Ena Murray Omnibus 33. Ena Murray
die sypaadjie sien. Die voertuig kom onmiddellik tot stilstand.
“Hy is die ene bloed. Hy is voos geslaan.”
Hy word ingehelp en in die lig van die straatlamp herken sy hom.
“Dis Vegter!”
Hy hoor haar nie. Soos ’n geknakte riet lê hy voor hul voete. Haar oë pleit met die leier van hul groepie. “Kan ons hom huis toe neem, asseblief?”
Hy glimlag. “Natuurlik.”
Ure later laat die pyn dwarsdeur sy liggaam en kop hom uit die wêreld van bewusteloosheid terugkeer. Sy regteroog is heeltemal toegeswel en deur die ander een kan hy skaars sien. Hy roer, voel hoe die pyn soos ’n rooiwarm mes deur hom sny.
“Hoe voel jy?”
Hy hoor haar, weet hy ken die stem. Dit behoort aan iemand … iemand met sagte oë … ’n sagte glimlag. Waar … waar het hy haar gesien … gehoor?
“Vegter, kan jy my hoor?” Haar stem is vol pyn. “Lê net stil. Moenie probeer roer nie. Het jy baie seer?” Die een oog sukkel oop, gaan byna dadelik weer toe. Hy wil sy lippe van mekaar dwing, maar dit voel asof hulle vasgegom is. Hulle moet erg geswel wees.
“Waar …?”
Dis meer ’n sug as ’n woord, maar die gerusstelling kom dadelik: “Jy is veilig. Ons het jou langs die straat gekry en jou toe saamgebring. Moenie jou oor enigiets bekommer nie. Ek kyk na jou. Wil jy nie ’n bietjie dun sop probeer drink nie?”
Dun sop … Wanneer laas het hy dun sop gedrink? As kind, onthou hy. Hy het dit self gekook van bene wat hy uit vuilgoedblikke gehaal het. En ou brood daarin gekrummel … vir hom en sy sussie. Hulle was nog klein … en so honger. Hy onthou … die bleek waterigheid. Hy wil nooit weer in sy lewe dun sop sien nie.
“Goed dan. Rus maar eers. Probeer slaap.” Daar is ’n koel hand op sy brandende voorkop. En vingers deur syne gestrengel.
Toe hy wakker word, brand ’n flou lig, waarby ’n meisie uit ’n dik, swart boek sit en lees.
Sonder om ’n geluid te maak, lê hy na haar en kyk. Hy weet nie of hy al ooit ’n mooier, rustiger prentjie gesien het nie. ’n Sagte vrede straal uit haar.
“Elske …”
Hy het nie eens geweet hy onthou haar naam nie. Dit glip sommer net uit, en sy kyk onmiddellik op. Hy lees die besorgdheid in haar oë. Dan die blydskap.
“Vegter!”
Sy dikgeswelde lippe sukkel met die woorde toe sy langs sy bed kom staan. “My naam is Sean.”
Hoekom sê hy dit? Tot ’n paar dae gelede het hy daardie naam nie geken nie. Hy was Vegter. Ís Vegter.
Sy glimlag na hom met daardie teer trek om die mondhoeke wat iets in hom wakker maak – wát weet hy self nie.
“Hallo, Sean. Voel dit al ’n bietjie beter?”
“Ek … weet nie …” Hy probeer hom oplig, kreun en sak weer terug. Dit voel asof ’n trein oor hom geloop het. Hulle het hom pap gemoker en geskop, die vuilgoed.
Haar hand is weer sag op sy voorkop, sy voorarm. “Toe maar. Dit sal van nou af elke dag ’n bietjie beter gaan. Jy lewe, en dis die belangrikste. God was goed.”
Was Hy? Het hierdie meisie se God iets daarmee te doen dat hy nog lewe? Hoekom sou ’n God wat hy nie ken nie, Hom oor hom ontferm? Dit was sy sterk gestel wat hom dit laat oorleef het. Maar dié meisie se God het miskien wel iets daarmee te doen dat sy nou langs sy bed staan …
“Watter plek is dit hierdie? ’n Hospitaal?”
“Nee. Jy is in Trovato. Dis die tuiste van ons straatwerkers. En jy lê nou in my bed,” vervolg sy met ’n vonkeling in die oog.
Hy frons verward. “Jul tuiste? Ek het nie geweet … Ek het gedink julle is sommer ’n paar mense wat saans die strate invaar omdat julle behep is met … godsdiens.”
“Nee. Ons is ’n erkende, georganiseerde liggaam van ons kerk. Daar is opgeleide, hoogs gekwalifiseerde persone aan die hoof en elke straatwerker wat snags die strate invaar, soos jy dit noem, word ook eers geskool vir dié soort werk.”
“Dan is dit ’n werk? Jy werk vir hulle?”
Sy skud haar kop. “Nee. Nie vir hulle nie. Ek is vrywillig hier. En ek word nie betaal nie. Ek kry slaapplek en kos in Trovato, maar vir al my ander behoeftes is ek op myself aangewys. Maar ons sien dit nie as ’n werk nie, Sean. Ons werk vir Jesus en vir ons naaste.” Hul oë ontmoet. “Vir mense soos jy en uit dankbaarheid vir wat Jesus vir ons gedoen het.” Weer die glimlag. “Ja. Omdat ek ’n lid van sy gang kan wees.”
“Hm.” Hy kyk weg. “Dit klink nie eintlik so lekker vir my nie. Ek bedoel, om ’n lid van jou gang te wees. Om net vir kos en slaapplek te werk …”
Sy verduidelik geduldig: “Hy dwing niemand nie. Ek het jou gesê dis vrywillig. Ons doen dit almal omdat ons dit wil doen, nie omdat ons moet nie. Dis die groot verskil tussen my bende en joune. Julle moet dinge in en vir jul bende doen. By ons is dit ’n spontane offer wat ons bring uit dankbaarheid omdat ons so ’n wonderlike Leier het.”
“Hm.” Hy klink weer skepties. “Dankbaarheid kan nie dinge koop nie. ’n Mens het geld nodig. Ek is nie te vinde vir net kos en slaapplek nie. Ek wil beter betaling as dit hê.”
“Maar ons kry betaling – baie meer as wat jy by enige bendeleier kan kry. Dis in die vorm van iets wat geld nooit kan koop nie – vrede en geluk, sinvolheid in jou bestaan. Jy kan al die skatte van die aarde besit, Sean, en jy kan steeds die ongelukkigste of bangste mens op aarde wees. Geld kan nie sin aan jou bestaan gee nie – ewe min as wat dwelms jou na ’n paradys kan wegvoer.”
Sy oë ontwyk hare. “Ek wil geld hê. Genoeg ook. Dan kan al die ander dinge maar bly.”
Sy skud haar kop bekommerd. “As jy eendag soveel geld kry, sal jy agterkom dat jy vanaand verkeerd was.”
“Nie as nie, ou girl, wanneer ek dit kry – en daardie is binnekort. Waar is my klere?”
“Daar lê dit: gewas en gestryk. Wat wil jy daarmee maak?”
Hy sukkel orent, ontwyk haar vraag. “Hoe laat is dit? Moet jy nie al gaan werk nie?”
“Ek het spesiale verlof gekry om tuis te bly.”
Sy oë is strak. “Moenie my oppas nie. Jy mors jou tyd. Ek het jou dit al tevore gesê. Gee my klere aan.”
“Sean …”
“Vergeet van Sean, Elske. Daar is nie so ’n mens soos Sean nie. Ek is Vegter. Dit sal ek bly. Gee aan my klere of ek klim uit hierdie bed!”
“Jy is nog nie gesond nie! Jy het nog nie eens geëet of … Sean, asseblief, ek smeek jou … bly!”
“Om jou gang te join … vir kos en klere? Jy moet mal wees!”
“Bly dan net totdat jy heeltemal gesond is! Kyk hoe lyk jy nog! Waarheen gaan jy as jy nou loop? Dis al nag en … hulle gaan jou doodmaak!”
“Dit sal nie so maklik gaan nie. Vegter chop nie só maklik af nie.” Hy gooi die beddegoed af, stap met kaal bolyf en duidelik nog vol pyn na sy hopie klere. Die merke op sy rug en bors het verkleur tot ’n sieklike persblou. Sy moet magteloos toekyk hoe hy sy T-hemp met duidelike inspanning oor sy kop trek, en sy hoor hom gedemp vloek. Dan keer sy haar rug vinnig op hom toe hy van die geleende pajamabroek ontslae raak.
“Sea- … Vegter, belowe my een ding, asseblief. Belowe my jy sal na ons koffiekamer gaan as jy hulp nodig het. Of hierheen. Asseblief!”
Hy kyk teen haar agterkop vas, gewaar die effense ruk in die skraal skouers. Met ’n magtelose gebaar maak hy sy skoene vas, kom orent.
“Waar is my messe … en my gun?”
Sy draai terug. “Dis …