Romanse agter die skerms. Helena Hugo
plaatjies onder ’n mikroskoop vasgevang is nie.
Die woorde op die bladsy spring rond en sy maak haar oë toe. Sy wás katterig, hy en Steven sing nie te sleg nie en haar aanmerking was onvanpas. Sy is kwaad vir hulle en dis nie goed om op stel kwaad te wees nie. Woede is ’n sterk emosie en dit wys die maklikste van alles wat agter die skerms aangaan.
Miskien moet sy ’n entjie gaan stap en net wegkom, haar gedagtes orden. Dalk is dit nie Emile se versuim wat haar vandag so omkrap nie, maar Wilhelm.
Sy wil nie aan sy brief dink nie. Dis een rede waarom sy haar teks so goed voorberei het. Die brief was Vrydag in haar e-pos. Sy wou dit eers uitvee sonder om te lees, maar daar was twee met presies dieselfde onderwerp.
Toe maak sy een oop.
“En jy?” hoor sy Emile sê.
Sy kyk op. “Wat van my?” Haar stem styg te skielik.
“Is jy oukei?”
Hy lyk bekommerd. Dit bring haar ’n oomblik van stryk, maar sy is beslis nie van plan om teen Emile se bors oor Wilhelm te huil nie.
“So oukei soos ek kan wees ná vanoggend se repetisie.”
“Sorry, man.”
“Jy het dit gesê.”
“Dis nie asof dit elke Maandag gebeur nie.”
“Sê jy – nadat jy verlede week ook deur jou woorde gestrompel het.”
“Dit was Woensdag.”
“Woensdag, Maandag, Dinsdag, wat’s die verskil? Jy maak my deurmekaar en dan vergeet ek dialoog wat ek deeglik geken het. Of weet jy nog steeds nie hoe dit werk nie?”
“Ja, Colette, en ek is jammer, ek sal sorg dat dit nie weer gebeur nie. Maar hierdie naweek was spesiaal, ons móés gaan.”
“Moes gaan, moes wys julle kan, moes die mansding doen.”
“Daar was ’n rede.”
“Emile, alles het ’n rede.”
Hy draai sy kop skeef. “Jy is nie lekker nie.”
“Vanselfsprekend.”
“Jy oorreageer.”
“Ek reageer, dis al.”
“Buite verhouding. Ek ken jou nie só nie.”
Colette byt op haar tande. “Wat laat jou dink dat jy my ken?”
Hy leun vooroor, dit lyk of hy haar hand wil vat. Sy pluk weg voor dit kan gebeur, klou die teks op haar skoot vas. Daar glip ’n skaduwee in sy heldergrys oë, so duidelik sy kan dit nie mis nie en so vlugtig dat sy wonder of sy haar verbeel het. Lyk hy skielik ouer?
“Ek is jammer oor die repetisie,” sê hy weer. “Ek het drooggemaak, maar ek belowe jou dit sal nou beter gaan.”
Dít het sy nie verwag nie. Colette is uit die veld geslaan, en dis nie sy woorde wat haar verbaas nie. Dis die stemtoon, die manier hoe hy praat – asof hy onthou dat sy seergekry het en sy bes doen om haar te troos. Nie oor die repetisie nie, oor die ander seer, die pyn wat dieper lê, die verskeurdheid wat hy duidelik in haar oë moet gesien het.
Sy het nog nie Wilhelm se e-pos beantwoord nie.
Sy moet voor sy vanaand gaan slaap.
2
Colette kom vieruur by die huis, vroeër as gewoonlik. As sy nie in Fourways by die supermark aangery het nie, sou dit nog vroeër gewees het. Maar die katkos was op en sy het vars vrugte en jogurt nodig gehad. Sy parkeer haar Polo op sy plek. Sy het een van die kleiner eenhede met ’n afdak, nie ’n toesluitgarage nie. Maar dit pla haar nie, dis veiliger, veral saans. As sy uitklim, loop sy drie treë en is sy in haar kombuisie, anders as by die tuinwoonstel waar die garage onder haar woonstel was en sy die trap moes klim onder lae boomtakke deur en by digte varings verby.
Hierdie plekkie is nuut en sy is trots daarop, haar eerste eie huis. Sy het ’n oulike patio en ’n tuintjie wat ná twee jaar se liefdevolle versorging baie mooi vorder. Potte met varings en vrolike klimoppe versier die houtraamwerk om die afdak. Haar versameling windklokke wat aan die balke hang, klingel gesellig.
Sy klim uit die motor en trek die sakke met kruideniersware wat sy sommer op die agtersitplek gegooi het nader. Toe sy omdraai, ’n sak in elke hand, sien sy Sokkies slaperig om die hoek loer. Hy gaap, rek hom uit.
“Haai, Sokkies!” groet sy en stoot die motordeur met haar heup toe.
Toe sy die sakke voor die agterdeur neersit en oopsluit, skuur Sokkies teen haar bene en miaau pleitend.
“Bedaar, ek het jou kossies onthou,” paai sy.
Die feit dat hy hier is, is gerusstellend. Hy is ’n lewende wese wat haar verwelkom en sal waarsku as daar ’n ongewenste persoon is wat haar sit en inwag. Sy stry altyd met Emile dat ’n kat ’n beter waghond as ’n hond is. Sy weet as Sokkies rustig is, kan hier nie ’n vreemdeling naby wees nie. Wanneer sy lank ná donker huis toe kom, sit Sokkies in die oprit ver van haar eenheid af en wag, en as hy haar kar sien, hardloop hy saam huis toe.
Sy het altyd gedink dis oulik, maar dit was natuurlik water op Emile se meul. Hy reken die kat kan onmoontlik weet wat by die huis aangaan as hy heelaand in die oprit sit. Toe lag hy toe sy sê sy wag in die kar en klim eers uit as Sokkies by is. Sokkies kan seer krap, sy wat Colette is, het selfverdedigingslesse geneem, daar is ligte wat heelnag brand, die kompleks het ’n hoë muur met ’n elektriese heining en daar is ’n wag by die hek – meer as wat hy van sy huis teen die heuwel kan sê.
Nog ’n vreeslike rusie gewees. Een woord op die ander, tot hy naderhand weggestap het. Emile kan nooit erken dat hy verkeerd is nie.
Colette pluk aan die veiligheidshek. Die slotjie gee probleme, maar sy ken sy truuks. As sy ryk geërf het soos Emile, sou haar hek ook vanself oopgeskuif het. Eindelik! Dalk het die slot weer ’n paar druppels olie nodig. Oeps! Sy het vanoggend vergeet om die agterdeur te sluit. Dis oor sy douvoordag hier moes uitjaag, net om te sukkel met mans wat nie hul woorde ken nie.
Sy byt haar onderlip vas. As hulle in die eerste plek gesê het hoekom hulle gaan duik het, sou haar gesindheid ook beter gewees het. Toe moet hulle optree soos die Drie Musketiers op ’n geheime sending. Dae soos vandag is sy lus en los die spul en kom weg van Emile en Steven en Benny en die hele “familie”.
Ongelukkig beteken ’n rol in ’n gewilde sepie ook finansiële sekuriteit wat sy moeilik sal prysgee, veral nou dat die rentekoerse al weer opgegaan het. Sy skuld haar pa geld wat sy geleen het om haar deposito op die meenthuis aan te vul, en haar kredietkaarte kerm om genade. Sy besef dit en sy neem verantwoordelikheid vir die skuld wat sy die laaste tyd aangegaan het. Dis goeie skuld. As sy alles afbetaal het, besit sy ’n betroubare karretjie en vaste eiendom én meer sekuriteit.
Die nuwe wasmasjien en bypassende droër begroet haar in die piepklein opwaskamertjie. Sy moes ook ’n yskas koop. Die een wat sy van universiteitsdae met haar saamgesleep het, het sleg afgesteek teen die teëls van haar nuwe kombuisie. Colette sug. Sy skuld nog te veel op hierdie wit goeters ook, maar danksy Mediamanie betaal sy elke maand getrou haar rekeninge.
Sy plak die kruideniersware op die kombuisrak neer, haak haar skouersak af en begin uitpak. Sokkies miaau toe sy die katkos uithaal, hy ruik dit en hy ken die geluid wat die swaar plastieksak maak wanneer dit hanteer word. Om hom te troos, knip sy die sak dadelik oop en gooi ’n hand vol kos in sy piering.
“Jy snuffel nie weer die koevertjies met die vleis in uit nie,” maan sy hom. Sy weet dat hy nie luister nie, want hy stoot reeds sy neus tussen die brokkies rond op soek na sy gunstelinghappies.
Sy keer hom nie. Sy kyk na die enkele koffiebeker en ontbytpapbakkie wat sy vanoggend in die opwasbak gepak het. Sokkies is bederf, maar sonder hom sou ek hulpeloos eensaam gewees het, dink sy.
Sy hou van haar blyplek, sy is mal oor haar patio en haar tuintjie, haar slim kat