Ena Murray Omnibus 33. Ena Murray
aandenking … sou jy ná my dood dalk droom van ’n paar miljoen meer as toe jy met net die klere aan jou lyf mevrou Hammond geword het.”
Haar lippe sluit ook verbete. Nêrens is daar ’n glimp van die stralende, onskuldige gesiggie wat vyf jaar gelede die wêreld vanuit ’n troufoto toegelag het nie. Dis ’n ontnugterde, verbitterde vrou op wie se gesig die spore van vyf jaar aan Midas Hammond se sy wys.
“Ek gaan jou dagvaar vir drie miljoen, Midas. Jy gaan nie met my maak soos met die voriges – asof ek ’n uitgediende stuk lap is wat jy op die vullishoop kan gooi nie. Jy gaan betaal.”
“O, ek weet, my skat. Maar jy gaan daardie geld self verdien.”
“Wat bedoel jy?”
“Met daardie film. Dis ’n aanskoulike stukkie pret waarvoor die manne nie sal omgee om te betaal nie. Maar ek sal jou aanraai om jou prys af te bring. Daar is dele wat beter kon wees. Moenie jouself oorskat nie. Maak dit een miljoen, dan haal jy dalk die paal.”
“Jou skurk!”
“Solank jy net presies weet waar jy met my staan. Gee pad … of jy gaan jammer wees.”
By die deur draai sy terug, kyk na hom met oë wat die hardheid in syne ewenaar. “Daar gaan ’n dag kom, Midas Hammond … Jou dag sal kom. Miskien gouer as wat jy dink. Almal wat jy in jou lewe vertrap en verguis het, sal voor jou kom staan. Van jou kinders tot by my en al my opvolgers. Ons sal in ’n ry voor jou kom staan, Midas Hammond!”
Die deur gaan toe en hy lê en staar daarna. Hy hoor vandag woorde wat nie in sy woordeskat voorkom nie. Kinders … Dis ’n woord wat hy jare gelede verleer het. Hoeveel jaar nou? Agtien, twintig jaar gelede? Hy sal moet uitwerk. Toe was daar kinders. Syne. Hulle het saam met sy eerste vrou verdwyn en hy het nooit weer aan hulle gedink nie. Hy het vergeet dat hy kinders het … gehad het. Soos hy vergeet het dat hy eendag sal doodgaan. Maar vandag het die hartspesialis hom gewaarsku: Midas Hammond kan die dood nie ontvlug nie. En so pas, heel onvanpas, praat sy derde vrou van kinders … wat eendag in ’n ry voor hom sal kom staan.
Geïrriteerd strek hy sy hand uit na ’n telefoon. “Toby, kom hier.”
Sy bestuurder en regterhand is byna onmiddellik daar. Die koning van Babel, soos hy spottenderwys genoem word, is egter nie tevrede met hom nie. Niemand kan hom tevrede stel nie. Dis net Midas Hammond self wat ’n ding reg kan doen.
“Was jy in verbinding met Honolulu?”
“Ja, maar die dansgroep kan eers die tweede week kom. Hulle is die eerste week nog aan hul kontrak gebind.”
“Twak. Kry hul bestuurder en bied meer aan.”
“Dit help nie, Midas. Ek het reeds probeer. Hul kontrak …”
“Na die maai met hul kontrak, man. Ek wil hulle die eerste week hier hê. Bel hom en bied dubbel aan.”
Toby swyg. Na die maai met enige kontrak wat in Midas Hammond se pad staan, maar pas op as jy nie jou kontrak met hóm nakom nie …
Teen sy beterwete probeer hy nog ’n keer.
“Hulle kos reeds ’n fortuin, Midas. Dubbeld die bedrag …”
“Hulle sal dit werd wees – ás hul vertoning hier met die wêreldtitelboksgeveg daardie week kan saamval.”
“Maar, Midas …”
“Bel hul bestuurder. Ek wil vanaand nog ’n antwoord hê. Volgende …”
Dis ’n gefrustreerde, geïrriteerde man wat later weer alleen gelaat word. Hart en hartsake is vergete. Deksels, alles sou al gereël en afgehandel gewees het as hy dit self gedoen het! Wat van Babel sal word die dag as hy …
Sy gedagtes skok tot stilstand. Dis vir hom ’n nuwe, vreemde gedagte. Babel sonder Midas Hammond. Maar Babel ís Midas Hammond en Midas Hammond ís Babel. Die twee is soos ’n Siamese tweeling met net een kop. Hy kry skielik ’n gevoel wat hy nog nooit ervaar het nie.
’n Koue magteloosheid oorweldig hom … Midas Hammond ken nie magteloosheid nie. Hy ken net mag. Maar die prentjie is duidelik voor hom – ’n nagmerrievisioen, ’n blik in die toekoms. Hy sien hoe daardie een kop afgekap word; hoe nie net die een liggaam verbrokkel nie, maar ook die tweede. Die dag as Midas Hammond sterf, sterf Babel ook.
Die koue sweet blink op sy voorkop, sy handpalms is klam. Teen alle doktersbevele in staan hy op, stap stadig uit tot op die balkon en leun met sy arms op die muurtjie, terwyl sy blik wyd om hom strek, alles vaskring wat hy kan sien.
Babel … Wat gaan daarvan word as hy sterf? Die dood is skielik ’n werklikheid wat hier neffens hom kom staan het en vrae stel: Wat gaan van jou stad van goud word wanneer jy sterf? Nie ás jy sterf nie, maar wánneer, Midas Hammond. Want jy is nie van goud nie en jou organe nie van steen en sement nie. Jou hart is van vlees en bloed soos enige ander mens s’n. Een keer het dit amper gaan staan. Eendag … dalk nog môre, oormôre … sál dit gaan staan. Vir altyd. Jy sal van die aardbol verdwyn. Net jou stad van goud sal agterbly. En wat dan, Midas Hammond? Sal jou Babel ook verkrummel en vergaan soos wat jy deel sal word van die aarde waaruit jy jou koninkryk opgebou het? Wie gaan voortbou op jou drome en sorg dat Babel voortbestaan? Of gaan dit van die aarde verdwyn soos die toring van Babel, sodat niemand eens daarvan sal weet of onthou waar dit gestaan het nie?
Wat gaan van Babel word wanneer jy sterf, Midas Hammond?
Sy kop sak tussen sy handpalms en die elmboë druk swaar en hard op die muurtjie.
Daar is niemand nie … nie één aan wie hy sy Babel kan toevertrou nie, lê die besef swaar in hom. Daar is nie een mens wat getrou sal wees aan Babel nie. Daar is net een mens wat hom aan die stad van goud toewy; net een wie se hele bestaan om Babel draai: Midas Hammond. Die ander, onder wie sy regterhand, Toby, is net daarop uit om Babel te tap. Hulle sal dit leeg suig soos parasiete totdat dit bloedloos en goudloos tot stof vergaan. Soos aasvoëls sal hulle daarop toesak wanneer sy wakende oog nie meer daar is nie, en elkeen sal ’n groter hap uit Babel wil neem as die ander.
Hy kan hulle al sien, kry weer ’n visioen hoe elke nuusbulletin en koerant dit uitbasuin: Midas Hammond is dood! Die koning van Babel is dood!
Uit alle oorde en uithoeke van die aarde sal hulle kom – met hul stralers soos aasvoëls op Babel se aanloopbaan neerstryk, met hul blink motors die teerpad afjaag na die stad van goud. Soos tjankende hiënas sal elke vrou aankom wat ’n bed met hom gedeel het en die nydige blikke na mekaar onder vals, hoopvolle trane verberg. Miskien het Midas daardie een nag onthou … Miskien het die herinnering hom só behaag, dat haar naam op sy lys is …
’n Lagkreun breek uit sy mond. Sotte! Arme sotte! Hy kan nie eens sy eerste vrou se naam behoorlik onthou nie … of dié van sy kinders.
“Midas! Wat soek jy hier? Jy mag nie uit die bed … Waar de duiwel is daardie verpleegster?”
“Ek het haar uitgejaag. Ek is nie ’n baba met ’n doek aan nie!”
“Jy is erger as een. Kom, ek help jou bed toe. Komaan! Jy is wasbleek.”
Vir die eerste keer in sy lewe moet Midas Hammond aan ’n ander mens vashou om regop te bly. Hy sak moeg op die bed neer, maak sy oë toe. Swakheid ken hy nie, het ook nie geduld daarmee nie. So lank as wat hy kan onthou, gehoorsaam sy liggaam sy verstand. Hy slaap selde meer as drie in vier-en-twintig uur, en ook dit het hy nog altyd as ’n vermorsing van kosbare tyd beskou. In drie ure kan hy ’n honderd telefoonoproepe maak, tien transaksies beklink, of tientalle nuwe idees kry om die geld te laat instroom.
“Jy moet rus. Ek kom later weer.”
Die deur gaan toe agter ’n ontstelde Toby, op soek na die spesiale verpleegster wat moet toesien dat die koning van Babel soos goud opgepas word.
Rus … rus was nog altyd vir die swakkeling en die luiaard. Rus is ’n onding vir iemand met ’n brein soos ’n vulkaan waaruit elke dag nuwe idees en vergesigte bars. Rus is vir die dooies. Midas Hammond is nie dood nie. Nog nie.
Maar