Huise van klei. Ena Murray
gepraat, Elise. Kon jy dit nog nooit in jou hart vind om jouself te vergewe nie? Jy weet en jy het die volle oortuiging in jou hart God het jou lankal die sondes van gister vergewe. Maar dis jy … jý wat nie kan vergewe nie … jouself kan vergewe nie. Sodoende ly jy swaar en so onnodig. As dit dan nie meer by God bestaan nie, hoekom sal jy dit bly voed in jou eie hart? Dis nie soos Hy dit wil hê nie, Elise! Hy dink nie eens meer daaraan nie. Daardie belofte aan jou staan in sy Woord. Maar jy vergeet dit nie; jý onthou, dink altyd weer terug wanneer jy met die Ritas in die hawe te doen kry.”
Elise knik. “Ja, dit is so. Die fout lê by my, nie by God nie.” Gemarteld gaan sy voort: “Elske, daar is geen vergiffenis op aarde swaarder as dié teenoor jouself nie. Dis die swaarste iets om te vergewe – jouself … en min kry dit regtig werklik reg. Dank God dat daar nie iets só groot in jou verlede lê dat jy dit nie kan regkry om jouself daarvoor te vergewe nie. Ek … kan nie. Ek probeer, dink ek kry dit soms reg, maar … dan kom daar aande soos vanaand … en ’n Rita staan voor my …”
“Elise, ek het al gewonder of jy nie liewer jou studierigting moet verander nie.”
“Hoekom?”
“Ek weet jy is ver gevorder met jou doktorstesis oor prostitusie, maar jou sielevrede is vir jou baie meer werd. Hierdie studierigting hou die verlede te vars vir jou.”
“Maar dis my lewenstaak, Elske! Toe ek sewe jaar gelede teruggekom en by julle aangesluit het, was dit my roeping vir die toekoms: om te werk onder die prostitute van die stad, spesifiek die hawemeisies. Dis al waarvoor ek lewe, om soveel van hulle te red as wat moontlik is. En nou sê jy vir my …”
“Jy het ’n groot taak verrig in hierdie sewe jaar, ’n grootse taak. Daarvan kan talle meisies getuig wat nou eerbare, Christelike lewens lei, selfs nou getroude vrouens is, voorbeeldig en goed aangepas. Maar dis juis dit wat my hinder. Jy het die deur vir so baie ander na ’n gelukkige, volwaardige lewe as vrou en moeder oopgemaak … en jouself vergeet.”
Elise swaai weg. “Dis nie vir my nie.”
“Hoor ek Rita praat?” Hul oë ontmoet. “Jy weet ek is reg, Elise. Helgard het jou destyds weggestuur toe jy hom van jou verlede vertel het. Maar dis nie te sê omdat een man …”
“Dis oorbekende dinge waarvan jy praat, Elske. Ek weet dit alles … en dit help nie. Ek sal my nooit werklik kan losmaak van my vroeëre lewe nie. Ek aanvaar dit ook nou so. Ek is moeg van probeer wegkom daarvan af.” Iets soos bittere ironie teen haarself gemik skemer deur in die stem: “Verder, my liewe vriendin, kan ek nie my studierigting verander nie, want dis die rigting wat ek ken.” Sy draai om. “Ek gaan maar eers terug. Ek dink nie ek sal vannag vir enigeen meer tot hulp kan wees nie. Ek gaan maar werk aan my tesis.” Sy loop haar byna vas in ’n man wat by die deur inkom. “Naand, Vegter.”
“Naand, Elise. Op pad?”
“Ja. Goeienag, julle twee. Hoop julle het ’n suksesvolle nag.”
Hulle kyk haar agterna; dan sug Elske saggies. “Die arme Elise. Sy het al so baie vir ander gehelp, maar kan haarself nie help nie. Ek wonder of daardie Helgard ooit sal weet wat hy haar destyds aangedoen het.”
“Moenie te hard oordeel nie, my vrou. Dit moet vir geen man maklik wees om te moet hoor dat die meisie wat hy liefhet eers haar geld op bote in die hawe gemaak het nie.”
“Nee, ek oordeel nie, skat. Dis net … Elise is só ’n lieflike mens van binne en van buite. Dis ’n sonde dat sy nie tot haar volle reg sal kom nie. Sy hou al die jare al wat man is weg van haar.”
Haar man glimlag en kyk teer op haar af. Hoe lief het hy hierdie vrou van hom! “En hoe weet jý dit lê nie vir haar in die toekoms en wag nie? Wie sou ooit kon droom dat Vegter van The Bats op ’n mooi aand soos vanaand voor ’n ewe lieflike vrou sou staan en weet sy is sý vrou?”
Sy glimlag na hom op. “Maar ons is anders …”
“Ja. So is elkeen anders … iemand spesiaals ook in die oë van die Skepper. En soos Hy ’n Godsplan vir my en jou uitgewerk het, glo ek sal Hy ook een vir Elise hê. Ek het weer ’n gevoel dat daar êrens op die pad vorentoe iets baie moois, iets baie spesiaals vir haar wag. Ons moet haar net in vertroue aan Hom opdra. Terloops, ek het met Pa gepraat voordat ek hierheen gekom het. Hy laat weet natuurlik baie liefde vir sy lieflingskoondogter.”
“Hoe gaan dit in Babel?”
“Goed. Maar hy verlang baie. Sê hy gaan ’n naweek wegsluip na ons toe.”
“Dit sal wonderlik wees.” Maar haar oë is somber, want altyd is daar maar iets in die hart wat krap of ontbreek. Sy weet Midas Hammond is vir haar lief, maar sy weet ook dat hy ’n ander lieflingskoondogter sou wou gehad het, een wat aan hom ’n kleinkind sou kon gee wat eendag sy stad van goud kan erf. Maar hulle is nou al sewe jaar getroud en daar is geen teken dat so iets gaan gebeur nie. Dit was ’n bittere teleurstelling vir die rykste man in Suider-Afrika dat sy enigste seun destyds nie kans gesien het om saam met hom terug te gaan na sy plesierstad van dobbelsale nie, maar verkies het om hier te bly en liewer aan ’n ewigheidstad te bou as werker onder die bendes, prostitute en dwelmverslaafdes van die Moederstad. Maar ’n bitterder teleurstelling is dat daar blykbaar ook geen kleinkind gaan wees nie. Wanneer Midas Hammond die dag sterf, sal sy stad van goud in vreemde hande val of saam met hom sterf.
Dikwels het Elske al by haarself gewonder of sy God nie liewer moet dank dat Hy haar moederskoot gesluit het nie. Midas was verplig om van sy planne vir sy seun afstand te doen, maar hy sal nie so maklik afstand doen van sy planne vir sy kleinseun nie. Maar intussen … intussen is dit haar hart wat verlang, wat pyn elke keer as sy in die oë van ’n kind kyk, wat ween as sy afkom op iets soos vanaand …
“Wat is verkeerd, my vrou?”
Haar ooglede fladder verraderlik terwyl haar stem egalig bly: “Dis Louise … Hulle het my vroeër vanaand kom roep na haar toe. Ek het haar in ’n plas bloed op die Portugese boot gekry. Sy was blykbaar swanger en het toe iets daaromtrent gedoen. Ek skat sy was so vier maande verwagtend. Ek het haar in die kombi hospitaal toe gestuur.”
Hy sê niks, trek haar net teen hom vas met soveel deernis en begrip dat sy haar oë styf moet toeknyp en haar gesig onder sy ken wegsteek. Hy weet watter uiters teer saak haar kinderloosheid is, en as daar dan sulke dinge gebeur – dat swangerskap gegee word aan ’n meisie van die hawe en daardie lewe doelbewus en wreed beëindig word – is dit moeilik om nie in felle opstand te kom nie. Want die onverstaanbare is ook altyd die onaanvaarbare vir die mens. Hier bid ’n goeie, ware kind van God elke aand op haar knieë om ’n kindjie, terwyl ’n ander kindjie doelbewus die lewe ontneem word, want hy is onwelkom, in die pad.
Daarom hou Vegter Elske maar net styf teen hom vas.
In hierdie oomblik is daar nog iemand wat maar net swygend voor haar uitstaar en wonder oor Sy gedagtes wat nie ons s’n is nie – nadat sy ’n brief gelees het.
Dit het vir Elise gelê en wag toe sy van die hawe af terugkom. Sy het dadelik die bewerige handskrif herken. Dis van ta’ Vroeteltjie. Nuus van die huis af. Pa is maar ’n swak korrespondent. Hy bel liewer. Dis ta’ Vroeteltjie wat met haar maandelikse brief Elise op die hoogte hou van al die nuus ter plaatse, en so onwetend bydra om die verlede vir Elise lewend te hou. Want ta’ Vroeteltjie – “nou sonder om te skinder, hoor?” – weet van ’n ieder en elk alles af wat wetenswaardig is. Sy is huishoudster vir die baas van Paradys, Nols Retief. Sy weet alles van hom en van sy kinders. Elise is daarom goed ingelig oor Helgard, al het sy hom sewe jaar laas gesien. Elise weet nie of sy vanaand lus is om van die “hele ou spul” te lees nie, van Helgard en sy beeldskone vrou.
Maar sy voel skuldig toe sy die brief eers eenkant wil sit vir later. Sy weet watter inspanning dit vir die twee knopperige ou rumatiekhande moet wees om altyd so gereeld die lang “rapport” te skryf. Sy bedoel dit goed. As sy onwetend daarmee rowe van ou wonde afkrap, kan Elise haar dit nie verkwalik nie. Ta’ Vroeteltjie bly nou eenmaal die grootbaas Retief se huishoudster en sy hou ook boonop ’n wakende oog oor Elise se pa wat nooit weer getroud is ná sy destydse egskeiding nie en wat nog steeds Nols Retief