Anna Atoom en die seerower se dolk. Elizabeth Wasserman
is reg. Die AardWag projekteer weer die gewone beeld van die oseaan rondom Pitcairn-eiland. Die flikkerende syfers op die skerm voor haar het ook stil geword. Wat dit ook al was, dit het net so onverwags opgehou as wat dit begin het.
“Wat gaan aan? Maks, hou my op hoogte!”
“Ja-baas, goed-baas, nes baas sêe, baas!” sing-praat die rekenaar astrant.
Maar net voor die professor haar humeur kan verloor, verskyn ritse syfers en grafieke op die skerm voor haar. Maks se verslag is volledig en korrek. Dit beskryf elke stukkie detail van die vreemde gebeure wat so pas in die Stille Oseaan plaasgevind het.
Die versteuring het presies drie minute en vyf sekondes geduur. Dit lyk nie asof daar enige nagevolge is nie. Maar die belangrikste vrae bly onbeantwoord.
Wat was dit? Wat het dit veroorsaak? Hoekom het dit gebeur?
Tot laat in die nag probeer professor Sabatina en haar rekenaar antwoorde kry op al dié vrae. Hulle ondersoek elke moontlike oorsaak van so ’n ongewone verskynsel. Hulle bepaal die waarskynlike effek van die golwe op elke deeltjie van die ekosisteem.
Maar niks maak sin nie.
Toe die professor uiteindelik die hoop laat vaar om die antwoorde te vind, is dit amper middernag. Sy besef daar is niks wat sy nou meer kan doen nie. Maks sal die res van die nag alleen verder werk. Hy slaap nooit nie.
Uitgeput trek sy die deur van die laboratorium agter haar toe. Sy stap die kort entjie huis toe deur die warm tropiese nag.
Sy het al weer aandete misgeloop, en die kinders is lankal in die bed.
MonPetit-eiland
Admiraal Atoom en Sabatina het MonPetit-eiland dertien jaar gelede gekoop, net voor Anna gebore is.
MonPetit is een van ’n pragtige groep eilande net suid van die ewenaar, amper reg in die middel van die Indiese Oseaan. Hierdie eilande is die pieke van ’n reuse-bergreeks wat duisende eeue gelede onder die see versink het.
Die hart van die eilande bestaan uit pienk graniet. Dis mettertyd bedek deur woude vol palmbome en eksotiese plante. Toringhoë takamaka-bome gooi diep skaduwees oor die strande. Broodvrugte, mango’s en avokadopere hang in oorvloed aan die bome rondom die Atoom-familie se huis. Die soet geur van tropiese blomme meng met die parfuum van kaneel en vanielje.
Die strand bestaan uit sagte sand, wit soos sneeu. Miljoene helderkleurige visse swem in die warm water van die koraalrif rondom die eiland, en snags kom lê seeskilpaaie hul eiers op die strand.
In die middel van die eiland, in die skuilte van ’n paar granietkranse, het admiraal Atoom ’n huis gebou in die tradisionele eilandstyl. Die dak is spits en stewig gepak met droë palmblare. Reg rondom die huis loop ’n ruim stoep wat skadu bied teen die fel tropiese son. Die vensters van die huis het geen glas in nie, net houthortjies wat jy kan toetrek as dit reën. Binne roer groot dakwaaiers die lug en hou die vertrekke heerlik koel.
’n Entjie weg van die huis is ’n beskutte baaitjie en daar staan ’n strandhut. ’n Motorboot vasgemeer aan ’n houtkaai dobber lui op die kristalhelder water. Dis die boot waarmee Ton Anna elke weeksdag skool toe vat.
Sou iemand toevallig met ’n seiljag hier verbykom, of dalk met ’n vliegtuig hier oorvlieg, sal MonPetit-eiland presies lyk soos een van daardie tropiese eiland-prentjies wat reisburo’s se toonvensters versier.
Maar MonPetit is geen vakansieparadys nie.
Dis die mees gevorderde weerstasie op aarde, en boonop die tuiste van ’n buitengewone familie.
Anna ken die geheime van haar eiland goed. Kort nadat sy tien geword het, het haar ma haar geleer om die Onderwater-verkenner te bestuur. Maks is verbind met al die kontroles van die duikboot en hy sorg dat alles veilig verloop. Dit maak dit doodmaklik.
Vir Anna is hierdie uitstappies saam met haar ma die grootste pret. Sy wens met haar hele hart dat haar ma meer tyd kon hê om die pragtige eiland saam met haar kinders te geniet. Maar daar is altyd een of ander ramp wat die aarde se ekosisteem bedreig en haar ma se aandag in beslag neem.
Vandat Anna agt jaar oud was, bly haar pa nie meer by hulle nie.
Toe admiraal Atoom nog op MonPetit gebly het, het hy al sy tyd aan die bewaring van die oseane gewy. Saam met sy vriend Uranus was hulle van die eerste wetenskaplikes wat vir GROEN begin werk het.
Die geheime van MonPetit-eiland
Al lyk die strandhut so gesellig van buite af, is dit geen plek vir ’n piekniek nie. Die hut is tjokvol gesofistikeerde toerusting en ingewikkelde masjinerie. Dit huisves ook die lugversorger wat dag en nag vars, koel lug aan die grotte onder die eiland voorsien.
’n Luik in die vloer gee toegang tot hierdie grotte in die graniet-maag van die eiland. In een van hulle is professor Sabatina se laboratorium, met Maks die knorrige rekenaar en die pragtige hologrambeeld van die AardWag.
’n Ander grot dien as stoorplek vir die Atoom-familie se voertuie: ’n duikboot en ’n spesiale ligte vliegtuig, die JetKopter. Daar is ’n klein ondergrondse meer in die middel van hierdie groot grot, wat deur ’n onderwaterpoort verbind word met die see. Hierdeur kan die Onderwater-verkenner die see ongesiens bereik.
Die Onderwater-verkenner is ’n miniduikboot wat professor Sabatina vir wetenskaplike ekspedisies gebruik, maar nou en dan vat sy haar kinders saam net vir die pret. Dis inderdaad wonderlik om onderwater rond te ry en alles in die see te bekyk.
’n Deel van die grot se dak kan heeltemal wegskuif. Van buite is die opening glad nie sigbaar nie, want dit word bedek deur ’n deksel van sterk plastiek wat dieselfde kleur en tekstuur as die pienk granietrotse van die eiland is. As die dak oopskuif, kan die JetKopter met gemak daardeur opstyg.
Die JetKopter is ’n kruising tussen ’n helikopter en ’n vliegtuig. Dit kan loodreg opstyg en bykans op enige plek land. Sodra dit in die lug is, vou die helikopterskroef terug en begin die straalenjins werk.
Die Atoom-familie gebruik selde die JetKopter. Dis veral bedoel vir lang reise, en sedert die admiraal se katastrofiese ongeluk verlaat die familie amper nooit die eiland nie.
Anna se pa was net so lief vir die see as sy en haar ma. Hy het grootgeword op die eilande, die seun van ’n visserman. Maar sy vrou kom uit ’n familie van slim en geleerde mense.
Kort ná hulle troue het ’n ongeluk Sabatina se familie getref. Dit het egter ’n goeie nadraai gehad: sy het ’n hoop geld geërf van ’n verlangse tante. Die tante, wat ook ’n beroemde wetenskaplike was, het ’n battery ontwerp wat die energie kan stoor wat motorenjins opwek, om dit later terug te gee as elektrisiteit. ’n Ma kan byvoorbeeld die battery aan ’n laaier by die gesinsmotor se enjin koppel, haar kinders in die oggend skool toe neem en dan genoeg elektrisiteit hê om die huishouding die res van die dag aan die gang te hou. Op dié manier word brandstof dubbel benut, en dit het beloof om die wêreld van ’n dreigende energiekrisis te red.
Die patentregte op die battery het Sabatina se tante skatryk gemaak. Ongelukkig het sy kort daarna beswyk weens ’n elektriese skok toe ’n demonstrasie van haar wonderlike toestel skeefgeloop het.
As enigste erfgenaam was Sabatina skielik in staat om iets daadwerkliks te doen aan haar en haar man se droom om die omgewing te help bewaar. Hulle het genoeg geld gehad om MonPetit te koop en die mees gevorderde weerstasie op aarde daar te bou. By die AardWag kon hulle werk en leer, die impak van die mensdom se bedrywighede op die ekosisteem bestudeer en die internasionale gemeenskap vroegtydig waarsku as die delikate balans van die natuur versteur word.
’n