'n Hemelhoë hekkie. Douwleen Bredenhann
sprake van vermaak of ander dinge om kinders mee besig te hou nie. Jong gesinne was baie aangewese op mekaar en ons het dikwels oor en weer gekuier. In die proses is hegte vriendskappe gevorm. Marieta en Jackie van Schalkwyk en hul klein Francois het ook ’n ruk daar kom woon, en later ook Elsa en Hennie Spreeth met hul krulkopdogtertjie, Elyssa.
Ek en Elsa was saam op skool en het ’n ruk saam kuns studeer. Een Sondagmiddag het hulle by ons gekuier. Dit was warm en jy en Elyssa het met swembroekies aan deur die sproeier se water gehardloop. Jy was altyd so rats en grasieus, en dit het Hennie daardie middag opgeval. Hy het gesê: “Sy is pragtig. Daardie beentjies van haar is gebou vir sport. Kyk mooi, sy gaan nog eendag Mej. Suid-Afrika word.”
Daar was beslis nie ’n tekort aan maatjies nie. Buurseuntjie Deon was ’n eersteklas beplanner van kattekwaad en kon sy saggeaarde ma se geduld behoorlik beproef. Ek weet nie wat julle daardie dag by hul huis met die koekmeelblom aangevang het nie, ek was net ooggetuie van julle twee wat oortrek van meel uitgestorm het met Deon se ma al protesterende agterna.
’n Kosbare herinnering is die keer toe jy saam met Danie en Franz Struwig “Jesus min my salig lot” by hul huis gesing het. Marna het julle op die klavier begelei, en julle het met oorgawe gesing. Al drie van julle het klokhelder, suiwer stemmetjies gehad. Die twee seuns het vreeslik ernstig en met die grootste onskuld gesing “al is ek ook swart en blink”, in plaas van “al is ek ook swak en blind”. Dit was hoe die woorde vir hulle geklink het.
Danie het later in die Drakensberg Seunskoor gesing, en jy in Kimberley se voorskoolse Kokkewiete Stadskoortjie en die laerskoolkoor.
Vandag is Danie ’n akteur en ’n voormalige storieskrywer van Binnelanders, ’n hospitaalreeks op televisie. Franz bedryf ’n IT-besigheid, Elyssa is ’n begaafde elektriese ingenieur en Francois is oorsee besig met ’n doktorsgraad in Kwantumfisika.
Ek wonder dikwels watter beroep jy sou gekies het. Reeds van ’n jong ouderdom af het jy meganiese aanleg getoon en was nuuskierig om te sien hoe dinge werk. Jy kon nog skaars loop, toe het jy al balpuntpenne uitmekaargehaal en die dele sonder enige hulp weer netjies aanmekaargesit. Pappa het gereeld ’n toeskouertjie gehad wanneer hy met sy gereedskap aan iets gewerk het.
’n Insident een Sondagmiddag toe jy drie was, het bevestig dat jy dringend jou eie swaai moes kry. Ons het ’n middagslapie geniet en jy het voor ons wakker geword. Verveeld met jouself het jy op ’n stoel geklim, die voordeur oopgesluit en die pad gevat op soek na ’n parkie om te gaan swaai. Op pad het jy by die kafee uitgekom, jouself aan ’n paar eetgoedjies gehelp en verder gestap. Rasend van bekommernis het ek en Pappa jou begin soek. Die eienaar van die kafee het beduie in watter rigting jy geloop het, en ons het jou ’n paar huise verder opgespoor waar jy energiek besig was om te swaai in wildvreemde mense se erf. Hul twaalfjarige dogter het jou gestoot en geselskap gehou.
Pappa het entoesiasties aan die werk gespring en ’n groot tweesitplek-swaai aanmekaar gesweis uit verskillende lengtes staal. Dit was ’n groot projek en jy het hom dae lank geduldig geselskap gehou terwyl hy daarmee besig was. Toe dit uiteindelik klaar was, het jy hoog en onbevange geswaai en jou genot uitbundig uitgeskater. Daardie swaai was een van die groot plesiere in jou lewe en moes net later saam trek Kimberley toe.
Met groot selfvertroue en die wil om te slaag, het jy nuwe dinge aangepak en uitgetoets. Pappa het twee of drie keer jou fietsie agter vasgehou terwyl jy leer fietsry het, en daarna het jy jouself verder geleer. Elke dag het jy opgeklim en geoefen totdat jy perfek kon ry. Vir spoed was jy ook nie bang nie. Ons het ons lam geskrik die dag toe jy op die sypaadjie met jou BMX-fiets in die boom vasgejaag het, maar jy was meer bekommerd oor die fiets as oor jouself.
Stephanie het ’n ware ousus in jou gehad. Jy het haar allerhande dinge geleer en haar beskerm wanneer dit nodig was. Vanaf die eerste ontmoeting met haar as ’n pasgebore baba, was jy gefassineer deur die sussie wat met opgetrekte paddabeentjies gelê en slaap het. In haar wêreldjie was jy maar altyd daar. Talle kere het jy getroos wanneer sy seergekry en gehuil het. Badtyd was eerstens vir julle prima saamspeeltyd. Om skoon te kom was ’n bysaak wat so tussen die pret deur moes plaasvind.
Voor bedtyd het ek of Pappa julle Bybelstorie gelees waarna ons gebid en dankie gesê het vir die oorvloed aan goeie dinge in ons lewens. Die beddens in jul kamer was in ’n L-vorm geskuif sodat jul koppe na aan mekaar kon wees deur die nag. Menige aand het ek die slapende sussies met my oë geliefkoos en elke dierbare detail van julle in my geheue opgeteken.
Toe Stephanie op ongeveer agttien maande die inkennige stadium bereik, was jy só verleë wanneer sy niks wou weet van ouma Rosaal of oupa Jurie nie. “Sussie, dis Óúma-hulle, man,” het jy haar soms ongeduldig berispe.
Nadat ons ouma Rina se oorgeërfde hondjie weens ouderdom moes laat uitsit, wou jy en Stephanie ’n babahondjie hê om self groot te maak. Ons is Dierebeskermingsvereniging toe om een te gaan uitsoek. Die plan was om na ’n verskeidenheid hondjies te kyk en daaruit een met ’n goeie geaardheid te kies. Milky, ’n taamlik onopregte wit brakkie, het spelenderwys heel eerste verby ons geparadeer. Julle twee was onmiddellik verlief op hom. “Daai enetjie, Mamma, kan ons hom kry, asseblief?” het julle gesoebat.
Dit was die begin van ’n sonderlinge verhouding tussen jou en Milky. Hy het jou as sy leier gesien en geen geheim daarvan gemaak dat jy sy gunstelinglid van die gesin was nie. Selfs met sy toiletopleiding het jy jou kant gebring. Ek sien nog hoe jy met die skoppie al agter hom aan hardloop om slagystertjies te onderskep voordat dit die matte tref.
Milky het gemengde gevoelens oor julle twee se baljaardery by die swembad gehad. Hy was mal daaroor om jou op en af te jaag wanneer jy vryslag geswem het, maar het niks daarvan gehou wanneer jy lang ente onder water geswem het nadat jy ingeduik het nie. Dan het hy angstig geblaf en nie geweet waar om te begin met die soektog na jou nie.
Party kinders pas nie goed aan in nuwe omstandighede en situasies nie, ander doen dit weer sonder enige probleme. Reeds by die eerste crèche in Pretoria het ons ’n voorsmaak gekry van jou aanpasbaarheid en selfstandigheid. Ons was so bekommerd daaroor dat dit vir jou te ontwrigtend sou wees, dat ek ’n pos aanvaar het by een van die kleuterskoolklassies. Die realiteit was dat jy reg van die begin af geblom het, maar ek gou verwelk het onder die veeleisende aanslag van ’n groot groep kleuters.
In Kathu wou jy baie graag kleuterskool toe gaan, maar daar was slegs een skooltjie, wat deur die Gereformeerde Kerk bedryf is. Die toelatingsouderdom was drie jaar, en jy was te jonk. Jy het letterlik die laaste paar dae voor jou derde verjaardag afgetel. Ná die eerste dag daar was jy glad nie lus om huis toe te gaan nie. Jy het seker gedink dit was net ’n een-dag-lekkerte wat nie herhaal sou word nie.
Later het jy net so vinnig aangepas in die Speelgoedland kleuter- en preprimêre skool in Kimberley. Teen die tyd dat jy met graad 1 begin het in Laerskool Staatspresident Swart, was jy al ’n ervare skoliertjie. Die splinternuwe liggrys-en-rooi skooluniform was darem ’n nuwigheid. En het jy nie trots en pragtig gelyk daarin nie.
Juffrou Louise was nuut aangestel in haar eerste pos as onderwyseres, maar sy het ’n volwassenheid ver meer as haar jare openbaar. Sy het gou agtergekom dat jy ’n sosiale kind was wat maklik weggevoer kon word deur woorde; jou eie en dié van ander. Elke nou en dan was daar ’n boodskappie met min of meer die volgende strekking in een van jou skoolboeke: “Mooi, hou so aan, jy moet net ’n bietjie minder praat in die klas!” Op die eerste oueraand van die jaar het sy gesê dat ek en jy baie na mekaar lyk en feitlik identiese kopbewegings uitvoer wanneer ons praat of aandagtig luister. Dit was vir my interessante nuus en ’n aangename verrassing. Ek het altyd gedink dat jy meer na Pappa se familie lyk.
Jy het geen kosfiemies gehad nie en kon heerlik smul aan smaaklike kos. Ek dink jy wou vergoed vir die beperkte dieet in jou babadae nadat ’n allergie vir melk by jou gediagnoseer is. Suiker in enige vorm was ook eers taboe. Jou voedings het vir ’n paar maande bestaan uit ingedampte sojamelk gemeng met rooibostee en Ouma Meelbol-pap. Daardie mengsel was regtig sleg en voor die eerste voeding was ek oortuig daarvan dat jy dit nie gaan drink nie. Gelukkig was ek verkeerd. Jy het so gulsig daaraan gesluk dat ’n mens sou dink dit is die lekkerste melkformule ter wêreld. Dit het uitstekend met jou geakkordeer en rustige nagte vir ons almal verseker.
Ongelukkig