Ena Murray Omnibus 33. Ena Murray
Hy gaan staan op die balkon, kyk oor die stadsliggies uit. Dan draai hy terug bed toe, trek die balkondeur agter hom toe … en die swart skaduwee beweeg geluidloos weg.
In Babel plak Midas die telefoon neer. Hy sweer as hy self gaan soek het, het hy hulle lankal gekry! Sy frustrasie wil breekpunt bereik. Hy is gewoond om te kry wat hy wil hê. Midas Hammond wag nie. Nou wil hy sy kinders hê en kan hulle nie kry nie, wag al amper ses maande. En sê nou maar hy kry dit nie reg om hulle op te spoor nie? Hy skud sy kop vererg. Daar is niks wat Midas Hammond nie kan regkry nie. Niks. Hulle sál gekry word.
Toe hy om halfvyf bed toe gaan, is dit gereed vir hom. Té gereed, dink hy met sy blik op die meisie wat slaperig haar oë oopmaak. Sy is nog te deur die slaap om tekens op sy gesig te lees: Midas Hammond is in ’n beduiwelde bui.
“O, Midas, het jy eindelik kom slaap?”
“Trap!”
Sy knip haar oë verward. “Wat?”
Sy duim wys na die deur se kant. “Uit! Jy’s nie genooi nie.”
“Midas!” Nou is sy wawyd wakker, sit regop, ’n toonbeeld van vroulike begeerlikheid waarvoor die man in hierdie vroeë oggenduur blind is. Trouens, hy is gewoond aan sulke prentjies. Hy sien dit elke nag in sy bed en is skielik sat daarvan. “Waarvan praat jy? Ek slaap al die afgelope …”
“Ek weet – en jy was net die eerste week ’n genooide gas. Die ander nagte het jy jouself genooi.”
“Wag ’n bietjie!” Sy spring uit die bed. “Jy was maar te gretig om my te ontvang!”
“Die skinkbord was onder my neus ingedruk. Wat my betref, is dit nou leeg. Jy het niks meer om my aan te bied nie. Maak dat jy wegkom …”
Ongeloof en ontnugtering straal na hom, maar terwyl hy vir homself ’n stewige whisky gooi, vervolg hy koelbloedig: “… of ek laat jou hier uitgooi. Jou tyd in Babel is verby. Sorg dat jy môre vertrek.”
Toby kom in die deur tot stilstand, wil dan vinnig omdraai. “Jy het my laat roep … O, ekskuus. Ek is ongeleë …”
“Nee, jy is nie. Kom binne. Hierdie dame is op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.”
Woedend, bewend word die nagklere en japon aan die liggaam gepluk. “Jou skurk! Jy het my al die tyd net gebruik …”
“Jy het niks om oor te kla nie. Ek het jou goeie waarde gegee.”
Sy hardloop deur toe, draai terug, en al die vernis is op hierdie oomblik af. “Jou vark!”
“Dis die moeilikheid met prostitute: of jy hulle nou op ’n kaai optel of in een van Babel se weeldesuites … hulle bly prostitute. Kom sit, Toby.”
Die deur skuif toe en Toby neem plaas. “Daar is ’n mooi klompie vannag by die masjiene uitbetaal.” Hy grinnik. “Een ou vrou het so opgewonde geraak toe die masjien begin spoeg, dat sy gebuk en haar romp opgelig het om die geld daarin weg te dra!”
Midas se gesig ontspan effens. “En toe?”
“Sy het gelukkig ’n onderrok aangehad! Toe ek die gesukkel sien, het ek haar met ’n tjek te hulp gesnel!”
Midas knik. Die mens … Niemand staan geheel en al onverskillig teenoor geld nie. Die een wat sê geld beteken vir hom absoluut niks in die lewe nie, lieg. Want daarsonder kan niemand klaarkom nie. Nie net Midas is in ’n web van goud vasgespin nie. Almal is.
Sy gesig verstrak weer toe een van die telefone lui. “Antwoord, en as dit daardie vroumens is, sê sy hoef nie haar suite te betaal nie. Haar verblyf hier is verniet in ruil vir haar diens. Maar ek wil haar nie môreoggend nog in Babel sien nie.”
Maar dis die nagoperateur se stem wat verskonend opklink: “Is dit meneer Toby? Meneer, ek het na u gesoek. Hier is ’n oproep van Kaapstad vir meneer Hammond. Hulle het my by die casino gesê hy is reeds daar weg. Die persoon sê dis dringend.”
“Skakel maar deur, Peter.” Hy verduidelik aan Midas: “ ’n Oproep van die Kaap. Die speurder …”
“Ek het vroeër vanaand al met hom gepraat. Hy kom môre terug … onverrigter sake.”
“In daardie geval … Wil jy die oproep neem, of nie?”
“Wie wil my hê?”
“Peter het net gesê die persoon sê dis dringend. Daar is hy nou.”
Hy frons skerp.
“Hallo? Hallo? Dis meneer Hammond se bestuurder wat praat. Kan ek help? U kan maar met my ook praat, meneer. Met wie praat ek nou?” Hy luister ’n oomblik. “In daardie geval moet u maar môre weer bel. Meneer Hammond is nie nou beskikbaar nie. Ekskuus? As u nie bereid is om u naam te sê nie, is daar niks verder te praat nie. Tot siens.”
Hy plak die foon neer. “Dis die een of ander laspos wat dink dis snaaks om hierdie tyd van die oggend die koning van Babel te skakel. Die soort mense wat jy darem kry …”
Hy ruk die gehoorbuis op toe die telefoon weer lui. “Peter, luister … O? Hy is nou bereid om sy naam te sê? Hoor eers wie hy is en waarom hy bel voordat jy hom deurskakel, anders …”
“Hy sê hy sal sy naam net aan meneer Hammond verstrek, meneer Toby. Maar dis van die grootste belang vir meneer Hammond.”
Midas steek sy hand uit. “Skakel hom deur dat ons klaarkry.”
“Ja? Ja, dis Midas Hammond. Wie praat? Ek praat nie met naamlose mense nie, meneer. Ek- … Ekskuus? Wat het jy gesê?”
“My naam is nie vir jou van belang nie, meneer Hammond. Maar die naam Sean Hammond is … nie waar nie?”
“Praat!”
“Wat is die inligting vir jou werd, meneer Hammond?”
“Dit hang af wat dit is.”
“En as ek jou kan sê waar Sean is?”
Toby sien Midas Hammond bleek word. “Dan … lewe hy!”
“Natuurlik lewe hy. En hoe! Wel, meneer Hammond?” Stilte en dan gaan die stem voort: “Ek sien jy het tyd nodig. Goed. Dink gerus na hoeveel dit vir jou werd is om jou seun terug te hê. Ek bel jou later vandag weer.”
“Wag! Luister! Verdomp, hy het neergesit!”
“Wie was dit?”
“Iemand … iemand wat weet waar my seun is.”
3
Die spanning is duidelik op Midas se gesig te lees toe Dick Louwrence voor hom kom staan.
“Jy sê jy kon geen enkele spoor in die Kaap kry nie, maar vanoggend vroeg het ek ’n anonieme oproep daarvandaan gekry.”
“Wat?”
Dick luister stilswyend en ’n krieweling gaan langs sy ruggraat af. Hy kry dit altyd wanneer hy weet hy beweeg in die regte rigting met ’n ondersoek. Dis daardie sesde sintuig wat elke goeie speurder moet hê.
“Het jy geen benul wie die man kon wees nie?” vra Midas dringend. “Hy het gesê hy sal later weer bel, maar tot nou toe is dit stil. As hy nie weer bel nie …” Hy wil nie daaraan dink nie. Vir die eerste keer in maande was daar reaksie op sy soektog. Ook Midas se sesde sintuig is goed. Hy weet hy het dié keer met ’n opperste skurk te doen. Hy gaan afgepers word. Maar hy weet ook dat sy stem oor die foon nie gelieg het nie. Daardie man weet waar sy seun is. En noudat hy die sekerheid het dat sy seun leef en opgespoor kan word, is daar geen keer aan hom nie.
“Wie het jy almal ondervra? Dit moet een van hulle wees,” wil hy weet.
Maar Dick vermoed uit jare lange ervaring dat dit nie die eerste afperser is met wie Midas te doen kry nie. “Dit kan enigeen van die honderde mense wees wat ek die afgelope maande ondervra het, meneer Hammond. Dit kan enigeen van ’n ander paar honderd