Ena Murray Omnibus 33. Ena Murray

Ena Murray Omnibus 33 - Ena Murray


Скачать книгу
tjommie, Hammond gaan vir jou die hel in wees as hy hiervan hoor. Hy verwag hierdie oproep.”

      “Hy het my geen bevele gegee oor enige spesiale oproep nie. Bel maar later weer.”

      Hy glimlag effens toe hy die gehoorbuis neersit en Dick knik. “Gaaf. Nou weet ons meneertjie hy is nie só belangrik as wat hy dink nie.”

      “Klink die stem nie miskien bekend nie?”

      “Nee. En dis natuurlik vermom. Praat agter ’n sakdoek of iets. Ek dink jy kan oor drie ure weer ’n oproep verwag.”

      So is dit ook. “Jammer, maar meneer Hammond het so pas oorsee vertrek. Natuurlik het ek hom vertel van u oproep, maar hy het gesê dit moet wag totdat hy terugkom. Hy het dringende werk om af te handel.”

      Hy kry ’n tevrede lig in die oë toe hy die antwoord hoor en sê met ’n knipoog vir Dick wat by die ander telefoon inluister: “Ja, sy seun is seker belangrik, maar hoe belangrik weet ek nie. Hy kom al vyf-en-twintig jaar sonder hom klaar, dus … U moet maar oor ’n dag of drie weer skakel. Ons weet nie presies wanneer hy terug sal wees nie. Goeiedag, meneer.”

      Dick glimlag tevrede. “Wanneer hy weer bel, kan ons miskien begin onderhandel.”

      Twee dae later onderhandel Midas egter self. Die spanning lê geboogsnaar in hom en hy besef dat dit nie goed vir sy hart is nie. Hoe gouer hierdie saak na ’n punt gedryf word, hoe beter. Hy het nie tyd vir verdere speletjies nie.

      “Ja. Dis Midas Hammond wat praat.”

      “Ek het na jou gesoek.”

      “Jy het my nou gekry.”

      “Wel? Hoeveel is jou seun vir jou werd, meneer Hammond?”

      Midas kners op sy tande. Hy is nie daaraan gewoond dat die hef in ’n ander hand is nie. “Ek sal jou dit wys die dag wanneer ek my seun voor my sien staan.”

      “Dis nie goed genoeg nie, Hammond. Hy moet eers gekry word … en dit gaan geld kos.”

      “Ek betaal nie verniet nie. Die dag as my seun voor my staan, sal ek jou vergoed.”

      “Hoeveel?”

      Midas swyg ’n oomblik. Hoeveel sal hy betaal om sy seun voor hom te sien staan? Hoeveel geld is ’n kind vir ’n ouer werd? Hoeveel geld is Midas Hammond se seun vir hom werd?

      “Vyftigduisend.”

      ’n Gedempte lag klink op. “Jy praat van kleingeld, Hammond. As hy dan vir jou so min werd is, waarvoor soek jy hom?”

      “Vuilgoed!”

      “Dit sal net die prys verhoog. Jy is ’n man wat elke dag in miljoene praat.”

      “Maar nie met skurke nie.”

      “Miskien dan in halfmiljoene met skurke?”

      “Jy is mal!”

      “En jy is dwaas, Midas Hammond. Ek is die enigste mens wat jou na jou seun kan lei. As jy nie my aanbod aanvaar nie, sal jy hom nooit sien nie. Dit sal jammer wees. Julle sal van mekaar hou. Elkeen briljant in sy eie rigting.”

      Midas lek oor sy lippe. “Wat is syne?”

      ’n Geamuseerde laggie klink op. “Jy sal jou verbaas! Goed. Ek bel weer om te hoor hoe jy oor die halfmiljoen voel.”

      “Ek is lus en stuur jou in jou peetjie!”

      “Dit kan jy doen, meneer Hammond. Miskien sal jy later net ’n ronde miljoen of meer moet betaal om jou seuntjie te kry. En wanneer ons met Sean klaar is, bly jou dogtertjie nog oor, nie waar nie?”

      “My … dogter?”

      “Ja. Of stel jy nie in haar belang nie?”

      “Jou skurk!”

      Weer die laggie. “Jy noem my name, Hammond, maar jy het nie ’n benul watter name jou kinders genoem kan word nie.”

      Dis ’n oomblik stil. Dan laat Midas stadig hoor: “Ek kry die gevoel dat ek hierdie soektog moet aflas. Jou aantygings maak dat ek belangstelling verloor.”

      Die persoon aan die ander kant aarsel ook, kom dan tot ’n besluit: “Ek het ’n voorstel, meneer Hammond. Kom Kaap toe. Ek sal met jou in verbinding tree en dan kan ons verder praat. Maar kom alleen. Moenie een van jou speurders saamsleep nie. Dan kry jy nie ’n enkele woord uit my nie, al bied jy my hoeveel aan.”

      “Sodat ek reg in jou hand kan speel? Jy dink seker ek is onnosel. Ek gaan nie ooreenkomste met skurke aan nie.”

      “Jy is maar net ’n ander soort skurk as ek, Midas Hammond. En baie van jou transaksies is met skurke beklink. Jy weet dit. Maar daar bestaan iets soos ’n eergevoel tussen skurke. Gee my jou woord dat jy alleen kom en ek gee jou myne dat jy veilig is. Jy wil jou kinders hê, of dan ten minste uitvind wie en waar hulle is. Ek wil geld hê. Ek sal nog verder gaan. Die dag wanneer jy jou twee kinders gekry het, kan jy self besluit hoeveel dit vir jou werd was. Redeliker as dit kan ek nie wees nie, of hoe?”

      Midas frons. Iets snaaks is aan die gang. Iets ongerymds. “Wat maak jou skielik so redelik?”

      Dis ’n oomblik stil aan die ander kant. Dan kom die verrassende antwoord: “In elke heilige skuil daar êrens ’n skurk, meneer Hammond. Dis ook waar dat daar iets van ’n engel in elke skurk skuil. Daarom dat ek nou so redelik is. Maar moenie jou geluk te veel beproef nie. Daar is baie meer van die skurk in my.”

      Ook Midas is ’n oomblik stil. “Waar moet ek met jou kontak maak wanneer ek in die Kaap kom?”

      “Moet jou nie daaroor bekommer nie. Ek sal alles reël. Wanneer kan jy kom?”

      “Dit sal ’n rukkie duur. Daar is baie om te reël. Ek …”

      “Natuurlik! Die koning van Babel kan nie sommer net ’n paar dae lank verdwyn nie. Ek verstaan.” Daar is ’n fyn spot in die stem, dan weer saaklik: “Ek bel jou weer oor ’n week.”

      Die gehoorbuis word met ’n klikgeluid aan die ander kant neergesit.

      Die jong man stap by die hokkie uit, staan ’n oomblik besluiteloos, koers dan ’n rigting in. Die frons tussen die oë verraai sy ontevredenheid met homself. Wat het hom dit laat sê? vra hy homself kwaad af. Iets van ’n engel … Sy mond trek grimmig. Engel! Dis nie ’n woord wat by hóm pas nie. Die erkenning dat daar wel so iets in hom kan wees, is lagwekkend. Wat het hom juis aan daardie woord laat dink?

      ’n Paar oë … Hulle is skielik weer voor hom. Sagte, vriendelike oë … waaruit iets straal wat hy nie ken nie. Maar dis daar. En ’n stem … so sag en vriendelik soos die oë …

      Die ontmoeting tussen hom en die vreemde meisie het daardie nag plaasgevind nadat hulle die vreemdeling uit hul strate verdryf het. Die frons verdiep. Dit was ’n ander soort nag. Eers was daar die vreemdeling met die onbekende naam op sy lippe. Sean Hammond. Dis eers nadat die man al om die hoek verdwyn het, dat hy besef het die naam is tog vaag bekend. En toe die besef … Hy het die vreemdeling agtervolg, gesien hoe hy wegry, die registrasienommer in sy geheue vasgelê. ’n Ruk later het hy die motor by ’n nabygeleë hotel opgespoor. The Bats het oral kontakpersone in die stad. ’n Kelner het gou vir hom die eienaar van daardie motor en sy kamernommer opgespoor. Vir ’n lid van die Vlermuise was dit kinderspeletjies om op die balkon te kom. Toe die telefoongesprek – dié Sean Hammond na wie gesoek word, is Midas Hammond van Babel se seun!

      Hy het padgegee, teruggekeer na die agterstrate waar niemand met hom skoor soek nie. Hy het nie links of regs gekyk nie. Daar was te veel om oor te dink. Hy het later teen ’n lamppaal gaan leun. Midas Hammond soek na sy seun!

      Dis toe dat sy verskyn het … die meisie … en ’n man by haar. Hy het na haar gekyk sonder om werklik te hoor wat sy sê. Midas Hammond se seun …!

      “… Seun van God vir jóú ook gesterf …”

      Seun van God … Seun van Midas


Скачать книгу