Elza Rademeyer Omnibus 4. Elza Rademeyer
flits dit deur haar gedagtes, en sy byt eers haar onderlip vas alvorens sy met ’n teenvraag kom: “As jy my kan sê wie dan die pa van Julia se kind is, sal ek jou antwoord op jou vraag.”
Hy laat sak sy kop en toe hy haar antwoord, sak haar hart tot in haar skoene.
6
’n Frons keep op die voorkop van oudsenator Mouton toe hy sy motorhuis nader en bemerk dat Tilla hom daar inwag. Wat beteken dit? Sy vrou sal tog nie, soos in die ou dae, hom tegemoetkom omdat sy haastig is dat hy by haar moet kom nie? Nee, beslis nie. Is dit moeilikheid?
“Dag, Eben. Dis tyd dat ons twee gesels oor daardie dogter van jou se gedrag,” val sy dan ook dadelik weg toe hy uit die motor klim. “Ek is nou hartlik sat vir haar onvoorspelbare gedrag en koppige nukkerigheid. Jy sal haar moet vasvat, en sommer vanaand nog, want ek is nie bereid om haar rebelsheid ’n dag langer te duld nie!”
Eben loer onderlangs na die goedversorgde, dog misnoegde gesig van sy vrou en los ’n onhoorbare suggie. “Is Julia nie van jou vlees en bloed ook nie, Tilla? Hoekom is sy net sóms jou dogter ook?”
Tilla steek vas in die tuinpaadjie en werp ’n skerp blik op haar man. “Omdat daar tye is wat ek nie wil weet sy is my kind nie. As jy gister by die direksievergadering was, sou jy geweet het wat ek bedoel. Ek het my byna dood geskaam vir Julia!”
“Waarom? Wat het sy gemaak?”
“Afgesien van die feit dat sy haar verveeldheid laat blyk het deur die een gaap op die ander te gee, was sy so bot en stuurs teenoor die bestuurslede dat ek verskoning moes vra vir haar gedrag. En hierdie uitheemse kleredrag en haarstyl van haar, Eben. Die mense staar haar aan op straat!”
Hy is ook bekommerd oor Julia, dink Eben ’n rukkie later terwyl hy stort. Maar om ’n ander rede as Tilla. Tilla is bekommerd dat Julia hul goeie naam kan skaad. Hý is bang hulle het reeds Julia se hele toekoms geskaad, want hy’t eers na sy dogter se terugkeer uit Johannesburg agtergekom dat die koudheid wat in hierdie woning van hulle heers, nie onaangeraak by Julia verbygegaan het nie. Hy en Tilla leef al jare by mekaar verby, maar nou moes hy ontdek dat hy ook sy kind se vertroue iewers op die pad verloor het. Hoeveel keer het hy haar nie al probeer uitlok om met hom te gesels vandat sy teruggekom het van Johannesburg af nie! Maar die persoonlikheidsverandering wat sy ondergaan het, dryf elke keer ’n wig tussen hulle in. Sy is nie meer die verskrikte, bang ou dogtertjie wat hy met ’n teddiebeer of ’n mooi rok kon paai wanneer Tilla met haar geraas het nie. En dis duidelik dat Tilla ook nie weet hoe om die nuwe Julia te hanteer nie. Maar, neem hy hom voor, vanaand na ete sal hy weer probeer om tot sy dogter deur te dring.
Terwyl hulle in die eetkamer sit en wag dat die kos bedien moet word, lui die telefoon en Tilla beveel vir Julia om dit te gaan antwoord, maar Julia verontagsaam haar ma se bevel en sê onverskillig: “Dis nie vir my nie. Hoekom moet ék dit beantwoord?”
Eben voorkom konfrontasie deur vinnig op te staan. “Toe maar, ek verwag ’n oproep. Dit sal vir my wees.”
Die oproep is toe vir Julia. “Dis ene Daan de Lange, en hy wil met jou praat, Julia,” deel hy haar mee en kyk haar bekommerd agterna toe sy verbleek en duidelik ietwat verskrik opspring van haar stoel af om in die gang te verdwyn.
“Sien jy wat ek bedoel, Eben? Toe is die oproep tog vir haar.”
“Ek sal na ete met haar gaan gesels, Tilla, maar asseblief, wees tog nou maar geduldig vir ’n rukkie? Met verwyte gaan ons niks bereik nie.”
“Nee, maar wat sy kort, is ’n pak slae,” sê Tilla ontevrede, en sonder om te wag op Julia se terugkeer, skep sy driftig die kos in hul borde.
Dis vir Eben duidelik dat Julia ontstellende nuus moes verneem het, want hy bespeur ’n rustelose senuweeagtigheid by haar toe sy terugkeer om aan die tafel te kom plaasneem. Sy eet ook nie eintlik nie, krap net haar kos deurmekaar op die bord, maar ook sy eetlus is weg en sy kommer verdiep toe hy sien hoe sy reageer op sy vraag of hy ’n rukkie met haar kan gesels na die ete.
“Ek is moeg, Pappa. Ek sou verkies om te gaan slaap.”
“En waarvan sou jy so danig moeg wees?” spring Tilla hom voor. “Van jou gerondrits die hele dag? Jou pa wil met jou praat, en klaar.”
“Ek sal jou sê wat ons doen,” kom Eben haastig tussenbeide. “Jy gaan klim in die bed en dan kom sit en gesels ek sommer daar by jou in die kamer. Hoe klink dit?”
Haar blik hou syne vir ’n lang ruk gevange voordat sy stadig haar kop laat sak. “As dit dan móét.”
Toe Tilla haar mond oopmaak, skop Eben liggies teen haar voet en sy werp ’n vernietigende blik op hom, maar pers dan tog haar lippe opmekaar. Die oomblik toe Julia egter die eetkamer verlaat het, wend sy haar tot Eben. “Ek betwyfel dit of jy enigiets met Julia uitgevoer gaan kry. Dis vir my baie duidelik dat sy jou om haar pinkie gaan draai.”
“Los dit nou maar vir my, Tilla. As ek dinge reg opsom, kon jy ook nog niks positief met haar bereik nie. Behalwe dat jy opsetlik die kloof tussen julle verdiep deur haar telkens in die hare te vlieg. Sy is nie meer ’n kind nie. Jy sal moet leer dat sy ’n mens in eie reg is, met ’n eie wil. Miskien moet jy probeer om meer verdraagsaam te wees sodat sy die vrymoedigheid kan hê om na jou toe te kom met haar probleme.”
“Probleme?” Tilla los ’n ietwat onvroulike snorkgeluid. “Watse probleme kan sý hê? Sy’t alles wat ’n meisie van haar jare kan droom om te hê! Kaste en kaste vol klere, haar eie motor, vooraanstaande ouers, en – ”
“Miskien is dit haar probleem,” val Eben sy vrou ergerlik in die rede. “Haar vooraanstaande ouers wat so besig is met hul sosiale aangeleenthede dat hulle nie tyd het om aan hulle enigste kind liefde en aandag te skenk nie!”
“Skimp jy op my? Wat verwag jy van my? Dat ek van die oggend tot die aand hier in die huis moet sit om net hier te wees indien ons dogter dalk ’n probleem kry?”
Eben sug moeg. “Dis al vir baie jare wat ek geen toegeneentheid hoegenaamd meer van jou verwag nie, Tilla. Verskoon my,” en hy laat haar tandeknersend van woede agter toe hy na Julia se kamer stap en aanklop.
Dis moeilik vir Eben om ’n aanknopingspunt te vind, want dis vir hom asof Julia alles wat hy sê met agterdog bejeën. En hy is onvoorbereid op haar hewige reaksie toe hy haar vra hoe sy haar dag deurgebring het.
“Van wanneer af moet ek nou verslag lewer van my doen en late elke dag? Wat traak dit julle waar ek was?”
Hy verberg sy verydelde poging om tot haar deur te dring met ’n skewe glimlaggie. “Jy is reg, dit traak my nie. Jy is mos nie meer ’n dogtertjie nie, nè? Om die waarheid te sê, jy’t so vinnig en ongemerk oorgegaan tot ’n volwasse jong nooientjie dat dit my soms skoon verskrik.”
“Waaroor wil Pappa nou eintlik met my gesels?”
Hy hoor die agterdog in haar stem en hy sluk ongemaklik. “Ek glo nie ek wil eintlik oor iets spesifieks met jou gesels nie. Ek wil eintlik maar sommer net vir jou kom sê het … dat ek hier is as jy my sou nodig kry. Dat ek baie lief is vir jou, en dat ek verstaan as jy nie na Mamma toe kan gaan met jou jongmeisieprobleme nie.”
Julia se oë wel onverwags vol trane. Vir ’n paar oomblikke weifel sy, maar dan vlieg haar arms eensklaps om sy nek en terwyl sy aan hom vasklou, voel hy hoedat die rou snikke uit haar binneste pers. “Pappa, o Pappa!”
Hy laat haar begaan totdat sy leeg gehuil is, en toe dwing hy haar om in sy oë te kyk. “Dis beter. Nou kan jy my vertel wat jou so pla.”
Maar sy draai haar kop weg en byt op haar lip. “Ek kan nie, Pappa. Ek kan nie!”
“Jy kan, my meisietjie. Daar is geen probleem wat ons twee nie saam kan oplos nie.”
“Nie hierdie probleem nie, Pappa. Mamma sal my nooit in der ewigheid vergewe nie.”
“Maar ék sal.”
“Ag, Pappa!”
“Kom, sê vir my,”