Elza Rademeyer Omnibus 5. Elza Rademeyer
nie . . . sy sweef. Haar verstand swymel . . . Toe hy vir haar ’n stoel uittrek langs een van die tafels en sy hom daarvoor bedank, is haar stem so hees dat sy dit skaars herken as haar eie. En toe hy vra of hy vir haar iets kan gaan haal om te drink, is sy genoodsaak om eers asem te skep alvorens sy hom kan antwoord.
Sy staar hom agterna toe hy wegstap. Sy vaste tred, die vitaliteit van sy rugkant, die digtheid van sy swart hare, die deftige duur snyerspak wat sy liggaam vlei . . . Toe hy by die kroegtoonbank verskuil raak agter die ander manlike gaste, kyk sy om haar rond. Die keurig gedekte tafels, dowwe beligting en die gaste wat in die groot onthaallokaal sit of rondstaan met glasies in die hand . . . Sy was al voorheen met sulke glansgeleenthede hier, maar alles is skielik anders. Alles is in ’n waas gehul. Dit laat haar wonder of sy haar nog op aarde bevind, of op ’n vreemde planeet . . .
Sy knip-knip haar oë. Kom dan agter die stoele om die tafel waar sy sit, is almal leeg. Het hy dan nie iets gesê van haar voorstel aan hul tafelgenote nie? Waar is hulle dan? En sy vrou? skrik sy haar skoon nugter. Hy sal mos getroud wees! Sy soort loop nie los rond nie. Hy’s opsigtelik nie meer so jonk nie. Nader aan veertig as aan dertig, as sy moet skat. Haar blik dwaal vinnig oor die rondstaande groepies mense. Daar is so baie mooi vroue, hoe sal sy weet watter een is sý vrou?
Toe hy van die kroegtoonbank af terugkeer, sien sy hom dadelik raak. Dis asof hy kop en skouers bo almal uitstaan, al is hy nie van buitengewone lengte nie. Halfpad tafel toe sluit ’n vrou by hom aan. Sy haak by hom in en Pikkie sien hoe hy na haar afkyk en glimlag. Sy kan kwalik haar teleurstelling onderdruk. Nie net oor hy wel ’n vrou het nie, maar oor hoe sy lyk. By mollig verby, met ’n rok wat haar groot figuur glad nie vlei nie. Oordoenerige bonkige juwele. Sy lyk beslis ook nie meer jonk nie!
Haar verligting is groot toe hy die vrou as sy tante aan haar voorstel. Sy moes kon dink ’n man soos hy sal beter smaak aan die dag lê wanneer dit by die keuse van ’n vrou kom!
Sy tante is nie vriendelik nie. Sy reageer bot en uit die hoogte op Pikkie se vriendelike groet. “Noem my Susan. Ek is nie getroud nie, en is ook nie van plan om te trou nie. Daar is te veel egskeidings en wankelende huwelike.”
Haar houding laat Pikkie ongemaklik voel. Maar gelukkig is daar skielik ’n toestroming van gaste na hul tafel aan wie Brian haar voorstel. Nie dat sy ’n enkele een se naam sal onthou nie, want hy staan langs haar stoel terwyl hy dit doen. So naby dat niks anders registreer nie. En toe hy klaar is met die bekendstelling, kom sit hy op die stoel langs haar en skuif haar glasie nader. Toe tel hy syne op en hou dit na haar uit om daarteen te klink. “Op die heel mooiste meisie hier.”
Sy sagte, intieme stem en die bruin oë wat van onder die lang, sysagte wimpers na haar loer, laat honderde vlinders in haar maag los. “Dankie vir die kompliment, maar miskien kort jy ’n bril,” probeer sy flouweg ’n grappie maak.
Hy lag saggies. “O nee, daar skort niks met my oë nie. Maar vertel my ’n bietjie van jouself. Wat doen jy vir ’n lewe?”
Dit kos inspanning om normaal op al sy vrae te antwoord en nie te laat blyk watter aardskuddende effek hy op haar het nie. En dit bly so. Die ander mense om die tafel vervaag, word net vae skimme. Dis net sy en Brian op die vreemde planeet . . . Net soms wonder sy vaag hoekom hy sy tante as metgesel saamgebring het. Iewers in sy lewe moet daar tog ’n vrou of meisie wees.
Op ’n keer toe sy die badkamer gaan besoek, loop sy Yolanda in die gang raak. “Geniet jy die aand?” vra haar vriendin met oë wat ondeund vonkel.
“O ja, baie. Dankie dat jy my genooi het.”
“H’m, ek sien jy en Brian gesels so lekker. Hóm moet jy nie deur jou vingers laat glip nie, hoor. Sorg dat jy jou kloue behoorlik en diep in hom slaan. Jy sal nie ’n fout maak nie,” sê Yolanda voordat sy verder loop.
Pikkie staar haar agterna. Geluk bars soos ’n seepbel in haar oop. Yolanda sou nie so iets gesê het as hy ’n vrou het nie. Dis amper te goed om waar te wees!
As dit nie vir Brian was nie, sou sy kort ná ete vertrek het. Maar sy is vasgevang deur sy teenwoordigheid. Hy is alles wat ’n vrou kan begeer. Sy kleredrag, ooglopend duur polshorlosie en selfversekerdheid voorspel dat hy in ’n ander klas is. Bepaald nie ’n onderwyser of ’n boer nie. Dis al wat haar ’n bietjie pla. Sy is nie soos Yolanda wat ewe tuis voel tussen die rykstes van die rykes nie. Sy het bloot nie soveel selfvertroue nie.
Toe sy haar weer kom kry, het meer as die helfte van die gaste al vertrek. Hoe traag sy ook al voel om te gaan, sy sal moet afskeid neem. Sy kan nie tot die laaste minuut bly nie. Netnoumaar kom hy agter haar hele aand draai net om hom.
“Hoe het jy hier gekom?” wil hy weet toe sy begin groet.
“Op my eie. Met my motor.”
“Ek sal agter jou aanry.”
Haar hart slaan bolmakiesie. “Dis nie nodig nie, ek sal regkom,” sê sy nogtans halfhartig.
“Ek glo jou. Maar ek verkies nog steeds om toe te sien dat jy veilig jou tuiste bereik. Ek gaan vra net gou my tante of dit reg is dat sy nog ’n rukkie hier kuier.”
Sy kan nie help om op pad huis toe heeltyd te wonder of hulle mekaar na dese weer gaan sien nie. Die bewondering in sy oë . . . Verbeel sy haar sy het op hom ook ’n besondere indruk gemaak? Wat gaan sy doen as sy hom nooit weer sien nie? Dit sal bitter moeilik wees om dié aand te vergeet.
Die huis is in donker gehul toe hulle daar aankom. Wat sal sy reaksie wees as sy hom binnenooi vir koffie? wonder sy. Sy klaar dit vinnig met haarself uit. As sy hom nooi en hy aanvaar die uitnodiging, sal sy weet hy voel tot haar ook aangetrokke. Wys hy dit van die hand, sal dit beteken hy was maar net goed en gaaf teenoor haar omdat hulle albei nie metgeselle gehad het nie.
“Jy wil nie dalk binnekom vir ’n koppie koffie of tee nie?” vra sy oënskynlik ongeërg nadat hy die sleutel by haar geneem en die deur oopgesluit het.
“Ek was bang jy vra my nie.”
Haar hart slaan weer bolmakiesie. “Sit, dan gaan skakel ek gou die ketel aan,” nooi sy toe hulle in die sitkamer kom. Maar hy drentel agter haar aan om leunend teen die kombuisdeur se kosyn te gaan staan. Sy blik is grotendeels versluier agter die lang donker wimpers, maar sy weet hy staar na haar. In haar lewe het sy nog nooit so onhandig gevoel nie. Selfs minderwaardig. Wat dink hy van die klein, eenvoudige tweeslaapkamerhuisie waarin sy bly, die vuil skottelgoed wat Riana in die wasbak gelos het? Intuïsie sê vir haar hy ken nie sulke dinge nie. Sy hele voorkoms spreek van welvarendheid. Sou hy ook ’n advokaat wees?
Op die een of ander manier kry sy dit reg om die koppies en koffie op die skinkbord te sit sonder ’n blaps. Maar toe hy die skinkbord by haar neem, sit hy dit op die kombuis-toonbank neer en kom staan digby haar. So naby dat sy bang is hy hoor haar hart bons. “Pikkie,” sê hy sag in sy fluweelstem, “ek glo baie mans het al vir jou vertel hoe asemrowend mooi jy is. En ek het dit daar by Yolanda-hulle ook al genoem. Maar ek wil weer sê, jy is pragtig.”
Sy weet nie waar om te kyk nie en nael haar blik vas op die lapelle van sy baadjie. “Dankie. Die koffie . . . Sal ons dit in die sitkamer gaan drink?”
Hy antwoord nie. Kyk haar net ’n paar oomblikke stil aan voordat hy sy hande op haar skouers sit. “Ek het vandat my blik vir die heel eerste keer op jou geval het, net een begeerte.”
Dit voel of haar hart dwarsdeur haar ribbes gaan skop. “En dit is?” vra sy met stembande wat amper nie wil funksioneer nie.
“Om jou te soen . . . Mag ek?”
Daar kom nie ’n geluid by haar mond uit nie. Haar stem is weg en haar kop knik asof vanself.
Dis nie die eerste keer dat ’n man haar soen nie. Verskeie mans het dit al gedoen en sy het teruggesoen. Meestal oor sy gevoel het sy skuld hulle iets oor hulle haar uitgeneem het. Soms net uit nuuskierigheid om te sien of hulle emosies in haar kan wek. Maar nog geen soen het haar kop só laat draai, haar verstand só laat swymel nie. Al doller en doller totdat die hartstog so ’n oorhand oor haar kry dat sy hom met vuur terugsoen en met genoegdoening voel hoe dit die drif in hom aanwakker. En toe hy haar omswaai