Susanna M Lingua-keur 15. Susanna M Lingua
glimlaggend in die rede. “Dit is vir my heel duidelik wat Ma se hartsbegeerte is. Ma hoef dit nie eens te sê nie. Ek weet sy is mooi, besonder mooi, die mooiste meisie wat ek nog gesien het. Maar nou is die vraag nog: Is sy van binne net so mooi?”
“O, Chris, jy gaan my en jou pa nie teleurstel nie. Jy het haar tog lief, my kind, het jy nie?” vra sy ernstig en pleitend.
“Ja, my ou moedertjie, ek het haar so lief dat ek met elke druppel krag daarteen moet veg,” antwoord hy effens afgetrokke terwyl hy strak na die kerkgebou oorkant die straat sit en staar.
“O, my kind, jy maak my hart so bly!” sê sy verheug.
Dan maak Rista weer haar verskyning, gaan sit op die leuning van die ouer vrou se stoel en plaas haar arm speels om laasgenoemde se nek.
Chris is die eerste wat weer praat. “Wel, wat sê die vriendin, moet jy haar nog vanaand vergesel om daardie rolprent te gaan sien?”
“Ja, dokter, ek het jou mos gesê ek is bevrees jou hoop gaan verydel word.”
“Ag nee, jy gaan tog seker nie vanaand uit nie, kindjie?” kom dit teleurgesteld van die ouer dame.
“Ek is bevrees ek sal moet, mevrou. Ek het Elna gister belowe ons sal vanaand gaan fliek en ek kan onmoontlik nou kop uittrek. Ek hou ook nie daarvan om my woord te breek nie.”
“Dis nou regtig jammer. Ek het so daarna uitgesien dat ons almal vanaand bymekaar gaan wees.”
“Toe maar, mevrou,” paai Rista terwyl sy een van haar bekoorlikste glimlaggies te voorskyn toor. “Môre is ons heeldag bymekaar en môremiddag gaan speel ek vir julle op die kerkorrel …”
“Maar het jy nie flussies belowe om môremiddag vir my te gaan speel nie, Rista?” val Chris haar sag, verwytend in die rede.
“Wel, dit maak mos geen verskil nie, dokter. Ek speel tog vir jou ook.”
Dan kyk hy haar betekenisvol aan en sê: “Aan my maak dit tog wel saak, weet jy?”
“Goed, dan sal ek môremiddag vir jou speel. Ek het jou eerste belowe.” Liggies streel sy met haar hand oor die ouer vrou se grys hare en sê verskonend: “Julle gee mos nie om as ek vir julle en die ander op ’n later geleentheid speel nie, nè?”
“Wel, aangesien jy Chris nou eerste belowe het, sal ek maar tevrede moet wees om te wag. Maar ek moet sê ek brand al om jou te hoor speel.”
“Mevrou gaan straks teleurgesteld wees.”
“Ek wonder, kindjie. Ek het ’n voorgevoel dat dit my verwagtinge gaan oortref.”
“Wel, ons sal sien,” antwoord sy beskeie.
Na ete, terwyl Rista haar gaan verklee, sit Chris stil en eenkant tussen die geselsende groep in die ontvangskamer.
Verskeie kere probeer ’n paar van die jong meisies om sy aandag te trek deur ’n geselsie met hom aan te knoop, maar al hulle pogings misluk hopeloos. Chris bly meer afgetrokke, want op die oomblik voel hy bitter teleurgesteld dat Rista vanaand moet uitgaan. Vanoggend toe hulle teruggekom het, was hy net so teleurgesteld toe hy vind dat sy nie daar is nie.
Hy kan sy eie gevoelens ook nie meer verklaar nie, want ten spyte daarvan dat hy nog sy broer se ongeluk op haar wil wreek, het hy haar innig lief.
Geklee in ’n netjiese langbroek en ’n bypassende warm trui, haar swart hare golwend en glansend tot op haar skouers, kom Rista die ontvangskamer binne.
Daar kom weer lewe in die afgetrokke Chris. Hy trek sy asem diep en hoorbaar in. Telkens dink hy dat sy nou op haar mooiste lyk, net om die volgende keer te vind dat sy werklik nog mooier lyk as die vorige keer.
Hy staan vinnig op, stap na haar toe en sê: “Gee jy om dat ek jou tot by jou motor vergesel, Rista?”
“Dankie vir jou bedagsaamheid, dokter,” glimlag sy hom vriendelik toe.
Opgewek wens sy almal ’n goeie nag toe en saam verlaat sy en Chris die ontvangskamer.
18
Na middagete begin al die jong mense hulle gereed maak om mekaar op die tennisbane te ontmoet.
Toe Chris merk dat Rista ook begin aanstaltes maak om na haar kamer te gaan om haar te gaan verklee vir ’n paar stelle tennis, stap hy haastig na haar en sê duidelik teleurgesteld: “Jy gaan tog seker nie ook saamspeel nie, Rista?”
“En waarom moet ek nie ook gaan speel nie? Kom speel jy ook saam.”
“Maar hoe het ek dit nou, Rista? Het jy dan nie gister belowe om vanmiddag vir my op die orrel te gaan speel nie?”
“Ag, ek is vreeslik jammer, dokter. Verskoon my tog. Regtig, ek het skoon vergeet. Natuurlik gaan ek vir jou speel. Sê maar net wanneer jy gereed is,” sê sy verskonend.
“Ek is gereed. Ons kan nou maar gaan as dit jou pas.”
Toe hulle by die voordeur uitstap, merk albei dat Oumatjie en Chris se ouers na die stoep gekom het en nou in die sonnetjie sit en gesels. Dat hulle al drie verheug is oor die vriendskap wat goed op pad is om tussen Rista en Chris te ontstaan, is duidelik te bespeur.
Hulle weet goed dat sy nou vir hom gaan orrel speel. En die gedagte verbly hulle, want waar hulle op die stoep sit, sal hulle die musiek duidelik kan hoor.
Voor die kerkdeur oorhandig Rista die sleutel aan Chris om oop te sluit. Dan tree hulle die stil, ruim gebou binne.
’n Oomblik bly sy stil staan om die byna tasbare stilte om haar in te drink. Dan sê sy sag: “Geniet jy nie ook gewoonlik die stilte in ’n kerkgebou nie, dokter?”
“Ja, en ek is bly om te hoor dat ek ’n maat gekry het wat ook daarvan hou,” glimlag hy.
Dan beweeg hulle geruisloos oor die dik mat wat die paadjie tussen die banke bedek.
Voor die orrel gaan Rista sit. Sy kyk stil na haar hande wat op die toetse rus, asof sy diep ingedagte is, terwyl Chris gemaklik langs haar teen die orrel aanleun. Dan vra sy sag: “Wat sal ek eerste vir jou speel, dokter?”
“Enigiets. Ek laat die eerste keuse aan jou oor.”
’n Paar oomblikke blaai Rista deur die musiekboeke totdat sy eindelik vind waarna sy soek. Sy begin sag speel – nie verhewe en klassieke werke van die groot meesters om haar kennis en tegniek ten toon te stel nie, maar sagte, strelende musiek wat soos ’n ligte windjie deur die leë gebou sweef.
Met bewondering duidelik op sy gesig, staar Chris haar aan.
Die musiekstuk wat sy gekies het is onoortreflik. En die goddelike klanke daarvan tref hom tot in sy diepste wese en voer hom na verre oorde. Sulke musiek het hy nog nooit voorheen beleef nie. Ja, dit is vir hom hemels. Hy sou ure lank daarna kon sit en luister sonder om moeg te word.
Toe die laaste klanke eindelik wegsterf, kyk hy haar sprakeloos aan. “Wonderlik,” kom dit fluisterend toe hy eindelik weer tot verhaal kom. “Dit was volmaak, Rista. Speel nou ’n wiegeliedjie!”
Rista speel byna twee ure lank om aan al sy versoeke te voldoen. Hy is ’n groot liefhebber van musiek en sy kennis is taamlik wyd.
Toe Chris merk dat Rista wil aanstaltes maak om te gaan, vra hy weer pleitend: “Speel vir my nog net een liedjie voor ons gaan, Rista, sal jy?”
“Goed, dokter. Wat sal dit wees?”
Teer kyk hy af in haar donker oë wat hom afwagtend aanstaar en heel sag sê hy: “In my hart sal ek jou altyd bemin.”
Toe Rista die ou-ou liedjie begin speel, begin Chris saggies en gevoelvol saamsing, asof elke woord net vir haar bedoel word. In sy hart sing hy ook elke woord net vir haar, wil hy haar laat begryp hoe innig hy haar bemin, want alleen deur hierdie liedjie kan hy sy liefde op die oomblik aan haar openbaar. Hy durf nog nie sy gevoel in woorde aan haar verklaar nie, aangesien hulle kennismaking nog van té korte duur is.
Rista