Elza Rademeyer Omnibus 5. Elza Rademeyer
Elza
Rademeyer
OMNIBUS 5
Raaisel van die liefde • Klippie in die skoen • Verlange na Brandersbaai
JASMYN
Raaisel van die liefde
1
Pikkie klap vererg die motor se deur toe nadat sy met ’n groot gesukkel die verflenterde sonskerm teen die agterruit aangebring het. “Ek smyt die ding sommer in die asdrom!” sê sy vies toe sy op die stoep van die huis by haar vriendin aansluit. “Miskien sal ek dán onthou om ’n nuwe te koop.”
“Jy praat seker van die sonskerm,” sê Riana met ’n glimlaggie. “Want jy gaan sukkel om die motor in die asdrom te kry.”
“Moenie nog spot nie. Ek weet nie waar ons gedagtes was toe ons dié huis gekoop het nie. Verbeel jou, twee motors, maar net een garage!”
“Jy vergeet ons is maar net onderwyseresse,” sê Riana. “Ons sou nêrens in die wêreld met die salaris wat ons verdien ’n huis met twee garages kon koop teen die prys wat ons vir hierdie een betaal het nie. Maar moet jou nie bekommer nie, ek het nou net op pad terug van die skool af aan ’n briljante plan gedink.”
“Watter plan?” vra Pikkie terwyl sy die voordeur oopsluit en instap.
“Iets wat ons nie ’n fortuin sal kos nie, maar amper net so goed soos ’n tweede garage sal wees. Ons bou vir ons ’n afdak.”
“ ’n Afdak? Waar nogal?”
“Voor die garage se deur.”
“En wat gaan dit kos?”
“Ek weet nie, maar ons kan uitvind. Dit behoort nie veel te kos nie, want al wat ons nodig het, is vier pale en ’n paar sinkplate.”
“Sinkplate!” sê Pikkie agterdogtig. “Ons kan mos nie ’n garage van sinkplate bou nie. Dit sal soos ’n plakkerskamp lyk!”
“Nie ’n garage nie, man, ’n afdak!”
“Nogtans. Die bure sal kla. Dis nou weliswaar nie die spoggerigste buurt wat ek al gesien het nie, maar dis darem ook nie so agtergeblewe dat die mense ’n sinkplaatstellasie hier sal verdra nie.”
“Ons verf dit, dieselfde kleur as die huis. En as ons daardie rankplant by die kombuisdeur uithaal en hier plant sodat dit kan oprank, sal niemand ooit raai dis van sinkplate aanmekaargesit nie.”
“Jy sê ons bou dit voor die garage?”
“Ja, tussen die garage en die straat.”
Pikkie stap terug na die voordeur en loer na buite. “Is hier genoeg spasie vir ’n afdak?”
“Ja, wat. Hier is mos nie sypaadjies nie. Almal se tuine strek tot teenaan die randsteen, so dit sal nie saak maak as ons afdak daar naby die straat eindig nie.”
“Sal dit nie die huis se aangesig belemmer nie? Die voorkant lyk al klaar so afgeskeep met dié dat die garage half voor die huis gebou is en nie langs hom nie.”
“Wel, ons het een van twee keuses. Ons motors roes verder op in die wind en weer, óf ons bou ’n afdak.”
Pikkie kyk na haar motor waar dit in die warm son staan en bak en knik stadig haar kop. “Goed, ons bou ’n afdak. Maar wie gaan dit doen?”
“Wat van die man wat oom Jorrie se tweede garage gebou het? Hy werk glo goedkoop.”
“Die man wat . . .? Maar oom Jorrie is dan juis so ontevrede!” sê Pikkie onthuts. “Hy sê sy garage se dak lek soos ’n sif! As hy onder oom Jorrie se skerp oë so ’n gemors aangevang het, wat dink jy gaan hy met ons doen?”
“Wag nou, man. Ons kan mos met hom akkoord gaan dat hy nie ’n sent betaling kry alvorens ons tevrede is met sy werk nie. Dis waar oom Jorrie die fout gemaak het. Hy’t hom vooruit betaal. Meen te sê, tot tyd en wyl ons met ryk mans trou, kan ons nie juis kies en keur nie. Ons ouers het klaar die huis se deposito vir ons betaal, ons kan nie verwag hulle moet ons nog met die geld vir ’n afdak ook help nie.”
“Asof ryk mans agter elke bos uit te skop is,” mompel Pikkie. “Maar kom ons gaan soek iets om te eet. Ek is so honger ek kan ’n os verorber.”
“Ek ook,” sê Riana. “Wat eet ons vanaand?”
“Ek weet nie. Dis jóú beurt om kos te maak.”
Riana gee ’n kreun. “Ek haat dit om kos te maak. Dit sal my nog daartoe dryf om ’n man te soek. Een wat ’n huishoudster én ’n kok kan bekostig.”
“Hoekom los ons nie die afdak en stel ’n huishoudster aan nie?” vra Pikkie met ’n borrellaggie.
“Nooit! Vir ’n afdak betaal ’n mens net een keer. ’n Huishoudster moet maand na maand betaal word, en as jy nie oppas nie, word jy nog besteel ook.”
“Wanneer word ’n meisie nou eintlik as ’n oujongnooi gereken?” vra Pikkie toe sy haar tas optel om dit kamer toe te neem. “Van dertig af?”
Riana frons. “Ek dink so. Dit beteken natuurlik ons twee sit albei op die rak voor die jaar om is. Geen wonder die ou tante hier langsaan het nou die dag sulke snaakse vrae gevra nie. Sy dink sweerlik ons is ’n paartjie.”
“As sy sulke afleidings wil maak, is dit haar saak,” sê Pikkie ongeërg voordat sy glimlaggend haar kamer binnegaan.
Daar is seker geen ander mens op aarde met wie sy so goed oor die weg kom soos met Riana nie, dink sy terwyl sy haar netjiese klere vir ’n sweetpak verruil. Al is hul geaardhede taamlik uiteenlopend. Want Riana is ’n ekstrovert, altyd omring van vriende en vriendinne en op ’n kuiery uit, terwyl sy rustigheid en stilte verkies. Al wat hulle regtig gemeen het, is die feit dat hulle albei nog ongetroud is en nie veel erg aan mansmense het nie. Riana, omdat sy vroeër ’n liefdesteleurstelling gehad het. En sy, Pikkie, omdat die regte man nog net nooit opgedaag het nie.
Of het hy, en was dit haar ondeurdagte opmerking wat gemaak het dat hy nie eens haar telefoonnommer gevra het nie?
Haar gedagtes gaan onwillekeurig terug na die dag ’n klompie weke gelede toe sy met Neville Meyer kennis gemaak het. Sy gee ’n suggie en gaan sit op die bed. Dit was die ongewoon warm dag aan die einde van die winter-skoolvakansie wat haar laat besluit het om die Sondagmiddag Bloubergstrand toe te ry. En die gedagte dat dit heerlik sal wees om sommer net in die son te lê en ontspan. Want terwyl Riana die hele vakansie by haar ouers op Swellendam deurgebring het, was sy net ’n week lank by haar ouers op Riversdal voordat sy teruggekom het om hul huis en verwaarloosde tuin agtermekaar te kry. Riana het mos geen erg aan waar ’n stoel of meubelstuk moet staan nie. Wat nog te sê van kruideniersware wat in kaste moet kom.
Die middag op Blouberg het sy eers ’n ent al met die strand langs gaan stap en daarna teruggekom om ’n entjie weg van die ander baaiers op haar handdoek te gaan lê. En toe raak sy sowaar aan die slaap. Haar eerste gewaarwording van die tyd wat aangestap het, was toe sy natgesweet wakker skrik van ’n manstem en vaskyk in die blik van ’n hurkende man langs haar. Sy het haar skoon oorhoeks geskrik. “Wat wil jy hê?”
“Ek het onrustig geraak. Voel jy siek?”
“Nee, vir wat sal ek siek voel?”
Hy’t haar fronsend aangekyk. “Jy lê al meer as twee uur hier in die son. Kyk hoe rooi is jy gebrand.”
“Ek het aan die slaap geraak.”
“Het jy nagdiens gewerk?”
“Nee, dis dan Sondag. Ek bedoel, ek hou skool en dis mos vakansie.”
“O, jy hou skool. Het jy self kinders?”
“Nee, ek is ongetroud.”
“Wel, jy beter opstaan uit die son. Jy kan velkanker . . .”
“Dis nie nodig om vir my te preek nie.” Sy was steeds vies oor hy haar so laat skrik het. “Die son is glad nie so warm nie.”
Hy’t ongeërg sy handdoek oor haar skouers gegooi en hom op die sand