Die wet van die liefde. Anita du Preez

Die wet van die liefde - Anita du Preez


Скачать книгу
kry sy dit uit. “Ek is heeltemal ongeskonde, dankie, André.”

      Sy kyk na Naude terwyl sy praat. Wat sy in sy oë sien, bevestig vir haar dat sy haar vroeër vandag nie verbeel het nie. Die manier waarop hy na haar kyk, is intens en genoeg om enige vrou te ontsenu. Die versigtige professionele afstand wat tot dusver tussen hulle bestaan het, het skielik gevaarlik gekrimp.

      “Alles onder beheer, André. Ek sal haar huis toe neem. Dis die minste wat ek kan doen, dis immers ek wat haar disnis geslaan het met die deur,” sê Naude met ferm gesag en neem haar arm.

      “Is jy seker, Danielle?” hou André egter vol.

      “Alles reg, André. Maar ek sal regtig verkies om self huis toe te ry as julle my sal verskoon,” hoor Danielle haarself sê.

      “Nou goed.” Naude sit sy arm om haar skouers. “As dit is hoe jy dit wil hê, dan maak ons so. Maar ek dring daarop aan om jou tot by jou motor te neem en agter jou aan te ry tot by jou blyplek, net om seker te maak.”

      “Ek stem saam. Danielle, asseblief, laat Naude ten minste sorg dat jy veilig tuiskom,” sê André.

      Daar is so ’n ongewone beslistheid in sy stem dat sy verplig voel om in te stem, al weet sy voor haar siel sy moet eintlik nou walgooi vir ’n vale.

      Sy is oorbewus van Naude se arm om haar middel al die pad tot by haar motor, maar sy laat hom begaan. Vir ’n oomblik vertroetel sy die dolle gedagte dat hy haar terstond sal opraap in albei arms en iewers heen wegdra waar hy nie net die seer op haar voorkop sal wegsoen nie, maar sommer elke stukkie van haar lyf.

      Toe hy met ’n besorgde fronsie tussen sy donker wenkbroue haar motorsleutels uit haar hand neem om die deur vir haar oop te sluit, is sy tog dankbaar, want haar bene voel taamlik wankelrig.

      “Is jy heeltemal seker jy kan bestuur?” vra hy voor hy die motor se deur agter haar toemaak. Hy buk nader, sit sy hand agter teen haar nek en draai haar kop versigtig asof hy wil kyk en seker maak. Die opregte besorgdheid op sy gesig maak ’n vreemde soort hartseer in haar wakker. Sy knik net stom, kyk liewer af en draai die sleutel.

      Toe Danielle by haar woonstel stop, is Naude se motor reg agter hare in die kort rylaan. Voor sy nog haar handsak en sleutels bymekaar kan vat, is hy langs haar om die deur vir haar oop te maak. Sy draai die ruit af.

      “Dankie, Naude. Ek sal nou regkom, hoor.” Toe voeg sy by: “Ek wil ook net jammer sê oor vanmiddag. Ek . . . wel, ek was onnodig op my perdjie.”

      Hy buk af na haar. Sy gesig is sentimeters van hare af. Die uitdrukking in sy oë is onpeilbaar. Toe hy praat, is sy stem so intiem soos ’n streling.

      “Vergeet daarvan, ek verstaan. Ek verstaan ná vanaand baie dinge, ook dinge omtrent myself. Ek weet nou dat ek glad nie oor die hofsaak na jou kantoor gegaan het nie.”

      Hy buk vooroor, vee haar hare weg en raak liggies met sy lippe aan haar wang. Hy huiwer asof besluiteloos met sy hand op die deur. Dit lyk of hy nog iets wil sê, maar hom net betyds bedink. Oplaas gee hy haar skouer ’n ferm drukkie, draai vinnig om en loop na sy motor met doelgerigte treë.

      Danielle sit verlam. Al waarvan sy bewus is, is die plek waar sy mond gerus het en die vuur wat dit in haar liggaam wakker gemaak het.

      2

      “Wat de joos het jou voorkop getref, vriendin?” wil Bonnie verstom weet toe Danielle die volgende oggend by hul kantore instap.

      “Ag, ek het gisteraand in ’n deur vasgeloop,” sê Danielle so nonchalant as moontlik.

      “O ja? That’s what they all say, liefie. Maar ek het dit eerder van een van jou kliënte verwag, nie van jou nie.” Bonnie se oë is vol ongeloof.

      “Ek belowe jou, dis presies wat gebeur het,” sê Danielle, al weet sy sy protesteer tevergeefs.

      “Ag, kom nou, don’t underestimate my intelligence,” sê Bonnie duidelik in die gesig gevat. “Gaan sit in jou kantoor. Ek bring tee en dan wil ek weet. The whole truth and nothing but the truth, of ek praat nooit weer met jou nie, oukei?” Sy wikkel met ’n stywe ruggie en verontwaardigde boudjies kombuis toe.

      “Was jy dronk?” vra Bonnie toe sy die tee bring, duidelik lus vir ’n vet storie.

      “Is jy simpel?” vra Danielle vies.

      “Wel, dis wat ek vir almal gaan sê as ek nie nou dadelik die waarheid hoor nie. Kan jy jou die stories indink? Het julle gehoor: Danielle Malan die Heilige was gisteraand só dronk, sy’t haarself teen ’n deur te pletter geloop!”

      Danielle oorweeg die saak. Bonnie is net mooi in staat om presies dit te doen.

      “Goed, goed, ek sal vertel. Maar as jy iets vir ’n enkele dooie siel sê, dank ek jou af, of iets dergeliks,” dreig sy.

      “In your dreams, ja, maar oukei, vertel,” sê Bonnie selfvoldaan.

      “Naude het gisteraand André se kantoor se deur teen my kop gekap,” spoeg Danielle dit uit. “Toe, is jy nou tevrede?”

      “Wat vertel jy my! Aspris? Hoe het dit gebeur? Ek het mos nog altyd geweet daar’s iets fishy aan hom. That man is too pretty for his own good,” borduur Bonnie voort op die wegholtrein van haar ryke verbeelding.

      Danielle vertel, kripties en sonder die laaste deeltjie by haar woonstel.

      “En hier sit jy in lewende lywe to tell the tale! Moet jy nie bietjie gaan lê nie? Mind you, lovey, van lê gepraat . . . Oe, ek sou darem –”

      “Gedra jou, meisiekind. Jy’s by die werk,” vermaan Danielle haar oorstelpte vriendin. “Gaan kry die lêers, die vergadering is oor ’n halfuur.”

      Bonnie wil nog iets sê, maar Danielle kyk haar stil.

      Die vergadering verloop genadiglik sonder voorval. Nadat Danielle ferm verduidelik het dat sy ’n ongelukkie gehad het, hou die onderlangse kyke darem gelukkig op. Die personeel weet al dat hulle liefs nie te ver moet gaan of te eie moet raak met die formidabele me. Malan nie.

      Vir die soveelste keer in haar lewe kom die beeld van onbereikbaarheid wat Danielle met soveel sorg om haar opgebou het handig te pas. Sy kry nou wel nooit die warmte of simpatie by ander waarna ’n mens so dikwels smag in moeilike omstandighede nie, maar dit pas haar goed, besluit sy opnuut. Sy het niemand se jammerte of hulp nodig nie.

      Sy vind dit uiters pynlik om selfs net in Naude se rigting te kyk. En dit het niks met die kloppende pyn in haar kop te make nie. Dis die eienaardige mengsel van angs, seer en opgewondenheid wat op die krop van haar maag brand wat haar oral behalwe na hom laat kyk. Dis asof sy skielik sonder ’n vel rondloop en alles duideliker voel – terwyl almal dit kan sien.

      Veral toe Naude se hand vir ’n breukdeel van ’n sekonde aan hare geraak het toe hy netnou die waterkraffie vir haar aangegee het, kon sy sweer almal om die tafel moet bewus wees van die warm skok wat deur haar lyf trek. Wonderbaarlik kom niemand egter skynbaar iets agter nie. Hopelik skryf hulle haar stokkerige bewegings en kortaf sinne toe aan die ooglopend pynlike wond op haar voorkop.

      “Nou goed, dames en here, kom ons bepaal ons aandag by die volgende saak op die agenda,” praat Naude die groep stil. Danielle is heimlik dankbaar dat hy op sy gewone gesaghebbende manier die vergadering oorneem en die aandag weglei van haar.

      Net André kyk haar anders aan as gewoonlik, maar sy skryf dit toe aan die feit dat hy weet wat werklik gebeur het. Snaaks hoe vaal-André al soveel male getuie was van haar swaarkry in die lewe. Dis hy wat vir haar die werk aangebied het toe hy die firma ses jaar gelede begin het en ’n tikster gesoek het. Hy was toevallig die prokureur wat haar ma en pa se skeisaak hanteer het, en hy het haar potensiaal raakgesien. Dis hy wat haar die vennootskap aangebied het nadat sy haar finale eksamen geslaag het. Om die waarheid te sê, as dit nie vir hom en sy eindelose geduld was nie, sou sy nooit die B.Proc-kursus deur Unisa aangepak het nie.

      Deur die jare het André soos ’n skim op die agtergrond van haar lewe ’n plek ingeneem, soos ’n outydse beskermheer.


Скачать книгу