'n Hemelhoë hekkie. Douwleen Bredenhann

'n Hemelhoë hekkie - Douwleen Bredenhann


Скачать книгу
word. Op ’n dag het Pappa stralend van tevredenheid van die Hyperama af teruggekom met die Volksie vol blikkies melk gelaai. Die melk was halfprys gemerk en ons het daarna nie weer nodig gehad om dit aan te vul nie. Ons eie rieme moes papierdun gesny word, maar ons kind het kos gehad vir nagenoeg ’n hele jaar!

      Oor twaalf maande het ons jou volgens instruksies geleidelik gedesensiteer vir melk. Daarna kon jy sonder enige nadelige gevolge volsterkte-koeimelk en suiker inneem.

      As kleuter het jy ’n voorliefde ontwikkel vir verskeie kossoorte wat nie normaalweg gewild is onder jong kinders nie. Jou eerste kennismaking met swart olywe was ietwat verstommend. Jy het olywe in my bord gesien en gesê: “Ek wil ook van daardie druiwe hê.” Al die verduidelikings dat dit nié druiwe was nie, het op dowe ore geval, en ek het jou aan een laat proe. Tot ons verbasing het jy dit stukkie vir stukkie verorber en nog gevra. Sampioene, groen soetrissies en aspersies het jy net so maklik leer eet.

      Aan klere het jy jou nog nie veel gesteur nie. Ek het heelwat van jou en Stephanie se klere self gemaak. Solank dit gemaklik gepas het, was jy eintlik met enigiets tevrede. Kort voor jou dood kon ek tog agterkom dat jy meer bewus geraak het van klere en die rol wat dit in ’n meisie se voorkoms speel. Pappa het ’n nuwe kamera gekry en jy was heel gewillig om in verskillende uitrustings model te speel vir foto’s. Die meeste van jou maats het boots gehad, en jy het gevra of ons vir jou ook ’n paar kon kry vir die winter. “Natuurlik, maar ’n meisie met boots moet ook ’n paar mooi rompies hê om daarby te dra. Ons sal in die vakansie romppatrone moet gaan soek,” het ek gesê.

      Pappa onthou met heimwee hoe jy hom namiddae na werk met blink ogies tegemoetgehardloop het. Na jou standaardgroet van “Hallo, Pappa!” het nuuskierigheid gewoonlik oorgeneem. Dan het jy ongemerk probeer loer of hy nie iets lekkers vir jou en Stephanie gehad het nie. Smarties was jou gunsteling, en amper sonder uitsondering was daar elke middag vir jou ’n boksie daarvan.

      Van my heel mooiste herinneringe is van jou in balletklere, besig om jou passies te oefen onder die wakende oog van Valerie Begbie. Sy was baie streng en het nie ouers of ander toeskouers in haar klasse geduld nie. Ons balletma’s het ons eie planne gemaak en partykeer deur piepklein skrefies en gaatjies geloer vir ’n vlietende blik op waarmee julle besig was. Ook by die balleteksamens moes ons tevrede wees met skramse flitse van ons talentvolle kinders. Dit was goeie dae vol beloftes van wonderlike tye wat vir julle as jong dogters en ballerinas voorgelê het.

      Jy het met oorgawe geleef, gekoester deur jou gesin, familie en vriende. Ongelukkig kon ons geheuebank nie verder ontwikkel nie, want jou sandjies het voortydig uitgeloop. Maar jy dans steeds – in my verbeelding, my hart en die binnewerke van my siel.

      Vandag verstaan ek waarom jy so vreesloos was as ’n kleuter. Jy het al daardie dapperheid nodig gehad toe jy ons vooruit gegaan het.

      Ons liefde vir jou strek verby die grense van dood, skeiding en tyd. Dit is nimmereindigend.

      Die ma Dôlien

      Ek en Steph Bredenhann het mekaar aan die begin van die 1974-Junie-vakansie op Stellenbosch se stasie ontmoet. Dit het so erg gereën dat die 23:00-trein eers 06:00 die volgende oggend aangekom het. Ons klomp studente in die oop wagkamer was teen daardie tyd so te sê verys. Net voordat die trein uiteindelik toe aankom, het ’n baie vriendelike jongman my ’n warm plekkie in sy slaapsak aangebied. Ek het dankbaar ingekruip terwyl die engel vir ons koffie gaan kry het. Twee jaar later is ons getroud, elf dae na die laaste eksamenvraestel van my finale jaar.

      Die koms van ons eersteling in Pretoria was vir my en Steph ’n groot gebeurtenis. Ons was albei 25 en ver weg van ons onderskeie families en ondersteuningsnetwerke in die Noord-Kaap.

      Drie maande voor Liesl se geboorte het ek van ginekoloog verander om hoofsaaklik drie redes. Ek het spesiaal gevoel terwyl ek my eerste kind verwag, en het gehoop die dokter sou my ook so laat voel. Hy het nie. Elke keer wanneer ek ’n vraag vra, het hy kortaf geantwoord: “Mevrou, jy is nie die heel eerste vrou in die wêreld wat geboorte gaan gee nie. Jy is net een van miljoene dwarsoor die aardbol.” Verder moes ek klokslag met elke afspraak twee uur in die wagkamer deurbring en agterna my lang afwesigheid by my werkplek gaan verduidelik. Die laaste strooi was toe die ginekoloog my ewe saaklik inlig dat hy met die bevalling waarskynlik met vakansie gaan wees, en ’n vennoot dan vir hom sal instaan.

      Ek moes toe uitvind dat ginekoloë nie sommer nuwe pasiënte aanvaar in die laaste trimester van swangerskap nie. So beland ek in daardie laat stadium toe weer by ons huisdokter. Hy het sy bes gedoen, maar daar was komplikasies met die geboorte. Uiteindelik is ons baba op 28 Maart 1979 na ’n stryd van sewentien uur gebore, met die gesiggie na bo. Sy het 2,480 kg geweeg, en die blou, klein dogtertjiemens was so uitgeput van al die gespartel dat sy feitlik al haar Apgar-toetse gedruip het. Maar sy was ’n klein vegtertjie en sommer die volgende dag reeds uit die broeikas. Na vyf dae is ons ontslaan.

      Steph het kruipend stadig huis toe gery met my en ons kosbare vraggie. Hy het kort-kort met blink oë na die baba op my skoot geloer en ek moes hom meer as een keer vermaan om op die besige pad te konsentreer. By die woonstel het my ma ons ingewag. Sy het vir twee weke kom kuier en haar hulp was van onskatbare waarde. So te sê alles wat ek van babagrootmaak moes weet, het ek in daardie paar weke by haar geleer.

      Die eerste paar maande het baie tandekners ingesluit. Liesl was ’n uitsonderlike mooi baba, maar ook ’n besonder huilerige een. Sy het geleidelik al hoe meer begin huil, en later het ek en sy gemiddeld slegs twee uur per nag geslaap. Besoeke aan die huisdokter en kinderarts het niks meer opgelewer nie as die gebruiklike koliekstropies tesame met kwalik bedekte beskuldigings dat ek my eie stres op my baba oordra.

      Ek het soos ’n zombie gefunksioneer en Liesl was skaars agt maande oud toe ek tot my ontsteltenis agterkom daar was nog ’n baba op pad. Daardie swangerskap het vroeg reeds in ’n miskraam geëindig en baie gemengde gevoelens by my veroorsaak. Die fetus was misvormd en het spontaan aborteer. Die dokter het aan my verduidelik dat dit die natuur se manier was om ontslae te raak van ’n onvolmaakte produk. Hoewel ek beslis nie gereed was vir die verantwoordelikheid van nog ’n kind nie, het die gepaardgaande emosionele trauma diep letsels gelaat.

      Daardie nag in die Little Company of Mary Hospitaal het ek my vrylik oorgegee aan my vol gemoed. Ek het gehuil omdat die dokter vermoed het dit was ’n seuntjie-fetus, gehuil omdat ek so uitgeput was van die maande lange min slaap, gehuil omdat ek geweet het hoe sukkel Steph seker met ons skreebekkie by die huis, en ek het gehuil omdat ek soos ’n volslae mislukking gevoel het.

      Liesl was nege maande oud toe die dokters uiteindelik vasstel dat sy melk-intolerant was. Met die nuwe dieet het sy na ’n paar aande begin deurslaap. Dit was ongelooflik! Ons drie se lewens het letterlik soos handomkeer verander.

      In Maart 1980 het Steph ’n pos in Kathu in die Noord-Kaap aanvaar, en ons het op Liesl se eerste verjaardag daarheen verhuis. Dit was naby ons familie en ons het vinnig aangepas.

      Liesl was ’n gelukkige en opgewekte tweejarige peuter toe die lus vir gebakte vis met báie suurlemoensap my een aand weer oorval. Dit was een van my geliefkoosde “belustings” gedurende vorige swangerskappe, en ek was inderdaad weer swanger. Nadat ek vroeg reeds probleme ondervind het, wou die dokter geen kanse waag nie en ek is per ambulans Kimberley toe vir die insit van ’n Shirodkar-steek in die baarmoeder. Dit het letterlik die baarmoedermond toegehou sodat die baba nie kon uitval nie. ’n Sonar-ondersoek het opwindende bykomende nuus opgelewer: Daar was ’n tweeling op pad vir ons.

      Terug in Kathu moes ek by ’n hele stel reëls hou om te verseker dat alles verder goed verloop, maar dit was nie so bestem nie. Op twaalf weke was al die tekens van ’n miskraam daar, maar die Shirodkar-steek het dit verhoed. Inderhaas moes ek teruggaan Kimberley toe vir nog ’n sonar. Dit het slegte nuus gebring. Die fetusse het gesterf omdat albei vrugsakkies ophou groei en gedisintegreer het. Ons is verdwaas terug huis toe en ek het ernstig begin wonder wat presies alles skeefgeloop het binne my liggaam met Liesl se geboorte.

      Ek het ’n diepgaande gevoel van leegheid en verlies ondervind, maar kon nie met iemand daaroor praat nie. Steph was baie ondersteunend, maar te naby aan my en ek wou hom nie met negatiewe gedagtes belas nie. Hy het sy pyn in sy werk uitgestort. In daardie tyd het ek begin besef dat mans en


Скачать книгу