Drome van liefde. Schalkie van Wyk

Drome van liefde - Schalkie van Wyk


Скачать книгу
oulike, goudbruin spikkels in die irisse van jou oë, juffroutjie? Stukkies goud … net soos die sproetjies op jou neus. Hmm, ek hou daarvan … ek hou werklik daarvan. Ek is Jean-Pierre du Pont, en jy is …?” stel hy homself bekend en steek sy regterhand na haar uit om te groet.

      “Meneer Du Pont,” fluister sy, te bang om hard te praat en die slang om haar nek te laat skrik, “ek lyk dalk nie so nie, maar ek kan sterf van vrees! Vat die slang weg en maak hom dood voordat ek ’n toeval kry!”

      “Maar juffroutjie, waarom sal ek ’n onskuldige molslangetjie doodmaak, as …” begin die man, maar hy kry nie die kans om sy sin te voltooi nie.

      “Sê haar, oom!” skree Gerrie met skrille verwyt in sy stem langs haar, steek sy hand uit en laat die molslang toe om oor sy hand en om sy arm te krul. “So ja, jy is nou weer veilig, ou Jannie. Sy naam is Jannie, oom, maar my … my ma sal hom vermoor. Sal oom asseblief vir my ma sê klein slangetjies soos ou Jannie is nie giftig nie?”

      Sanet, wat nog roerloos voor Jean-Pierre bly staan, te bang om asem te haal selfs nadat Gerrie die molslang verwyder het, sien verwonderd hoe die glimlag op Jean-Pierre se gelaat vinnig plek maak vir wisselende uitdrukkings van teleurstelling, ongeloof en afkeer.

      “Jou ma? Genugtig, jy was seker ’n kinderbruid … of liewer, ’n kleuterbruid,” sê hy misnoeg.

      Wat ’n onopgevoede lummel om so ’n persoonlike aanmerking te maak, dink Sanet terwyl ’n gloed van verontwaardiging oor haar nek en gesig kruip. As Gerrie net wil padgee met sy molslang, sal sy haar genoeg vererg om die verwaande vreemdeling op sy plek te sit.

      “Gerrie meen sy is ons stiefma, oom,” verbeter Peet op Gerrie se leuen, klim uit die motor en draf nader. “Oom weet mos hoe kwaai is ’n stiefma, maar ou Sanet is boonop verskriklik wreed! Oom se ma sou mos nooit ons arme ou Jannie vermoor het nie, nè, oom?”

      Sanet merk hoe snel die uitdrukking van misnoeë van Jean-Pierre se gesig verdwyn terwyl hy beurtelings na haar en die tweeling kyk. Hy glimlag hartlik vir haar en sy sluit haar oë vinnig sodat sy nie na hom of die molslang hoef te kyk nie.

      “Dan is die molslangetjie jul troeteldier?” verneem hy belangstellend.

      “Ja, oom, want hy het nie hare nie, sien?” verduidelik Gerrie. “Ons oom Lukas Grové kry hooikoors, daarom mag ons nie ’n kat of ’n hond of … haai, Sanet, wat van ons? Moet ek en Peet ook al ons hare afskeer, of sal ons nie vir oom Lukas hooikoors gee nie?” vra hy bekommerd.

      Sanet hou haar oë styf toegeknyp en ril aanhoudend, nie seker of dit net haar verbeelding is wat haar nek nog koud en glibberig laat voel nie. Sy is nog haar lewe lank bang vir alle reptiele. Selfs paddas maak haar half waansinnig van vrees, maar ’n werklike, lewendige molslang …!

      Sy sluk droog, ineens naar, en veg om haar gevoelens onder beheer te kry. As die tweeling maar weet hoe sy slange vrees, sal hulle haar lewe ondraaglik maak, daarom mag sy nie vir hulle wys hoe bang sy is nie. As die vreemdeling net wil padgee, sal sy moontlik weer dissipline oor die seuns kan handhaaf, want hy is klaarblyklik hulle bondgenoot.

      Gelukkig het sy nog altyd geweet hoe om van lastige mans ontslae te raak, dink sy, maak haar oë oop en kyk vas in Jean-Pierre se glimlaggende gesig. Sy is woedend.

      “Kinderbruid … gmf!” snou sy, maar merk uit die hoek van haar oog dat Gerrie sy arm met die molslang na haar uithou en vergeet van haar besluit om van Jean-Pierre ontslae te raak. Sy swaai vinnig om en slaag daarin om met ’n vertoon van verontwaardiging na haar motor te stap en die deur agter haar toe te slaan en te sluit.

      “En julle twee bly net daar totdat julle van daardie molslang ontslae geraak het!” roep sy dreigend deur die oop motorvenster, draai dit dan vinnig toe en gluur Jean-Pierre en die tweeling deur die voorruit aan.

      Sy sien hoe die tweeling na die molslang en dan na haar beduie, sien hoe Jean-Pierre iets sê en wens sy kan hoor wat hulle te sê het oor haar. Stiefma … verbeel jou! Wat het in die twee seuns gevaar? En dat ’n vreemde man die vermetelheid het om haar ’n kleuterbruid te noem!

      Sy kyk met halfhartige belangstelling na Jean-Pierre du Pont. Hy is ’n baie lang man, breedgeskouerd en met die voorkoms van ’n donker Fransman, soos sy naam aandui. Sy neem aan ’n Hugenote-voorouer het vir sy swart hare, swartbruin oë en sterk aristokratiese gelaatstrekke gesorg, maar dit was beslis ’n Hollandse of Duitse voorvader wat vir sy forsheid van gestalte verantwoordelik is. Sy skat hom nie jonger as vyf-en-dertig nie, hoewel sy glimlag hom baie jonger laat lyk. Sy hou van sy glimlag, flits die besef deur haar bewussyn en sy vererg haar onmiddellik vir haarself. Heel waarskynlik is hy jare lank reeds getroud, loop haar gedagtes verder en sy merk met verligting dat hy nie ’n troupand aan sy ringvinger dra nie. Baie mans dra nie trouringe nie, wys sy haarself tereg, en ’n man soos Jean-Pierre wat ’n vreemde meisie trompop loop en vertel sy het stukkies goud in haar oë …

      Sanet sug en loer in die truspieëltjie, maar dan ruk sy om na die passasiersdeur links van haar en sien hoe Jean-Pierre op die sitplek gaan sit en gemaklik regskuif asof hy van plan is om lank te kuier.

      “Ek was nie ’n kleuterbruid nie!” snou sy hom toe en bloos vuurrooi omdat sy soos ’n katterige kleuter klink en oor iets rusie maak wat die vreemdeling tog nie kan raak nie.

      Wat skort met haar? Sy was reeds drie dae voor Kersfees vyf-en-twintig, en almal wat haar ken, bewonder haar oor haar ysige selfbeheersing en kille waardigheid; daar is selfs enkele mans wat haar opreg bejammer oor haar onkreukbare selfdissipline, want hulle voorspel ’n eensame oudag van oujongnooiskap vir haar.

      Watter vreemde invloed het Jean-Pierre du Pont op haar dat sy van ’n koue, professionele rekenmeesteres in ’n twisgierige kind kan verander? vra sy haarself af en blik ongemaklik na hom.

      Hy glimlag vir haar en sy glimlag laat haar onmiddellik vergeet wie of wat sy is. Dit laat haar vergeet van haar woede jeens hom en van die tweeling se molslang, want daar is soveel warmte en opregte belangstelling in sy glimlag dat sy vir die eerste keer in baie jare voel asof sy nie langer alleen buite in die koue staan nie.

      “Ek is so bly, want nou kan ek jou mý bruid maak,” antwoord Jean-Pierre en nou vonkel sy glimlag onnutsig.

      Dan is hy een van daardie soort mans, dink sy teleurgesteld. Hy is die soort wat elke tweede meisie vra om met hom te trou, omdat hy te onnosel is om ’n interessante gesprek te voer. Gelukkig het sy op vyf-en-twintig geleer hoe om alle soorte mans te hanteer, daarom is Jean-Pierre dalk ’n bietjie lastig, maar geensins ’n probleem nie.

      “Meneer Du Pont, ek is vanoggend voor dagbreek uit Johannesburg weg en teen hierdie tyd is ek moeg en honger en nie lus vir sottepraatjies nie. As jy uit my motor klim, kan ek en my nefies na my oom Lukas Grové se huis gaan soek,” sê sy styf.

      “My naam is Jean-Pierre en as jy regtig van plan is om ’n plattelander te word, vergeet dan jou stadsmaniertjies en noem my op my naam. Ek gaan jou beslis nie juffrou Grové noem nie, want dan klink jy sommer klaar soos ’n oujongnooi, al is jy nog nie een nie. Reg, Sanet?” vra hy.

      En sy weet hy het haar op die een of ander manier beledig, maar hy hou aan glimlag en sy begin aan die getuienis van haar eie ore te twyfel.

      “Dis wat oom dink!” praat Peet onverwags langs Jean-Pierre en steek sy kop deur die oop venster. “Arme Sanet is klaar ’n oujongnooi, oom, want sy was al vyf-en-twintig en ons tant Dassie sê as ’n meisie eers vyf-en-twintig is, is dit uit en gedaan met haar, want al wat vir haar nog oorbly, is ’n ou wewenaar of dalk ’n geskeide man.”

      “ ’n Ordentlike, geskeide man, maar hulle is maar skaars,” verbeter Gerrie op Peet se vertelling. “Ons tant Dassie sê as vroumense nie so geduldig was nie, was daar net geskeide mans. Het oom gesien hoe lank is Sanet? Dink oom sy is lankmoedig genoeg om nie te skei as oom instem om met haar te trou nie?”

      Sy ken haar tweelingnefies nege jaar lank – altans, sy het geglo sy ken hulle. Hulle was Gerhard en Hermien se oulike babas, dierbare kleuters en kostelike seuntjies, want hulle het gewoonlik buite in die tuin of in hulle speelkamer gespeel. Hulle was werklik oulik … tot vandag toe. Waarom


Скачать книгу