Ena Murray Omnibus 33. Ena Murray
Sy het geduldig geglimlag. “Nee. Hy het klaar gesterf sodat jy kan lewe. Het jy nog nooit van Jesus gehoor nie?”
“Jesus?” Sy naam is Sean Hammond – Sean, die enigste seun van Midas Hammond …
“Ja. Dis wat Hy genoem word. Jesus, die enigste Seun van God. Die Seun van die Koning der Konings, van die hemelse ryk wat tot in ewigheid sal bestaan.”
Koning der konings. Koning van Babel. ’n Stad van goud. ’n Aardse ryk. En hy het ’n seun.
“… saamkom na ons koffiekamer. Ons kan daar verder gesels.”
“Ek het nie tyd vir gesels nie. Ek moet dink.”
“Maar as ons ’n bietjie gesels, daaroor bid, sal dit makliker wees om te verstaan. Kom saam, asseblief.”
“Waarheen?”
“Na die koffiekamer. Dis net om die hoek.”
Koffiekamer? ’n Stad van goud met ’n koffiekamer …? Hy het weer helder begin dink. Hy het om hom rondgekyk, die bekende toneel om hom gesien. Die visioen van ’n stad van goud het begin vervaag, verdwyn. Die droom is verby. Hy was terug in die werklikheid … in die bekende straat. Hy het sy oë geknip, na haar afgekyk: die jong, soet gesiggie met die blink oë en die pleitende stem.
“Jy wil nie regtig leef soos jy leef nie, wil jy? Hier diep in jou hart soek jy na iets beters. Vrede. Geluk. Die rykdom van God se genade is ook vir jou …”
Toe besef hy wie sy is. ’n Straatwerker. Hy ken hulle. Weet van hulle. Hulle loop ook snags rond, nes hy. Hy dra dolke en fietskettings. Hulle dra ’n boek. Sy het dit na hom uitgehou en hy het gelag. God se genade terwyl jy die skatte van Babel kan kry!
“Luister, ou girl, los my uit. Ek stel nie belang in rykdom wat ek nie tussen my vingers kan voel nie.”
“Maar hierdie rykdom is vir ewig! Die ander vergaan,” het sy gepleit.
Hy het sy kop geskud. “Jy mors jou asem. Gaan lewer jou preke vir iemand anders. Ek, Vegter, stel nie in jou God belang nie. Wie’s Hy? Ek ken hom nie. Ek ken iemand beter – veel beter!”
Met ’n harde lag het hy weggestap, en ’n uur of wat later was sy planne gesmee, die straatwerkertjie en haar naïewe pleidooi vergete. Daar is net een soort rykdom waarin Vegter belangstel – dié van geld. En as hy nou sy kaarte reg speel, is dit binne sy bereik.
Hy moes weer glimlag toe hy daardie nag eindelik gaan slaap. Die jong gesiggie het weer voor hom verskyn. Hoe naïef is sy nie! Glo waaragtig sy kan met net ’n Bybel in die hand ’n lid van The Bats oorreed om af te sien van ’n Midasrykdom! Jy wil nie regtig leef soos jy leef nie, het sy gesê. Diep in jou hart soek jy na iets beters. Ja, girl. Vegter soek na iets beters. Veel beter as dit wat jy hom aanbied – ’n rykdom in ’n ander wêreld. En ’n God wat mens nie kan sien of voel nie. En daardie iets beters is op pad. Wag maar. Jy sal sien. Eendag sal ek jou my “iets beters” wys. Dan praat ons weer.
Tog … In ’n mate was sy reg. Hy is moeg van die soort lewe wat hy lei, die enigste wat hy ken. Hy is siek en sat daarvan om net een tree voor die gereg te wees; van dwelms en drank, van die besoedelde lug van nagklubs en die reuk van prostitute. Maar hy het die geld nodig om weg te breek … en hy dink hy is seker waar hy aan daardie geld sal kan kom … Met ’n glimlag op sy lippe raak hy aan die slaap.
Daar was nie ’n glimlag op die straatwerker se gesig toe Vegter wegstap nie.
Die man langs haar het probeer troos: “Moenie so afgehaal lyk nie. Dis jou eerste aand. Moenie so gou wonderwerke …”
Sy het na hom gedraai. “Maar ek verwag wonderwerke, want ek werk vir ’n God van wonderwerke!”
Haar maat het geknik, nogtans weer probeer. “Ek weet wat jy bedoel, Elske. Jy is reg. Maar as jy nie sommer die eerste aand al iemand tot inkeer bring nie …”
“Ek weet wat jý bedoel, Pieter. Maar daardie man … Wie is hy?”
“Hy is ’n bendelid, een van The Bats, soos hulle bekend staan. En hulle is nie te vinde vir ons prekery nie, soos hulle dit noem. Ons het al probeer.”
“En toe het julle opgehou …”
“Nee, Elske. Dis nie ’n geval van ophou nie. Dis ’n geval van hulle nie sover kry om ’n gesprek mee aan te knoop nie. Hulle vermy ons doelbewus. Jy was net gelukkig om vanaand met een van hulle te kon praat.”
“Dit was nie geluk nie, Pieter. En dit was nie toeval dat ek juis Vegter op my eerste nag raakgeloop het nie.”
“Vegter?”
“Ja. Dis sy naam. Hy het gesê: ‘Ek, Vegter, stel nie in jou God belang nie.’ Ons sal weer ontmoet. Ek weet dit.”
Pieter swyg. Hy is al ’n ervare lid van hierdie groepie wat snags met die Bybel in die hand op straat gaan werk. Hy weet hoe brandend jy op jou eerste nag uitgaan en hoe jy soms later, ná baie nagte, in diepe menslike afhanklikheid moet bid dat die vlam brandend sal bly.
Toe hulle ’n paar nagte later weer die bekende gestalte op die sypaadjie voor ’n nagklub raakloop, is dit Elske wat vorentoe tree.
“Hallo.”
’n Vlugtige kyk in haar rigting, dan herkenning. “O, dis jy?” Hy kom teësinnig tot stilstand, en draai na haar, sy oë spottend. “Dan het jy nog nie moed opgegee nie? Jy is ’n hardekoppie, nè?”
“Ek het geweet ons sal weer ontmoet.”
“O? Regtig? En hoe het jy dit geweet?”
“Jy het gesê jy stel nie in my God belang nie. Maar Hy stel in jóú belang. Hy het hierdie ontmoeting gereël.”
Geamuseerdheid en ergernis wissel mekaar op sy gesig af. “Ou girl, doen my ’n guns, sal jy? Gaan preek vir die spul prostitute hier binne en los Vegter uit. Jy mors jou tyd en myne. Vergeet van my.”
“Ek kan nie.” Hul oë ontmoet. “Ek kan jou nie vergeet nie.” Die vraag kom onverskrokke: “Het jy?”
4
Hy antwoord nie, staan en kyk haar net aan en Elske sê met soveel stille oortuiging dat ook Pieter vinnig na haar kyk: “Jy hardloop verniet weg, Vegter. Op ’n dag gaan jy ingehaal word.”
Sy frons is hewig, sy stem bot: “Ek hardloop g’n weg nie, vir niks en niemand nie.”
Maar sy glimlag. “Hoekom hardloop jy dan weg wanneer jy my … ons gewaar? Hoekom is jy bang om na ons te luister?”
Pieter trek sy asem in. ’n Mens noem nie een van die Vlermuise bang nie. Elske se oorgretigheid gaan haar nog in groot moeilikheid bring. Hy wil vinnig tussenbeide tree, maar Vegter spring hom voor: “Ek luister nie na snert nie.” Hy kyk uitdagend af na haar. “Hierdie heilige praatjies is maar net ’n ander soort drug wat julle die mense voer om die werklikheid te ontvlug.”
“Hoekom probeer jy dan nie ’n slag óns drug nie? Joune help tog nie regtig nie. En jy weet hoe meer jy dit gebruik, hoe minder help dit; hoe meer het jy daarvan nodig om aan die werklikheid te ontsnap. Maar óns drug werk anders. As jy dit een keer gebruik het, is dit vir altyd. En dit maak nie dood soos joune nie, Vegter, dit bring lewe.” Die sagte oë pleit. “Wil jy dit nie probeer nie … asseblief?”
Hy weet wat sy van die dwelms sê is waar. Dit maak dood. Teen die einde. Maar eers gaan jy deur ’n hel. Hy is van die enkeles wat dit nog altyd versigtig hanteer het. Hy is nie ’n daaglikse pyproker nie en weet goed dat dié wat met dagga begin, nooit daar eindig nie. Die gestel skreeu later om meer. Dan kom die pil by. Later die binneaarse inspuiting. En dit is die begin van die einde. Een of ander tyd gaan jy waansinnig word van die dwelmhonger en bereid wees om moord te pleeg om dit in die hande te kry – dis asof jou liggaam net nie genoeg daarvan kan kry nie. Dan bly nog net die dood oor …
Hy kyk haar vas in die oë. “As jy van myne sal probeer.”