Heler van skade. Malene Breytenbach
hoor sy Jens sê. “Dokter Wannenburg wag in die saal vir ons. Lucinda, dit is meneer Werner Huber.”
Donker, troebel oë kyk in hare en ’n groot hand omvou hare. “Aangename kennis, dokter.” Sy voel asof die oë in haar siel inkyk, maar dan is die oomblik verby en draai hy weg.
“Dankie dat ons so vinnig hierheen kon kom, Jens.”
Die ouer man klap hom liggies teen die skouer. “Ons help graag ’n ou vriend. Kom, ons neem Erik onmiddellik in dat ons bloedtoetse kan doen. Hy sal in ’n privaat kamer lê, want hy het natuurlik geweldige hoë koors.”
Lucinda en Marita volg terwyl die ander vooruit haas. “Dit lyk my julle ken die Hubers goed?” vra Lucinda in die loop.
“Ja, Werner en Jens se jonger broer was groot vriende op universiteit. Werner en sy vrou het eenkeer vir ons kom kuier, maar hulle is twee jaar gelede geskei. Sedertdien het ons hom nie weer gesien nie, maar hy werk deesdae ook meesal aan groot projekte in Afrika.”
Lucinda se simpatie verdiep sommer. Die arme, siek kind kom uit ’n gebroke huis, maar hy het darem ’n besorgde pa.
Klein Erik is uiteindelik in die bed en sy sien dat hy behoorlik ruk van die koors. Sy gesig is rooi en blink van sweet. Lang, swart wimpers lê op sy wange. Sy donker hare is deurdrenk van sweet en sy lyfie bewe onophoudelik. Nogtans is hy vir haar ’n mooi kind, wat baie weerloos lyk.
Almal staan terug sodat sy oor hom kan buk en hom ondersoek.
“Hoe oud is hy?” vra sy vir die pa, wat aan die ander kant van die bed staan, sy gesig bleek. Sy merk terloops dat hy grys vlekkies in sy swart hare het en dat hy eerder manlik as bloot aantreklik genoem kan word.
“Hy is sewe. Hy het vir my kom kuier in Zambië. Ons het gedink dis nog nie muskiettyd nie, en sowaar, daar word hy gebyt. Dit het ’n aantal dae geneem voordat ons besef het hy is regtig baie siek. Ek het nie juis vertroue in die dokters van Zambië nie en het hom onmiddellik teruggebring na Suid-Afrika. Na Jens se kliniek.”
“Dis die beste ding wat jy kon gedoen het,” sê Jens.
Lucinda kom met die uitslag van die bloedtoetse wat die laboratorium gestuur het by Werner Huber aan.
Foei tog, hy waak nog heeltyd by sy seun, al werk die personeel met die kind, dink sy. Sy mooi hemp en broek is gekreukel en sy das is heeltemal los. Sy hare is deurmekaar en die swart baard op sy besliste kakebeen maak ’n skaduwee onder sy vel.
Hy kyk op na haar, en sy merk met deernis dat hy baie moeg lyk, al is hy klaarblyklik ’n sterk man.
“Jy lyk vir my baie jonk, dokter O’Neill,” sê hy. “Maar Jens-hulle verseker my jy is ’n uitstekende dokter en dat jy vertroud is met tropiese siektes.”
“Ja, ek het by Tygerberg-hospitaal daarmee gewerk.”
Hy staan op en kom nader.
Sy kyk op in sy gesig. “Miskien moet u na my kantoor kom en die verpleegsters toelaat om vir eers na u seun om te sien. Ek moet vir u verduidelik wat aangaan.”
Terwyl hy agter haar aanstap, is sy bewus van sy groot gestalte en die nuuskierige blikke, of blikke vol ontsag, wat hulle volg.
“Sit asseblief, meneer Huber,” nooi sy toe hulle in die kantoor is, en sy gaan sit oorkant hom. “Weet u baie van malaria af?”
“Ek weet dit maak baie mense in Afrika en Asië dood, en dat daar verskillende soorte is. Watter soort het my seun?”
Hy klink asof hy hom met wilskrag kalm hou.
Lucinda skraap haar keel sodat sy nie emosioneel en skor moet klink nie. “Hy het Plasmodium falciparum. Ek moet u ongelukkig waarsku dat dit een van die ergste vorms van die siekte is.”
Sy sien hoe sy soel gelaat verbleek. “Liewe hemel,” hoor sy hom prewel. “Hoe op aarde kon dit gebeur het?”
“Malariaparasiete word deur die vroulike anofelesmuskiet versprei en –”
“Ja, dit weet ek darem. Ek het sy ma – my eksvrou – gewaarsku dat hy vooraf iets moet neem, want al is dit nog vroeë lente, bestaan die gevaar van besmetting. Dit wil vir my voorkom asof hy niks geneem het nie.” Lucinda sien dat hy so hard op sy tande kners dat die spiere in sy kakebeen beweeg en ’n aartjie op sy voorkop begin klop.
“Eers het dit gelyk asof Erik griep onder lede het,” sug hy.
“Die simptome kan soos griep wees: kortasem, naarheid, kouekoors. Mense besef nie altyd dadelik dat dit malaria kan wees nie.”
Werner Huber kreun. “Wat is die ergste scenario? Koma, die … dood?”
Dit ruk haar aan die hart dat hy so ontsteld is. “Ja, maar ons kan dit hopelik keer. U het hom betyds gebring.”
Hy laat sak sy kop in sy hande en sy kyk hoe die lang vingers deur sy hare vee asof hy die aaklige nuus wil wegvee.
“Meneer Huber, malaria-infeksie word met middels soos kinien en artemisinin behandel en al kom middelweerstandigheid dikwels voor, moet u asseblief nie moed verloor nie. U kind is jonk en hy was waarskynlik gesond en nie ondervoed nie.”
Hy kyk na haar met oë vol pyn. “Erik is my enigste kind. Al wat ek het. As ek hom moet verloor …” Hy kreun weer en maak sy gesig met sy hande toe.
Lucinda staan op en plaas haar hand op sy skouer. Onder haar vingers voel sy sy spiere deur die hemp beweeg. Dit voel eienaardig om aan hom te vat, maar sy wil hom troos.
“Ons gaan u seun help, meneer Huber. Hou net moed.”
Hy kyk op en sy neem haar hand weg, want sy oë brand in hare. “Wat is die heel beste behandeling? Ek gee nie om hoeveel dit kos nie.”
Sy gaan sit weer. “Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel artemisinin-gebaseerde kombinasieterapie aan, oftewel AKT. Maar dit kos twintig keer meer as enige ander medikasie.”
“Ek gee nie om om te betaal nie, soos ek gesê het.”
Sy knik. “Goed, maar laat ek vir u al die moontlikhede uitspel. Kinien word steeds deesdae gebruik om weerstandigheid of ernstige gevalle te behandel.”
Sy sê nie vir hom dat P. falciparum vir byna negentig persent malariasterfgevalle verantwoordelik is nie. Dat dit die soort malaria is wat die meeste weerstandig is teen kinien en ander middels. Sy kan hom nie met hierdie brutale waarheid van sy hoop ontneem nie.
“Kinien is die eerste middel wat gebruik is om malaria te behandel en daar is mense wat glo dat dit steeds die beste is vir die behandeling van weerstandige falciparum-malaria. Ons kan dit binneaars toedien.”
“Doen net wat julle kan, solank julle my kind red.”
Lucinda hoor ’n klop aan die deur en Jens kom in.
“Ek sien dokter O’Neill het jou vertel wat Erik makeer, Werner. Wel, as ons weet, kan ons dit reg behandel. Het jy vir hom al die simptome verduidelik, Lucinda?”
“Nie alles nie, net dat dit aanvanklik soos griep manifesteer. Ons praat nog van die middels waarmee ons dit kan behandel.”
“Vertel hom sodat hy voorbereid is.”
“Die malaria tas die bloed aan en veroorsaak dat die milt en lewer vergroot. Dit kan ook die niere aantas. Die pasiënt kan om die beurt kouekoors en hoë koors kry en erg sweet, want die koors kan opgaan na veertig grade celsius. Dan is daar selfs tussenin kort periodes waarin die pasiënt goed voel. Falciparum-malaria is die ergste en u seun gaan yl en deurmekaar wees. U moet bedag wees op al dié dinge, maar besef dat hy nou onder behandeling is, en dat dit die beloop van die siekte is.”
Jens knik, maar Lucinda sien in sy oë dat hy, soos sy, vrees vir fatale serebrale malaria.
“Doen wat julle moet doen,” sê Werner Huber. “Kan ek hier bly totdat hy buite gevaar is?”
“Ons twee gastesuites vir ouers is ongelukkig beset, maar jy kan in ons huis