Annelize Morgan Omnibus 2. Annelize Morgan
ion>
Anelize Morgan
Omnibus 2
Pad na die skavot • Erfenis van liefde • Goud in die skemer
Jasmyn
1
Sy staan besluiteloos met die plat, verseëlde leersak in haar hande. Waar bewaar ’n mens iets so verskriklik belangrik? Hoe steek ’n mens dit weg?
Celèste byt op haar onderlip. Sy wens die graaf De Bordeaux het dit nie aan haar toevertrou nie. Hoekom het hy dit nie liewer aan mademoiselle Madeleine of aan die huishoudster, Jeanne, of aan monsieur Jacques gegee nie? Hoekom nou juis aan háár, ’n doodgewone kamermeisie? Sy reken dat hy net te veel gewaag het. Dis nou nie dat sy omgee om vir hom ’n guns te doen nie, maar hy het haar in ’n baie moeilike posisie geplaas.
Sy sug diep, bekyk die onskuldige leersakkie weer met ’n frons en besluit dan om dit iewers op die solder te gaan versteek. Daar kom selde iemand en dis onwaarskynlik dat iemand dit toevallig sal ontdek.
Halfpad na die solder verander sy van plan. Nee, dit sal beter wees as sy dit versteek waar sy dit gedurig in die oog kan hou.
Sy keer terug na haar kamertjie en na ’n oomblik se aarseling, druk sy dit tussen die muur en die agterkant van die onderste laai van haar laaikas in. Sy maak die kamertjie self skoon. Niemand sal dit daar kry nie, glo sy darem.
Nog half onseker oor die veiligheid van haar wegsteekplek, keer sy terug na haar werk. Monsieur le comte sal eers oor ’n week terug wees. Hy is Kaap toe vir sake. Intussen is dit háár plig om toe te sien dat die leersak nie tussen neus en ore verdwyn nie.
’n Paar dae later begryp sy eers waarom die graaf die leersak aan die mees onwaarskynlike persoon toevertrou het.
Sy skrik baie laat die nag wakker van Jeanne se benoude geroep. Dan is dit skielik weer stil, maar daardie kort, beangste roep bly Celèste by. Dit duur ’n rukkie voordat sy die moed kan bymekaarskraap om op haar tone na die ruim woonkamer te sluip. Dis waarvandaan sy die geroep gehoor het.
In die deur steek sy vas. Daar is drie mans by Jeanne en hulle probeer haar na buite sleep. Sy spartel en slaan woes na hulle, maar kan geen hond haaraf maak teen die groot mans nie. Celèste staan versteen. Daar is niks wat sý kan doen om die stomme huishoudster te help nie. Haar hart bons teen haar ribbes. Sy móét iets doen.
Ligvoets hardloop sy kombuis toe en tel een van die swaar, dodelike vuurysters op. Daarmee gewapen, voel sy meer opgewasse vir haar taak om die inbrekers te verwilder.
Die drie mans het Jeanne al tot op die stoep gesleep toe sy weer die woonkamer bereik. Die een swets toe Jeanne haar tande in sy vingers vasslaan. Die oomblik toe hy sy hand van haar mond af wegruk, gil sy so hard as wat sy kan.
Daar is ’n paar woedende uitroepe van die mans. Die een klap Jeanne hard deur haar gesig en sy gil weer.
By die stal steek Garcon sy kop dronk van die vaak by die klein venstertjie van sy kamertjie uit.
“Wat de duiwel gaan daar aan!” roep hy vies.
“Help!” gil Jeanne.
Celèste se moegheid neem toe. Garcon is ook nou wakker. Sy draf versigtig nader, steek ’n oomblik net buite die deur op die stoep vas en dan lig sy die vuuryster oor haar kop.
Die man het die hou nie sien kom nie. Hy sak neer op sy knieë, wankel ’n oomblik en rol dan op sy sy. Daar is donker bloed aan sy agterkop waar die vuuryster hom getref het.
Celèste hoor nie eens die ander se gevloek en woedende geskel nie. Haar hart stamp wild teen haar ribbes. Sy het ’n man doodgemaak en wat gaan nou van haar word?
“Pasop, Celèste!” gil Jeanne plotseling en sy skrik op uit haar benoude gedagtes.
Die gemaskerde rampokker is byna op haar voordat sy hom raaksien. Daar is skaars tyd om die vuuryster weer te lig. Die hou tref hom net skrams teen die skouer, maar dit het seergemaak.
Uit die hoek van haar oog sien sy hoe die man ’n mes uit sy skede pluk. Die maan glim flou op die vlymskerp lem en Celèste voel hoe die bloed in haar ore suis. Sy sal haarself nie teen iemand met ’n mes kan verdedig nie.
Die man met die mes se oë glim gevaarlik agter sy masker toe hy sy hand stadig lig om versigtig korrel te kan vat.
Celèste sluk hard. Sy het al sulke mesgooiers in aksie gesien. Hulle is goed … té goed vir haar veiligheid op hierdie oomblik. Sy weet dat die man haar nie sal misgooi nie … en slaan sy op vlug, sal hy die mes met gemak in haar rug gooi. Nee, dis veel beter om die vyand in die oë te kyk.
Jeanne strompel eenkant toe en val byna oor die rampokker wat die eerste met Celèste se vuuryster kennis gemaak het. Sy ril vir die bloed en gaan leun teen die muur.
Die ander rampokker druk sy arm teen sy lyf vas en kners op sy tande. Celèste se vuuryster het sy arm gebreek.
Die man met die mes grynslag en Celèste weet dat hy sy dodelike wapen nou enige sekonde gaan gooi. Sy maak haar oë toe. Dit klink skielik nie meer na so ’n goeie plan om haar vyand reg in die oë te kyk nie. Miskien gooi hy nog mis, dink sy wild. Dalk wil hy haar net bang maak …
“Jou vloeksteen!” hoor sy skielik Garcon se stem en maak haar oë vinnig oop.
Garcon het die rampokker om die keel beet. Die man spartel wild om los te kom, maar Garcon is nie van plan om hom ’n halwe kans te gee nie. Hy hou wat hy het en wurg die man so al wat hy kan.
“Los hom of ek sny hierdie vroumens se keel af!”
Garcon ruk om en staar ongelowig na die man met die beseerde arm wat Jeanne aan die hare beet het met sy gesonde hand. Met sy ander hand hou hy ’n mens teen haar keel gedruk. Die sweet pêrel op sy voorkop van die pyn wat hy moet verduur, maar hy weet dit is die enigste manier waarop hy en sy maat nog in een stuk hier kan wegkom.
Sonder waarskuwing stamp Garcon die mesgooier vorentoe sodat hy van die stoep afval en in die stof beland.
Die ander man sleepdra Jeanne na waar hulle hul perde gelaat het. Hy hou die mes gedurig teen die vrou se keel en Garcon kan dit nie waag om haar te hulp te snel nie. Die rampokker sal haar sonder gewetenswroeging keelaf sny.
By die perde het die twee mans met ’n probleem te kampe. Jeanne verseg om self op ’n perd te klim en hulle weet nie hoe om haar te dwing nie. Teen hierdie tyd besef sy dat hulle haar nie sommer sal doodmaak nie.
Die man met die beseerde arm het genoeg gehad. Hy stamp haar eenkant toe en leun uitgeput met sy kop teen sy perd.
“Laat haar gaan. Ek glo nie sy weet iets nie … ons kan weer kom … my arm …”
Die mes kletter op die grond neer.
Jeanne maak haarself uit die voete toe die twee op hulle perde klim en in die donker nag wegry. Sy hardloop struikelend na die huis terug. Eers toe sy die ander twee bereik, bars sy in trane uit.
Celèste sit haar arm om die ou vrou se rukkende skouers.
“Toe maar, Jeanne, hulle is weg. Kom ons gaan liewer in.”
Garcon volg die twee na die kombuis waar Celèste vir hulle koffie maak.
“Wat wou hulle hê, Jeanne?” wil Garcon weet. “Hulle het jou sowaar nie probeer ontvoer om jou skoonheid of jou geld nie.”
“Jy kan maar spot!” snik Jeanne en druk haar gesig in haar hande. “Ek weet nie eens wat hulle van my wou hê nie!”
“Hulle moes tog iets gesê het,” sê Celèste met ’n ligte frons. “Het hulle dan niks gepraat nie?”
Jeanne kyk op. “O ja, hulle het. Eers wou hulle weet wat ek met die leersak gemaak het. Ek moes hulle vat na waar ek dit versteek het. Ek weet nie eens van watter leersak hulle gepraat het nie, maar hulle wou my nie glo nie. Toe sê hulle dat hulle my sal máák praat. Dis tóé dat hulle my buitentoe probeer sleep het. Die res van die storie ken julle.”
Sy snuif hard en begin dan sommer weer huil.
Garcon