Annelize Morgan Omnibus 2. Annelize Morgan
op na haar gesig om daaraan te raak, maar dan laat hy dit weer sak.
“Vertrou my, Celèste. Ek het baie goeie redes hoekom ek jou uitgekies het. Ek hoop net dat ek jou eendag, wanneer alles verby is, vir alles sal kan vergoed. Ek sal sorg dat jy nooit weer in jou lewe ’n kamermeisie hoef te wees nie.”
Dit beantwoord nie haar vraag nie, maar sy antwoord maak haar tog gelukkig. Al besef sy dat hulle nie lank so bondgenote sal wees nie, sal sy hierdie tyd nooit kan vergeet nie. Dalk sal sy tog eendag met Garcon trou, maar Armand de Bordeaux sal altyd ’n spesiale, geheime plekkie in haar drome besit.
Dinsdagoggend baie vroeg daag daar nog ’n vreemdeling te perd op La Montagne op. Celèste hou hom deur die eetkamervenster dop en wonder hoekom daar deesdae soveel vreemde gesigte op die landgoed te sien is.
Jeanne laat die besoeker binne en kort daarna moet Celèste die diensklokkie gaan beantwoord. Sy huiwer buite die biblioteekdeur en luister half skuldig na wat binne gepraat word.
“Dit spyt my dat my vader u so ontstel het, monsieur,” hoor sy die vreemdeling praat. “Hy kan soms so op loop sit met ’n gedagte.”
“Waarom is u hier, monsieur De la Roque?”
Celèste knip haar oë. De la Roque … dit moet die ander man se seun wees.
“Ek wil u ’n aanbod maak. Ek weet waarom u hier na die Kaap die Goeie Hoop gevlug het. U sal nie baie lank kan vlug nie, maar ek is bereid om u vryheid by die kommandeur te koop en u van die galg te red. In ruil daarvoor vra ek u net om dié land onmiddellik te verlaat en nooit terug te keer nie.”
Daar is ’n lang stilte voordat Armand de Bordeaux sissend sê: “Ek dink jy het lank genoeg van my gasvryheid gebruik gemaak. Gaan terug na jou pa, Emile de la Roque! Laat hom toe om jou nog meer te bederf.”
“Jy sal nog spyt wees, De Bordeaux!” verhef die ander man sy stem. “Dit was ’n baie redelike aanbod … een wat nie deur die kommandeur herhaal sal word nie!” Hy steek ’n oomblik lank vas en sê dan: “En as jy op Etienne le Blanc se koms hoop, maak jy ’n groot fout! Hy kom nie hierheen nie! Daarvoor sal ék sorg!”
Celèste skarrel net betyds van die deur af weg voordat Emile de la Roque dit ooppluk en woedend met die gang af na die voordeur verdwyn. Sy kyk verskrik op toe sy De Bordeaux in die biblioteek se deur sien verskyn, sy gesig gryswit van woede. Só kwaad het sy hom nog nooit in haar hele lewe gesien nie.
Skielik sien hy haar raak, maar die uitdrukking op sy gesig verander nie. Die kilheid van sy blik laat haar onwillekeurig ril.
“Gaan aan met jou werk,” sê hy bars en maak die deur hard agter hom toe.
Celèste bewe liggies. Sy kry die gevoel dat daardie leersak baie, baie belangriker is as wat sy ooit gedroom het. Sedert dit in haar hande beland het, het haat na La Montagne gekom. Voorheen was dit ’n pragtige, rustige landgoed waar ’n mens gelukkig kon wees, maar nou het vrees en haat dit byna ongemerk verander. Daar is agterdog in die oë van die mense wat die landgoed besoek … agterdog, afguns en haat.
Garcon keer haar voor toe sy na buite gaan om vars lug te skep na die ontstellende gesprek wat sy afgeluister het. Sy is diep ingedagte en sien hom skaars raak.
“Ek praat met jou, Celèste!” sê hy ongeduldig.
Sy steek vas en kyk na hom. “Wat is dit nou weer, Garcon?”
“Jy het my nog nie jou antwoord gegee nie.”
’n Oomblik lank lyk sy totaal uit die veld geslaan en het geen benul waarvan hy praat nie. Dan onthou sy sy vreemde huweliksaansoek daar in die hoenderhok.
“Wil jy nóú ’n antwoord hê?” vra sy eindelik.
“Ek wag al amper ’n week dat jy my moet antwoord, maar jy kom net nie.” Hy lyk vies en voel gekul. Dis glad nie hoe hy hom dit voorgestel het nie. “Gaan jy my nou jou antwoord gee?”
Sy staar ’n lang ruk na hom, haar gedagtes ’n warboel van onsekerheid. Sy het Garcon nie lief nie en tog, watter ander uitweg is daar vir haar? Hulle sal ’n goeie lewe saam kan hê. Hy sal vir haar sorg soos ’n man dit behoort te doen en sy sal vir hulle kinders in die wêreld bring. As hulle gelukkig is, sal hulle nog baie jare lank hier op La Montagne kan woon … as man en vrou.
Sy sug liggies. Dis net sý wat nie gelukkig sal wees nie. Sy sal Armand en Madeleine elke dag sien, sien hoe hulle in mekaar se oë kyk met die wete dat hulle mekaar liefhet. Tog weet sy dat sy nie baie graag van die landgoed af wil weggaan nie.
“Goed, Garcon … ons kan trou,” sê sy uiteindelik half verlig dat dit nou ook agter die rug is.
Sy gesig helder op. “Nes die lente kom, sal ons trou. Die hele kontrei se mense sal hier wees. Ek belowe jou, meisie, jy sal nooit spyt wees nie. Ek sal goed vir jou sorg. Monsieur De Bordeaux het reeds belowe dat ek ’n groter salaris sal kry as ons trou. Dis al klaar ’n goeie vooruitsig.”
Celèste luister met ’n halwe oor. Daar is geen vreugde in haar soos daar behoort te wees nie. Daar is net ’n half dooie gevoel soos wanneer ’n mens ’n onaangename taak verrig het en jou plig gedoen het. Niks meer nie.
Celèste kry nie veel tyd om verder te dink en te wonder oor alles nie. Die graaf het ekstra hulp gehuur vir die geselligheid en daar is twee dae voor die groot aand ’n hele bedrywigheid in die groot huis. Celèste skarrel heen en weer om alles gedoen te kry. Vir Garcon sien sy net soggens wanneer hy die vars melk kombuis toe bring en dan wissel hulle net ’n paar woorde.
Teen vieruur op die dag van die geselligheid is alles gereed. Celèste is nog net besig om die laaste blomme te rangskik. Die eerste gaste word om vyfuur verwag.
Spoedig kom die rytuie die een na die ander by die groot hekke ingery, hou voor die opstal stil en ry vort na die stal nadat die deftig geklede gaste uitgeklim het.
Jeanne ontvang die gaste by die voordeur terwyl Celèste hoede, mantels en jakkies na ’n aangrensende vertrek neem. Sy loer nuuskierig na elke nuwe gas. Baie van hulle herken sy, want hulle is ou vriende van die graaf. Daar is egter ’n paar nuwe gesigte ook.
Sy verkyk haar aan die pragtige tabberds van die ryk vroue, hulle fyn perlemoen-en-sy-waaiers, hulle glinsterende juwele en sierlike kapsels, en sy sug net so effens afgunstig. Sy sal nooit sulke mooi klere besit nie. Sewe jaar lank al dra sy dieselfde donker tabberd met die wit boordjies en kraag en die wit voorskoot en kappie. Af en toe is daar vir haar geleentheid om ’n ander tabberd te dra, maar dan is dit net ’n gewone sisrok en nie hierdie pragtige tabberds van kosbare sy en Brusselse kant nie. Haar tabberds is nie versier met linte en valletjies en geborduurde blomme nie.
Haar blik dwaal na waar die graaf De Bordeaux sy gaste ontvang en welkom heet. Sy onderdruk die pyn in haar binneste toe sy sien met hoeveel sjarme hy die dames groet, hoe hulle koketterig vir hom glimlag en hom uitlok met hulle gegrimeerde oë. Sy sien hoe hy elkeen spesiaal laat voel, sy lippe op hulle hande druk wanneer hy galant voor hulle buig, en sy sien ook die verliefdheid in hulle oë wanneer hulle na hom kyk.
’n Bietjie vies onderdruk sy haar jaloesie. Dis onregverdig, dink sy ongelukkig. Hoekom is ek as ’n gewone meisie uit die laer stand gebore? Hoekom kon my pa nie ook ’n baron of ’n markies gewees het nie? Nou was hy net ’n gewone skoenmaker en my ma ’n wasvrou. Ek kan op niks beter as Garcon hoop nie.
Dis Celèste se taak om te help met die bediening in die groot danssaal. Sy en ’n ander meisie draf heen en weer om sjerrie en wyn aan te dra na die gaste. Niemand sien haar eintlik raak nie. Sy is maar deel van die huis en van geen belang nie. Die vroue kyk dwarsdeur haar asof sy nie bestaan nie en die mans sien haar ook nie eintlik raak nie. Net hier en daar is ’n stuitige een wat vir haar knipoog of ’n skelm glimlaggie na haar kant gooi.
Celèste is mooi, maar sy is nie eintlik daarvan bewus nie. Haar hare is altyd in ’n stywe bollatjie op haar kroontjie vasgesteek met die wit gestyfde kappie bo-oor. Daar is geen grimering aan haar gesig nie en haar klere is strak en styf. Tog is daar die enkele mans wat verby dié dinge kyk en hulle kan voorstel hoe sy sal lyk wanneer sy mooi aangetrek is.