Annelize Morgan Omnibus 2. Annelize Morgan
weet dat sy die sak het nie. Miskien kom hulle om haar ook so te verniel.
“Nee, ek weet nie van watter sak sy praat nie,” sê sy sonder om te blik of te bloos. Dit sal beter wees as Garcon niks weet nie. Oor minder as ’n week is die graaf De Bordeaux terug en dan sal hy die sak terugneem. Hy wou dit maar net nie in die muurkassie van sy studeerkamer laat terwyl hy weg is nie.
“Nou hoekom kom hulle dan hierheen?” brul Garcon ergerlik. “En wat gaan ons met daardie man op die stoep maak? Nou sal ék seker vir hom ’n graf moet loop grawe!”
Celèste ril onwillekeurig. “Moenie so praat nie. Miskien is hy nie eens dood nie.”
“O, hy is dood! So ’n hou met ’n vuuryster oorleef niemand nie.”
Sy kyk met wyd gerekte oë na hom. “Maar wat gaan dan van my word? Dis ék wat hom doodgemaak het!” Sy is skielik baie bleek en baie bekommerd. “Garcon, ek wil nie na die stoep toe gaan nie. Wil jy nie … gaan kyk of hy dalk nog … lewe nie, asseblief?”
Hy staan met ’n sug op en loop kopskuddend na die deur. “Ek sal ’n vroumens seker ook nooit verstaan nie. Jy het daarvoor kans gesien om hom bokveld toe te stuur, maar jy weier om na sy lyk te loop kyk.”
Sy trek ’n gesig toe hy uitstap. Is dit nou nodig om dit alles so kru te stel? Die wete dat sy iemand doodgemaak het, is al erg genoeg.
Na ’n paar minute kom hy weer terug. Daar is ’n diep frons tussen sy oë toe hy half onbegrypend sê: “Ek kan dit nie verstaan nie. Hy is nie daar nie. Self kon hy sowaar nie geloop het nie. Iemand moes hom kom haal het.”
Daar is ’n flikkering in Celèste se oë. “Dalk … dalk het hy geleef en was hy net bewusteloos. Dalk het hy bygekom en self gevlug.”
“Dis wensdenkery, Celèste,” antwoord Garcon somber. “Daardie man, al het hy nog geleef, sou wragtie nie self kon loop nie.” Hy kyk na Jeanne wat intussen opgehou het met snik. “Wanneer die graaf terugkom, sal jy aan hom moet vertel wat gebeur het.”
“En wat maak ek as hulle terugkom voordat die graaf terug is?” wil Jeanne weet. “Ek is ’n ou vrou, Garcon, en ek was vanaand amper dood.”
“Hulle sal nie terugkom nie.”
“Wie sê so?” wil Jeanne weet. “Hulle kom dalk vannag al terug, omdat hulle dink ons sal hulle nie verwag nie. Ek sal nie ’n oog kan toemaak nie.”
“Nou goed,” sê Garcon half vies. “Ek sal die res van die nag hier in die huis kom slaap. Moet net nie dink dat ek dit elke aand sal doen nie.”
Celèste en Jeanne se gesigte helder op en hulle bedank die stalkneg vir sy bedagsaamheid.
Garcon gaan brom-brom terug na sy kamer om sy beddegoed te gaan haal terwyl Jeanne en Celèste ’n matras vir hom na die kombuis sleep.
Dis reeds diep in die nanag toe hulle eindelik almal tot ruste kom. Celèste probeer slaap, maar die dagbreek is net ’n uur of wat weg en sy kan met die beste wil op aarde nie aan die slaap raak nie. Haar gedagtes bly maal om die leersak agter haar laaikas en sy wonder wat haar te doen staan. Die rampokkers gaan dalk terugkom en hierdie keer sal hulle nie weer vir Jeanne hinder nie. Hulle besef nou dat sy niks van die sak weet nie.
Met donker voorgevoelens raak sy teen dagbreek uiteindelik aan die slaap.
Die volgende dag is die donker bloedkol op die stoep die enigste bewys van wat die vorige nag gebeur het. Celèste skrop dit totdat haar arms lam is, maar daar bly steeds ’n kol op die stoep sit.
Garcon doen sy werk as stalkneg asof daar die vorige aand niks gebeur het nie. Dis net Jeanne en Celèste wat agterdogtig en bekommerd is. Dis nog vier dae voordat Armand de Bordeaux terugkom … nog vier eindelose dae.
Twee dae later, teen sonsondergang die aand, kom daar twee ruiters na die opstal op La Montagne aangery. Hulle klim van hulle perde af toe hulle die werf bereik en laat die diere in Garcon se sorg voordat hulle na die opstal aanstap.
Celèste bekyk hulle agterdogtig, al is daar niks aan hulle voorkoms of houding wat haar agterdogtig behoort te maak nie. Hulle is netjies en deftig aangetrek en hulle het die selfversekerde houding van mense wat presies weet wat hulle moet doen en waarheen hulle op pad is.
Jeanne ontvang hulle in die woonkamer, maar hulle lig haar gou in dat hulle gekom het om mademoiselle Celèste te spreek op bevel van die comte De Bordeaux.
Met ’n benoude hart gaan Celèste na die woonkamer. Sy het ’n vae vermoede wat die twee mans hierheen gebring het, maar sy weet nie of sy die leersak aan hulle moet gee nie. Monsieur Bordeaux het uitdruklik aan haar gesê dat sy die sak in geen omstandighede aan enigiemand mag afgee nie, selfs al het die persoon ’n brief om sy storie te staaf. Wat op aarde staan haar te doen as hulle oor die leersak gekom het?
Hulle maak albei ’n galante buiging voor haar toe sy die vertrek instap.
“Ons is deur monsieur le comte hierheen gestuur, mademoiselle,” sê die kort man nadat hulle gegroet het. “Ek is monsieur Bijou en dié is monsieur De Villiers. Ons is goeie vriende van die graaf.”
Celèste se hart bons in haar keel. “Waarom het die graaf u na mý gestuur, messieurs?” wil sy oënskynlik ongeërg weet.
Bijou glimlag vriendelik asof hy haar vraag as onsinnig beskou.
“U weet tog dat dit oor die leersak gaan, mademoiselle. Waarom anders sou monsieur De Bordeaux ons na ú gestuur het?”
Celèste aarsel ’n oomblik en sê dan gelykmatig: “Ek is bevrees u maak ’n fout, messieurs. Ek het geen benul waarvan u praat nie.”
De Villiers sug diep. “Ag, mademoiselle, spaar ons tog die toneelspel. Ons is haastig. Monsieur Bordeaux het gesê dat u die sak het en dat u dit aan ons moet oorhandig.”
Celèste weet dat sy op dun ys beweeg. Sy sal voorbereid moet wees op enigiets wat gebeur. Dit mag dalk wees dat hierdie twee mans werklik van die graaf af kom, maar dit kan net sowel ’n lokval wees.
“Ek is jammer, messieurs, maar ek dink julle maak ’n groot fout. Ek weet werklik niks van enige sak nie. Ek is net ’n kamermeisie hier en niks meer nie. Van die graaf se persoonlike sake weet ek niks en dit gaan my ook nie aan nie.”
Sy draai om om by die deur uit te stap.
“Net ’n oomblik!” keer Bijou haar.
Sy draai om na hom. “Ja, monsieur?”
Hy aarsel voordat hy sê: “Die comte De Bordeaux word in die Kasteel gevange gehou. Die dokumente in die leersak is al wat nog sy onskuld kan bewys.”
Celèste se oë rek. “Hoekom word hy dan in die Kasteel gevange gehou? My meester het niks verkeerd gedoen nie!”
Die man haal sy skouers liggies op.
“Ons is nie almal so onskuldig nie, mademoiselle. Maar u kan nou die graaf red as u die leersak aan my gee. Ek moet dit dadelik na die kommandeur neem.”
Celèste is in die war. Is dit nie dalk ’n skelmstreek nie? Durf sy erken dat sy die leersak in haar besit het? Dalk is dit beter om te maak asof sy van niks weet nie. Maar wat dan van die graaf? Sal sy hom nie dalk in die steek laat as sy nie die sak aan dié twee mans oorhandig nie?
Daar is egter nog ’n uitweg en sy besluit om dit te volg.
“As ek kon help, sou ek dit graag wou doen, messieurs, maar ek weet werklik nie waar die leersak is waarvan u praat nie.”
Hulle kyk vinnig, onbegrypend, na mekaar en dan sê Bijou: “Dit mag u geliefde graaf De Bordeaux se lewe kos, mademoiselle.”
Celèste frons. “Dink u nie dat ek die sak met graagte aan u sou afgegee het nie?” wil sy weet. “My meester se lewe is vir my belangrik en kosbaar, maar ek kan niks doen om hom te help nie. Dit spyt my.”
Bijou tel die hoed op en beduie aan sy vriend dat hulle moet gaan. Dan draai hy weer na Celèste.
“Ek