Ena Murray Omnibus 30. Ena Murray
graag iets wil doen, en wanneer hy weet hy móét iets doen, doen hy dit nie?
“Dankie, Lario … Maar nee, daar is niks.”
“Jy het seker nog niks geëet nie. Ek sal gou …”
“Nee, dankie, ek wil nie eet nie. Jy moet liewer teruggaan kantoor toe. Ek het jou dáár nodig, nie hier nie.”
Sy knik, kyk vinnig weg. Op pad terug kantoor toe is haar gedagtes amper leedvermakerig teenoor haarself. Daar was al geleenthede dat sy begin glo het sy is besig om veld te wen by Christian Basson. En dan kom daar weer tye, sê hy weer dinge, soos vandag, wat haar laat besef dat sy nie juis veel gevorder het in die rigting om die tweede mevrou Basson te word nie. Maar gelukkig is daar ook niemand anders nie. Haar grootste opponent is Christian se werk en sy ambisie om die politieke terrein te betree. By sy kantoor, weet sy, is sy al byna onmisbaar vir hom. Wanneer hy in die parlement sit, sal hy miskien tyd genoeg hê om te besef dat hy ’n vrou aan sy sy nodig het en dan sal sy daar wees. Net geduldig bly.
Die Bassons se huis word vandag baie besoek. Nog ’n motor hou ’n rukkie later stil. Christian Basson kyk moeg op na die vrou wat voor sy lessenaar verskyn. Annemarie. Terence se moeder.
“Het jy nog niks weer gehoor nie?”
Hy sien die bewing van die mond. Sy het nog nie gehuil nie. Die nuus is nog te vars, die skok nog te groot. Maar die besef sal kom, en dan sal sy huil. Bevoorregte vroumense wat hulself die luukse van trane kan gun.
“Nee.” Sal hy haar vertel? Nee. Miskien eers wag dat die ergste skok verby is.
“Jy moet my dadelik …”
“Natuurlik.”
“Wel … ek gaan dan maar eers weer … Ek moet André op die lughawe kry.”
Die argitek met wie sy eerste vrou nou getroud is, gelukkig getroud is. “Hoe gaan dit met hom?”
“Goed. Goed, dankie. Hy het so pas ’n wonderlike kontrak gekry. Christian, dink jy …?”
“Ek dink nie. Jy moet liewer ook nie. Ons moet liewer net … bid.”
“Ja. Bid. Ja, natuurlik. Tot siens, Christian.”
Hy staar na die deur waar sy verdwyn het. Hy het haar nie eens beleefdheidshalwe by die motor gaan wegsien nie, en nie een van hulle het dit agtergekom nie. Hy het gesê hulle moet bid … Dis al wat ’n ouer in sulke omstandighede kan doen. ’n Gryskopvroutjie verskyn voor hom. Sy bid seker ook. Dis eintlik al wat daar vir haar oorgebly het nadat sy van haar besoek aan hierdie huis teruggekeer het. As daar geen hulp te kry is by die plek waar jy gehoop het jy dit sal kry nie, dan is daar nog net een plek oor waar jy hulp kan gaan soek: op jou knieë.
En as ’n mens vergeefs bid? Watter reg het hy om te glo dat sy gebede vir sy seun verhoor sal word as Marie Buys s’n vir haar dogter onverhoord gaan? Want die siel lê nie in ’n blink motor en in ’n deftige woning nie. Die siel lê binnekant … en met geen uiterlike goed kan jy hom wegsteek of vermom teen die Oog wat tot daar kyk nie.
Hy vryf die verslete handskoen tussen sy vingers. Sy moet dit hier laat val het daardie dag toe sy so vinnig en so trots hier uitgestap het.
Hy wens hy kan nou na haar toe gaan.
Hy skrik amper vir hierdie gedagte. Waar kom dit vandaan? Fronsend kyk hy op die handskoen af. Vanwaar hierdie behoefte om met Marie Buys te praat? Omdat sy ook gestaan het waar hy vandag staan? Omdat sy hierdie plek ken, nog beter as hy? Hierdie plek van reddeloosheid, hierdie plek waarheen die Vader jou bring om jou kaal te stroop van dié dinge wat jy aan en om jou hang asof dit die mens is, asof dit die belangrikste is. Hierdie plek waar jy kaal gestroop van enige pretensie en eiewaan en naak soos die Skepper jou in die moederskoot gevorm het, tot stilstand gedwing word en eindelik moet besef dat jy weet wie jy is … en wie God is. Waar jy tot die besef gebring word dat jy minder as ’n mier is. God lig sy vinger en daar is niks van jou oor nie, niks van alles wat vir jou tot hiertoe die belangrikste en die dierbaarste was. En jy, in jou selfgewaande grootheid en belangrikheid, jy eien jou die reg toe om oor ’n medeskepsel se lewe die lot te wil vel.
Ja, Marie Buys sal veel beter iets van die chaos binne-in hom begryp as sy beste vriend. Maar natuurlik gaan soek hy nie die huisie in Bokmakieriestraat op nie. Natuurlik nie. Hy bly sit langs die telefoon en wag dat dit moet lui en dis ’n lang, lang nag wat verbygaan.
In die huisie in Bokmakieriestraat waak Marie Buys onwetend saam met hom. Die bevinding van die dokter is wyslik haar vertel: Sy kan die dood enige oomblik te wagte wees. Haar hart is klaar. Sy moes jare terug al behandeling ontvang het. Nou is dit te laat. Marie Buys weet, soos Christian Basson in hierdie nag ook besef, dat wanneer die dood reg voor jou kom staan, daar nie meer tyd of plek is vir enigiets anders nie – ook nie eens vir trots nie. Sy is gedwonge om Christian Basson weer ’n besoek te bring. En hierdie keer sal sy, as dit nodig is, soos ’n hond voor hom kruip.
4
“Ma, asseblief, staan op van die vloer. Ek sal dit doen.”
Marie kyk op na haar dogter. Sy het haar nie vertel hoe ernstig die dokter se bevinding werklik was nie. Maar sy dink Nickey weet.
“My kind, my hart het al die jare gehou. Dit sal nou ook hou. Dis gewoond aan hierdie oefening. As ek gaan stilsit, sal ek regtig doodgaan.”
Maar die borsel en lap word beslis uit haar hand geneem toe Nickey langs haar op die vloer neersak. “Mamma gaan nie meer sulke harde werk doen nie. Ek makeer niks. Ek sal dit van nou af doen.”
Marie kapituleer. Sy wil nie vir Nickey sê dat sy nie werklik probeer het om die reeds blink vloer nog blinker te kry nie. Dat sy eintlik nie aan die vloere vryf was toe sy hier op haar knieë gestaan het nie. Die bewegings was refleksief. Sy het al so baie bo-oor hierdie vloer en hierdie vloerborsel heen met die Here gepraat. Sy was maar net weer besig om met Hom te praat, Hom te vra dat wanneer sy weer voor daardie belangrike man staan, Hy haar die regte woorde in die mond sal lê. En dat Hy haar ter wille van haar kind moet kaal stroop van enige trots …
Soos die moeder, so ook die dogter. Ook Nickey praat met die Here terwyl sy werktuiglik voortgaan om die borsel en lap heen en weer te beweeg. Haar ma wou haar hartprobleem ligtelik afmaak, maar tant Hessie, wat saam met haar by die dokter was, het dit goed gedink om Nickey liewer die hele waarheid te vertel, en sy is haar dankbaar.
In die week wat verby is, het twee dinge vir Nickey die belangrikste op aarde geword: Haar ma en haar kind.
Want so is dit nou maar eenmaal: eers wanneer ’n mens van iemand afskeid moet neem, waardeer jy hom of haar na reg. Dan eers sien jy dié dinge raak wat al die jare reg voor jou oë gelê het en waaroor jy dikwels getrap het. Elke goue dag van samesyn het jy onbenut laat verbygaan, sonder om al die klein dingetjies raak te sien wat jou lewe die moeite werd gemaak het. Die belangrike dinge het onopgemerk by jou verbygegaan, terwyl jy teen die onbelangrike vasgestaar het.
Vandag, op die voorhuisie se vloer, agter die vloerborsel en vloerlap, kyk Nickey terug oor die jare heen … en sien so baie raak wat sy nog nooit raakgesien het nie.
Sy sit vinnig terug, laat die borsel val, lê haar handpalms styf teen haar buik. Dis ’n grootse, goddelike oomblik vir ’n vrou wanneer sy vir die eerste keer lewe in haar voel roer. Op daardie oomblik word sy vennoot in die skepping van die ewigheid.
Spontaan kom lê die gedagte daar: eenmaal, agtien jaar gelede, was dit jy wat geroer het. Was dit Marie Buys se handpalms wat die fladdering van beweging gevoel het. En sedertdien was daardie hande, daardie arms, daardie liefde altyd om jou.
Marie glimlag toe haar dogter die kombuis binnekom.
“Klaar? Ek het ’n bietjie tee gemaak. Kom sit.”
“Ma …”
“Ja, my kind?”
“Ma, hy’t … hy’t nou net geroer.” Twee moeders kyk in mekaar se oë. “Ek kan hom mos nie weggee nie, Ma.” Een paar moederoë wat pleitend in ’n ander kyk. “Asseblief, Mamma!”