Annelize Morgan Omnibus 2. Annelize Morgan
gemis het nie, Armand, en my pa sal die wêreld weer in die oë kan kyk.”
Hy swyg ’n paar sekondes voordat hy sê: “Ek is jammer oor wat met julle gebeur het, Madeleine, maar hoe sal hy Le Blanc in die oë kan kyk wanneer hy hier aankom en na die sak begin soek?”
Celèste hoor nie wat Madeleine antwoord nie. Jeanne kom vinnig met die gang afgestap en sy maak haarself haastig uit die voete. Die leersak versteek sy onder haar voorskoot totdat sy weer haar kamer bereik en half bewend op die bed gaan sit.
Hoekom het Armand de Bordeaux vir Madeleine gelieg? Hy weet tog presies waar die sak is. Hoekom het hy haar nie die waarheid vertel nie?
Sy kyk af na die sak op haar skoot en ’n ligte frons verskyn tussen haar oë. As sý maar net die gelukkige eienares van die leersak kon wees … dink net hoe dit haar lewe sou verander. Sy sou nie meer hoef te werk nie. Sy sou soos mademoiselle Madeleine Tredoux net die dae omsit en heerlik ontspan. Dan sou monsieur Armand haar raakgesien het. Sy sou nie meer net ’n kamermeisie gewees het nie.
Daar is net ’n verspotte rooi seël met ’n vreemde wapen op wat tussen haar en fabelagtige rykdom staan, maar sy weet dat sy dit nie sal kan breek nie. Armand de Bordeaux weet dat sy die sak het. Miskien sal sy eendag wel ’n geleentheid kry om haar lewe in ’n oogwenk te verander.
Lank na middernag vertrek Madeleine se koets en nog weet Celèste nie wat haar te doen staan nie. Sy verrig haar take werktuiglik terwyl sy wag dat haar werkgewer haar moet laat roep.
Teen vieruur kom Armand uit sy studeerkamer en ontbied Celèste. Sy vind hom agter sy lessenaar met ’n stapel papiere voor hom en ’n diep frons tussen sy oë.
Hy kyk op toe sy liggies klop. “Kom binne en maak die deur toe,” beveel hy.
Sy gehoorsaam onbegrypend. Het sy dalk iets verkeerd gedoen dat hy so kortaf is? Sy gaan voor die lessenaar staan met haar arms styf langs haar sye en haar ken amper op haar bors.
“Ontspan, Celèste,” sê hy vriendeliker. “Jy is nie hier omdat ek jou oor die vingers wil tik nie. Jy het jouself baie goed van jou taak gekwyt. Jy het bewys dat ek jou kan vertrou.”
Celèste gloei van trots. Alles was die moeite werd.
“Ek het net my plig gedoen, monsieur le comte.”
Hy kyk vinnig na haar. “Moenie so verbrands beskeie wees nie! Jy het meer as dit gedoen en jy weet dit! Is die leersak nog veilig?”
“Oui, monsieur …”
“ ’n Ruk lank sal niemand daarna kom soek nie. Dus het ons niks om ons nou oor te bekommer nie.” Hy stap terug na die lessenaar en trek ’n laai oop terwyl hy vra: “Weet jy wie monsieur Etienne le Blanc is?”
Celèste skud haar kop. “Non, monsieur.”
Armand haal ’n geraamde portretjie uit die laai, staar ’n oomblik lank fronsend daarna en hou dit dan na Celèste uit. “Dit is hy. Kyk goed na hom en maak seker dat jy sy gesig nie gou sal vergeet nie.”
Sy neem die portret onseker by hom en bekyk dan die skilderstukkie noukeurig. Le Blanc is nie ’n man met so ’n besonderse gesig dat ’n mens hom nie gou sal vergeet nie. Hy lyk verwen en verveeld met die lewe. Dis omtrent al uitstaande kenmerk van hom. Sy pruik kan hy verander en so ook sy uitspattige klere.
Sy gee die portret terug aan De Bordeaux. “Dit sal moeilik wees om hom te onthou, monsieur. Hy lyk maar doodgewoon … net vreeslik verveeld.”
Armand lag skielik sag. “Heeltemal korrek. Hy het veel meer geld as wat hy kan uitgee en dit het hom bederf. Hy is egter baie kort … ek glo nie hy is ’n duim langer as jy nie. Sy hande is ook besonder klein en daaraan sal jy hom baie maklik kan uitken.”
Sy kyk onbegrypend na hom. “Maar … maar hoekom moet ek hom kan herken?” wil sy weet.
Hy beduie na ’n stoel. “Sit …”
Haar oë rek. “Pardon, monsieur?”
“Sit, vroumens,” sê hy ongeduldig. “Al wat jy in hierdie stadium hoef te weet, is dat my lewe van daardie sak afhang. Verloor ek die sak, sal ek nie nog ’n jaar ouer word nie.”
Sy word yskoud. Hy bedoel werklik wat hy sê.
“Weet u wat in die sak is?” vra sy na ’n kort stilte.
Hy haal sy skouers op. “Dis nie van belang nie. Die inhoud het niks met hierdie saak te doen nie. Sover dit my betref, kan daar skoon papier in wees. Ek het egter ’n verpligting en ek moet dit nakom as ek my lewe liefhet. Begryp jy?”
“Non …”
Hy lag ten spyte van die erns van die situasie. “Dit sal ook nie help om te verduidelik nie. Bewaar jy maar net daardie sak met jou lewe … dis al wat ek het wat tussen my en die galg staan.”
Celèste aarsel voordat sy sê: “Dis ’n groot verantwoordelikheid vir my, monsieur.”
Daar is ’n vreemde lig in sy blou oë toe hy na haar kyk.
“Ek vertrou op jou, Celèste … jy sal beloon word.”
Sy bloos en staan haastig op om haar verleentheid te verberg.
“Mag ek nou maar gaan, monsieur?”
“Jy mag … Dis seker nie vir my nodig om jou te waarsku om geen woord met ’n ander sterfling hieroor te praat nie, is dit?”
“My mond is verseël, monsieur,” sê sy met soveel erns dat ’n glimlag aan sy mondhoeke pluk.
“Nou goed dan. Dit sal voorlopig al wees.”
Celèste verlaat die studeerkamer met haar gedagtes ’n deurmekaar warboel. Sy wonder of enige ander lewende siel weet van alles wat De Bordeaux haar vanmiddag hier vertel het. Sou Madeleine weet hoe verskriklik belangrik daardie sak in werklikheid vir Armand is? Sy glo nie. Dan sou die meisie dit nie wou gehad het om haar pa te verryk nie.
Terwyl sy na haar kamertjie toe stap, wonder Celèste wat alles beteken wat hy gesê het. Hoekom sal hy galg toe gaan as hy die sak verloor? Wat het haar goeie, wonderlike, vriendelike werkgewer gedoen dat hy die doodstraf verdien?
Sy ril liggies. Sy ken hom glad nie … sy is verlief op hom en dan sien ’n mens net die mooi raak. Sou daar dalk ’n ander Armand skuil agter die een wat sy gedink het sy ken?
Die verantwoordelikheid van die leersak rus swaar op Celèste se skouers, maar sy wil ook nie daaroor kla nie. Dit is tog nog vir haar ’n vreugde om iets só belangrik vir die graaf De Bordeaux te kan doen.
Dis net Madeleine Tredoux wat ’n skaduwee oor haar geluk werp. Dis amper asof sy die meisie haat wanneer sy glimlaggend en stralend aan Armand de Bordeaux se sy deur die tuin wandel, of voor die spinet sit terwyl Armand met half-toe oë luister na die musiek wat sy maak. In die verlede het dit dikwels gebeur dat Madeleine lang rukke nie op La Montagne gesien is nie en dan het Celèste altyd geweet dat Madeleine en Armand rusie gehad het. Sedert Celèste egter die nag na haar werkgewer gaan soek het, het dit nie weer gebeur nie. Madeleine is die liefde en vriendelikheid self.
Na al die drama van die afgelope paar dae, onthou Garcon weer wat hy van plan was om te doen voordat sy rustige lewe se gang versteur is. Hy wag Celèste in toe sy eiers gaan uithaal. Hy sal sy sê moet sê voordat daar dalk weer iets gebeur wat sy sake gaan verongeluk.
“Ek wil met jou praat,” sê hy en neem die mandjie by haar.
“Waaroor?” wil sy ongeërg weet.
“Ek wil met jou trou,” kom die antwoord sonder aarseling.
Celèste staar ongelowig na hom. “Jy maak seker ’n grap!”
Hy frons vies oor haar reaksie. Hy het darem verwag dat sy ’n bietjie opgewonde sou wees.
“Is dit nou hoe ’n meisie reageer wanneer ’n man haar vra om te trou?” wil hy weet.
Celèste onderdruk ’n laggie. “Wag