Susanna M Lingua-keur 15. Susanna M Lingua
alleen te behartig en dat haar hulp nie meer nodig is nie.
Met ’n vriendelike handdruk groet sy Elise die môre toe sy die kantoor verlaat.
Sy het klaar besluit om nog dieselfde middag Kroondal toe te vertrek. Net eers gou vir Jurie gaan groet en dan gaan inpak. Op pad sal ek sommer vir Oumatjie laat weet dat ek môremiddag tuis sal wees, staan sy en prakseer terwyl sy met die hysbak na die grondverdieping ry.
Dan wonder sy weer of sy Pieter ook moet gaan groet voor sy vertrek. Dalk sien sy hom nooit weer nie.
Maar sy besluit om dit liewer nie te waag nie. Teen hierdie tyd is hy straks al versoen met die gedagte dat hy haar nie weer sal sien nie en dan gaan krap sy net weer ou wonde oop.
Nadat sy Jurie gegroet het sonder om ’n verduideliking te gee vir haar skielike haas terug Kroondal toe, ry sy reguit huis toe. Nou is sy haastig om te gaan inpak.
Tuis is dit ’n gewoel en gewerskaf en Rista se slaapkamer lyk later soos ’n modewinkel. Oral lê kledingstukke en skoene rond. Rista voel skoon verdwaal tussen die menigte goed wat nog gepak moet word. Dit lyk vir haar of daar nooit ’n end gaan kom aan die pakkery nie, want so vinnig as wat sy die bed leegmaak, pak Brenda weer goed daarop.
Toe hulle egter die laaste reistas op knip druk, slaak sy ’n sug van verligting. “Wel, dit is ten minste nou afgehandel,” merk sy verlig op toe sy die drie groot reistasse krities staan en betrag. “Nou kan ek my ’n bietjie gaan opknap. Dan is ek gereed om te vertrek.”
“O nee, jy gaan eers eet voor jy vertrek, Rista,” kom dit bevelend van Brenda. “Ek laat jou geensins toe om daardie lang pad aan te durf voordat jy eers geëet het nie.”
“Maar ek kan mos altyd op pad in die een of ander kafee ook gaan eet, ou Brendatjie. Ek is regtig nou baie haastig, maatjie.”
“Nee, jy gaan hier eet en nêrens anders nie. Dis nog vroeg. Dit was pas twaalfuur. Die middagete is ook al gereed. Jy sal nie nodig hê om lank te wag nie. Ons eet nou dadelik. Kom.” Dan steek sy haar een arm deur dié van haar vriendin en ingehaak stap die twee na die eetkamer.
Noudat die skeiding nader, voel Brenda effens weemoedig toe sy dink aan al die maande wat sy nou weer sonder Rista sal moet klaarkom, dat sy in die vervolg weer net met die briewe sal moet tevrede wees wat sy weekliks van haar liewe vriendin sal ontvang.
Toe Rista later groet, moet Brenda al haar wilskrag bymekaarskraap om haar onstuimige gemoed onder beheer te hou. Sy weet hoe klein Rista se hartjie is. As sy nou in trane gaan uitbars, sal sy Rista totaal ontstem. En Rista het nog ’n baie lang skof om af te lê.
Met ’n laaste wuif van die hand ry Rista by die hek uit. Die ervaring van die afgelope vier maande sal vir ewig in haar geheue afgedruk bly. En sommige daarvan sal haar altyd as soet herinneringe bybly. Sy het nooit kon dink dat ’n mens so oneindig veel in vier maande kan beleef nie. En tog het sy dit deurleef.
Toe Rista later die buitewyke van Pretoria bereik, trap sy die versneller diep weg. Die motor skiet vinnig vorentoe. Sy raak nou haastig om weer tuis te wees.
Gewapen met Ouma se klein pistooltjie, ’n paar toebroodjies en ’n fles warm tee, besluit Rista om die nag deur te ry. Sy voel heeltemal uitgerus en gereed vir die lang pad wat nog voorlê. Tuis sal sy weer genoeg tyd kry om vannag se verlore slaap in te haal.
Toe die son die volgende môre sy eerste strale ver en wyd oor die vlaktes uitskiet, ry Rista haar geboortedorpie binne.
In die vroeë môre lyk Kroondal stil en rustig en nog half aan die slaap. Hier en daar trek ’n rokie lui en traag uit ’n skoorsteen as teken dat daar darem al ’n paar inwoners aan die roer is.
Behalwe ’n paar arbeiders, is daar nog geen sterfling op straat nie. Maar Rista weet binne ’n halfuur sal die sypaadjies weer wemel van skoolkinders en werksmense. Dan is hierdie selfde ou hoofstraat wat nou stil en leeg is, weer gepak met voertuie en geselsende groepies mense.
Uitgeput hou Rista voor die losieshuis stil. Sy wonder wat Oumatjie gaan sê om haar hierdie tyd van die môre al tuis te sien. Na haar oproep gister moes hulle haar eers vanmiddag verwag het. Ja, ek wil nie sien hoe verras Oumatjie gaan wees nie, dink sy toe sy die motordeur hard agter haar toeklap en die treetjies van die voorstoep ophardloop.
Saggies draai sy die voordeur oop en tree die portaal binne.
Sy weet dat almal op die oomblik besig is om ontbyt te nuttig, daarom stap sy ook sommer eetkamer toe. Sy voel nou self lus vir ’n koppie sterk, warm koffie soos net Ouma dit kan maak.
Toe Rista die eetkamer binnekom, staar almal haar beurtelings verbaas en verras aan. Hulle kan byna nie glo dat sy al so gou tuis kan wees nie. Dan kom hulle tot verhaal, want almal groet haar nou opgewek en bly.
Nadat Rista almal met ’n stewige handdruk gegroet het, beweeg sy na die bopunt van die tafel waar Ouma haar bevind en omhels haar lank en innig.
Ouma is só verbaas dat sy byna nie ’n woord kan uiter nie. Eers later toe sy tot verhaal kom, sê sy byna betigtend: “Ek is seker jy het weer dwarsdeur die nag gery, Ristatjie. My ou dogtertjie, jy waag darem verskriklik baie. Sê nou net ’n klomp kwaaddoeners het jou daar op die eensame vlaktes aangeval? O, ek ys as ek dink aan wat alles met jou kon gebeur het!”
Dan gee Rista ’n klokhelder laggie en sê: “Waarom Ouma tog nou daaroor bekommer? Ek het mos niks oorgekom nie. Hier sit ek dan nou springlewendig langs Oumatjie. Vergeet dit maar gerus. Ek sou dit darem ook nie gewaag het sonder Ouma se pistooltjie nie.” Sy haal die pistooltjie uit haar baadjiesak te voorskyn, plaas dit langs Oumatjie se bord en glimlag fyntjies in die ou dame se oë asof sy wil sê: Sien, ek is glad nie so waaghalsig soos Ouma dink nie!
Dan glimlag Oumatjie terug en Rista weet dat Ouma deur daardie glimlaggie nou haar goedkeuring te kenne gee.
“Jy is seker al byna dood van die honger, my kind. Wag, ek gaan haal eers vir jou iets om te eet,” merk die ou dame op en maak sommer aanstaltes om op te staan.
Rista druk haar saggies terug in die stoel en sê: “Nee, Oumatjie, ek wil net ’n koppie koffie hê en dit kan ek immers self gaan haal. Eet gerus eers. Ouma se ontbyt word koud.”
Rista staan op en gaan na die kombuis toe, waar ook Mina beurtelings verbaas en verheug is om haar so vroeg in die oggend al terug te sien.
“Mina, is jy bly dat ek terug is om jou siel te versondig?”
“Ai, juffrou Rista, ek is baie bly juffrou is weer by die huis.”
“Nou ja, as jy dan so bly is, gee asseblief vir my ’n koppie lekker sterk, warm koffie,” vra Rista laggend.
Nadat Mina die koffie geskink het, bedank Rista haar daarvoor en gaan terug om dit by Ouma aan die tafel te gaan nuttig. “Mina, kan julle my tasse uit die motor gaan haal en na my kamer toe neem?” vra sy voor sy by die kombuis uitstap.
“Hoe gaan dit nou met dokter Myburgh se broer, Ristatjie?” vra Ouma belangstellend toe Rista weer langs haar sit met die koppie koffie in die hand.
“Hy vorder baie mooi, Ouma, beter as wat die dokters verwag het.”
“Jy het seker met die ander drie Myburghs ook kennis gemaak, nè?”
“Ja, ek het hulle by die hospitaal ontmoet toe ek Pieter gaan besoek het.”
“En wat dink jy van die jong dokter Myburgh?”
“Wel, ek het nog nie juis ’n opinie omtrent hom gevorm nie, Ouma,” glimlag sy die ou dame goedig toe.
“ ’n Baie goeie man, daardie Chris Myburgh. Sy soort vind mens gewis nie elke dag nie,” sê die ou dame meer aan haarself as aan Rista.
Vir Rista is dit duidelik dat haar ouma geweldig baie van die jong dokter hou. Hy moet bepaald ’n uitsonderlike mens wees om Ouma so te imponeer, sit Rista in haar enigheid en dink.
“Maar jy is seker baie moeg, my kind. Gaan neem nou ’n lekker warm bad, dan gaan rus jy maar. As jy eenuur nog slaap, sal ek jou nie wakker maak vir ete nie. Rus