Ena Murray Omnibus 33. Ena Murray
lewe … en hulle is êrens. Jy moet net die plek kry …”
“Ons soek al maande, Midas! Durban is met ’n fynkam deursoek. Hulle moet êrens anders wees, want in Durban is geen spoor van een van die drie nie.”
“Dan soek julle verder.”
“Besef jy wat jy sê? Hulle kan enige plek in hierdie land wees! Wáár begin jy soek?”
“Al deursoek jy die wêreld! Plant ’n speurder in elke stad in hierdie land. Selfs twee, drie, vier! Maar soek … en krý hulle!”
“Daar is ’n makliker manier. Hoekom plaas jy nie ’n advertensie nie? Maak dit landwyd bekend dat Midas Hammond sy kinders of sy eerste vrou probeer opspoor. As hulle nog … as hulle dit sien, sal hulle mos met jou in verbinding tree.”
Midas draai weg, stap uit op die balkon. Sy blik dwaal. Hy kan sy Babel nie aan sulke sotte soos Toby agterlaat nie! Plaas ’n advertensie! Maak dit landwyd bekend dat Midas Hammond na sy kinders soek!
“Jy is ’n idioot, Toby!”
“Maar hoekom? Dis logies …”
Hy swaai terug na sy hoofbestuurder, die oë blits. “En wat sal die logiese gevolg wees? Ek sal skielik die pa van hoeveel honderd kinders wees! Fortuinsoekers sal op my toesak – mét bewyse dat hulle my verlore seun of dogter is! Wil jy my tot raserny dryf?” Toby wil protesteer, maar hy word bars stilgemaak: “Stil! Het dit nog nie tot jou klein verstandjie deurgedring dat my kinders nie weet ek is hul pa nie? Is dit nie vir jou vreemd dat Midas Hammond se kinders in vyf-en-twintig jaar nog nooit een enkele keer met hul pa in verbinding probeer tree het nie? Wat de duiwel sal dit help om dit landwyd uit te basuin dat ek na my kinders soek as hulle nie weet ek is hul pa nie?”
Toby gee nie kop nie. “Maar veronderstel hulle weet wel …”
“Dan wat, jou gek? Hoekom sal hulle skielik nou te voorskyn kom as hulle vyf-en-twintig jaar al weet hulle is Midas Hammond se kinders? Daar moet iets in daardie swye steek. Óf hulle weet nie ek is hul pa nie, óf hulle het my nie nodig nie, wil niks met my te doen hê nie.”
Laasgenoemde is baie onwaarskynlik. Al gaan dit hóé goed met hulle, bly die koning van Babel ’n pa wat nie te versmaai is nie. Midas Hammond is immers Midas Hammond. Dis nie elke kind wat kan sê die koning van Babel is sy eie pa nie. Al haat hulle hom ook hoe, ’n mens bly ’n mens.
“Dan weet hulle nie,” kom Toby tot die slotsom. “Maar hulle van …” Hy kry ’n ligte kleur toe hy die uitdrukking in Midas se oë gewaar. Wat is ’n van in elk geval werd? Nie al die Hammonds kan bloedfamilie van hierdie een wees nie. En ’n van kan so maklik verander word. ’n Vrou kan weer trou en dan kry die kinders ook ’n nuwe van.
“Dis ’n gesoek na ’n naald in ’n hooimied,” merk die een speurder op toe die groepie manne Midas se kantoor verlaat.
“So is dit kollega – en elke strooihalm sal omgekeer moet word. Miskien sal ons die naald kry onder die laaste een.”
“O, wel, hy betaal genoeg daarvoor. As hy sy geld op strooi wil mors …”
“As ’n mens net ’n benul het waar om te begin soek. Begin jy by die rykes, of gaan soek jy hulle onder die armes? Doen jy navraag in ’n spogbuurt, of krap jy in die agterstrate rond?”
“Interessante vrae daardie, vriend. Ek wens net jy kon ons die antwoorde ook gee.”
Daar word in uitsoekbuurte en in agterbuurte rondgesnuffel – sonder enige sukses. Die inligting bly skraal: Bev Hammond het op ’n dag haar twee kinders gevat en uit Durban verdwyn. Niemand het ooit weer iets van haar of die kinders gehoor nie. Geen mens weet waar hulle hul bevind nie. Elke strooihalmpie word stelselmatig omgekeer, maar hul werk lewer niks op nie.
Dick Louwrence is moedeloos. Dis die vyfde maand dat hy met hierdie soektog besig is. Elke dag dieselfde vrae. Elke dag die ontkennende kopgeskud. Dieselfde vrae. Dieselfde negatiewe antwoorde. Hy kan skree van verveling. Die betaling is uitstekend. Benewens is daar ’n spesiale bonus vir die man wat met iets klinkklaars vorendag kan kom. Maar bonus of nie bonus nie, hy gaan môre die handdoek ingooi. Midas Hammond moet maar self verder soek.
“Kyk waar jy loop, tjom.”
Hy verstyf in sy spore. Hy is ’n ervare speurder en dis nie die eerste keer dat hy in hierdie deel van Kaapstad kom nie. Hy weet ook presies wie voor hom staan: bendelede. Dis die manne wat veral snags uitkruip. Die manne met die dolke en die fietskettings en die spykerringe aan die vingers. Die manne van die daggapyp en die spuitnaald, van Mandrax en LSD. Van ’n lewe dink hulle bitter min. Die een oomblik was dit net hy op die dofverligte sypaadjie met die vuil papiere en stukkende randsteen. Die volgende oomblik het hulle skielik soos swart vlermuise uit die nag op hom toegesak. Ek hy weet sy lewe is minder werd as dié van ’n vlieg.
“Het jy iets hier verloor?”
Dick sluk. “Nee.”
“Jy dwaal al ’n paar nagte hier rond.”
“Ek soek iemand.”
“Wie?”
“Sean Hammond. Dit was altans sy naam vyf-en-twintig jaar gelede.”
“Hoekom soek jy hom?”
“Ek wil met hom praat.”
“Waaroor?”
Hy weet hy kan hulle nie die waarheid vertel nie. Hy weet ook as hulle hom met ’n leuen betrap, sal hy die son môre nie sien opkom nie. “Ek het ’n boodskap van sy pa.”
“Wat is die boodskap?”
“Hy wil hom graag sien.”
Die bendeleier flits sy donker oë oor die kring. “Ken iemand ’n Sean Hammond?” Die gesigte bly uitdrukkingloos. Hy draai terug na Dick. “Hier is nie so ’n mens in Kaapstad nie. Gaan soek op ’n ander plek.”
“Dankie. Jammer … dat ek gesteur het. Baie dankie.” Hy draai terug is sy spore, hoewel hy wens hy kon liewer hardloop. Sy rugstring is gespanne saamgetrek, die senuwees tril. Hulle sê ’n mens moet nooit jou rug op ’n leeu draai nie. Dan spring hy. Dis net so gevaarlik om jou rug vir The Bats oop te maak. Dan word jy aangeval.
Sy maagspiere ontspan stadig toe hy om die hoek gaan – weg van die gevaar. Nie eens al Midas Hammond se geld sal hom weer ’n keer om hierdie hoek laat stap nie. Want hy het die boodskap ontvang. In dié geweste word nie verder na Sean Hammond gesoek nie. As The Bats sê daar is nie so iemand nie, dan is dit so. Die man wat weer ’n keer vra, sal nie leef om ’n antwoord te kry nie.
Hy is dankbaar toe hy sy motor in die helder verligte straat bereik. Hy klim in en sluit die deur, want hy weet instinktief dat hy tot hier gevolg is. Hulle sal seker maak dat die indringer sy koers gery het.
Hy skakel die motor aan en trek dadelik weg … en die oë volg hom peinsend tot hy om die draai verdwyn.
In sy kamer in een van die beste hotelle in die stad – Midas Hammond betaal immers daarvoor – stroop hy dadelik die slenterklere af. Dié mondering help dat hy onopsigtelik in die agterbuurte kan ronddwaal. Nie dat dit vanaand gehelp het nie. “As blind as a bat” is beslis nie van toepassing op die Vlermuise teen wie hy hom vanaand vasgeloop het nie.
Dis reeds eenuur in die oggend toe hy in ’n kokende warm bad lê en ontspan. Hy voel hoe die spanning stadig uit hom sypel. Die oningeligte sou iets in hul reaksie probeer lees het, maar uit ervaring weet Dick dit beteken waarskynlik niks nie. Dis eie aan ’n bende om só op te tree. Nuuskierigheid is ’n aartssonde en enige navraag taboe. Of hulle die naam Sean Hammond ken of dit vanaand die eerste keer gehoor het, sal net hulle weet. Al ken hulle hom ook hoe goed, ’n buitestander sal voor ’n toe deur te staan kom.
’n Paar oomblikke later stap hy in sy nagklere na die telefoon. Dis halftwee in die oggend, maar in Babel is die naglewe nou eers in volle gang.
“Naand, meneer Hammond. Dis Dick Louwrence. Ek bel uit Kaapstad. Nee. Ek wil eintlik net