Ruiter van my drome. Schalkie van Wyk
onverwags by hulle aansluit. Odette wou vanselfsprekend weet of die vyfjarige Robbie Zandri se kind is, en Zandri het skertsend geantwoord: “Hoe anders? Kan jy nie sien hy lyk op ’n haar soos ek nie?”
Dit was ’n ooglopende grap, want sy is blond en Robbie donker, maar dit het Odette gepas om haar woorde letterlik op te neem – veral nadat Zandri op ’n vraag van Odette se ma verduidelik het dat sy as fisioterapeut in ’n Londense hospitaal praktiseer en ongetroud is. Odette het natuurlik gebrand om so ’n heerlike stuk skindernuus aan Ferdinand en almal wat wou luister oor te dra.
“Jaloerse katwyfie!” sis Zandri saggies, besef dat sy teen onnodige snelheid by die dierehospitaal verbyjaag, haal haar voet van die brandstofpedaal af en trap die remme. Sy draai in by die ingang tot Reënboogrant, wat langs die dierehospitaal geleë is, en volg die netjiese geplaveide rylaan na die ruim woning. Die oorspronklike plaasopstal was ’n vierkantige sandsteengebou, maar deur die jare het elke geslag toevoegings in rooi en geel bakstene gemaak en die opstal só in ’n laslappiewoning omskep.
Die laslappiehuis met sy talle onverwagte trappe en kronkelgangetjies is, danksy haar eksentrieke grootoom Alexander se testament, nou haar eiendom, hoe verrassend dit ook mag wees. Zandri glimlag met die trots van eienaarskap toe sy haar voertuig onder ’n wildevyeboom voor die huis tot stilstand bring.
Sy raap haar toebroodjie en water op en klim vinnig uit toe sy die lang, lenige gestalte van Martiens Dippenaar op die smal stoep gewaar. Martiens spog graag dat hy eens geseënd was met digte rooi krulhare, maar sedert sy hom ken, pryk slegs enkele haartjies op sy kop, met ’n smal spierwit strepie bokant sy ore om sy bles af te rond. Martiens is vyf-en-sestig, dertig jaar jonger as wat haar oom Alexander geword het, maar hy loop nog met die grasie van ’n jongman. In sy jeug was hy die bekwame stalbestuurder van Reënboogrant, maar dit was voor haar geboorte, toe oom Alexander nog met resiesperde geteel het.
“Jy het nie die seuntjie saamgebring nie,” sê Martiens teleurgesteld, sy blik soekend op die voertuig asof hy hoop om verras te word. “Hoe oud is die knaap? Hou hy nie van perde nie?”
“Dag, oom Martiens,” groet Zandri met ’n hulpelose laggie. “Het Odette Jordaan sowaar die moeite gedoen om vir oom ook te kom vertel ek is ’n ongehude ma?”
“Hoe nou?” Martiens krap verward met die vingers van sy regterhand agter een oor. “Alexander . . . wyle meneer Alexander het my so ’n maand voor sy skielike heengaan vertel dat jy Desember kom kuier en ’n seuntjie sal saambring. Hy was so opgewonde oor die kind se kuiertjie. Meneer Alexander het mos geglo dat kinders van hulle babadae af moet perdry, jy weet mos, Zandri. Hy het altyd soos Winston Churchill gesê: Iets aan die buitekant van ’n perd is goed vir die binnekant van ’n mens.”
En iets aan die binnekant van oom Alexander was goed vir my, dink Zandri en besef vir die eerste keer werklik watter belangrike rol haar grootoom in haar lewe gespeel het, en hoeveel sy hom sal mis.
“Klein Robbie het pas ses geword, oom Martiens. My ouers het ’n paar weke verlof geneem om die ysige weer in Engeland te ontsnap. Hulle kuier by my oupa en ouma en vir tyd en wyl pas my ma vir klein Robbie op. Hy is gelukkig by haar, sy is soos ’n ouma vir hom. Sodra my ouers teruggaan Cambridge toe, sal ek Robbie hierheen bring. Maar ek het soveel dinge om nou te beplan en te doen dat ek nie tyd sal hê om na Robbie om te sien nie,” sê Zandri, nog nie seker presies wat haar oom alles oor Robbie vertel het nie. Sy het in die praat stoep toe gestap en staan nou langs Martiens en kyk na die werf.
“Ék sou mos tyd gehad het,” verwyt hy haar en vervolg dan ná ’n minagtende snorkgeluidjie deur sy neus: “Vyf mak perde en drie stalwerkers is nie genoeg om my besig te hou nie. Gelukkig bring die boere so dan en wan ook hulle perde om beslaan te word, ek ken mos van die hoefsmidbesigheid. Robbie sal dit geniet om te sien hoe ’n perd beslaan word – hy is tog nie ’n pieperige klein Engelsman nie?”
“Allermins!” antwoord sy laggend. “Ons het gesorg dat hy Afrikaans vlot praat, want hy sal volgende jaar heel waarskynlik hier op Wyedraai begin skoolgaan. Oom sal oorgenoeg geleentheid kry om van Robbie ’n bekwame ruiter te maak, moenie bekommer nie.”
“Nie met skoolwerk wat tussenin foeter nie,” mor Martiens en kyk haar skerp aan. “Ek moet weet, Zandri, die onsekerheid vreet aan my: Gaan jy Reënboogrant verkoop?”
“Wil oom die plaas koop?” vra sy, onkant gevang.
“Om wat mee te doen?” vra hy ongeduldig. “As ek veertig was, sou ek dalk my hand aan die teel van resiesperde gewaag het, maar dit kos geld wat ek nie het nie, en op my ouderdom . . . Ek is veels te jonk om aan aftree te dink en om hier op Reënboogrant tussen die perde oud te word, is my enigste begeerte. As jy die plek verkoop . . . Ek sal elders ’n heenkome moet vind.”
Sy lees die hoop in sy wakker groen oë en glimlag gerusstellend. “Ek gaan nie Reënboogrant óf die perde verkoop nie, oom Martiens. Ek weet nie of ek oom se salaris sal kan bybring nie, maar ek het definitief oom se hulp en kennis op die plaas nodig.”
Sy vinnige glimlag gee ’n jeugdige voorkoms aan sy wind- en sonverweerde gelaat. “Dis wat meneer Alexander my oor en oor verseker het: ‘Zandri is ’n De Klerk en Reënboogrant is in haar bloed, Martiens. Sy sal terugkom huis toe om haar erfenis op te eis.’ Ek wou hom glo, maar ek kon nie – nie nadat jy sewe jaar lank in die vreemde vertoef het nie. Hy het jou so gemis, Zandri. Sondae was vir hom feesdae omdat jy hom dan gebel het. Maar hoekom het jy dan nooit kom kuier nie?”
“My ouers is nou wel dokters, maar hulle is nie miljoenêrs nie, oom Martiens. Ek het vakansies gewerk om my eie sakgeld te verdien, want my studie het my ouers klaar ’n fortuin gekos. Ek sou dit nooit van hulle verwag het om boonop vir my vliegtuigkaartjies te koop terug Suid-Afrika toe nie.”
“Meneer Alexander het tog aangebied om jou te laat kom,” herinner hy haar met ’n ondertoon van verwyt in sy stem.
Zandri knik. “Ek weet, oom, maar ’n vliegtuigkaartjie is so duur . . . Ek . . . ek het nooit besef oom Alexander was so ’n welvarende man nie, sien.”
“Die man het dan resiesperde geteel en sy perde het die een na die ander resies gewen. Genugtig, dogter, jou grootoom was skatryk!” Martiens haal diep asem en maak ’n afwerende handgebaar. “Nie dat jy van dié dinge sal weet nie, hy het mos op sewentig besluit hy het genoeg van resiesbane gehad en dat dit tyd was om af te tree – en toe leef hy nog vyf-en-twintig jaar. Ons was twee ou, eensame mans hier op Reënboogrant totdat jy in ons lewe gekom het. Onthou jy nog, Zandri? Jy was ’n skugter, senuweeagtige kind van ’n jaar of tien toe meneer Alexander jou die eerste keer op ’n perd se rug getel het.”
’n Glimlag trek aan Zandri se lippe. “Ek onthou, oom. Julle moes weerskante van my perd stap en my vashou, anders sou ek afval.”
“En aan die einde van die vakansie het jy soos ’n wafferse hanswors toertjies op die perd se rug gedoen en my en meneer Alexander angsaanvalle gegee.” Martiens se kuglaggie maak sy tevredenheid met hul sukses duidelik. “Perdry het jou selfvertroue gegee en jou omtrent oornag in ’n gelukkige kind verander. Perde is goed vir kinders.”
“Dit was nie net die perde nie, oom Martiens. Julle het my verwelkom hier op Reënboogrant, my laat voel asof julle my werklik nodig het en dat ek hier hoort – dat julle huis my huis is. Ek kon voel dat julle my liefhet en vir my omgee, julle wou my gelukkig maak.”
Martiens kyk haar oomblikke lank verwonderd aan. “Hoe praat jy dan nou soos ’n kind wat nie ouerliefde geken het nie?”
“My pa het in Engeland begin praktiseer toe ek nege was, oom. Ek het geweet dat ek koshuis toe sou gaan sodra ek klaar was met graad vyf, want my ma was gretig om saam met hom in Engeland te wees. Ek het skuldig gevoel omdat ek die rede was waarom sy nie by my pa kon wees nie, en terselfdertyd was ek doodsbenoud om koshuis toe te gaan. My ma het haar eie praktyk in Pretoria gehad en ek is meestal aan die genade van die huishoudster of vriende oorgelaat. Ek was boonop ’n enigste kind, so ek was sku vir kinders. Ek het moeilik maats gemaak.” Zandri glimlag bly. “Die ooms van Reënboogrant het my laat voel ek’s iets werd, en die perde het my onafhanklikheid en dissipline geleer. Reënboogrant is in my bloed, en oom,