Ena Murray Omnibus 30. Ena Murray
aanhou probeer tot sy nie meer nee kan sê nie.
Marie trek haar netjies aan in haar deftigste klere. Sy tel die busgeld af. Sy sal twee keer van bus moet verwissel. Haar handsak en handskoene, al is dit uit die mode. Maar dis bekende goed, en sy het vanmiddag bekende dinge by haar nodig omdat haar bekende wêreld vir haar skielik vreemd geword het.
“Ma, ek sal gaan. Dis … Ek is skuldig. Ek sal hulle gaan sê …”
Sy draai terug in die voordeur. ’n Flenter van die verlore trots in haar dogter het teruggekeer. Dit moet moed gekos het om dit te sê. En op hierdie dag kan sy moed waardeer, omdat sy self na hare moet soek.
“Dankie, Nickey. Maar ek moet gaan. Dis my plig as ouer.”
Ja. Die pligte van ’n ouer. Legio. Dis jou plig as ouer om jou kind groot te maak, en wanneer hy die dag groot is, ook wanneer hy fouteer, in sy plek te gaan staan en die skuld op jou te laai: Ek is jammer. My kind het gefaal. Dis my skuld. Dit moet my skuld wees. Ek het haar mos grootgemaak. Dit was ek wat êrens gefaal het. Al my liefde en sorg en opoffering was nie genoeg nie …
Marie klim op die bus, kyk teen die vuil ruit vas. Maar die Bassons is ook ouers. Wat sal hulle sê? Dat hulle hul kind ook goed grootgemaak het? Dat hy in ’n gegoede huis grootgeword het, alles gekry het wat hy nodig gehad het, en meer … en dat hulle ook jammer is …?
Waar, wanneer bereik ouerlike pligte sy perke?
Sy voel so ontuis in hierdie straat as wat die Bassons se luukse motor in húlle straat was. Sy weet ook dat haar deftigste klere ewe onvanpas vertoon. Sy stoot die hekkie oop. Dis ná halfvyf. Miskien is hy nog nie terug van kantoor nie, kry sy net die vrou tuis. Hoopvolle denke. Die ander vrou is ook ’n moeder. Miskien … miskien sal sy makliker verstaan, meer begrip hê?
Die voordeur gaan oop. Dit moet hy wees. Terence se pa. Die ooreenkoms is daar. Sy sien hom die treetjies afkom na sy motor.
Dan gewaar hy haar. Hy kom nader, lyk haastig, tog beleef vriendelik ook.
“Goeiemiddag.”
“Goeiemiddag.”
“Kan ek help? Soek u na my?”
“Ja, ek … U is meneer Basson?”
“Ja. Ek is Christian Basson. Kom binne.”
“Ek wil nie u tyd mors nie. U is op pad …”
“Daar is nie soveel haas nie. Kom binne.” Sy laat haar binnelei na sy studeerkamer, gaan sit in ’n diep stoel. Hy neem agter die lessenaar plaas, vou sy hande, kyk haar vraend aan.
Hy lyk jonk om Terence se pa te wees …
“U is … Terence se pa?”
“Ja.” ’n Ligte frons verskyn tussen sy wenkbroue. ’n Vrou soos die een hier voor hom met haar armoedige klere ken Terence se naam? “Is dit iets in verband met my seun wat u …?”
“Ek dink u moet u vrou ook roep. Dit … sal beter wees.”
“Ek en my vrou is geskei, jare gelede al. Ek en Terence bly alleen hier. Immers, ons het. Hy doen nou grensdiens.”
“Ja, ek weet.”
Die frons is nou baie duideliker. “Ken u my seun, mevrou … e …”
“Ek is Marie Buys. Ja, Terence het dikwels by ons aan huis gekom voordat hy weg is.”
Sy oë word skielik waaksaam. “Ek sien.” Die vlugtige blik gly weer oor haar. “Waar bly julle, mevrou Buys?”
En sy weet die seerkry wag om die draai. Maar dis ’n ou seerkry, so oud soos die berge. En dis ’n verhaal so oud soos die berge wat sy vandag aan hierdie ryk man moet kom vertel. “Aan die ander kant van die stad, meneer Basson … in Bokmakieriestraat. Weet u waar Bokmakieriestaat is?”
“Ja.” Ja, hy weet watter woonbuurt van die stad se strate dra sulke name.
“Wel, dis waar ons bly … ek en my dogter. En dis waar Terence gereeld kom kuier het tot hy weg is vir sy grensdiens.”
En dit wat sy verwag het, lê in sy oë, in sy stem: “En wat is dit wat jy my wil vertel, mevrou Buys?”
“U weet dit reeds, meneer Basson.” Sy slaan haar oë neer en die skaamte laat ’n rooi gloed oor haar gesig stoot. “Ek wens dat ek nie vandag nodig gehad het om u te besoek en sulke tyding te bring nie. Ek is jammer … so jammer …” Weerloos kyk sy na hom op, en toe sy in sy oë vaskyk, weet sy dat ouerlike pligte geen grense of perke het nie. Dat jou ouerlike pligte ook van jou verwag om vernedering en beskuldiging en veragting ter wille van jou kind te dra. En sy weet nog iets: Haar besoek aan Christian Basson vandag was ’n fout.
2
Vir die eerste keer kyk die man weg. Hy kyk af op sy gevoude hande wat instinktief stywer saamgetrek het. Terence …
“Wat is die dogter se naam. En hoe oud is sy?”
“Nicole – maar sy word altyd Nickey genoem. Sy is agtien, het verlede jaar saam met Terence op skool klaargemaak. Sy is nou by die technikon.”
Stilte. ’n Stilte wat jou mal kan maak; wat jou wil laat opspring en weghardloop sonder om te weet waarheen. Maar jy bly sit asof die duur stoel waarin jy amper wegraak, jou soos ’n spinneweb vasgevang het. Jy probeer nog, al is dit teen jou eie beterwete in:
“Meneer, Nickey is ’n goeie kind. Sy was nooit ’n losbol nie. Terence was haar eerste kêreltjie.” Wat nog? Wat kan sy nog sê?
Die man kyk eindelik weer op, direk na haar, maar steeds met dieselfde waaksaamheid. “Wat verwag u van my, mevrou … en van Terence?”
Sy sit verslae voor die vraag, ken nie die antwoord nie.
“Jy het my tog nie verniet hiervan kom vertel nie. Wat wil julle hê?”
Hê? Hy is seker reg. Sy het vandag hierheen gekom om iets te kry. Maar nie wat hierdie man dink nie. Begrip, ja. Iemand wat haar kan help om op te hou in sirkels dink. ’n Hand om aan vas te hou … Maar dit sal sy nie hier vind nie.
Dan kom die versigtig gemoduleerde stem weer tussen haar en haar gedagtes: “U het my kom vertel dat u dogter verwagtend is en dat my seun daarvoor verantwoordelik is. Wat nou?”
Wat nou? “Dis wat ek by u kom hoor het, meneer. Wat nou? Ek … weet nie … Ek wéét nie wat nou nie!”
Hy staan vinnig op, gee ’n paar treë venster se kant toe. Sy oë staar deur die ruit toe hy sê: “Mevrou, u moet my verskoon dat ek dit vra, maar … Is u dogter baie seker dat my seun die skuldige is?”
Daar kom geen antwoord nie, en hy draai om, en daar is harde verweer in sy stem teen die skok en die seer in die oë wat syne vasvang: “Laat ons nie doekies omdraai nie, mevrou. Ons lewe vandag in ’n wêreld waar sedelike norme tot groot hoogtes ontbreek. Veral onder die jeug is dit besig om iets onbekends te raak. Vrye liefde is aan die orde van die dag, selfs in ons skole. Ook in óns stad, mevrou. Daar is ’n opname gedoen, dis selfs in die koerant vermeld, van ’n onrusbarende toename in swangerskappe onder óns stad se skoolmeisies, as gevolg van daardie sogenaamde vrye liefde. En vrye liefde beteken vrye liefde, mevrou.”
Met bleek lippe sukkel Marie die woorde uit: “My kind … is nie dáárdie soort kind nie …”
Sy lippe pers saam. “Ons dink maar almal ons kind is nie dáárdie soort kind nie, mevrou Buys. Terence … Ek het ook nie gedink hy is dáárdie soort kind nie, maar … ek moet vandag tot die besef kom dat my kind nie beter of anders is as ander mense se kinders nie. Ek het geweet van wat hier in ons skole aangaan, maar my seun sou nie deel daaraan hê nie, het ek gedink. Maar hoekom sou hy nie? Hy is nie ’n engel nie. As dit dan die ‘in-ding’ is, soos die koerant dit beskryf het, hoekom sal hy dan die enigste wees wat ‘uit’ is? En jou dogter … Wat maak haar anders as ander mense se dogters?”
Die moeder spartel met die vraag. “Sy