Anna Atoom en die seerower se dolk. Elizabeth Wasserman
soogdiere wat in die see bly, soos walvisse en dolfyne, het longe net soos ons, maar hulle kan hul asem geweldig lank onder water ophou. Volgens kenners kan dolfyne tot tien minute onder die water bly sonder om op te kom vir asem. Walvisse hou egter die rekord: sommige soorte kan tot ’n uur lank duik. Uiteindelik moet hulle wel na die oppervlak styg vir asem, en dis dan wanneer ons hulle sien blaas en spoeg.
Om alles darem ’n bietjie makliker te maak, sit hierdie dier-familie se neusgate reg in die middel bo-op hul kop, om gemaklik asem te haal as hulle net onder die oppervlak dryf.
Dit beteken Anna kan onder die water bly so lank as wat sy wil. Dis amper so goed soos om ’n meermin te wees!
MonPetit-eiland is net agt grade suid van die ewenaar, en in die tropiese dele van die wêreld word dit baie skielik donker. Een oomblik is die son nog reg bo jou kop, maar as jy jou weer kom kry, verf die laaste daglig die oostelike horison met uitspattige oranje en pienk strale.
Dis presies wat nou gebeur. Soos die son sak, smelt die helder kleure van die koraalrif vinnig weg onder die water. Net blou skaduwees bly oor.
Almal weet dat mens liewer uit die see moet bly ná sononder. Dis die jagtyd van honger haaie wat dikwels vanaf die oop see oor die rif kom vir aandete in die vlakker water.
Anna weet dit ook. Maar wanneer anders kry sy kans om te swem? Weeksdae sit sy heeldag in die skool. Wat ’n mors van tyd! Daarom hardloop sy omtrent elke middag eers af strand toe vir ’n vinnige swem, net sodra Ton haar huis toe gebring het met die motorboot.
Ton weet al van beter as om haar te probeer keer. Hy weet sy luister deesdae vir niemand nie. Ter wille van haar veiligheid het hy vir haar ’n ArmAlarm gebou. Dit dra sy soos ’n horlosie om haar linkerpols. Die ArmAlarm werk soos ’n miniatuursonar wat ultrasoniese klankgolwe, onhoorbaar vir die menslike oor, onder die water uitstuur. As die klankgolwe terugbons van ’n groot rondswemmende voorwerp, raas die alarm en ’n beeld van die voorwerp flits op die skerm. Gewoonlik is dit net ’n uitgegroeide pylstert, of ’n seeskilpad.
Ton
Ton is die nuttigste mens op aarde. Hy werk al so lank vir die Atoom-familie dat Anna haar nie meer die lewe sonder hom kan voorstel nie.
Ton is handig met enige masjien. Nie net kon hy die ou stofsuier red van die ashoop nie, maar toe hý daarmee klaar was, kon die stofsuier ook koffie maak en deeg meng vir plaatkoekies. Dis nou meer soos ’n algemene huisrobot, nogal heel intelligent ook, wat Anna “Karel” gedoop het.
Ton is groot. Baie groot! Hy toring bo almal uit. Sy kop is blink en kaal en hy dra een silwer oorring, wat vreemd genoeg nogal pas by sy pak.
Want ten spyte van die tropiese hitte is Ton altyd netjies geklee in ’n swart pak. ’n Mens kon sê sy klere sal beter pas by iemand wat viool speel in ’n orkes, as dit nie was vir die paar plakkies aan sy voete nie. Ton se voete pas by die res van sy lyf, en daardie plakkies is so groot soos klein roeibootjies.
Want selfs Ton kan nie skoene en kouse in die trope verdra nie.
Anna loer in die donker holte onder ’n takbokkoraal in. Dis die huis van ’n knorrige ou paling by wie sy gereeld kom kuier. Die paling hou niks van haar besoeke nie. Hy wil eerder met rus gelaat word.
Anna is maar versigtig vir hom, want sy weet sy bek is vol vlymskerp tandjies en hy hap graag na enigiets wat verbyswem.
Skielik begin haar ArmAlarm skree.
Net toe vang haar oog iets blinks op die bodem van die see. Haar nuuskierigheid kry die oorhand en sy vergeet skoon van die alarm.
Dis seker maar net daardie pylsterte wat ek gister ook hier rond gekry het, dink sy en duik af na die blink voorwerp toe.
Dis ’n ou stuk metaal wat uitsteek onder dooie koraal. Dit lyk asof die gety onlangs die sand rondom die ding losgespoel het. Sy probeer dit loswoel.
Dis snaaks dat ek dit nooit voorheen raakgesien het nie, dink sy. Ek het al honderde kere hieroor geswem!
Opgewonde ruk en pluk sy aan die stuk metaal. Dit lyk baie oud; korale en skulpvissies groei daarop. Ewe skielik kom dit los, en ’n wolk sand styg van die bodem op soos die see sy buit prysgee.
Die deel wat onder die sand gelê het, is skoner, en sonder alge en roes. ’n Lang, plat lem kom te voorskyn. Die roeserige stuk metaal waaraan sy getrek het, is sowaar die hef van ’n dolk!
Een van die laaste strale van die ondergaande son glim dof op die silwer lem. En dis dié weerkaatsing van lig wat waarskynlik Anna se lewe red.
Soos ’n donker duikboot pyl ’n reusagtige hamerkophaai op haar af. Maar toe hy amper by haar is, trek die blink ligflits sy aandag af en hy verander sy rigting net so effentjies. Hy swem bo Anna verby, só naby dat die spoed van sy yslike lyf ’n seestroom veroorsaak wat haar hare regop van haar kopvel lig.
Wat ’n aaklige gedierte! Koue oë bult uit aan die punte van sy T-vormige kop, en rye wrede tande versier sy grynsende bek.
Anna se bloed raak yswater.
Bly kalm, bly kalm! maan sy haarself. Dis immers reël nommer een van oorlewing onder die water.
Gelukkig vir haar is die haai se honger veel groter as sy brein, en sy instink mislei hom. Die blink voorwerp lyk vir hom na die lekkerste deel van hierdie aandete.
Die haai sirkel terug en hap na die dolk.
Van pure skrik verloor Anna haar greep op die hef, en die haai ruk dit uit haar hand.
Dit was ’n dom fout, selfs vir ’n haai. Die skerp lem sny sy bek en hy laat dit dadelik los.
Die dolk sink na die bodem van die see.
Die haai is nou verward. Hy skud sy lelike kop en swem in groot kringe om Anna. Sy voel swak van verligting dat haar lewe vir nog ’n paar oomblikke gespaar is, maar dan begin haar ArmAlarm opnuut skree.
Haaie se tafelmaniere
Haaie eet net wanneer hulle honger is. Maar hulle aptyt is groot!
Omdat haaie gewoond is om vis te eet, sal blink voorwerpe hulle aantrek. Hulle word ook aangelok deur vibrasies in die water. So, enigiets wat skop of spartel, sal Meneer Haai se belangstelling prikkel. Maar die beste aptytwekker is natuurlik die reuk van bloed!
Het haaie neusgate?
Ja! ’n Haai se neusgate sit onder sy neus se punt. Haaie gebruik dit net om mee te ruik, en nie om mee asem te haal nie. Hulle reuksin is besonder skerp. Wetenskaplikes reken ’n haai kan ’n enkele druppel bloed ruik selfs al is dit opgelos in ’n swembad vol water – van Olimpiese grootte!
’n Haai sal sy prooi goed beskou voor hy ’n hap vat. Gewoonlik swem hy eers versigtig om ’n moontlike maaltyd en stamp dit ’n paar keer met die neus om te besluit hoe dit gaan smaak.
Bon appétit!
Sy kyk op die skermpie. Die bloed in die water trek nog meer haaie aan!
Daar is geen tyd om te mors nie. Die bloeiende hamerkop sal die ander haaie se eerste teiken wees en behoort hulle ’n rukkie besig te hou. Hopelik lank genoeg vir haar om weg te kom!
Ten spyte van die vrees wat haar hart soos ’n koue vuis omklem, bly Anna kalm.