Wildvreemd. Carina Stander

Wildvreemd - Carina Stander


Скачать книгу
baie soos die tradisionele portret van die nimf/sigeunerskoonheid/profetes. ’n Misunderstood genius. Op kunsteoretiese vlak sou mens kon vra: WAT wys die stom vrou nou eintlik? Watter simbole gebruik sy & HOE hou sy dit voor? Waarom breek sy die konvensies & kodes van die wit boerin? WIL sy die establishment dwing om te erken dat haar kaal voete, lang hare, bosblyery & byeboerdery oor ’n primitiewe mitologie beskik? Why does she flaunt her otherness?

      Eisj, kyk net al die geskryf! (Genoeg geskryf, genoeg & motiveer u antwoord: waar/vals). Miskien moet ek goeienag sê & afsluit op ’n ligter noot/d: ek wil gaan piepie. :) Sien jou vroeg in Januarie? Daar’s ‘n lig in die wapad! The sky is the limit. To infinity and beyond!

      Tjrrs.

      Ebro

      PS: In die San se rotskuns klouter stokmannetjies teen die klippe uit. As mens te lank in ’n grot bly, word jy blind. Ek moet hier uitkom, moet die son sien.

      2

05.jpg

      Vier maande ná die vuur

      Brenda Botha

      Dis lekker warm gebak hier op die voorstoep van waar ek die plaas se doenighede sit en dophou, die elfuurteetjie en beskuit wat Maraai netnou aangedra het, op my skoot. Net ’n halwe beskuitjie vandag, want, agge ja, elke keer as ek ’n bietjie gewig verloor het, spoor dit my weer op.

      Skaars het die skuur se deur geklap, of Jan Pampoen kom verby met ’n graaf oor die skouer. Daar werskaf hy nou die bokmis onder die koejawelbome in. Genugtig, maar die boord drá vanjaar! Die ou wêreld lyk sommer groen en gaaf ná al die reën en my ranonkels staan ook kop omhoog.

      Dis moeilik om te glo hier was September nog ’n gryse verslaentheid op die werf. Pampoen het weke afgevat om sy kind en pa te soek, maar niemand kon eers ’n verkoolde skoensool vind nie. Ai, die verdriet. Maar dis ook nie of ons verbaas was om te hoor wie die brandstoker was nie. Het daai behekste vroumens dan geen benul hoeveel hartseer haar speletjies bring nie? Reken, elke maand groet ons haar by die boeremark, maar sy praat nooit ’n dooie woord met ons nie. Maar sy’s so min stom as wat moskonfyt groen is!

      Vandat Maraai se kleinkind weggeraak het in die brand, raak die arme skepsel net by die dag stiller, amper so stil soos die kere nadat Mampoer haar ’n loesing gegee het. Sulke tye sou Maraai laat by die kombuis opdaag, so pootseer soos ’n ou ooi. “Wou nog die driepoot skrop, maar val toe oor my eie pote. Gesig teen die grond. Is die oudgeit wat so maak.” Dit het sy dikwels gesê, altyd ’n verskoning, al weet ons albei sy’s g’n oud nie. Om haar só te sien wou my hart breek, maar nou ja, as mens eers een keer by ’n ander se moeilikhede inmeng, moet jy later vir die hele kontrei welsyn speel. Op sulke dae het ek Maraai vroeg afgegee met ’n fles koffie en beskuit as troos. Nooit het ek ’n sent van haar loon afgetrek as sy weggebly het terwyl die slaanplekke gesond raak nie. Jong, sy’s ook nie op haar bek geval nie. Was dit dalk haar hansgeit wat Mampoer se geduld so beproef het?

      Doer kom die Chevrolet nou aangeskommel. Mens ruik die ou skedonk ook lank voor jy hom sien. Hik-hik kom hy in die skuur tot stilstand.

      Hoe goed ken ek nie Braam se gestamp van sy skoene op die welkom-matjie by die agterdeur nie. Ek hoor hom drafstap deur die huis.

      “Lees self,” sê hy en gee my ’n klapsoen op die wang.

      Ek hou die poskaart ’n entjie weg.

      Hi Oupa & Ouma.

      Varsity is nog gesluit & ek is lus om vir ’n week/wat op die plaas te kom kuier. Ek hike Vrydag tot op die dorp. Kan julle my asb 20:00 voor die poskantoor oppik? Thanx!

      Ebro.

      PS: Ek het probeer bel, maar julle lyn was af. Hier is my selnr.

      Ek laat sak die poskaart só stadig dat my varkhond, Tjop, beginne grom.

      “Ebro.” Gmf. Klink altoos na iets tussen Epol en Hebro. Bid jou aan, die ge-Ebro is nie Botha-styl nie!

      “Is dit nie wónderlike nuus nie, Brenda-lief? Hy kom Vrydag al,” jubel Braam.

      “Onse heiden, Abraham! Sê ons aan om hom wie weet waffer tyd te gaan oplaai. Vrotsige grondpaaie, de lot. Die vermetelheid. Om ná al die jare … En wat vir ’n ma is Ida dat sy haar kind van die stad af laat ryloop?”

      As Braam eers sy baard so staan en vryf, weet ek sy humeur raak haastig. Dis sy manier, van altyd af.

      “Ons blóédkind kom kuier. Is jy dan nie bly nie?”

      “Hoe weet jy hy’s Bothabloed?” troef ek. Ek sê al jare lank vir hom Ida het die kind by ’n ander man opgetel. Sy’s immers van dieselfde baksel as Skarlakenvrou. Die een pronk dalk op haaipolfaais en die ander een loop kaalpoot, maar tert bly tert. Elke slag hou Braam sy ore so toe soos ’n kleios se sweetgaatjies. Sê niks, stry niks. So goed ek praat met ’n dowe. Maar vandag beweeg sy slape op en af en die lug blaas hard en hoorbaar uit sy neus, nes ’n befoeterde afrikanerbul, toe hy die poskaart uit my hand gryp, dit in sy hempsak druk en hard vir my bulk: “Vrydagaand laai ek vir Ebro op en hy bly solank soos hy wil. Tot hiertoe en nie verder nie.”

      Zack van Aarde

      Vandag staan die son weer stil. Dis ’n ongenadige soort hitte wat groot reën belowe. Selfs hier in die koelte van die maroelaboom, met my knope los, klou die hemp steeds aan my rug. En kyk nou vir die swaels wat so heen en weer oor die verbrande landskap vlieg, natuurlik op die uitkyk na tekens van oorlewing – kos, skuiling, water. En oorleef sál hulle. Die son en hul ingebore kompas sal die trekrigting bepaal en saans sal die sterre hulle help koers hou. Maar hoe kan ék weet watter rigting die brandondersoek moet inslaan? Sal ek ook op instink staatmaak?

      My instink sê ’n hele paar dinge is nie pluis nie. Daar is al maande lank ’n toeloop van wildstropers wat met semi-outomatiese vuurwapens en kragtige skietlampe uit voertuie jag, maar ons kan hulle net nie vastrek nie. Dalk wou hulle die gras afbrand, sodat die jong spriete ná die reën meer wild kan lok. Onwettige jagters ontsien immers geen privaat eiendom of menselewens as dit om jaggebied gaan nie.

      Of miskien gaan soek ek nou te ver na die antwoord. Wanneer die gras teen die vroeglente stadig groei, maak die boere dikwels ’n seisoenbrand ter voorbereiding van ’n weiveld. Dalk wou een ’n droë veld opruim om die somer se ploeg en plantery te vergemaklik, of probleembome of bosluise uitroei. Dat iedereen onskuldig pleit, is te verstane, want die ware vuurmaker sal beslis beboet word vir nalatigheid. Maar die swaarste straf sal waarskynlik die wrewel van die gemeenskap wees.

      Sê nou ’n plaaswerker is die skuldige? Sal die mense dan ook eerder swyg as om in die hof te getuig? Jan Rats vertel ’n groep plaaswerkers het aan die einde van ’n vorige droë seisoen ’n vuur gemaak om hulle skelm jagtery te vergemaklik. Hulle het in ’n halfmaan om die vuur uitgesprei en die voortvlugtende diere gejaag in ’n rigting waar mans met klippe, stokke en kort spiese hulle ingewag het. Waarom is die brand ná werktyd gestig? Sou Braam se werkers jag vir eie gebruik of geldelike gewin?

      Dit gebeur soms dat ’n geringe bries ’n vuur weer laat opvlam, daarom het ek die dag ná die brand die swartveld gaan patrolleer. ’n Digte rookmis het oor die landskap gehang en baie stompe het nog rooiwarm gegloei. Ek het ’n skilpad opgetel wat oorleef het deur sy kop en bene onder sy dop in te trek. Net die rand van sy dop is deur die vlamme gevlek. Vinniger diere het in termietheuwels, rotsskeure en hoë bome geskuil. Daar was hase en meerkaaie in die ondergrondse tonnels, en slange in die nabygeleë rivier, maar die groter diere was minder gelukkig. Plek-plek was die vlamme so hoog dat selfs lenige diere die vuurdood nie vrygespring het nie. Teen die wildsdrade het die verkoolde karkasse van sewe koedoes en ’n waterbok gelê.

      Heit, kyk nou so ’n vlakvark! En die string kleintjies agterna … Hulle honger moet groter wees as hul vrees vir my mensreuk. Al het die gras tien dae ná die brand tekens van nuwe groei getoon, was dit eers twee weke later reg om gevreet te word. Die veld het nou nog nie behoorlik herstel nie. Veral hier in die oopte, waar ek


Скачать книгу