’n oomblik weet sy nie of sy hulle moet soen of ’n kniebuiging moet maak nie. Die middeljarige paartjie is blykbaar gereelde besoekers, want Adriaan soen die vrou se wang en skud die man se hand. Daarna roep hy Cato nader en stel hulle aan haar bekend. Hulle vra vriendelik uit en wens haar voorspoed toe voordat hulle gaan sit. Tien minute daarna begin die res van die gaste hul opwagting maak. Sommige twee-twee, ander in groepies. Adriaan stel haar hier en daar aan iemand voor, en sy probeer haar bes om name en gesigte bymekaar te sit, maar op hierdie oomblik kan sy geen detail onderskei nie. Gesigte en lywe smelt saam met stemme en klanke en kosgeure. Dis ’n gesellige vermenging, besef sy. Dis die klank van mense wat besig is om hulself te geniet. Asof hulle dit kon regkry om die dag se probleme by die voordeur te laat. Bondels bagasie oor die ekonomie, huis, kinders, ouers, werk, noem maar op. Maar op daardie oomblik lê die bondels buite en dit is waarskynlik waarom selfs hulle stemme kan styg.
Net na sewe voel Cato hoe haar oë vol trane word toe sy deur toe kyk, Ben en Kristina sien en agter hulle nóg ’n paar bekende gesigte gewaar.
“Julle mag dit nie aan my doen nie!” laat sy deur die trane hoor toe sy Helen om die nek val.
“Cathleen Margaret Visser, beheer jouself. Hoe sal dit lyk as die nuwe doyenne van teaterrestaurante die gaste nathuil?” wil Helen gemaak kwaai weet terwyl sy met die agterkant van haar hand haar eie trane afvee en Cato nog ’n keer op die wang soen.
Sy groet Helen se man, Marcus, en vir Lisa en Willem, Helen se suster en swaer. En moet tussendeur kort-kort trane afvee.
Nadat sy almal gegroet het, stap sy saam tot by hulle tafel.
“Hoekom het julle nie vir my gesê julle kom nie?” vra sy toe almal sit.
“Ek het aanvaar jy sal ons name op die besprekingslys sien.”
Cato skud haar kop. “Ek het na die lys gekyk, maar besef nou ek het nie na die name gekyk nie. Ek was so begaan oor die getalle dat Osama en Obama vir vanaand kon bespreek het en ek sou dit nie geweet het nie.”
“As hulle opdaag, roep my asseblief,” laat Ben en Willem gelyk hoor.
Cato trek vir hulle ’n skewe gesig en verskoon haarself.
Teen agtuur die aand het die meeste mense klaar geëet en kan die studente wat help bedien die tafels begin afdek. Daar was net een persoon wat nie heeltemal tevrede met sy kos was nie, maar nadat hulle vir hom ’n nuwe bord kos aangebied het, was hy tevrede. Tot Cato se verbasing was nie Adriaan of Nelson vreeslik ontsteld daaroor nie, want blykbaar kla hy altyd oor een of ander iets. As die stoel nie te hard is nie, is dit te sag, of die kos is te gaar of te rou of daar is nie genoeg ys in sy drankie nie. Hulle verseker haar die lys van sy klagtes is langer as haar twee arms langs mekaar. Die vier onvoorspelbare pilare van hierdie besigheid, dink Cato. Die huis met vier bene, waarvan sy die een been is, haar personeel die tweede, die kunstenaars ’n derde been en die gaste die vierde een. As die vier bene ewe veel gewig dra, staan die huis stewig, maar sodra die een nie genoeg gewig dra nie, word die stremming op die ander byna ondraaglik en verbeel sy haar sal haar konstruksie begin verkrummel en in duie stort. Hulle is soos akteurs wat saam op die verhoog is. As almal nie ’n bydrae maak tot die kollektiewe energie nie, is hierdie plek maar net nog ’n ruimte.
Toe die twee meisies begin sing, trek sy vir haar ’n stoel nader en gaan sit agter in die donkerte. Van hier kan sy almal sien. Sy kan sien hoe die stemme en klavierklanke van die verhoog af opstyg en soos ’n miswolk tussen die stoele, tafels en lywe deur speel. Hier en daar krul dit om ’n tafelpoot of maak dit ’n klein wolkie bo iemand se kop. Sy sien voete wat op maat van die musiek tydhou, vingers wat op tafels trommel, asof dit hulle meer deel van die musiek sal maak. Koppe word skeef gedraai, hier glimlag iemand, daar is ’n fluistering in iemand se oor. Sy voel hoe die naarheid vir die eerste keer vandag effens bedaar en ’n sug van dankbaarheid ontsnap oor haar lippe. Of is dit ’n sug van hoop? Dat hierdie plek haar genadig sal wees. Dat die vier bene mekaar dag vir dag hier sal ontmoet en dat hulle saam iets besonders sal kan voortbring.
Net voor nege hoor sy stemme agter haar in die portaal en toe sy daar kom, is dit die kunstenaar en sy bestuurder. Half uitasem gejaag van die lughawe af, maar vol selfvertroue.
“En as jy hier agter in die donkerte wegkruip?” Helen kom sit langs Cato toe daar net na tien ’n kort pouse is.
“Ek keer dat die mense nie weghardloop nie.”
“Onthou jy die produksie in jou finale jaar waarvan jy die spelleiding moes doen? Met al daardie eerstejaars? Hierdie …” sy maak ’n wye sirkel met haar arm, “gaan kinderspeletjies wees.”
Cato glimlag. “As ek misluk, sal dit beslis nie julle skuld wees nie. Die een lewer mooier spanpraatjies as die volgende een. Of ek julle glo, is ’n ander saak.”
Helen rek haar oë. “Sal ons ooit vir jou jok?”
“Ja, want julle weet as julle dit nie doen nie, sit julle dalk met ’n werklose nutcase. Nou sit julle darem net met ’n nutcase.”
Helen lag hardop en Cato voel hoe die bekende klank van haar vriendin se lag in haar eggo en in ’n hol plekkie gaan lê.
Cato klim net na een in die bed, maar die slaap ontwyk haar en na ’n driekwartier van rondrol, staan sy op en skakel haar rekenaar aan. Sy maak haar e-posprogram oop en sien hoe vyf boodskappe afgelaai word. Sal sy ooit ophou hoop? Hoe hoop ’n mens teen jou verstand en beterwete in? Is die brein nie veronderstel om slimmer as dit te wees nie? Is ’n mens nie veronderstel om ’n ingeboude trip switch te hê wat die brein moet beskerm teen kortsluitings nie? Want hierdie futiele hoop is niks anders as ’n kortsluiting nie. Sy begin ’n brief tik. ’n Verslag van en oor die dag. Wat sy aangehad het, hoe sy gevoel het, eerste oomblikke wat sy altyd sal onthou. Kleure, geluide.
Die aand het soos gemmer en sitrus geruik. Ek weet nie waarom nie. Ek dink daar was gemmer en suurlemoensap in die hoendergereg. Ek kon die byna skoon smaak op my tong proe. Is gemmer nie veronderstel om ’n detox effek te hê nie? Dalk is dit gepas dat Nelson dit vandag gebruik het. Wat dink jy?
Sy skryf vir hom wie almal daar was. Van die mense wat na die tyd vir haar sterkte kom toewens