Wals met Matilda. Dan Sleigh

Wals met Matilda - Dan Sleigh


Скачать книгу
om die seesand tussen sy tone te voel waaroor die jonger Plinius geskryf het: Die see en strand hier is ’n sterk inspirasie. Wanneer ek by my Laurentium skryf, gebeur dit altyd … Dit is ’n setel van die Muse; hier praat hulle met my.

      Sy muse het hom verlaat, jonk oorlede.

      Op die elektries verligte plaveisel, vier verdiepings onder, is die blou omlyning wat hom herinner aan die afgietsels van slagoffers in die strate van Pompeji, almal só gevang in die patetiese houdings van hulle sterwe. Wat, as hy self daar onder lê as ’n buitelyn met al sy probleme opgelos? Hy draai weg van die dounat balkonreling af. Lewend sal hulle hom nie vang nie. Hy is bang om te slaap, die nag word te lank. Hy sal versigtig wees om nie die lig te vroeg af te skakel nie.

      Op die tafel langs sy bed is sy leeslamp, die vorige nag se glas water met stof op, sy bril, twee bundels kortverhale (Met beste wense aan Cornelia van Bart Zaayman) waaruit boekmerke steek, papier en potlood. Want hy sal wakker word, in die donker miskien een of ander vreemde gedagte neerkrap, en môreoggend wonder wát so belangrik was aan ’n frase wat hy dan skaars kan ontsyfer. Hy gaan lê. Die selfverwyt begin dadelik: Dis my skuld dat hulle almal weg is, ek het hulle almal verongeluk. Dit is ek wat hulle weggestuur het, ek het hulle aan boord genooi, op hierdie seiljag, in daardie vliegtuig, in hierdie gehuurde motor, oor dié horison, oor daardie see, na daardie woestyn of na dáárdie maan. Ek was hulle loods, skipper, drywer, laksman.

      In die nag skrik hy skreeuend wakker. Hy lê met sy vuiste teen sy bors, knyp sy oë toe tot sy gedagtes en wilde hartslag bedaar, dan maak hy hulle oop en haal asem met sy tande opmekaar gebyt. Sy oë word aan die donker gewoond. Dáár is die venster se reghoek, die stoel, die klerekas. Hy staan op en loop badkamer toe. Hy dwaal in die donker, van bed tot venster tot stoel, van leë kamer tot leë kamer.

      2 Middelburg, Karoo, 1897

      Die pes het uit die Noorde gekom. Die boere hoor van runderpes in Rood zeer, soos hulle die nuwe rooi vlek op die gesig van Afrika, noord van die ZAR op die kaart, noem voordat Rhodes in poskantore laat opplak die uitspraak is “Rhodéésiër” asseblief. Hoe die siekte daar bo gekom het, het hulle nie aangegaan nie. Kruger se goewerment het nie gedink om die driwwe te sluit nie, transportwaens het dit suid oor die Limpopo gebring, toe oor die Vaal. In Maart daardie jaar was dit skielik oor die Oranje.

      Die boere het by hulle kraalhekke gestaan en kyk; jy sien wanneer jou bees se neusvel droog word en die oë glasig en hulle nie meer hulle vlieë wegjaag nie. Daarna gaan die dier se hare staan, sy kop voel warm en die vliese in die neus en bek en oë word rooi van inflammasie, môreoggend loop geel snot uit die neusgate en die vierde dag lê jou bees opgeblaas en styf. In die Transvaal en Vrystaat is al tweemiljoen stuks grofvee dood. Wat is hul goewerment se plan, wat gaan hy maak met hulle?

      Japie se pa het hom met die kapkar by die skool gehaal die dag toe die boere dorp toe gekom het om na hulle magistraat te luister. Daar was amper soveel oudste seuns as boere, daarom dat die ding in die kerk gehou is en nie in die hofsaaltjie nie. Die jong magistraat het Hollands probeer praat en partymaal het sy hoftolk hom gehelp. Die boere het gesien begrip en samewerking word hier verwag. Alle diere met gesplete hoewe is draers van runderpes en daar is geen genesing nie, sê die man. Hulle moet skiet en dan begrawe of verbrand, en daarna ook die trekbokke wat nou uit die Oos-Karoo na Namakwaland op pad is, sodat die pes nie Kaap toe draai nie. Moet niks van die vleis, velle of bene gebruik nie, skiet net en begrawe. Daarna mag daar vier maande lank geen vee op die weiding kom nie. Ammunisie sal uitgereik word, waarvoor hulle moet teken. Die winkels is verplig om krediet te gee teen ’n verband op die plaas en die goewerment sal help met die afbetaal van die rente. Die magistraat het afgesluit met strawwe vir pligsversuim en na hulle oor sy bril gekyk: Geen vrae.

      Die predikant het daarna gelees uit Job wat soveel skade gely het. Die predikant was ’n ou man, heel moontlik armer as hulle, en hy het hulle probeer gerusstel: Job kon weer opstaan, sy welvaart is nie met kruiwaens by sy hek afgelaai nie, want die genade kom uit die hemel maar die mens moet dit deur die sweet van sy aangesig verdien. Die verskil was, sover hulle kon sien, wanneer hy hier klaar is gaan hy huis toe na sy erf met die uitkeervoor, die koel agterstoep en vrugtebome, en na sy lessenaar met boeke en olielamp, en hulle moet na hulle veekrale toe. Gaan hy ook vandag hier sluit met dreigemente van straf en hulle na die brandstapels toe wegstuur? Maar hy het nie, hy het vir hulle gebid. En hulle was jammer vir hulle predikant omdat sy kollektebord nou maande aaneen leeg gaan bly.

      Patrone is voor die preekstoel in pakkies van twintig uitgedeel, aan elkeen volgens die grootte van sy veetrop, vir Martini, Mauser, Enfield, Webley, Smith & Wesson, en hulle het by die nagmaaltafel daarvoor geteken. Toe het Japie sy pa se karperde onder die peperboom losgemaak en ingespan, en hulle het na die losieshuis gery om sy trommel op te laai. “Dan groet jy jou meesters,” het sy pa gesê. Hy was toe sewentien jaar en in die agste standerd en nie jammer om van die skool weg te kom nie. Hy het die skoolgaan moeilik gevind oor die Engels, Latyn en Hollands waarvoor die meneer so lief is, veral die onverstaanbare grammatika, met lang sinne gevleg en gedraai soos kreupelhout, alles dinge wat net in die meneer se boek bestaan, en die meeste met ’n vreemde naam wat vir hom niks beteken nie. Daar was een met die naam lidwoord; dit het hom altyd hulpeloos na sy hande en vingers laat kyk. Dan het sy gedagtes by die venster uitgevlug plaas toe.

      “Wat gaan ons maak, Pa?”

      “Ek het daaroor gedink. Nie in die kraal nie, dis te na aan die werf. Ons jaag hulle in die donga.”

      “En as daar reën kom dié somer?”

      “Ons pak ’n dwarsmuur bo om die water te sprei; Hertog en Hans en die kleintjies. Ná ons geskiet het, pak ons bossies oor en gooi lampolie. Diere brand tot as in hulle eie vet. Ons moet kyk of ons ses of ag blikke olie kan kry.”

      “Goed, Pa.”

      “Jy moet maar skiet, Japie. Ek bewe al te veel.”

      “Is pa nie bang vir krediet en die verband nie?”

      Sy pa kyk na die kerk en die straat en die dorpshuise met hulle rooi of groen sinkdakke soos hulle ry. “Dit is die wet. Hoe kom ons anders hier uit? Oorlede Pa het al gesê Klipvlei is nie meer ’n beesplaas nie, die wêreld het verdroë, ons het verkeerd getrek hier. Ek het gereken ek kan dit doen, maar kyk nou: Ons moet tog weer van voor af begin. Alles verander agteruit. Die volstruisveer was eentyd goed op prys. Mense het vir hulle wonderlike huise laat bou en vandag sukkel hulle om dit van die hand te sit.” Sy pa haal sy tabaksak en pyp uit. “Rook jy?”

      “Nee, Pa.”

      “Ons moet dit koop by die Jood, jy gaan vuurslag nodig hê. Wag tot die bokke effens nader kom, tot ons stof aan die oostekant sien. Dit sal oor ’n week wees. Ek hoor daar is omtrent tagtigduisend. Jy weet nooit wat hulle koers is nie, miskien slaan hulle ons heeltemal oor. Anders vat jy liewerster vir Hans, dan saal julle op en ry hulle tegemoet. Vat die Enfield en laat hy my Mauser gebruik. Dis ’n ligter wapen en sy koeël trek platter en verder. Skiet net en laat lê. Ry langs die trop en skiet uit die saal, die jakkalse en aasvoëls sal hulle gou genoeg optel. Later sleep ons die ander op ’n hoop.”

      “Ek het al geskiet. Pa weet mos. Laas trek, drie jaar gelede.”

      “Toe was dit ’n paar dosyn vir vleis. Nou mag ons nie eens velle hou nie. Nou ja, dan weet jy. Twee met een, as jy kan. Die Enfield is sterk genoeg as jy naasaan ry.”

      Daar staan ander karre voor die handelshuis, en solank as wat Japie die perde aan die reling vasmaak, gaan sy pa binne. Sy pa haal hoed af en gaan by die ander staan. Die meeste boere vra ses blik lampolie, almal vra vir krediet, dan bied die winkelier agt of tien aan.

      “Of meer ook, jy kan kry soveel jy vra. Ek het baie uit Port Elizabeth laat haal. Vier wavrag.”

      “So jy het die ding sien kom, mister Cohen?”

      “Ek het gehoor uit Transvaal. Toe maak ek reg.”

      “Tien blik asseblief, meneer Cohen,” sê sy pa. “As jy dit vir my op die boek kan gee. Asseblief.”

      “Jy het nie kontant nie?”

      “Wat ek het, moet hou vir nood. Daarom


Скачать книгу