Wildvreemd. Carina Stander
haar sien: Sneeuwitjie het uit ’n twee honderd jaar oue sprokie ontsnap! Die son skyn deur haar romp en haar blas vel het ’n goue skynsel. Die punte van haar rooi kopdoek waai saam met haar lang swart hare in alle rigtings. Kaalvoet loop sy verby die stalletjies.
“Van waar af kom sy?”
“Waar sy vandaan kom, is haar geheim,” sê tannie Brenda terwyl sy krummels van haar voorskoot afskud, “maar sy woon al jare tussen die bloekoms in so ’n krot van ’n klein pomphuis.”
“Alleen?”
“Stoksielalleen. Dra mos die merk.”
“Watse merk?”
“Van die dier. Dit sit hier, aan haar keel. Dis waar hy haar gebyt het.”
“Wie?” vra ek.
“Nie wié nie, wát.” Die tannie staar na die horison asof sy ’n spook sien. “Die wolf,” mompel sy.
Kyk, dis dalk lekkerder om hier by haar droëvrugtestalletjie uit te hang as om vir die rekordeksamen te swot, maar die tannie moenie nou dink sy kan met my kop smokkel nie. “Hier’s nie wolwe nie,” stry ek.
Sy ruk haar so vir my op dat haar lippe ’n dun pienk strepie word. “Spikkelwolf, tierwolf, gevlekte hiëna. Als dieselfde gedierte,” sê sy. “In dié geweste ís hulle toetentaal uitgeroei oor hulle veestelers is, maar ’n trop het uit een van die dom naweekboertjies se wildplase ontsnap. Snags hoor mens die hellelag vanuit die Ruig.”
“Hiënas bly in oop stukke veld, tannie Brenda,” kap ek weer. “Wat sal hulle in die bos soek?”
“O my aarde, jy’s reg!” sê sy met ’n gilletjie. Sy pluk ’n sakdoek uit haar mou en druk dit teen haar voorkop. “Wie weet, dalk is dit nie ’n wolf nie, maar ’n anderlike wese. ’n Gedrog of ’n ding. Is hoeka of sy méér dier is as mens. Vandat die spikkelwolf haar gebyt het, het daar mos nooit weer ’n woord uit haar mond gekom nie, net die gegrom van ’n hiëna … of ’n duiwelsding.”
Ek wil nog vra waar kom sy aan al die twak, toe ’n lot kiddies met spookasem in die hand tussen die stalletjies deur hol, besig om wegkruipertjie te speel. Van die kleintjies probeer die duiwe Nik Naks en gruisklippies voer. Tannie Brenda lag asof dit die grootste grap is, roep hulle nader en gee vir elkeen ’n hele plaas se rosyntjies om vir die duiwe te gooi.
“Sies tog,” sug sy, “en om te dink Skarlakenvrou is seker al diep in die dertig en steeds sonder kind of kraai. Is ’n onding vir ’n vrou om so lank ongetroud te bly, sy sal verheidens. Ag, wat praat ek! Ons kon die slag in die kerk al sien iets skort. Soos sy darem dié dag gebraak en gegrom en te kere gegaan het!”
“Braak? In ’n kerk?”
“En wat ’n spektakel! Dit was destyds in ’n sustersbiduur. Met ons eie oë het ons gesien hoe Skarlakenvrou by die kerk instorm. Net daar, in die Moederkerk, kreun en steun en braak sy toe kompleet nes ’n goëlaar.”
Die rilling hol soos ’n spinnekop teen my rug af. “Maak sy ’n bestaan uit goëlery?”
Toe die tannie vooroor leun, is haar oë so skerp en blou, dit voel asof sy my aan die lamppaal gaan vassweis. “Mens wil die gruwels nie eens hardop noem nie, Ingrid, maar hulle vertel dat sy kort voor daai inbarsting in die kerk swanger geraak het by … by ’n … Skarlakenvrou het destyds swanger geraak by … Nee, hoe kan ek dit oorvertel? En dit aan ’n bloedjong meisiekind!” Sy kyk boontoe en lyk skuldig.
Ek pluk my sommer. “Ek is sewentien.”
“Als goed, als goed. Ek wil nie skinder nie, Ingrid-kind, maar ek moet jou waarsku oor jy nuut is op die dorp: Bly weg van haar af! Sy’s stapelgek!” Die tannie se stem is nou hard, so hard hier tussen die stalletjies dat my wange warm word. Sy sien dit seker en voel ’n bietjie sleg, want sy skeur een van haar pakke droëvrugte oop en beduie sonder ’n woord – kry vir jou.
Die volgende oomblik begin so ’n wintie laaitie kliphard te sing: “Mal-le-mal-le-meu-le, mal-kop-vrou-vreet-peu-le!” Dit klink soos die liedjie wat die laerskoolkinders altyd op sportdae op die wysie van “Wieliewalie” sing. Eers skamerig, dan al hoe harder en vinniger skree-sing die ander agter hom aan: “Mal-le-mal-le-meu-le, mal-kop-vrou-vreet-peu-le, stil-le-wa-ters-die-pe-grond, on-ner-draai-die-mal-vrou-rond!” Nog kinders join hulle en draai om en om dat die stof later staan. Van die kleintjies val neer en bly net so lê en lag. Die vrou in die kring se lang romp bol in die wind soos ’n oop geel hibiskus. Vir my is sy die mooiste mens wat ek al ooit in lewende lywe gesien het, maar die kiddies kyk haar met ronde oë aan en gil asof hier sopas ’n monster vrygelaat is.
Almal praat deurmekaar.
“Wat soek sy hier?”
“Die arme kinders!”
My kop tol. “Wat het nou gebeur?” vra ek hardop.
Tannie Brenda wikkel haar tong tussen haar bolip en tande en prewel iets. Eers dog ek sy sê “dis ’n fout”, maar dit kon ook gewees het “daar’s fout met haar”. Dan sê sy: “Nes die nag toe die jonges by haar heuning gaan gaps het. Skarlakenvrou was nog jonk, seker so vyf-en-twintig. Sy het pas in die Ruig ingetrek. Toe die jongetjies weer sien, staan die maanbehepte vroumens in die rivier met ’n kolhaas in haar arms. Hulle het gekyk en gekyk asof hulle ’n gees sien. Die wond aan haar keel was nog oop, had hulle later te vertelle, en haar gesig was glo die ene onheil. Dit was kompleet of sy die bose self tart.” Tannie Brenda skud haar kop asof sy die herinnering wegwens. “Dit was ’n stuk of nege jaar gelede. Van toe af het niemand weer in die Ruig gaan skoorsoek nie, want sy’s ’n allergevaarlike vrou.”
Toe sy klaar gepraat het, is daar ’n flippen scary stilte in die lug. Ek wip omtrent van die skrik toe iemand skielik agter my praat.
“Jis-ja, tjokker, wat maak jy nog als?”
Dis Wouter Hartman met die breë glimlag.
Aan die begin van die jaar het ek en Wouter mekaar by die prefekkamp gesoen. Dit was nogal nice, maar Wouter is nie die soort ou op wie ’n mens jou hart verloor nie.
“Sommer niks,” sê ek.
“Dit kom reën. Klim op, dan lift ek jou gou huis toe.” Voordat ek iets kan sê, spring hy van sy fiets af en vat my sak uit my hand. Wouter is ’n regte hunk – die spiere bo sy knieë bult. Die ouens by die skool noem hom Haelskade (“oor my borselkop lyk soos ’n koringland wat nie by Sentra-oes verseker is nie”), maar eintlik is dit omdat hy “vat hom!” skree in die skrum, en dan begin hulle die ander span moker.
Hy help my om op die handvatsel te sit. Die bult na ons huis ry hy uit asof dit ’n hobbeltjie is.
“Jy’s darem maar baie gespin met die gryskoppe se praatjies oor ou Honey,” praat hy hier agter in my nek. Sy lyf is so naby ek kan die Axe onder sy arms ruik.
“Honey?”
“Die bee charmer, man.”
“Hmmm, so jy’t my en tannie Brenda afgeluister? Ken jy haar?”
“Niemand kén vir Honey nie, maar almal weet van haar. Is nogals moeilik om haar mis te kyk. Sy’s sexy, maar so koekoes soos ’n haas.”
“So, jy’s ook een van die aasvoëls, nes tannie Brenda.”
“Hoe nou?”
“’n Aasvoël wat sit en wag vir haar karkas. Hoekom pik almal op haar?”
“Man, ou Honey bly al lank hier. Ek was seker so nege jaar oud toe ek en my tjommies die eerste keer met haar te doen gekry het.”
“Vertel bietjie.”
“Lang storie, te lank om nou te vertel. Maar oor een ding maak tannie Brenda ’n groot fout: die ouks bang nie vir Honey nie.”
“Genuine?”
“Genuine. Die latte het vandag by die mark weer oor haar gechat. Een lot sê sy’s stom en die ander sê hulle hét haar al hoor