'n Hap van die appel. Kristel Loots
“Dis nie my kind nie. Loop troos self jou kind. Ek het genoeg troubles van my eie, genoeg kinders van my eie by die huis. Dié een het nie vir mý nodig nie. Sy soek haar ma.”
“Have a heart, Dora,” het Ma een keer op Dora se gevoel probeer speel. “Ek het een van die dae twee weke verlof. Dan gee ek ál my aandag aan die kind, jy weet mos.”
Maar Ma het tweede gekom. “Een van die dae? Wat help een van die dae as ’n kind haar ma nóú nodig het. Moenie vir jou onnosel hou nie, Johanna van der Merwe. ’n Kind kan nie vir haar ma wag om van haar te onthou nie, om haar in te pas wanneer sy vir twee weke hier en ’n week daar niks anders het om te doen nie.” Ek het Dora ’n snorkgeluid hoor maak, want ek was in die omgewing en ek wou niks hiervan mis nie.
“Twee weke vakansie? Se gat!” het Dora driftig haar mening gegee. “Dan wil jy die kind die wêreld vol vat en volstop met presente. Dis see toe en sirkus toe en elke ander plek wat haar hart begeer sodat jy kan ophou skuldig voel. Dis verkeerd. Dis soos om vir ’n kind te veel kondensmelk te voer totdat dit by sy ore uitkom en hy wil opgooi daarvan. Die res van die tyd sit die kind hier in die huis opgehok soos Piet Snot met haar fênsie rokke en blink skoene. Net met my vir geselskap en ek is nie geselskap vir die kind nie.”
Daardie dag het Dora vir Ma skoon stil geskree en om Ma stil geskree te kry, is nogal ’n prestasie. Vra maar vir die ouens wat dit al in die parlement probeer doen het.
Ek kon nooit verstaan waarom Ma Dora toelaat om so met haar te praat nie. As dit iemand anders was, het Ma haar sweerlik weggejaag. Maar Dora sou haar seker nie laat wegjaag nie. Sy sou heel moontlik op die matjie voor die deur haar sit gekry het en daar gebly het tot dinge bedaar.
“Dis erg genoeg dat die kind sonder ’n pa moet klaarkom,” was nog een van Dora se gesegdes. “Jy kan nie ook nog aldag en heeldag die pad vat nie. Die kind het nie gevra om hier te wees nie.”
Die kind. Dis hoe daar na my verwys is in die jare wat ek in hierdie huis gebly het. Die kind. Die laspos. Die probleem.
Ek onthou die aande wat ek en Dora so op die trappies gesit het. Soms in die somer, soms op koue wintersaande. Ek onthou dat ek so ongemerk as moontlik nader aan Dora geskuif het, dat ek gewens het sy wil my op haar skoot tel, of net haar arm om my sit. Maar daarvoor was Dora te kwaad. Vir Ma. Vir my. Vir haar kinders by die huis. Vir die mans wat haar met daardie kinders opgesaal het. Vir die government en die kerk en die hele wye wêreld. En veral vir die perde.
Was dit nie vir die perde nie, sou Dora nie naastenby soveel troubles van haar eie gehad het nie. Ook nie soveel vreugde nie. Want die dae wat die perde reg gehardloop het, het ons ’n ander Dora leer ken. Dan was alles hunky-dory en het sy gesing en gedans en gelag. Dan was Dora met haar groot lyf amper effens lief vir my, maar ook nie regtig nie. Behalwe daardie één keer. Een keer het Dora my teen haar bors vasgedruk asof sy my nooit weer wil laat gaan nie. Een keer het ek haar gelukkig genoeg gemaak om vir my lief te wees. Al was dit nie vir lank nie ...
“Kies vir my ’n perd,” het sy die dag gesê en die boekie voor my oopgesprei. “Watter een is vir jou mooi?”
Hulle was almal vir my mooi, maar daar was een met so ’n wilde kyk in sy oë. Eintlik was ek bang vir die perd, bang dat hy my sou kon bykom as ek hom nie kies nie. Toe druk ek my vinger op die perd. Devil’s disguise, dink ek, was sy naam. En toe wen die duiwel dié dag en Dora stap met sakke vol geld weg, en daardie dag het dit vir my gevoel asof sy vir my lief is. Al was dit net vir ’n rukkie.
Maar ek wou dit nie weer doen nie. Want ek het geweet. So jonk soos ek was, het ek geweet ek gaan dit berou as die perd wat ek kies nié wen nie. Dora was kwaad, ek onthou, ’n week lank lekker dikbek omdat ek nie wou saamspeel nie, maar ek het geweet wat goed was vir my. As ’n wen haar so liefdevol kon laat optree, sou ’n verloor die dak op my kop laat val.
“Een of ander tyd moet Lady Luck haar gesig vir my draai,” glo Dora vas. Maar ek dink Lady Luck voel vere vir Dora, want tot dusver het sy haar rug op Dora gedraai.
“Ek gaan trou, Dora!” sê ek nou. Gou, voordat my moed my begewe.
“Trou?” Dora skuif agteruit in haar stoel sodat sy my beter kan sien. “En met wie?”
“Wat bedoel jy met wie? Met wie dink jy?”
“Met daardie halfjekkie wat soms saam met jou hier aankom?”
“Hy’s nie ’n ... ’n halfjekkie nie,” keer ek. “Hy’s net so lank soos ek.”
“Nie as jy high polvaais aan het nie.” Dora lyk asof sy ’n lepel vol slegte medisyne in het. “Regte kapokhaantjie,” tier sy voort. “Vir mý kom staan en rond order. Wat wou hy nou weer hê? Cappuccino? Cappuccino vir die master, nie gewone koffie uit die koffiemeul nie. Asof hierdie ’n restaurant is waar hy sy order kan insit. Asof ek ’n waitress is.”
“Ag, sherbit, Dora tog! Alles gaan nie oor jóú nie. Dis ék wat met hom gaan trou, nie jý nie.”
“Nee, maar dan is dit reg so, Maxie. Ek sal ook nie met hom trou as hy die laaste man op aarde is nie. Solank julle net nie verwag ek moet julle kleintjies grootmaak nie.”
“Toemaar, Dora, dít sal ek nooit van jou verwag nie. Ek weet jou grootste vrees in die lewe is dat jy nóg ’n kind sal moet versorg. Ek weet watter nagmerrie dit vir jou was om mý groot te maak. Jy herinner my genoeg daaraan.”
“Dis nie dat jy so donners stout was nie,” probeer sy troos. “Nie soos daardie spul bliksems by my eie huis nie. Dis net dat jy so aan ’n mens gehang het. Soos ’n stertjie al agter my aan was. Ek wou net partykeer ’n bietjie asemhaal, my eie ding doen, jy weet.”
“Oukei, Dora, ek weet. Ek was soos ’n blok aan jou been. Maar dis nou verby. Lankal verby. Ek bly al jare lank in my eie woonstel en kom net hiernatoe wanneer Ma my vir een van haar get-togethers nooi. Of ... partykeer as ek toevallig hier verbygaan.”
En elke keer hoop ek iemand sal bly wees om my te sien.
“En nou gaat jy trou?”
Ek skrik ’n bietjie toe Dora dit sê, so hardop sê. “Wel, ja, dit lyk so. Ek dink Gustav gaan my vra. Vanaand nog nadat hy klaar saam met die boys gekuier het. Hy’t gevra ek moet vir hom wag.”
“Nou maar dan moet jy maar met hom trou en klaarkry, Maxie.”
“Is dit al wat jy te sê het, Dora?”
“Wat meer wil jy hê moet ek sê? Jy sal in elk geval nie vir my luister nie. “
“Wel, jy kan ten minste probeer. Dis hoekom ek vir jou daarvan vertel het.”
“Hoekom? Sodat ek op en af moet spring en jou geluk moet wens? Of sodat ek vir jou moet sê jy doen ’n dom ding? Dis wat jou ma gaan doen. Sy gaan nie daarvan hou dat jy wil trou nie. Jou ma is lief vir mans, maar sy’s nie een vir ’n getrouery nie. Het haar lewe lank nog nooit getrou nie. Nee, sy loop los. Flenter rond. Dan met dié gigolo, dan met daai een.”
“Jinne tog, Dora, dis jou mond wat los is, nie my ma se lopery nie. My ma flenter nie met gigolo’s rond nie.”
My ma is wel Pavlov-georiënteer. Sy sien ’n man, sy wil hom hê, sy gee hom ’n pos in haar party. Johanna van der Merwe is ’n formidabele vrou, Johanna van der Merwe is een van die “women who run with the wolves”, sy leef vinnig en vreesloos, sy dans op haar eie deuntjie in die maanlig, haar arms wyd gesprei, haar voete vry. Maar dit sal Dora nie verstaan nie. Sy oordeel met die oordeel van iemand wat sensible shoes dra terwyl Ma, nes ek, nie eens sensible slippers het nie.
“My ma is ’n openbare figuur, Dora,” verduidelik ek oor die vrou wat aan my geboorte gegee het en my toe opsy geskuif het. “Daar sal gou genoeg oor haar geskinder en geskryf word as sy vir haar gigolo’s huur om agter haar aan te loop.”
Daar wórd oor Ma geskinder en geskryf, daar wórd oor haar vrae gevra, maar dis altyd van so ’n aard dat niemand daarop hoef te antwoord nie. Dis dáár – die agterdog, die nuuskierigheid, die ge-tjie-tjie. Maar Johanna van