Die dieper droom. Ena Murray
vrae aan Midas Hammond nie. “Hoekom” is nie ’n woord wat jy teenoor hom gebruik nie, want Midas skuld niemand ’n verduideliking nie. Hy vra dus net: “Jy wil hê hulle moet gesoek word. Weet jy waar ’n mens kan begin?”
“Durban. Dis waar ons paaie geskei het.”
“Hoe lank gelede?”
Hy moet dink; sukkel om ou kanale van herinnering weer oop te kry. “Dit was … vier-en-twintig, vyf-en-twintig jaar gelede. Die seun moet nou … ja, vyf-en-twintig wees en die dogter is so ’n jaar jonger.”
Toby maak vinnig sommetjies. Midas is nou ses-en-veertig. Sy seun is dus gebore toe hy een-en-twintig was. Die wêreld het Midas Hammond toe nog nie geken nie. Hy was nog Grant Hammond, die gefrustreerde seun van ’n derderangse hoteleienaar naby die hawe van Durban. Op twee-en-twintig was hy al die pa van twee kinders; op drie-en-twintig ’n geskeide man. Al wat hy toe gehad het, was drome … oor ’n stad van goud.
“Het julle mekaar nooit weer gesien nie? Wat was haar naam?”
“Bev. Beverley. Almal het haar Bev genoem. Nee. Sy was net so bly om van my ontslae te wees as ek van haar.”
Toby waag dit: “Maar jou kinders …?”
“Stink, vuil, nat goedjies wat onder my oë moes uitbly. Ek was net so bly om van hulle ontslae te raak as van die ma.”
Toby verberg sy skok onder neergeslane ooglede. Hy is self nie iemand vir babas en vuil doeke en ’n geordende, geroetineerde gesinslewe nie. Kinders is by hom ook taboe. Maar as hulle eers daar is … Jou kinders is tog jou kinders. Vandag soek Midas na syne.
Toby het ’n vermoede waaroor dit gaan. Meteens is dit nie meer so vreemd dat Midas Hammond ná ’n kwarteeu daardie stink, vuil lasposte wil opspoor nie. Vir die eerste keer kom dit baie duidelik deur: Midas Hammond is ook net ’n mens. Ná die hartaanval weet hy hy moet sterf soos enige ander mens. Dit kan sy aardse koninkryk nie keer nie.
En Toby het meteens die moed om te vra: “En jy het nooit weer met hulle kontak gemaak nie? Nie eens met jou kinders nie?”
“Nee. Wat mý betref, het hulle van die aardbol verdwyn.” Die wenkbroue trek saam. “Dit tref my nou … Dit is eintlik snaaks dat Bev nooit weer met my kontak gemaak het nie, veral nadat die wiel in my guns begin draai het.”
“Het jy dan nooit onderhoud vir die kinders betaal nie?”
“Nee.” Snaaks, noudat die paadjie van sy geheue weer oopgekrap is, onthou hy skielik so baie dinge. Selfs hoe Bev gelyk het daardie dag toe sy hom finaal verlaat het. Sy het op die onderste stoeptrap van sy pa se hotel omgedraai en na hom gekyk, die seuntjie aan die hand en die baba op die arm. Hy onthou selfs haar woorde:
“Ek bid die Here dat nie ek of my kinders ooit weer ons oë op jou sal hoef te lê nie.”
En sy antwoord: “Aangesien dit die enigste gebed is wat jy nog ooit in jou lewe gebid het, sal Hy dit seker verhoor.”
Hy het hardop gelag toe sy woedend na die taxi geloop het. Toe het sy en die kinders weggery … en op daardie oomblik het hy gedink: Wat ’n verligting …
Toby staan op. “Ek sal dadelik begin.”
“Kry die beste speurders. My kinders móét opgespoor word, Toby. Dit maak nie saak wat dit kos nie.”
Toby knik.
Hierdie dag in Midas Hammond se lewe staan uit bo al die ander. Dis soos ’n string pêrels met ’n diamant in die middel. En ’n diamant sny die gisters oop, die toegekalkte herinneringe, die harde eelte om die verlede.
Midas onthou ’n paar blou ogies voor hom, ’n geel kuifie, hoor ’n stemmetjie … Nog ’n paar ogies wat vas terugkyk … ’n klein handjie. Die ou man was gaande oor die eerste kleinseun. Toe vernoem hulle hom maar: Sean. Die dogtertjie … Sy het die een of ander buitensporige naam gekry, Bev se smaak. Maar almal het na die kleintjie as Babie verwys … agter Sean se gebrabbel aan. Ma was toe reeds dood. Pa het kort ná Bev en die kinders se weggaan gesterf … met ’n bouvallige hotel en ’n Babel in die hart. Van toe af het die wiel begin draai.
Dit was eers vyftien jaar later dat hy die tweede keer getrou het. Van sý kant was daar geen sprake van liefde nie. Liefde het vir hom ’n ander betekenis as vir ander mense: die bed. Sodra die bed leeg en opgemaak is, is dit ook die einde van die liefde.
Dit was egter baie handig om ’n multimiljoenêr vir ’n skoonpa te kry. Veral in daardie stadium. Met so iemand agter hom, het mense hom toegelaat om te waag. Die droom van Babel het gestalte begin kry.
Menslike trots laat Midas se hart swel. Hy het sy gewese skoonpa se naam tot die uiterste benut, maar nooit aan ’n sent van hom geraak nie. Hy het net die regte mate van sekuriteit gebied terwyl hy gewaag het. Toe hy wen en Midas Hammond ’n man uit eie reg word, het hy sy tweede huwelik beëindig en die miljoenêr se dogter sonder ’n greintjie gewetenswroeging aan hom teruggepos Amerika toe.
En nou is sy derde vrou op pad, ook ná net vyf jaar. Dis immers lank genoeg. Hy besluit ook sommer: Midas Hammond sal nie weer trou nie. Dis regtig onnodig.
Hy lê en wonder hoekom hy eintlik met Lana-Mari getrou het. Dit was een van die enkele ondeurdagte dinge wat hy in sy lewe gedoen het. Maar op daardie tydstip het sy in die prentjie gepas. Babel se hekke was gereed om oopgegooi te word vir die wêreld. Dit moes ’n onvergeetlike skouspel wees. Hy moes ’n feëprinses hê wat die poorte na Babel sou open, die flitsende ligte sou aanskakel, die dobbelwiele sou laat begin rol.
Ter wille van die sentimentele maar skatryk middeljarige vroue sou ’n huwelik tussen die koning van Babel en ’n meisie soos ’n godin net die regte stap wees. En vir die ou bokke met hul lus na ’n jong blaartjie sou dit nuwe hoop gee. Die opening van Babel se hekke en die huwelik het net soveel opspraak gewek as ’n koninklike troue. Babel het daardie eerste naweek uit sy nate gebars … en die goud het in Midas se koffers gestroom.
Maar soos alle ander dinge in Midas se lewe, is ook hierdie derde huwelik van verbygaande aard. Hoe gouer dit beëindig word, hoe beter. Daar was nog altyd net twee standvastige dinge in sy lewe: Babel en die man wat dit gebou het. Vandag moes hy besef dat daardie man ook aan tyd gebonde is. Dis net Babel wat sal voortbestaan. Maar nie sonder ’n heerser nie. Sy voortbestaan sal afhang van die toewyding van Midas Hammond se opvolger.
Sy kinders móét gevind word. Met elke minuut wat verbytik, elke verbyflitsende beeld uit die verlede en van die toekoms word dié besef ál helderder, ál noodsaakliker. Dit word ’n vaste oortuiging: net vlees van sy vlees kan Babel by hom oorneem. Want êrens in sy nasate móét iets van Midas Hammond ingeplant wees. As hy hulle net kan vind …
Dit blyk ’n onbegonne taak te wees.
“Maar magtig, man, geen mens kan sommer net in die niet verdwyn nie! Ten minste één van die drie moes ’n spoor gelaat het!”
Toby skud sy kop. Die mag van geld het tog perke. Selfs nie die grootste tjek kan ’n speurder help om ’n mens uit die niet op te tower nie.
“Daar is geen spóór nie, Midas. Jy moet onthou jy praat van vyf-en-twintig jaar gelede.”
“Kry ’n ander man. Kry nog tien ander speurders!”
Toby sug. Daar is ’n moontlikheid waaraan Midas blykbaar nog nie gedink het nie. Miskien moet hy dit onder sy aandag bring. “Het jy al daaraan gedink dat hulle … wel, nie meer daar kan wees nie?”
“Dan soek julle die land deur!”
“Dis nie wat ek bedoel nie. Ek bedoel … miskien is hulle dood.”
“Dood?” Hy spreek die woord uit asof hy dit die eerste keer in sy lewe hoor.
Toby kug. “Dis al plek waar ’n mens heeltemal verdwyn … in die graf.”
Midas se stem is laag en skor. “Dan wys jy my daardie graf!” Hy maak ’n magtelose gebaar met sy hande soos Toby hom nog nooit tevore sien doen het nie. “My kinders is nie dood nie. Verstaan jy, Toby? Hulle