Wildvreemd. Carina Stander
dit agter haar kop vas. Sy glimlag. Onderlangs. Ek kyk af, voel hoe sy my dophou. Ek probeer haar gedagtes peil, kyk of sy my spot, maar al wat ek sien, is ’n skoon wit bladsy. Langs haar swaai Brenda Botha ’n arm deur die lug en die vadoek in haar hand volg die gebaar. Die vol grys bob versag die stroewe lyne op haar voorkop en die wrang trek om haar mond. As verset die vrees vir verwerping is, die verwerping van verwerping, dan is daar ’n rebelsheid aan Brenda wat ’n mens nie by ’n vrou van byna sestig verwag nie. ’n Hardkoppige soort weiering om te aanvaar dat daar dinge is wat buite haar beheer lê. Juis dit gee aan haar ’n bepaalde lewensdrif – ’n bekoorlike maar bitter krag. Haar blou oë blits toe sy sê: “Weet jy dan nie, Ingrid-kind? Dis die Byeboer. Skarlakenvrou.”
Sy sê dit opsetlik hard, dat ek móét hoor. Al weer daardie naam. Ek wag vir die volgende opmerking, maar vandag swyg sy.
Ná nege jaar is ek steeds wildvreemd. Vreemd en wild vir hulle wat my aankyk, maand ná maand wanneer ek dorp toe kom om kerspitte te koop, skuurpapier, spykers en broeirame vir die byekaste, batterye vir my radio, gas vir die kampstoof, rakmelk en kaas wat stadig bederf, filterkoffie, pasta of lensies, meel vir potbrood, olywe, speserye, vars vrugte, bioafbreekbare seep, toiletpapier, tandepasta, tampons, pleisters en nog ’n boek. Wanneer ek verbyloop, kyk hulle na mekaar en noem my name. Ek probeer dit miskyk, die agterdogtige frons wanneer ek met grootgeld betaal. Skouers roer, ’n mond trek, ’n half terloopse fluistering. In die kantoor oorkant die straat word ’n blinder opgerol. Oë op my. Vir hulle is ek die alleendier, die eenkant een, die sondebok. Die woordstom vrou wat slaap tussen donker skaduwees.
Skaars veertig tree van die polisiekantoor af hardloop ’n span kinders oor die grasperk – spookasem in die hand, die hare gekoek – toe ’n laerskoolseun uit die bloute na hulle roep. “Daar’s sy!”
Die kinders volg hom. ’n Mollige dogtertjie beduie: “Is sy rêrig so kwaai?” Selfbewus. Nuuskierig.
“Nee, donkiekop,” snou die seun. “Sy’s nie kwaai nie, net mal.”
Mal. ’n Gerieflike woord. Een waaragter ’n mens maklik kan skuil. My sintuie is onverwags skerper. Asof van ver af hoor ek die fiets wat ’n uur gelede tussen die stalletjies geratel het. Ook die man wat op die sypaadjie geloop het met klippe wat onder sy skoensole knars – ek sién sy spoor in die gruis. Agter my skeur iemand twee koevertjies oop, roer die suiker in ’n beker koffie. Twee, ek kan dit ruik. Met toe oë vra ek vir ’n helder beeld, maar ek sien niks. Die seun se gelag eggo in die klank van ’n asblikdeksel wat iewers toeklap en nog verder in die geknars van ’n speelgoedvragmotor onder ’n karwiel. Dit moet gisteraand gebeur het – ’n roekelose pa wat oor ’n grasperk jaag? Die woede slyp in hom soos ’n wapen teen ’n klip toe hy die stok teen die grond kap en die kinders agter hom aan begin sing. ’n Heining van afwagtende monde en flikkerende oë. Toe, net so vinnig as wat hulle gekom het, is hulle weg. Binne oomblikke is ek weer alleen.
’n Vrou pluk ’n kind aan die arm. “Sies, wat kyk jy so vir die tannie? Staan nader dat ek jou gesig kan skoon kry.”
Haar stem is dun. Sy kyk onder geplukte wenkbroue na my terug en ek gee haar waarvoor sy vra. Ek spoeg soos ’n kobra: Wat wéét jy van skoon of vuil? Ek het ’n grysduiker sien lam, slagyster aan die poot, wurms in die warm wond, maar sy het aangehou veg soos een wat weet dat sy ’n bedreigde spesie is. Sý was skoon. Sý was skoonheid.
Die spoegstreep skiet vinnig en sekuur deur die lug, tref haar in die oë. Dierlik. En ek vlug voor die woorde wat soos wildehonde uit die gate van hulle monde spring.
Jare gelede, toe die bobbejaan die dag in die maag geskiet is, toe hy sketterend sy ingewande uitryg en die pyn probeer toestop met gras, het ek ook so gevlug. Agter my aan het die man geskree: “Ek stuur hom terug trop toe met ’n boodskap! Sal die laaste blerrie waatlemoen wees wat een van dié klein satanskinners by my steel.”
Die nuus moet soos ’n veldbrand versprei het, want toe ek later daardie dag by die Ruig instap, het Braam my reeds ingewag. Ek kon sien hy het die werk net so laat staan en dadelik gekom. Die ploeggrond en son nog aan sy hande. Sy oë vernou, soos iemand wat oor ’n geheim praat. “Jy moet versigtiger wees,” het hy gesê.
Stilte.
“Hulle gaan jou nog keelaf sny! Asseblief, ek is nie altyd naby om …”
Ek soek nie jou hulp nie!
“Wat wil jy hê? Dat ek eendag jou lyk moet gaan uitken?”
Daaroor moes jy gedink het voordat jy besluit het om my vriend te wees.
Hy het verstyf, toe met ’n amperse glimlag sy kop geskud en gesê: “Mapstieks.”
Vandag wou ek van die bobbejaanmannetjie vertel, van elke kruisboog en knaldemper, elke dier wat voor die geweer moes buig. Ek wou oorlog verklaar tussen taal en stilte. ’n Oorlog wat sê: As julle doodmaak, sal ek wraak neem deur te lewe. Maar toe ek my weer kom kry, doen ek wat ek my lewe lank doen: vlug. Deur die dorp en die veld agter die skool. Kruis en dwars oor die berg op die uitkyk na nuwe swerms, maar die onweer in die lug krap die bye om en ek klim weer ondertoe en stap rivierlangs. Van hier af sal ek die pad toe-oë kan vind; aan die gekraak van die bome of die geknars van sand onder my voete weet ek presies waar ek is. Twee kolganse swenk deur die riete en laat ’n rimpelspoor op die water – die mannetjie sis, die wyfie snater. ’n Jong bosbok skrik uit haar lêplek op – haar tong proe die lug. Die reënvoël skuif uit die takke. Doee-doee-doee-du-du-du.
Dringend.
Dan is die hiënawyfie in die oewerbos. Met ’n wipstap kom sy nader, kop omlaag. Haar lyf is met onreëlmatige kolle oortrek. Elke spier in my liggaam verstyf. ’n Oomblik lank sien ek asof deur ’n skreef: ’n trui en ’n bos blomme, alles in skakerings van rooi. Moenie vrees wys nie, moet net nie vrees wys nie. Gevlekte hiënas is aasvreters, nie alleenjagters nie. Hulle is menssku lafaards wat hulle teen miershope en klippe kamoefleer. Tog, hier staan sy, skaars vyftig meter voor my. Oop en bloot. Haar enorme kake is effens oop, kake waarmee sy die taaiste vleis kan skeur en die bene van koedoes kraak. Die bytplekke aan haar ore wys dat sy kort gelede geveg het. Proe sy nog die bloed?
Ek loop windaf, in lyn met die wyfie. Kwyl dit om haar bek? Sal sy skrik as sy my ruik? Ons meet mekaar. Duisende hiënas is al vergiftig en verstrik weens die bygeloof dat hulle draers van bose geeste is.
’n Klaagroep klink op in die verte. Die hoë whoee-hoepe eindig in ’n ysige gelag. Hier is rondlopers in die Ruig, dit weet ek al ’n geruime tyd, maar dis die eerste keer dat ek een teëkom.
Die spikkelwolf loop wye sirkels om my reuk te kry. Sy bewaar die afstand en gaan sit, haar breë kop effens gedraai. Haar stert piets op die sand terwyl sy onderlangs grom. Die slagtande is ontbloot – ’n werpsel word selfs met tande en oop oë gebore.
Die naaste klimbare boom is aan die oorkant van die rivier en my enigste wapen vir verdediging is die vuurhoutjies in my rugsak. As dit moet, kan ek die riete aan die brand steek in die hoop dat die vlamme haar verwilder.
Aan die westelike grens van die Ruig ontaard die bulke nou in ’n uitgerekte gelag. Die lang kuif rys van agter haar nek tot bo haar skouers en my mond raak kurkdroog. Dié keer kom sy reguit na my toe, die ore gespits en die stert oor die rug. Ek tree vorentoe. Grom instinktief. Ons beweeg ’n paar treë nader aan mekaar. Skielik spring sy weg, met ’n knor. Stert tussen die bene. Sy wys twyfel, waarom weet ek nie, want alles tel in haar guns: krag, vaart, reuksin, gehoor, sig. Moenie in haar oë kyk nie. Dié een is waarskynlik ’n uitgeworpene. ’n Gevaarlike enkeling.
Die hiëna snuif weer windaf. Moenie te vinnig loop nie, skreeu my brein – diere ruik vrees. Sy lig haar stomp snoet en volg my reukspoor. Ek is te ver weg om te sien of haar nekhare orent staan. Eers toe ek deur die rivier is en sy steeds op die oorkantste oewer huiwer, begin ek veiliger voel, maar die metaalsmaak bly in my mond, die beeld van ’n bebloede trui en ’n bos blomme pal voor my oë.
My keel brand toe die bloekoms eindelik agter my toemaak – ’n muur tussen my en die buitewêreld. Ek gooi die rugsak langs die huis neer en lig die gaasnet. Die tamaties is ferm in my hand en die wortels ryp oranje. Ek pluk ook pietersielie en bitterkoljander