Die dieper droom. Ena Murray
Slaap … Slááp terwyl hy nie ’n opvolger het as hy dalk in sy slaap sterf nie? Slááp terwyl hy iemand moet kry, iemand moet soek wat ná hom ’n koning van Babel kan wees?
“Roep vir Toby.”
“Meneer Hammond, u moet nou eers rus. Toby kan later kom.”
Dit het nog nooit gebeur nie. Niemand weerspreek of verontagsaam ’n bevel of wens van Midas Hammond nie. Dis ’n vreemde dag. Eers hoor hy woorde wat hy al vergeet het. Dan is daar gedagtes wat nog nooit voorheen by hom opgekom het nie. En nou word hy deur ’n verpleegstertjie beveel om hom soos ’n soet kind te gedra.
En Midas Hammond slaap.
Dis ’n paar uur later dat Toby die kamer binnesluip, afkyk op die slapende gesig. Hy het Midas nog nooit só gesien nie. Hy staan ’n rukkie so, bestudeer die gesig. Niemand ken Midas Hammond werklik nie. Die dinamiese geldmagnaat se menswees is vir almal geslote. Sy geniale brein is vir niemand ’n geheim nie. Die grenslose verbeeldingskrag verstom almal.
Maar verder as dit kom niemand nie. Almal weet dat hy onvermoeid twintig uur per dag kan werk, dat meer vroue as wat hy kan onthou al voor sy sjarme geswig het. Maar die ware Midas Hammond ken niemand nie. Nie hý wat elke dag saam met hom werk nie, nog minder een van sy drie vrouens of talle minnaresse. Midas Hammond ken die wêreld se mense – maar hulle ken hóm nie.
Voordat hul paadjies gekruis het, was die naam Midas Hammond al bekend vir hom. Geen mens in hierdie land het seker nog nie daardie naam gehoor nie. Baie is al oor hom gesê. Toe hy by Midas begin werk het, het hy uitgevind baie van die stories is verdraai of onwaar. Maar hy weet ook die helfte is nog nie oor hierdie man vertel nie.
Hy sien eers die meisie raak toe sy langs hom kom staan.
“Sjuut. Hy slaap.” Hy vervolg op dieselfde fluistertoon: “Dag. Waar kom jy vandaan?”
“Pas aangekom. Hoe gaan dit met hom?”
“Dis nie te ernstig nie, maar as hy hom nie gaan oppas nie …” Hy bestudeer haar ongemerk, sien hoe die geskiedenis hom herhaal. Só het Lana-Mari ook vyf, ses jaar gelede gelyk: beeldskoon, ’n jeugdige blos op die wang en die bewondering, verliefdheid en trots openlik in die oë. Stralend soos net ’n begunstigde onder die vroue kan lyk. Midas Hammond kan immers kus en keur dwarsoor die aardbol.
Die vrou wat hy netnou in ’n ander deel van die stad van goud raakgeloop het, lyk heelwat anders. Die jeugdige onskuld is weg. Die oë blink nog, maar van hardheid en ontnugtering. Die soet mond het bitter trekke in die hoeke, en meer as vyf jaar se veroudering is op die gesig afgeëts. Dis ’n vrou wat gedink het jy kan altyd in die hemel wees deur met die man te trou wat ’n tweede toring van Babel gebou het; wat ná vyf jaar weet jy kan van ’n toring afval en jouself in die proses vernietig.
Hierdie een langs hom is ook besig om teen die toring op te klim. Sy het al redelik ver gevorder. Selfs die koerantskrywers beskou haar al as die vierde mevrou Hammond. Alles in haar guns om die bopunt te bereik. Beeldskoon, jonk, skaars drie-en-twintig – soos Midas van hulle hou. Sy kan dalk bo kom … om soos al die ander weer af te val, kan Toby sweer. Daar is nie genoeg staanplek vir ’n vrou bo-op Midas se Babelse toring nie. Sy werk kom altyd eerste. Eers daarna het hy tyd en plek vir ’n vrou … en so dikwels moes die mevroue Hammond uitvind dat hul plek in Midas se bed reeds ingeneem is wanneer hulle ’n paar krummels aandag daar gaan soek. Hoe meer dit gebeur, hoe wankelmoediger raak die vastrapplek. En die val is groot.
Ná vyf jaar is Lana-Mari ook onder. Sy het hom vanmiddag vertel dat sy van Midas gaan skei, die saak reeds by haar prokureur aanhangig gemaak het. Dit sal nie vir hom of enige mens help om daardie meisietjie te waarsku nie; haar die goeie raad te gee om liewer om te draai solank sy nog kan nie. Sy is in die sewende hemel omdat Midas Hammond ’n paar keer vir haar geglimlag het. Niks sal haar laat glo dat dit miskien die glimlag van ’n duiwel is nie; dat die punt van die toring die voorportaal van ’n hel is nie. As jy eers dáár gekom het, moet jy baie gou plek maak vir ’n ander prooi.
“Lana-Mari het ook hier aangekom.”
“O?” Die flikkering van ’n ooglid. “Wat het sy hier kom maak?”
“Hy is nog haar man.”
“Maar hul huwelik is verby. Midas het my dit self gesê.” Uitdagend vervolg sy: “Ek gaan nie weghardloop nie. Ek het nie haar huwelik verongeluk nie. Sy het dit self gedoen. Waar was sy toe haar man siek geword het? Aan ’t rinkink met ’n ander man op ’n Griekse eiland. Dis haar verdiende loon.”
Toby swyg. Weens gebrek aan brood, eet jy klippe. Klippe gaan hierdie selfversekerde jong dame ook nog kou. Die spyskaarte in Midas Hammond se stad is wêreldbekend. Maar in die privaatheid van sy eie weeldesuite stel hy ’n heeltemal ander soort spyskaart vir sy vrouens op. Ook Lana-Mari moes daarmee kennis maak. Hy het gesien hoe daardie klippe haar binnekant fynmaal totdat geen illusies of drome, maar net flenters van haar selfdunk oorgebly het.
Toe begaan sy dieselfde fout as haar voorgangers. Sy is menslik. Sy wou Midas klippe voer sodat hy ook kan ly. Maar Midas sluk nie klippe nie. Hy gryp dit voordat dit hom seermaak, en gebruik dit dan as ’n wapen. Die film wat op die Griekse eilande geneem is, lê êrens in ’n geheime brandkluis in Babel waarvan net Midas die kode ken.
Die man op die bed is lankal wakker, maar hy hou sy oë geslote. Hy het die fluistertoon herken en weet wie langs sy bed staan. Dis nie nou tyd vir vroumense nie. Dis tyd vir dink.
As hy met hierdie meisie trou sodra sy egskeiding met Lana-Mari gefinaliseer is, sorg dat ’n kind onmiddellik verwek word … Nee. Dit gaan nie werk nie. Die tydfaktor is teen hom. Miskien is daar nie genoeg tyd oor om ’n kind groot te maak sodat hy sy pa se koninkryk kan oorneem nie … om ’n kind van kleins af Babel te voer totdat dit deel van sy wese word nie. Tyd om te wag dat hy ’n man word en hom dan leer om ’n tweede Midas Hammond te wees, hom as waardige troonopvolger van Babel te kroon. Miskien is daar nie genoeg tyd nie …
“Ek sal later weer kom. Sê vir hom ek is hier en ek stuur al my liefde.”
“Ek sal so maak.”
Dit word stil om hom.
“Toby …”
Hy is dadelik by. “Deksels, Midas, hoe laat jy my skrik. Ek dog jy slaap vas.”
“Nee. Ek het gelê en dink.”
“Jy het ’n besoeker gehad …”
“Ek weet. Sit. Ek het ’n opdrag.”
“In hemelsnaam, Midas, kan jy nie net ’n paar uur lank van Babel vergeet nie? Ek verseker jou elke steen staan nog stewig. Ek was in verbinding met Honolulu en die kontrak is …”
“Sit, Toby.”
“Nee! Jy is ’n siek man. Ek gaan nou loop. Ek het oor ’n paar minute ’n afspraak met die landskapargitek en die ingenieur oor die waterval. Ek belowe jou ek sal niks besluit sonder om jou te raadpleeg nie, maar …”
“Reël dat my kinders gesoek word.”
Stilte. “Wat?”
“Ek het twee kinders – ’n seun en ’n dogter. Hulle moet gekry word.”
Toby kan hom net ongelowig aanstaar.
2
“Dan is die storie tog waar.”
“Watter storie?”
“Dat jy kinders het. Ek het dit jare gelede gehoor, maar nooit regtig geglo nie.”
“Hoekom nie?”
“ ’n Mens assosieer nie kinders met jou nie. Maar wat het van hulle geword? Jy praat nooit van hulle nie …”
Hoe kan ’n mens van iets praat waarvan jy vergeet het? “Ek het kinders, maar ek weet nie waar hulle is nie. Hulle het saam met my eerste vrou verdwyn.”
Toby kyk af na die magnaat.