Die wet van die liefde. Anita du Preez
Die wet van die liefde
Anita du Preez
Jasmyn
1
“Liewe aarde, Bonitatjie, maak tog net jou mond toe! Netnou kwyl jy op ’n belangrike vorm of ’n ding,” sê Danielle.
Bonnie sug effens agter haar rekenaar. Soos gewoonlik sit sy skaamteloos en staar na die nuwe senior vennoot van die regsfirma Marais, Malan en Boshoff.
“Mooi was darem nog nooit lelik nie,” sê sy kortasem toe Naude Boshoff by sy kantoor in verdwyn.
Danielle plak ergerlik ’n dik pak papiere op haar lessenaar neer.
“Hier! Gelukkig het ek iets om jou gedagtes af te lei van meneer Boshoff se ongelooflike bates,” sê sy kamma kwaai. “Jy sal moet tik dat jy hop, want hierdie notas moet betyds op my lessenaar wees vir die bestuursvergadering môreoggend.”
Danielle is eintlik Bonnie se baas, maar hulle verhouding is eerder dié van ou vriendinne. Met die wegstap na haar kantoor loer Danielle oor haar skouer en sê: “As ek nie van beter geweet het nie, sou ek kon sweer jy is maar net nog ’n breinlose manaanbidder wat nog nooit gehoor het van emansipasie nie.”
“Hoe so?” vra Bonnie, die ene aangeplakte onskuld.
“Wel,” sê Danielle en draai terug, “eerstens was ek voor hom by hierdie firma. Tweedens is ek ook ’n senior vennoot, met selfs beter kwalifikasies as hy. En tree jy miskien met dié soort aanbiddende onderdanigheid teenoor my op? Nee, ek dink nie so nie. Soos wat jy aangaan, sou jy sweer die mansmens is met goud beslaan.”
“Ag, loop, Danielle! Jy is nou sommer laf,” skerm Bonnie. “Ek het bloot respek vir sy intellek, dis al,” sê sy met ’n vroom gesiggie. “Buitendien: hy behandel ordinary mortals soos ek immers altyd met die nodige respek – wat meer is as wat ek kan sê van sommige ander mense hier rond.”
Danielle antwoord nie, swaai net ’n beskuldigende vinger speels in Bonnie se rigting.
“Oukei! Oukei! Ek tik. Sien jy? Kyk hoe tik ek!” sê Bonnie laggend en wikkel haar vingers oor die rekenaar se toetsbord.
“Wat gaan hier aan waarvan ek nie weet nie?” praat ’n manstem skielik agter hulle.
“Niks!” kom dit soos uit een keel toe hulle omswaai.
“Wat bekruip jy ons so?” vra Danielle vieserig.
André Marais het die irriterende gewoonte om stil op ’n mens af te sluip sonder dat jy dit verwag. Hy is ook so vaal van voorkoms, dink sy, geen wonder hy verdwyn teen die kleur van die gordyne nie. Die goedheid vanself en ’n vlymskerp regsgeleerde, asook die mees senior vennoot in die firma, maar ai, kan die man dan nie net ’n bietjie vonk kry nie? Hy is mos darem nog nie só oud nie.
“Alles onder beheer, André. Sien julle later, ek is toegegooi onder die werk,” sê Danielle.
Sy gebruik die kans om by haar kantoor in te glip terwyl vaal-André (soos sy hom soms in haar gedagtes noem) en Bonnie begin gesels. Sy sak lam op haar stoel neer. Hier is sy alleen. Hier hoef sy nie voor te gee nie. Sy kan die uitmergelende skyn wat sy daagliks moet voorhou van haar afgooi.
Daar moet eintlik Breekbaar! Hanteer met sorg buite-op mense soos ek getatoeëer staan, dink sy. Mense wat hul gevoelens so goed toedraai in hul los-my-uit-ek-is-onaantasbaar-houding dat ander hulle werklik uitlos.
Die moegheid sak oor haar af en die waarheid kom sit in die stoel oorkant haar: sy weet nie hoe sy langer hiermee kan volhou nie. Die probleem is, sy is hoegenaamd nie onbewus van die enigmatiese Naude Boshoff se ongelooflike bates nie. Maar nooit sal sy dit openlik wys nie – nooit. Nie vir Bonnie nie, maar veral nie vir haarself nie en allermins vir die nimlike Naude.
Sy leef nou al maande lank met die vrees dat iemand in die kantoor sal agterkom dat sy die man onweerstaanbaar vind. Sy wat Danielle Malan is: vegter vir vroueregte, vuurvreter-feminis en heldin van menige vrou wat deur ’n man te na gekom is. Hoe kan sy, die wetsgeleerde met die mees vlekkelose reputasie in die ganse Kaapstad as prokureur wat geen genade vir ’n man in enige hofsaak het nie, nou skielik gaan staan en verkrummel voor een van húlle?
Sy wonder skielik waaroor André en Bonnie in haar afwesigheid praat. Dalk oor haar? Vermoed hulle iets? Sy voel hoe warm vlekke van verleentheid in haar nek opstoot. Nee, Bonnie is ’n ou vriendin en André is nog al die jare wat sy hom ken hopeloos te ordentlik en korrek. Sy is nou paranoïes. Dís wat hierdie verspotte verliefderigheid aan haar doen.
Dit moet end kry, dadelik. Onthou, berispe sy haarself, jy is Daniël en Aletta Malan van Brandvlei se kind. Uit ’n edele boerestoet gebore en nie ’n simpel, orige leëkop-bakvis nie. Jy is mooi groot en jy kan jouself beheer. Emosies, denke, lyf, alles. Under control.
Sy trek ’n pak lêers nader. Maar sonder dat sy kan keer, draal haar gedagtes reguit terug na die beeld van Naude vervlakste Boshoff. Die absolute gesag in sy rysige gestalte. Die span van sy beenspiere as hy in die gang afloop. Die trotse heersershouding van sy kop. Daardie sterk, amper asketiese profiel. Die manier waarop hy hom half eenkant hou, tot die punt waar hy byna afsydig voorkom.
Hoeveel keer het sy al presies só hier gesit en fantaseer dat hy haar uiteindelik werklik sal raaksien? Hoe dit sal wees as hy eendag wonderbaarlik en skielik oorval word met passie net vir haar? As hy skoon sal vergeet van daardie irriterende, korrekte, formele houdinkie van hom waarmee hy almal so op ’n afstand hou? Hoe dit sal wees as ’n streng, private man soos hy die dag besluit om haar in die verbode ruimte van sy arms te neem? Hy sal haar eenvoudig vasgryp en daardie harde, onverbiddelike mond op hare plaas en . . .
Danielle sug.
Sy kan haar indink hoe die lyne langs sy fyn gebeitelde lippe sal versag in so ’n oomblik van teerheid en passie. Voor haar geestesoog sien sy die streng kromming van sy neus wat tog nie daarin slaag om hom lelik te maak nie, want die blink donker hare met die bietjie grys bo die slape spreek van deernis en meelewing. Selfs die manier waarop sy duur snyerspakke aan sy lyf sit en die klein stukkie spierwit hemp wat net-net by sy baadjiemoue wys as hy ernstig raak en beduie, maak haar mond droog.
Maar dis veral die onverbiddelike stemtoon en vlymskerp intelligensie waarmee hy sy opponente se argumente in die hof telkens oormeester wat ’n mengsel van opwinding en respek in haar wek. Sy sal dit nooit openlik erken nie, maar daar is vir haar niks meer sexy as ’n man wat meester van sy vak is nie. En Naude se uitmuntende hantering van die wet maak haar kniekoppe lam.
En dan is daar sy hande . . . Danielle speel ingedagte met die pen tussen haar vingers.
Sy het nog altyd ’n heimlike swak plek gehad vir ’n man se hande. Naude se hande is skraal maar sterk, met prominente are op die rugkante en lang, sensitiewe vingers. Hoeveel keer het sy nie al in haar bed gelê en haar verbeel hoe daardie hande . . .
“Klop-klop! Kan ek inkom, of is die dame druk besig?”
Danielle ruk soos sy skrik. Sy pluk vervaard die naaste dokument nader, plak haar bril ferm op haar neus en lyk besig.
“Nee, kom gerus binne, Naude,” sê sy met wat sy hoop ’n rustige, onverstoorde stemtoon is.
Hy bly staan oorkant haar lessenaar. Kyk haar effe ongemaklik aan.
“Sit, asseblief.” Sy het vir ’n oomblik vergeet dat hy hopeloos te gesteld is op protokol om sommer ongenooid plaas te neem.
“Ons moet praat, Danielle. Die tyd raak min,” sê hy toe hy die stoel effens agtertoe skuif om plek te maak vir sy lang bene.
Sy verstyf. Waaroor wil die man praat? Lees hy gedagtes? Haar kop gaan op loop oor die moontlikhede en haar speeksel droog op.
“Praat?” kry sy dit uit. “Waaroor?” Haar stemtoon klink te hoog in haar ore en sy probeer weer: “Waarvoor raak die tyd min?”
Sy sien haar sewe-en-twintigjarige lewetjie en die naderende ouderdom voor haar oë afspeel. Sy sien haar biologiese klok tik terwyl sy alleen in haar woonstelletjie oud word.
“Min? Jy weet nie waarvan jy praat nie, mansmens. Jy weet nie hóé min nie,” hoor