Ena Murray Omnibus 30. Ena Murray
voel ’n skuldgevoel in hom opstoot, asof hy ’n direkte aandeel in haar toestand het. Die verskoning wat hy vir homself en die Here aangevoer het toe die skokkende besef hom daar langs Marie Buys se oop graf getref het, wil nie vandag steek hou nie. Dit is ’n veeleisende gemeente dié. Hy bly so besig met die skape wat maar altyd wegdwaal van die kudde, so aan die hardloop om hier te keer en daar te keer dat nie een heeltemal wegraak nie, dat daar nie tyd is om persoonlike aandag te gee aan die klein klompie wat soet in die spoor kraal toe stap nie.
Marie Buys en haar dogter was van sy staatmakers. Wat tant Hessie by die graf gesê het, het hy dikwels ook in sy gedagtes gesê: Marie Buys is ’n engel. En haar dogter was soos ’n blom in sy gemeente. Maar nou het die wind oor haar gegaan …
“Middag, Nickey.” Hy sien hoe sy ruk, verskrik opkyk. En dan sien hy die pynlike, selfbewuste blos wat oor die gesiggie speel, en sy hart pyn.
“Middag, dominee.” Natuurlik het sy hom verwag. Sy het geweet hy sou kom. Hy móés kom, want hy is nie blind nie, so min as wat die ander begrafnisgangers blind was. Die laaste ruk het sy haarself in die huis verskuil, maar met die begrafnis kon sy haar nie verder vir die opmerksame oë wegsteek nie. Sy weet egter ook dat hy nie net om dáárdie rede hier is nie. Onder normale omstandighede sou hy tog ook aan haar aandag moes gee. Sy is immers pas verlede jaar uit die skool, en haar ma is dood en daar is niemand anders om vir haar te sorg nie. Sy is ’n geval vir die predikant en die welsynmense, vanselfsprekend.
Toe alles vertel is wat moes vertel word, bely is wat moes bely word, is dit ’n oomblik stil.
“Tot tyd en wyl ons kan reëlings tref … Is hier iemand wat saans by jou kan kom slaap, of gaan slaap jy by iemand?”
“Tant Hessie kom saans hier slaap tot … tot ek weggaan.” Sy kyk moedig op. “Ek het klaar reëlings getref, dankie, dominee.”
“Jy bedoel … by ’n tehuis?”
“Nee. Ek gaan nie tehuis toe nie. Ek gaan my baba behou.”
“Behou? Maar, Nickey …”
“Ek gaan by Terence se pa bly.” Sy hoor die woorde in haar eie ore val, luister daarna asof iemand anders se tong dit geuiter het. Sy het nog nie finaal besluit nie. Of het sy? Is daar klaar vir haar besluit? Is dit maar net iemand anders se stem wat in haar mond gelê is?
“Dan gaan julle in die huwelik tree?”
In die huwelik tree …? Daar was nie sprake van so iets nie. Net dat sy skuiling en versorging vir haar en haar kind onder Christian Basson se dak kry tot hy gebore is. Daarna … Sy weet nie daarna nie …
“Terence doen grensdiens op die oomblik. Hy word vermis.” Dis die dominee wat nou stil is, wat luister: “Maar sy pa het gevra ek moet daar kom bly. Hy wil … sal vir … ons sorg tot …”
Dis ’n dankbare dominee wat afskeid neem. Dit bly ’n groot jammerte dat dit gebeur het. Aan die ander kant is daar ook baie stof tot dankbaarheid. Hy was selfs vir ’n oomblik verdwaas toe hy besef van watter Christian Basson Nickey praat. Daar is deesdae dikwels berigte oor hom in die koerante. ’n Gesiene man. Ryk. En bekwaam. Hy gaan in die komende verkiesing staan. En dis nou Nickey se aanstaande skoonpa … ás die seun terugkom. Maar al gebeur die ergste ook – dat hy nie terugkom nie – is die Bassons bereid om Nickey in hulle huis te neem en haar en haar kind te versorg en te beskerm. Volgens die foto’s langs die berigte is Christian Basson glad nie ’n ou man nie. Hulle behoort jonk genoeg te wees om kans te sien om die verantwoordelikheid te aanvaar. Hulle beoog natuurlik om die kleintjie self aan te neem en groot te maak as die seun nie terugkom nie. Met ’n geruste hart en sy gewete gesus stap die dominee aan na die oorkant van die straat. Nickey is geholpe. En een ding kan hy die Bassons vertel: hulle sal hulle nooit vir haar hoef te skaam nie, al kom sy uit Bokmakieriestraat.
Dan moet hy Nickey uit sy gedagtes stoot en sy volle aandag aan die volgende geval gee. Dit is nou weer ’n ander storie. Vir hierdie geval is sy planne op. Aan homself – en natuurlik ook aan die liewe Heer, van wie jy niks van wegsteek nie – sal hy erken dat sy lus om verder agter hierdie verlore skaap aan te hardloop, op is. Of dan boomskraap, korrigeer hy vinnig. Want ’n dominee, al lyk hy soos ’n gewone mens, moet soms ’n supermens wees. Sy geduld mag nie opraak nie; hy mag nie kwaad word nie; hy mag nooit die handdoek ingooi nie. Vir oulaas sal hy vandag nog iets probeer doen. Maar as die man vandag wéér nie wil luister nie …
Het hy aan die woordjie “oulaas” gedink? Terwyl sy blou geslaan voor hom staan en ’n bang kind agter haar rok wegkruip? Daar kan nooit ’n oulaas wees nie. Dis ’n woord wat nie vir die Here bestaan nie …
Toe hy eindelik weer in die straat staan, kyk hy eers terug oor sy skouer, dan weer na die huisie aan die oorkant. Soos innige jammerte en meegevoel sy hart netnou in die huisie oorkant die straat gevul het, is dit frustrasie en teleurstelling en woede wat hy saam met hom uit hierdie huis dra. Hy moes nooit predikant geword het nie. Hy kry dit nie reg om altyd ’n supermens te wees nie. Hy is net ’n méns, ’n doodgewone mens wat probeer help. Hy sluit sy oë ’n oomblik agter die stuurwiel van sy motor. Hierdie Bokmakieriestraat … Dis hom oor.
Toe Christian Basson later die middag instap, ontvang Nickey hom kalm, kry dit selfs reg om vir die eerste keer in hoeveel dae effens te glimlag – ’n patetiese glimlaggie wat aan sy hart ruk. Maar hy glimlag vriendelik terug.
“Hoe gaan dit?”
“Goed dankie. Kom sit gerus. ’n Bietjie koffie?”
Hierdie keer knik hy dadelik ja en ontspan in die groot ou stoel. Snaaks dat hy in hierdie voorhuisie so lekker kan ontspan. Dis eintlik die enigste plek waar hy voel dat die opgewende veer binne-in hom ’n bietjie skiet gee. Hy glimlag vir tan Hessie toe sy ’n oomblik later by die voordeur instap.
“Waar loop tante rond?”
“Ag, meneer, so ’n ekstra broodjie hier oorkant gaan afgee … Ag, Nickey, jy moet net sien hoe lyk die arme Miems weer vandag,” spreek sy die meisie aan toe dié met die koffie inkom. “Nee, ek wil nie nou koffie hê nie, dankie, anders foeter die gal my weer vannag op. Ai, dat daardie Jan darem nie wil luister nie. Ek het hoeka weer dominee se motor vandag hier sien staan. Jan is nou al blink gelek soos hulle hom soebat om na een van die dronkskole toe te gaan.”
“Dronkskole? Wat …?”
“Meneer weet mos – daar waar hulle jou dranklus wegvat.”
“O!”
“Maar hy weier om te gaan. Ek sê vandag vir Miems, wat sal dominee hom aanmekaar kom soebat? Hy moet hom aan sy nek gryp en soontoe sleep!”
“Dit sal nie help nie, tant Hessie. ’n Mens kan net iemand help wat gehelp wil word.”
“Ja, dis nou ook weer waar, meneer. Wag, ek wil gou ’n bietjie sop vir vanaand gaan opsit. Verskoon my tog, hoor?”
“Seker, tant Hessie.” Christian Basson kyk voor hom op die vloer. Hy kan nie hier grootword nie. Op die een of ander manier moet hy haar oorreed. Dan kyk hy na haar. “Nickey …”
Sy knik vinnig. “Ja. Ek weet. Ek sal by u kom bly. Dankie.”
In die kombuis slaan tant Hessie haar hande saam in vreugde en dankbaarheid. “Ag, dankie, liewen Heer, dat U met my saamgestem het!”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного