Ena Murray Omnibus 33. Ena Murray

Ena Murray Omnibus 33 - Ena Murray


Скачать книгу
on>

      Ena Murray

      Omnibus 33

      Die dieper droom • Huise van klei • Soekers na die son • Terug na Eden

      Jasmyn

Die dieper droom

      1

      “U sal ’n stadiger pas moet handhaaf, meneer Hammond. ’n Heelwat stadiger pas.” Die dokter se uitspraak is onomwonde. “U het die eerste waarskuwing ontvang. Hierdie keer is die skade nie so groot dat u nie sal herstel nie, maar ’n tweede of derde hartaanval kan noodlottig wees. Dit gaan in ’n groot mate van u self afhang hoe lank u nog gaan lewe,” en die hartspesialis kyk sydelings na die aantal telefone langs die bed.

      Die man in die bed volg sy blik, keer terug na hom. “Hoe lank moet ek hier bly lê?”

      “Minstens nog vier weke …”

      “Viér weke! Dis onmoontlik!”

      Die waardige heer reik na sy tas, sy stem droog, sy gesig onleesbaar. “Dis u keuse, meneer Hammond. U moet net onthou dat die beste hartspesialis ter wêreld steeds mens bly, met perke wat vir hom gestel is. Hy kan die dood miskien afweer, maar nooit oorwin nie. Goeiedag.”

      Die beroemde hartspesialis stap uit, staan ’n oomblik stil en kyk om hom heen. Babel. Dis hoe hierdie plek bekend staan, soos dit op die wêreldkaart aangebring is – die stad wat Midas Hammond gebou het. Dan stap hy aan en klim in die motor wat voor die trap gereed staan. Hulle is op pad na die private lughawe van Babel van waar hy binnekort na sy bestemming teruggebring sal word deur Midas se private loods in sy private straalvliegtuig.

      In die weelderigste suite van Babel lê en kyk Midas Hammond na die deur wat toegegaan het. Menslike perke. Dood. Dis woorde wat hy nie ken nie, nog nooit mee te doen gehad het nie. Vir Midas Hammond was daar nog nooit menslike perke nie. Alles wat hy wou hê, het hy tot dusver gekry. Alles wat hy wou besit, het hy. Alles wat hy wou vermag, is vermag.

      Sy blik dwaal deur die ruim skuifdeure na waar ’n deel van die gholfbaan te sien is – ’n baan waarop topspelers meeding om die wêreldbeker, met ’n prysgeld van miljoene rande op die spel.

      Daar was geen grense aan sy drome toe hy jare gelede as die enigste seun van ’n hoteleienaar in sy pa se derderangse hotelletjie in ’n hawestad begin droom het van ’n hotel van goud nie. Die beroemdes van die wêreld sou daarheen kom. Die jare het verbygegaan en die goue droom het verby alle perke gegroei: ’n stad van goud sou hy bou. ’n Volledige stad met alles menslik denkbaar: van koninklike suites tot teaters; van die beste gholfbaan in die wêreld tot die grootste dobbelsaal wat Las Vegas s’n na ’n klaskamer sou laat lyk; van ’n casino wat Monaco in die skande sou steek tot ’n plek waar die oliebiljoenêrs van Arabië tuis sou voel. ’n Stad wat soos goud glinster. ’n Babel.

      Babel, die goue stad!

      Die droom sonder grense is bewaarheid. Jare gelede al het Grant Hammond se doopnaam verdwyn. Die wêreld het hom herdoop: Midas. Want niks waaraan hy sy hande geslaan het, het misluk nie. Alles waaraan hy geraak het, het in goud verander. Ook sy goue droom is verwesenlik. Dit staan nes hy dit in sy verbeelding gesien het: ’n miniatuurstad waar die wêreld se beroemdes bymekaarkom en die rykes dobbel. Waar in een nag miljoene gewen én verloor word. Waar die private stralers ingeryg staan. Waar die beroemde filmsterre tot die wêreld se voorste wetenskaplikes om elke hoek en draai raakgeloop word; waar Nobelpryswenner en wêreldsportster skouers skuur.

      Menslike perke? Daar is nie so iets nie.

      Maar dood …

      So iets is daar wel. Êrens vorentoe wag dit vir elkeen. Ook Midas Hammond moet eendag doodgaan. Eendag …

      Maar hy het nog nooit aan daardie oomblik gedink nie. Wie dink aan die dood wanneer jy ’n Babel bou? Daar is nie tyd nie, want die goue stad groei, word groter, hoër. Daar is planne vir die arena met vyftigduisend sitplekke waar om wêreldtitels geboks en gestoei sal word. Daar is die ysskaatsbaan wat na aan klaar is. Daar is die kunsmatige reënwoud wat ’n permanente waterval moet kry. Daar is die …

      Sy hand reik na een van die telefone. Die deur gaan oop. Sy hand bly lê op die gehoorbuis.

      “Hallo.”

      “Nou werklik! Kyk wie is hier!”

      Die pragtige gesig verstyf. “Dis tog seker nie so snaaks om my te sien nie, Midas. Ek het gehoor …”

      “Natuurlik. My hartaanval is in elke nuusbulletin en in elke koerant oor die wêreld uitgebasuin. En toe besluit my dierbare vrou sy sal seker moet huis toe kom, want netnou aas ander vóór haar.”

      Sy draai weg, gaan staan by die skuifdeur, sien niks van die oordadige weelde om haar raak nie. “Ek het nie nodig gehad om dáárvoor terug te kom nie.”

      “Nee. Want jy het klaar geaas, of dan genoeg geaas. Maar nog ’n klompie by sal nie kwaad doen nie. Die sleepsels wat agter jou aantou, moet jou ’n klompie kos, nie waar nie?”

      Sy draai om en die strak gesig is skielik vol emosie, die oë pleit.

      “Midas, móét ons verwyte rondslinger? Dis nie net jy wat kan verwyt nie. Ek kan ook …”

      Die oë wat terugkyk, is kliphard. “Maar wat ek doen, doen ek op eie koste. En jy …”

      “En wat ek doen, doen ek omdat jy my dit geleer het.” Sy kom staan reg voor hom en daar is niemand wat haar daarop kan wys dat ’n mens nie ’n man in sý toestand moet verwyt nie.

      “Jy het my as ’n jong meisietjie van twintig gekry. Wat ek van die lewe weet, het ek by jou geleer. Jy was my voorbeeld. En noudat ek net so voos soos jy is, is ek nie meer goed genoeg nie. Die koerante sê jy het reeds die vierde mevrou Hammond op sleeptou … een net so jonk en mooi soos ek toe ek in jou kloue beland het. Is dit hoekom ek nie meer hier welkom is nie? Jy het klaar iemand anders.”

      Sy lippe smaal. “Soos jy ook reeds ander het. Moenie probeer voorgee jy het teruggekom om ons huwelik wéér te probeer red nie. Selfs die skinderrubriekskrywers sal dit vervelig begin vind. Daar is niks meer tussen ons nie, Lana-Mari. Wat soek jy hier?”

      Sy kyk af. Sy kan nie wen nie. Niemand wen ooit teen Midas Hammond nie. Hy is so hard soos graniet. So hard soos die stene waarmee hy sy stad van goud gebou het. Sy kyk weer stadig op. As hy klaar is met jou, is hy klaar. Daar was twee ander mevroue Hammond voor haar. Hy onthou seker nie eens meer hul name nie.

      “Ek het jou kom sê dat ek ’n egskeidingsaak aanhangig gemaak het.”

      Weer smaal die lippe – die bolip dun met ’n wrede trek wat sy ware aard verraai: hard, vasberade, genadeloos. Die onderlip met ’n sensuele kurwe: hy is ook ’n man en geniet al die vreugdes van die lewe ten volle – soos sy derde vrou goed weet.

      “Dankie, maar my prokureur moes jou al drie weke gelede van mý egskeidingsaansoek in kennis gestel het. Wanneer laas het jy pos uitgehaal?”

      Sy verbleek. “Ek was nie by die woonstel nie …”

      “Ek weet. Jy was op die Griekse eilande … om jou lewe en toekoms uit te pluis, soos die skinderrubriek in die Sondagkoerant vertel het.”

      “Ja.” Wat kan sy anders sê? Midas Hammond se vrou kan ewe min ongesiens van die aardbol verdwyn as die Britse koningin. Daar is altyd oë wat kyk. En Midas se oë is oral, soos sy weer eens uitvind.

      “Ja. Jy het dit met soveel oorgawe gedoen dat dit ’n sonde sou wees om dit verlore te laat gaan, en ek het dit toe met die kamera verewig.”

      “Jou spioene is oral, is hulle nie?” Die magnoliawit vel skyn byna deur.

      Sy laggie laat haar ril. “Ja. Ek moet jou dit ter ere nagee – dis die beste stukkie bloufilm wat ek in ’n lang tyd gesien het. Ivo sal jou onmiddellik ’n kontrak aanbied.”

      Sy trek haar asem in. “As alles wat jy gedoen het in die tyd wat ons getroud is, verfilm moes gewees het …”

      “Ek weet.” Die geamuseerdheid blink hard in sy oë. “Ons twee sou die beste kaalbas-filmsterre


Скачать книгу