Romanse agter die skerms. Helena Hugo
het, minder uitgesproke oor Emile-hulle. Maar hulle moes darem vroeër gepraat het! Janeen het ook saamgestem.
Colette sluit die agterdeur, loop badkamer toe en was haar hande. Haar gesig lyk vaal en verwese in die badkamerspieël. Sy sorg altyd dat sy die dik laag professionele grimering verwyder voor sy die ateljee verlaat en grimeer dan nie weer nie, maar sy lyk darem nie gewoonlik so uitgewas nie.
Laas nag se slapeloosheid en vandag se spanning het haar so uitgemergel dat Joey, die een kameravrou, diskreet vir haar gesê het sy moet vanaand vroeg bed toe gaan. “Alleen,” het sy bygevoeg.
Colette het dit reggekry om te glimlag en haar te bedank vir haar goeie raad.
Sy sal ’n slaappil drink. Môre hoef sy nie voor nege-uur op stel te wees nie; die rooster was toevallig klaar opgestel. Dis nie omdat sy beloon word vir haar geringe geduld en begrip van vandag nie, dit het bloot so uitgewerk.
Janeen en Emile moet môre weer sewe-uur inklok, die tegniese span ook. Dit maak nie saak hoe rooi en pofferig laasgenoemdes se oë is nie, solank die spelers fris en vars lyk, kan die vertoning voortgaan. Janeen sukkel nie, sy is ’n kind, sy kan dwarsdeur die nag rinkink en die volgende dag nog goed lyk. Emile ook, hy floreer op laat nagte. Colette het haar slaap nodig, ’n minimum van agt uur per nag, anders lyk sy soos sy nou lyk.
Sy skop haar sandale uit en val sommer op haar rug op haar bed neer, wat sy vanoggend blitsvinnig reggepluk het. Haar ma en ouma het haar geleer dat haar blyplek te alle tye aan die kant moet wees, mens weet nooit wanneer jy onverwagte gaste kry nie.
Onverwagte gaste …
Haar keel trek toe. Sy staar na die plafon. Dit lyk of dit besig is om na haar toe af te sak.
Wilhelm Winterbach is op pad. Hy weet nie meer waar sy bly nie, maar hy sal uitvind. Hy kan hier opdaag en die hekwag sover kry om hom in te laat. Hy kan selfs reguit stel toe gaan, eenvoudig instap en maak of hy nooit weg was nie. Sy ken vir Wilhelm. Hy vra wel toestemming, maar as hy ’n idee in sy kop gekry het, aanvaar hy nie nee vir ’n antwoord nie.
Is dit wat die e-pos beteken?
Lottie, liefste
Ek is op pad Suid-Afrika toe, sal jou graag weer wil sien, dalk spoedig, dalk eers Desember. Dit gaan nie goed met my nie. Brigitta het besluit ons huwelik werk nie. Die skok was nie te groot nie, want noudat sy my verlaat het, kan ek eindelik weer met jou praat. Antwoord my as jy kans sien om ’n ou vriend se trane af te droog, vanselfsprekend indien hierdie e-pos nie na my terugkom nie. Ek dink meer aan jou as wat ek aan Brigitta dink, sy was ’n FOUT met hoofletters, ek betaal duur daarvoor. Sal jou nie nou met die detail vermoei nie, genoeg om kontak te maak. Asseblief, Lottie, een woord van jou en ek vervroeg my bespreking. O ja, ek weet jy is nog nie getroud nie. Kan ek iets daarin lees? Ek hoop so.
Eintlik nog steeds altyd jou enigste,
Wilhelm.
Colette het haar gister lam geskrik en die e-pos seker tien keer gelees. Sy kon hom nie antwoord nie, wat kan sy sê? Sy het sy foto’s stukkend geskeur, maar laas nag het sy ’n ou skooljaarblad uitgegrawe en lank daarna gestaar. Hy was een van die skool se sterre en daar is foto’s van hom op byna elke bladsy. Ook een van hulle twee saam. Hoofseun en hoofmeisie vir die jaar 2000. Wilhelm Winterbach en Colette Tredoux, skoolliefde van die eeu.
Almal het aangeneem dat hulle eendag sal afhaak en net sulke oulike kindertjies in die wêreld bring. Briljante kindertjies wat alles kan doen, mooi kindertjies. Maar Wilhelm dink toneelspeel is nie ’n ordentlike werk vir ’n opgevoede meisie nie. Wilhelm verstaan nie, hy is nie ’n akteur nie. Hy lyk wel soos een, selfs aantrekliker as Emile.
Sy het ure lank na sy foto’s gekyk en hom ingedrink in die fynste detail: sy skerp oë, die uitdagende houding, sy hoekige ken, die breë voorkop en pragtige bos krulhare, die kuiltjies in sy wange wanneer hy glimlag. Sterk, vierkantig en plat op die aarde, boerseun, sportman van formaat, kaptein van sy span met ’n kop vol syfers – nie om skape te tel nie, maar geld. Daarmee is hy so goed dat die bank waar hy werk hom Londen toe gestuur het, en natuurlik het hy van haar verwag om saam te gaan.
Maar sy het toe pas ’n jaar gelede haar eerste groot rol losgeslaan: Mia Barlow in Mediamanie. Sy het haar werk gekies en haar lewe geleef, soos hy sy werk gekies het en sy lewe gaan leef het.
Nee, nie heeltemal dieselfde nie, want sy is nie getroud met die eerste man wat ná hom by haar kom aanlê het nie. Nou is Wilhelm en sy Brigitta aan die skei, nog nie géskei nie, besig om té skei en hy kom klaar by haar aanklop. Wat moet sy doen? Waar moet sy raad vra?
Vera ken die hele storie, miskien moet sy haar bel. Haar eie ma kry die stuipe as sy weet wat aangaan. Sy was die een wat Colette se trane afgedroog het die naweek toe Wilhelm en Brigitta getroud is. Vera is ’n buitestander, sy sal nugter oordeel en onpartydige raad gee.
Colette sit regop, klim van die bed af. Haar selfoon is in haar skouersak en dié lê op die kombuisrak. Sy sal eers ’n SMS stuur en seker maak of Vera nie besig is nie. Sy moet nou dadelik met iemand praat!
Toe sy die selfoon uithaal, sien sy dat dit afgeskakel is. Sy is besig om haar pinnommer in te voer toe die huisfoon lui. Sal darem ’n toeval wees as dit Vera is. Great minds! dink sy en gryp die gehoorstuk.
“Hallo!”
“Colette …?”
Die manstem aan die ander kant is só onverwags, haar ore slaan toe.
“Ja, Emile?”
“Jou sel is af.”
Sy kyk na die dooie selfoon in haar ander hand. “Ek sien so.”
“Dag jy’s gekaap of iets.”
“Ek’t ’n halfuur gelede veilig by die huis gekom. Wat maak jy?”
“Wag vir my beurt, ons het nog een toneel.”
“Ken jy jou woorde?”
“Maklik.”
“Wat nog?”
“Ek skuld jou ’n verduideliking.”
“Dis oukei, ek het dit gehoor.”
“Nie by my nie.”
“Maak nie meer saak nie, Emile.”
“Ek wou nie hê dit moet die hele stel vol lê nie.”
“Wel, julle kon my en Janeen ten minste ingelig het, dan was ons nie sulke varke nie.”
“Ons het heelpad terug van Sudwala af woorde geleer, maar dis moeilike dialoog en sjoe, toe ek gisternag by die huis kom, val ek op die bed neer en raak met die teks op my bors aan die slaap.”
Ag siestog, dink Colette. Dit gebeur so kort-kort dat hy met sy teks op sy bors aan die slaap raak. Soms wonder sy of daardie “teks” nie lang blonde hare en welgevormde bene het nie. Die stekie in háár bors is beslis nie jaloesie nie, dis ergerlikheid. Wat weet hy van verhoudings? Wat weet hy van ’n verloofde wat weggaan en binne twee maande van jou vergeet, met ’n wildvreemde blondine trou en nou skielik wil terugkom?
“Colette, is jy nog daar? Dis die waarheid, ek belowe jou. Toe ek vanoggend wakker word, lê die teks op my –”
“Asseblief, spaar my daardie ou teks-op-die-bors-roetine van jou.”
“Ek moes eers gaan stort het, dan was ek dalk wakker.”
“Goed, probeer dit volgende keer.” Sy kry ’n glimp van Emile en sy blondine saam onder die stort en voel sommer verkeerd.
“Hulle roep, ek moet gaan. Is jy seker jy’s oukei?”
“Ja, Emile. Sien jou môre.”
Sy sit die gehoorstuk neer voor hy haar sover kan kry om te sê dat sy nie oukei is nie. Emile het ’n stem soos warm sjokolade. Hy klink sensueel al praat hy oor die weer. Nie dat dit enige verskil aan haar maak nie, sy ken hom te goed, hy met sy blondines. Tog … vanaand het daar ’n besorgdheid by hom ingesluip wat veroorsaak dat die stekies in