Wals met Matilda. Dan Sleigh
nie self hoef te lees nie. Soos die Middeleeuse Kerk ontmoedig julle die publiek om boeke te lees of selfs te besit. Die nuwe sensuurraad. Wat is julle nut en bestaansreg eintlik? Is julle wagte wat die kantele van die Afrikaanse letterkunde patrolleer? Moet julle potensiële kopers waarsku teen ’n kat in die sak? Of soek julle goedgelowige onkundiges om julle gewaande kennis op te demonstreer? Parasiete, met ander woorde, wat op ander se werk teer. Julle sien in elke nuwe boek daardie ego-zol waarna julle so smag, ’n kansie om julle ou vaksoldaatjies af te stof en te paradeer. Die ‘intertekstualiteit’, ‘die parodie van dit of dat’. Spaar ons julle bloedlose geleerde disseksies, of as julle moet, doen dit met julle eerstejaars agter ’n toe deur. Julle is vol beterweterige teregwysings, waardelose vergelykings met ander. Wat het ék in godsnaam met ander te doen? Julle soek julle naam in die koerant gedruk, met julle akademiese possie daarby.” Nou was hy Hamlet wat vir Rosencrantz en Guildenstern afjak: Voertsek, gaan speel by julle maatjies. “Julle indrukke is gegrond op julle eie tweede-handse lewenservaring en patetiese persoonlikhede. As jy genoeg resensente genoeg kan betaal, word enige boek ’n sensasie. As julle dit beter as ék kan doen – waarop wag ons? Skryf self.”
“Dit is nie nodig om die vraesteller aan te val nie,” het die voorsitter gesê. “Antwoord net, so goed u kan.”
Hy het na die tafel gedraai, nog altyd gesteurd: “Hoekom weet hy nie wat dit beteken nie? As jy Afrikaans op see wil hoor, gaan luister op daardie glasveselmonsters wat die oseaan stroop van wat daarin lewe en by tienduisende in blokke verys vir uitvoer Ooste toe, vir kunsmis, katkos, veevoer, daardie soort ding. Ligpienk krefies kleiner as ’n baba se voet.” Hy het met voorvinger en duim gewys: “Snotterige viermaande-stokvissies nog sonder skelet, skaars gebore tjokka. Dit is die calamari op jou spyskaart, ingeval jou woordeboek dit ook nie weet nie.”
“Bly by die punt, asseblief, meneer Van der Merwe. Dit is ’n legitieme vraag, antwoord net.”
Hy was nog meer geïrriteerd. “Is ek gehuur om hier les te gee? Wat is sy vraag anders as ’n vertoning van verstommende onkunde? Selfs vir ’n resensent … alles in ag genome.”
Die uitdrukkinglose gesig van die halfgeskeerde snuiter in die agterste ry het woorde in sy gedagte ingeryg wat sy gevoel op die oomblik sou beskryf: Soos ’n jeugdige in sy eerste paring die negemaaltafel agterstevoor opsê om nie met ’n drenkeling se gekerm ontydig te strand nie, bedwing hy hom deur óór die gehoor heen teen die agterste muur van die saal te staar (’n 1930’s-art deco-saal, drie klein langwerpige projeksie-vensters vir 8, 16 en 32 mm-film onder die plafon en twee vierkantige luidsprekers in swart korwe aan weerskant teen die muur) totdat die geriffelde slingerpatrone in die growwe liggroen pleister en in die houtpanele onderom die mure sy aandag oorneem, en hy stadig, stadig afkoel. Tóé het hy gevoel dat hy kinderagtig en kleingeestig was, maar nie vir lank nie. Oor sy vreemde, onverwagte uitbarsting het hy later gedink: Dit is reg, die uitgewery kan Woordfees ’n apologie aanbied as hy wil: Van der Merwe se aggressiewe houding was vir ons ’n verleentheid. Maar nie van sy kant nie, hy was reg.
“Vergewe hulle, meneer Van der Merwe,” het die voorsitter gesê. “Hulle werk maar vir die daaglikse wurgpatat en tee, soos ons ander. Maar waar kom jy aan jou besondere terminologie?” Dit was ’n reddingstou, behendig gegooi, en hy het dit dankbaar gevang. Hy het weer die vraesteller in die gehoor gesoek; hy sou versoenend probeer wees.
“Hoe ek by my seepraat uitkom … Herken u die woord scheepspraet? Nie? Hooft, Vondel. Ek vertaal uit sestiende- en sewentiende-eeuse Nederlands, gewoonlik die Wes-Friese dialek: Texel, Terschelling, Schiermonnikoog. Dan gooi ek iets Kaaps by en roer goed op medium hitte. Afrikaans was nooit ’n seetaal nie; hier was net Hollands en van 1795 af net Engels. As jy Afrikaans op see wil hoor, gaan luister op die banke agter Dasseneiland: ‘Die kroegman kom moun in die wielhuis, hul’t al weer in my bonks gepis, Pa.’”
Hy was dadelik jammer daaroor. Dít was verkeerd; deur tot die student se peil te daal om ’n ontevrede gehoor se guns te wen het hy hom verneder. Dit was beslis verkeerd. Die voorsitter het hom weer gered.
“Pa?” vra hy. Hy klink opreg verbaas.
“Skipper. Schip heer. Sestiende-eeus. Maar dit hoor jy nie meer nie.”
Die resensent van die Sondagblad vra: “Skeepsname, meneer Van der Merwe, kry die bepalende lidwoord ‘die’ voor, so sê die reël: Dié Alabama … kom byvoorbeeld oor die see. Maar jy praat hier van Tijger en Burcht van Leiden asof hulle honde is.”
“Of perde. Só was dit toe my stories gebeur het. Vir seevolk was daar geen reëls nie. Mense het net gepraat, min kon skryf. Reëls was daar nie.”
Die man van die Sondagblad wys ’n dik groen boek. “Daar bestaan nou reëls.”
“Ek weet nie wie julle handboeke en woordeboeke en spellyste opstel nie. Gebruik hulle wanneer en soos jy wil. Ek gebruik dit nie; my gevoel is hulle is onbetroubaar, misleidend. As “skip heer” destyds goed was, het niks gebeur om dit nou sleg te maak nie.”
“’n Komitee van die Akademie …”
“Nou, hoeveel matrose was in daardie komitee?”
“Jou lesers is blykbaar tevrede,” paai ’n dosent van ’n noordelike universiteit. “Hulle word deur die misterie betower, soos ek.”
Moontlik was dit so. Maar die populêre pers was nie oortuig nie; die populêre pers, die dagblaaie en tydskrifte en wat destyds nog radio was, het gewerk uit ’n boek met clichés waarin ankers gegooi en seile gehys word. Nee, verduidelik hy met nadruk: Seile en ankers is láát vál; ra’s is gehys, nie seile nie. Behalwe in bote, langsgewys getuig. En hulle kyk hom aan asof hy dit uit sy duim suig: Wat is dit tog met Van der Merwe, bestaan sulke woorde dan nie net in storieboeke nie? Reëls word dan juis as gids vir storieboekmakers en joernaliste neergelê.
“Professor Smit, wil u voortgaan?” vra die voorsitter.
Maar hy het nie gewag nie. Hy het sy tas geneem en uit hulle saal geloop. Cornelia het by haar vriend, die buurman in 5F wat skryf asof hy klipmure stapel, gehoor wat by die Woordfees gebeur het. “Die liewe mensdom doen dit aan my ook, Koos,” het sy getroos. “Hoe kan enigeen hom handhaaf anders as met ’n soort aggressie?”
Die man met die stemme was nie tevrede nie, hy ook wou hom handhaaf. Hy het na sy huis toe gegaan en hom maande later aan ’n resensie oor In oop water gewaag. Toe was Cornelia nie meer daar om hom te troos nie.
Wat dwing hulle daartoe om hulle pretensies te paradeer, om neerhalende openbare uitsprake oor ander se werk te doen, om onvergelykbares te vergelyk, vals voorstellings te versprei? Is dit uit frustrasie oor hulle eie steriliteit?
“Meneer is stil.”
Hy skrik; waaroor het hulle gepraat? “Jy het gesê ‘voorland’.”
“Daar,” sê Eddie Fortuin, druk sy polse teen mekaar om boeie voor te stel en beduie na Robbeneiland. A, figuurlik; verwysend na die tronk op daardie arme eilandjie kort voor die horison, met sy geërfde probleem van politieke misbruik soos lewenslange verkragting. Hy het vroeër aan die eiland gedink as die Kaap se mooi dogter in die beskermende arms van haar ouers, die berg en baai: eers was sy onbeman en onbereikbaar, haar wit duine en dale oortrek van kleurige lenteblomme en met die omringende see en winkende oorkantse wal helder sigbaar van enige van haar skraal hoogtes. Isla Cornelia was haar eerste naam, dieselfde as sy vrou s’n. Nou wou hy die aanhoor van meneer Fortuin se boodskap, die rede waarom hy hierheen gestuur is, so lank moontlik uitstel.
“Weet jy, meneer Fortuin, my vrou se groep … Sy was een van Kirstenbosch se span wat elke jaar die goue medalje vir inheemse tuine in Chelsea gaan haal …”
Hulle het ’n naam gehad: Weskus Botaniese Vereniging, geaffilieer by die Nasionale Botaniese Vereniging, by die Departement van Natuurbewaring geregistreer as vrywillige, niewinssoekende bewaringsorganisasie. Hy hoor hulle nou gesels en lag om dié geel tafel gestapel met lêers, teekoppies en koek, twee vroue, twee van onsekere geslag en twee mans; hulle entoesiasme, kennis en energie vul die huis en brei oor die hele provinsie uit. “Hulle het hard probeer dat die eiland geproklameer word tot ’n natuurtuin van kusfynbos.