Die wet van die liefde. Anita du Preez
is daar boonop ’n díng tussen hulle. En môreoggend moet sy saam met hom om die konferensietafel hier oorkant sit en kophou. Maak of niks gebeur het nie. Die sot wat sy is! Kon sy nie maar net normaal gesê het alles is in orde, baie dankie nie? Maar nee, sy moes nou weer in die oortreffende trap die vervlakste man laat verstaan sy laat haar nie voorsê nie.
Nou sit sy met ’n onhoudbare situasie. Soos gewoonlik.
Dis mos hoe sy is, dink sy wrang. Oorpresteerder. Alles in hoogste versnelling. Altyd eerste. Altyd die beste. Tweede kom is nie goed genoeg nie. Dit het haar pa haar vroeg al laat verstaan: Jou rapport lyk goed, Danielle. Jammer oor die B vir Geskiedenis.
En dat ek nie ’n seun is nie, wou sy altyd byvoeg.
Geen wonder haar ma met haar kunstenaarsiel kon dit nie met haar pa uithou nie. Fynbesnaard, kop in die wolke, ewig besig om esoteriese wêrelde waarin tyd en ruimte nie bestaan nie op doek te skep – skilderye wat kenners met dié van Marc Chagal vergelyk.
Haar pa nugter, prestasiegerig, en met sy voete stewig gewortel in die harde werklikheid van die aarde waaruit hy as boer sy brood verdien. Vir hom is daar net swart of wit, reg of weg, maar vir haar ma die skaduwêreld van die fantasie, waar elke kleurvolle vorm in harmonie langs die ander leef. Haar ma is die een wat verstaan het. Begrip gehad het. Sagkens probeer opmaak het vir sy gebrek aan meelewing en empatie. Ewig die vredemaker. Die softie.
En kyk waar het dít haar ma gebring. Danielle glo vas dis van al die insluk en opkrop en toesmeer dat haar ma vandag is waar sy is. Met haar liggaam wat stadig maar seker afgetakel word deur siekte en die meeste van die tyd gekoppel is aan ’n suurstofapparaat daar in Victoria Home.
Sy wat Danielle is, het destyds al twee dinge besluit, nog voordat haar ouers geskei is. 1) Dat sy, al is sy hoe lief vir haar pa, hom nooit sal vergewe dat hy haar ma eenvoudig kon weggooi vir iemand anders nie. 2) Dat sy nooit sal toelaat dat so iets met haar gebeur nie.
Ná wat hy aan haar ma gedoen het, het Danielle hom letterlik uit haar lewe uitgeskryf en hom goed laat verstaan dat sy niks met hom te doen wil hê nie. Dis nog net daardie vreemde droom wat oor is, waaruit sy soms huilend wakker word as haar onderbewussyn haar skynbaar wil herinner hoe lief sy haar pa het en hoe sy hom mis. Dis dan wanneer hy weer strak, bleek en skuldig voor haar staan, sy ou geliefde voddehoed in sy groot hande verfrommel – soos daardie laaste dag in die plaashuis se gang toe sy vir hom uitgeskreeu het dat sy hom nooit weer wil sien nie.
“Ek moet eintlik vir jou dankie sê, Pa,” het sy histeries gegil, “dat jy my finaal genees het van al my verspotte illusies! Oor die kamtige liefde. En mans soos jy. Ek weet nou dat elke mens maar net homself liefhet en nie werklik omgee vir ’n ander nie. Survival of the fittest, dis hoe dit werk, nè, Pa?”
Van buite kalm en in beheer, van binne ’n kookpot van twyfel – dis wat sy is. Te bang om haar ysere greep op die lewe te laat los. Te bang om aan enigeen te openbaar dat sy ’n marshmallow van binne is soos haar ma.
Selfs in haar werk moet sy haar gevoelens onderdruk, omdat sy nie kan bekostig om emosioneel betrokke te raak by elke kliënt se soms hartverskeurende omstandighede nie. Hoe anders moet sy oorleef? Die vrouens wat na haar toe kom met hul hartseer verhale van vernedering, verwerping, mishandeling of die emosionele teistering wat hulle daartoe dryf om ’n egskeiding aanhangig te maak. Sy kan nie ingesleep raak by die gesinsgeweld en verbrokkelde lewens en die invloed wat dit op veral die kinders het nie. Daardie arme goed. Die verwesenheid, die mensverlorenheid wat sy so goed ken.
Nee, dis veel beter om onafhanklik van enigeen deur die lewe te gaan as om jouself bloot te stel aan die wispelturigheid van die sogenaamde liefde. Ook finansieel onafhanklik te wees van die goedgunstigheid van ’n ander. Koel, kalm en in beheer van elke aspek van haar lewe – dit is sy.
Tot die verdomde Naude Boshoff sy voete elf maande gelede in hierdie kantoor gesit en hom in haar kop ingewurm gekry het, en haar vir die eerste maal laat twyfel het of sy werklik so onaangeraak deur die lewe wil gaan.
En toe gebeur vandag. As sy net die horlosie kon terugdraai tot vanoggend, sou alles nog onder beheer gewees het.
Sy trek ’n pak papiere nader en probeer ’n ruk lank werk. Sy let op dat dit al donker word buite. Alles is stil in die gebou. Hopelik is die laaste een nou al huis toe. Sy was so diep ingedagte dat sy niks gehoor het nie.
Versigtig stoot sy haar kantoordeur oop. Alles is donker in die ander kantore. Net in die kombuisie brand lig. Goed so. Sy sal kan doen met ’n koppie warm koffie. Nogtans loop sy op haar tone. Dankie tog, daar is nog melk, sien sy. Sy skakel die ketel aan en ril effens van die koue. Ook oor dit so doodstil is. Selfs die gesing van die ketel klink te hard.
Snaaks hoe die kantoor anders is in die aand, dink sy. Nie ’n lekker plek om te wees nie. Sy slaan haar arms om haar lyf en besluit om net gou die koffie te drink, dan moet sy wegkom uit hierdie plek. Nie dat sy bang is nie. Net versigtig.
Sy stap terug na haar kantoor deur die donker gang met haar koppie koffie. Verbeel sy haar of was die deur na André se kantoor netnou oop? Dis dan nou toe. Ag nee wat, dit het seker net vanself toegeswaai. Dit gebeur soms. Alles in die gebou is oud.
Maar wag, sy hoor tog iets. Sy staan stil en luister. Ja-nee, sy hoor ’n geskuifel of ’n gekrap. Dit kom uit André se kantoor. Sou daar rotte in die kantore wees? Danielle ril. Vir ’n rot is sy so bang soos ander mense vir slange of sluipmoordenaars. Sy sal gaan kyk en aan haarself bewys daar is niks nie sodat sy haar koffietjies rustig kan drink. Sy stap nader. Daar skyn sowaar dofweg lig onder die deur.
Sy frons. Daar was beslis nie netnou lig nie. Sy luister weer; daar is definitief ’n geskuifel daar binne aan die gang. Haar keel word droog en haar hart gaan tekere in haar borskas. Sy sit haar koffie op die rak in die gang neer en stap nader. Sy moet eenvoudig weet wat hier aan die gang is. Sy knyp haar oë toe, draai die deurknop versigtig, stoot die deur hard en vinnig oop en tree binnetoe.
Iets tref haar met ’n geweldige slag. Toe sy bykom, het sy geen idee waar sy is nie. Al wat sy weet, is dat sy op die vloer is en dat ’n paar sterk arms haar stewig vashou. Sy beur regop om te sien, maar haar kop is so dronk dat sy lammerig terugsak teen die een wat haar vashou.
Net ’n bietjie so lê, dink sy verstrooid, tot sy regop kan kom. Sy voel hoe ’n ferm hand die hare van haar voorkop wegvee, die growwigheid van ’n baadjie en sy ruik iets wat ongelooflik strelend ruik. Dis naskeermiddel, besef sy. Dit ruik skoon en vars, iets suurlemoenerig . . . Of is daar effens muskus by?
Sy sit vinnig regop. Dis mos sý verdomde naskeermiddel!
Sy kyk vas in die bekommerde swartbruin oë van Naude Boshoff. In absolute verbasing staar sy vir minstens ’n volle sekonde na hom. Dis egter ’n baie bepalende, ’n mens sou kon sê lewensveranderende, sekonde, want in daardie enkele stonde gebeur daar iets in haar kop. Sy voel hoe die muur van haar afsydigheid wankel en ervaar twee baie teenstrydige emosies.
Haar eerste impuls is om die oeroue truuk van die aartsverleidster toe te pas en eenvoudig weer floutjies neer te sak teen die borskas waar sy al soveel keer in haar verbeelding gelê het. Sy is verstom oor haarself. Sy het nog altyd verbaas gestaan as oënskynlik intelligente en suksesvolle vroumense hulself so verlaag deur handomkeer in koketterige morone met fladderende wimpers en pruilmondjies te verander die oomblik as ’n aantreklike man in die geselskap kom. Sy het nie besef dat sy self in staat is tot sulke gedrag nie.
Haar tweede gedagte is om op te spring en haar ekwilibrium oombliklik terug te eis en te maak of sy toetentaal ongeraak is deur die ongewone gebeure. Dis egter helaas in dié sekonde van weifeling dat Naude Boshoff dwarsdeur haar sien. Nou weet hy dat ek nie ongevoelig teenoor hom staan nie, dring dit tot haar deur.
Sy aarsel nie ’n oomblik langer nie, sy volg impuls nommer twee – die een wat sy die beste ken. Sy steier dronkerig op haar voete terwyl sy haar romp vinnig regtrek en oor haar hare vryf. Toe eers besef sy dat hulle nie alleen is nie, want André staan agter sy lessenaar. Hoe de joos het die plek wat sy dog leeg is skielik so oorbevolk geraak? wonder sy vervaard.
“Liewe hemel, Danielle! Het jy seergekry? Kan ek jou ongevalle toe neem? Is dit bloed aan jou voorkop?” vra André